Uit die binneland. Dana Snyman

Uit die binneland - Dana Snyman


Скачать книгу
van ons ontluikende hormone en die sensualiteit van Anneline Kriel, 1974 se Mejuffrou Wêreld.

      Taki was op sy pos agter die toonbank, sy hemp tot by sy naeltjie oopgeknoop, ’n silwer St Christopher-hangertjie tussen sy borshare. Sonder om ’n woord te sê, het Stoffel die twintigsentstuk die lug in geskiet, dit gevang, “kwa!” op die toonbank neergeplak en dit tot voor Taki geskuif.

      Taki het die muntstuk opgetel. “What can I do for you, sonny?”

      Stilte.

      “You don’t speak, huh?”

      Stilte.

      “I say, can I help, sonny?”

      Stilte.

      Taki het sy skouers opgetrek en dak toe gekyk. “This boy she don’t speak today.”

      Stilte.

      “Hey sonny, don’t wasta my time. You don’t speak, me don’t hear. Okay? Okay?”

      Ek wonder hoeveel seuns het in daardie tyd muntstukke voor verdwaasde Griekse en Portugese kafee-eienaars die lug in laat tol want oral is geglo dit is ’n maklike manier om ’n kondoom gekoop te kry.

      Natuurlik het dit nooit gewerk nie. Dit was maar net een van die baie urban legends oor kondome wat toe in omloop was. Ons het ook geglo enige winkel met ’n Chinese eienaar sal tjop-tjop ’n rubber aan jou verkoop – ook nie waar nie.

      Loop vra maar enige man oor veertig, elkeen het sy eie kondoomstorie om te vertel.

      Dit was nie dat ons die kondome wou gebruik vir die doel waarvoor dit vervaardig was nie. Hoe kon ons? Jy is dertien jaar oud, een oomblik praat jy met Ivan Rebroff se basstem, die volgende oomblik is jy Mimi Coertse. Jy droom snags drome wat jy hoop jou pa en die predikant nooit van sal uitvind nie, jou wange is vol puisies, jou ore slaan aan die brand en jou keel trek toe as Hessie Prinsloo in die klas vir jou glimlag met draadjies aan haar tande.

      Tog het ons op die ou end ons eie, persoonlike kondoom gekry, ek en Stoffel. Ons het dit vir 50c gekoop by Johannes wat in ons tuin gewerk het. Johannes, weer, het dit by die kliniek gekry.

      Dit was so ’n goue pakkie met fyn rooi lettertjies op: Crepe de Chine. Toe het ons dit nie meer ’n rubber genoem nie. Dit was “Krêp de Tjaain”.

      Een week was die Krêp de Tjaain myne, net só, toe in die pakkie. Die volgende week was dit weer Stoffel s’n. Eers die dag toe ons Anneline Kriel kaal gesien het, het ons daardie pakkie oopgeskeur.

      Dit was ’n Maandagmiddag. Van die skool af op pad huis toe het ek en Stoffel gou by Taki se kafee ingesak vir ’n Hubbly Bubbly. Toe lê sy daar op die grond voor die tjips-rak, op haar rug, poedelkaal in die son met sulke sterretjies op haar borste. Op die Sunday Times se voorblad.

      Anneline, o, ons Anneline!

      Wat doen jy as jy dertien is, jy het pas die voorwerp van jou fantasieë kaal gesien en jy sit op ’n plattelandse dorpie met een voos gevatte Krêp de Tjaain in jou besit?

      In my kamer by die huis het ek die goue pakkie onder ’n hopie broeke in my kas uitgehaal. Stoffel het op die bed gesit, onder die poster van Bruce Lee teen my muur, en hardop begin voorlees uit James Hadley Chase se Die rooi bikini wat hy onder sy grootboetie se Ford 17M se sitplek ontdek het: “Die maan hang skilderagtig oor die see. Hy steek sy hand uit en raak met koorsagtige vingers aan haar skouer. Dit voel of ’n elektriese stroom deur hom gaan – hy kan die haartjies op sy arm orent voel kom.”

      Ek het oor die goue pakkie gestreel.

      “My liefling, o, my liefling,’ sê hy en laat sy hand sag teen haar bors afgly.”

      Ek kon nie meer nie. Ek het die goue pakkie oopgeskeur. Met bewende vingers.

      “Hy leun vorentoe met die begeerte wat warm in hom brand en plaas sy lippe op haar gul mond.”

      Ek dink dit was Stoffel wat gesê het ons moet op die huis se dak klim en met die gieter die Krêp de Tjaain vol water gooi – die eerste van baie dom, eienaardige dinge wat begeerte ons nog in ons lewe sou laat doen.

      Eers het ons die Krêp de Tjaain oor die gieter se bek getrek, toe die gieter stadig gekantel en die water in die Krêp de Tjaain laat inloop.

      Stil en verwonder het ons gekyk hoe dit swel en swel, tot dit later so groot soos ’n skaap se ingewande daar voor ons op die dak gelê het.

      “Haar asem is warm en innig en hy laat sy hand peristalties oor haar maag gly”.

      Toe het ons die Krêp de Tjaain toegeknoop en, sonder om ’n woord vir mekaar te sê, ons hande onder die ding ingewerk en dit versigtig opgelig.

      “Neem my,” het sy met ’n bewende stem in sy oor gefluister. “Neem my, my liefling.”

      Toe, met die Krêp de Tjaain in ons arms, het ons tot by die dak se rand gestap.

      Op die grasperk het ’n sproeier in die rondte gedraai.

      En toe neem hy haar.

      Ons het daardie Krêp de Tjaain gelos en gekyk hoe dit grond toe tuimel, af, af, af, gevolg deur ’n oerkreet diep uit ons binneste: “A-hoe-hoe-ha-haa!”

      Soms wens ek ek het daardie voos gevatte goue pakkie gehou. Ek sou dit laat raam en teen my muur gehang het. Retro-kuns.

      Sodat ek kan onthou hoe onskuldig ons eens op ’n tyd was.

      Die rooi haan

      Nou die middag ná werk ry ek uit Pretoria. Met die N1. Suid. By Bloemfontein verby, die Karoovlaktes in. Op pad Kaap toe.

      Later is dit middernag, en later ná middernag. Later kan ek nie meer my oë oophou nie.

      Een ding het ek al geleer: Dit help nie om agter ’n stuurwiel komplotte teen die slaap te sit en smee nie. Daarom begin ek dadelik uitkyk vir ’n stilhouplek. Nie ver nie, toe blink die wit sementtafeltjie onder ’n peperboom in die motor se ligte langs die pad. Ek hou stil, skakel als af, klim uit. Dit is pikdonker. En baie stil.

      Ek klim weer terug in die motor, laat sak die sitplek, en lê terug …

      Ligdag kraai ’n hoender my wakker. Hier is seker ’n plaasopstal naby, dink ek terwyl ek orent kom, die son skerp in my oë.

      Toe sien ek dit. ’n Ent van my kar af staan ’n donkiekarretjie en langs die karretjie ’n oompie onder ’n wyerandhoed. Hy buk by so ’n vaal donkie wat op die grond lê. ’n Ent verder staan ’n groter, donkerder donkie. Hulle moet ook hier oornag het, besef ek, en kyk na my verrimpelde gesig in die truspieëltjie.

      Die oompie moet gesien het ek is wakker want hy kom nader gestap. Die T-hemp onder sy voos baadjie moet hy êrens present gekry het want daarop staan in helder letters: MALDIVES 1989.

      “Môre, meneer,” groet hy en haal die hoed af. “Ek’s Kokkie. Kokkie Smeer.”

      Deur my oop venster skud ek sy hand.

      “Ek wil meneer ’n gunsietjie vra.”

      Hier kom dit, dink ek, hy gaan my nou eers ’n hard luck-storie vertel, dan gaan hy my vir geld vra. Dit is die gang van die Nuwe Suid-Afrika.

      Oom Kokkie vertel my sy hard luck-storie: dat hy ’n skaapskeerder met ’n vrou en ’n kind is, dat hulle Christenmense is, dat hy vanoggend by ’n boer moet inval maar dat hy nou hier langs die pad gestrand sit want sy een donkie is ellendig siek. Maar toe hy by die gedeelte kom waar hy geld moet vra, doen hy dit nie.

      Hy vryf net met een hand oor sy wange, en sê: “Meneer ka’ seker lees, nè?”

      “Natuurlik kan ek lees, ja.”

      “Nou maar wil meneer nie vi’ ons ’n stukkietjie ko’ lees nie? Met al die gerondtrek het ons mos nooit tot geleer lese geko’ nie.”

      Dit klink te goed om waar te wees. Ek haal diep asem, klim uit die motor en stap agter hom aan.

      Tóé


Скачать книгу