Uit die binneland. Dana Snyman
toe, daardie vakansie, die Gemsbokpark se leeus.
Êrens in ’n laai het ek nog foto’s wat Ouma op daardie trip geneem het. ’n Uit-fokus-leeumannetjie by ’n watergat. ’n Stippeltjie in die verte wat soos ’n eland lyk. En Oupa wat in sy wit stofjas onder die Ranchero inloer nadat iets onder ons anderkant Lutzputs eensklaps gesug, weemoedig gekraak en toe begin rinkel en klingel het.
“Dis die gêrboks.” Oupa het langs die Ranchero orent gekom en agter die stuurwiel ingeskuif.
Hy het die Ranchero soos ’n Spitfire op ’n aanloopbaan opge-rev terwyl ons stadig vorentoe beweeg. Eerste rat. Tweede rat. Maar toe Oupa hom in derde druk, is dit weer daardie troostelose klanke. Terug in tweede. Terug in eerste. Dit was kompleet asof iets onder ons sy laaste stuiptrekkings gee.
Toe Oupa die enjin afskakel, was dit eintlik ’n verligting.
“Nou’t ons nie meer gêrs nie, Mammie,” het hy gesê en sy kop op die stuurwiel laat sak.
Dit was al laatmiddag en daardie wêreld was toe nog leër as nou: 60 kilometer se niks tussen Lutzputs en Keimoes.
Dit is eienaardig hoe die natuur ’n bedreiging word wanneer jy langs die pad gestrand is. Jy is opeens bewus van elke geluid, elke beweging. Ek het gedink aan die honger hiënas in Jamie Uys se fliek Dirkie, wat in ons inry gewys het, en begin huil.
Ouma het gesug en gesug.
Later het Oupa sy harde helmet – een van dié wat die ou ontdekkingsreisigers gedra het – afgehaal en gebid: “Dierbare Vader, ons wil vandag u hulp vra. Ons sit hier in die Kalahari sonder gêrs …”
“Jy jok, bok,” het Ouma hom in die rede geval.
“Wat bedoel jy?”
“Wat van reverse?”
Dit was die eerste van twee lesse oor die langpad wat ek daardie dag geleer het: Moet nooit desperate dinge doen voor jy nie al die logiese moontlikhede probeer het nie. Want met die Ranchero se trurat was niks fout nie. Dit was net ’n gesukkel om hom in die smal grondpad omgedraai te kry. Maar nie lank nie, toe loei die Spitfire weer. En toe beweeg ons – reguit Keimoes toe. In trurat. Met Ouma wat benoud roep: “Gaan meer links, bok! Links! Jy’s nou in die veld.”
Ouma – sy moes navigeer want Oupa had ’n stywe nek – het op haar waardigste by die Ranchero se ruit uitgekyk: “Ek sê li-hinks!”
“Maar ek gaan dan links, Mammie.”
“Die ander linkerkant.”
Om so ver in trurat te ry, is ’n bietjie soos om in die ruimte te reis, stel ek my voor. Jy is later nie meer seker van jou links en regs, jou voor en agter nie. Daarom moes Ouma haarself daardie middag meer as een keer korrigeer. Tog het ons goed gevorder, al het Oupa kwaai onder die helmet gesweet en al was Ouma later met albei knieë op die sitplek, haar kop by die venster uit, aan die navigeer.
Êrens het Oupa stilgehou, onthou ek, sodat Ouma die dooie muggies van haar bril kon afvee. Hoe lank ons daardie 60 kilometer getrurat het, weet ek nie. Dalk twee uur. Dalk drie. Dit was al sterk skemer toe Keimoes se liggies agter … wel, voor ons verskyn het.
Oupa se helmet het op die dashboard rondgeskuif en Ouma het halflyf by die venster uitgehang. “Meer mittel toe, bok! Meer mittel toe!”
Toe het ek my tweede langpadles geleer: Teëspoed is nooit verby voor dit verby is nie.
Net buite Keimoes was daar opeens teerpad. Ouma het Oupa in die regterbaan in genavigeer, en ja, dit was seker die regte besluit want in die regterbaan het die Ranchero se neus in die regte rigting gewys.
Oupa het die Ranchero gemoor. Die helmet was terug op sy kop en hy het so effe geglimlag, daar waar hy agter die stuurwiel sit en kyk het hoe die teëspoed van ons af wegskuif.
Ek kan nie alles mooi in volgorde onthou nie. Ek weet net daar was ’n draai. Toe was daar ’n motor, reguit op pad na ons toe. En ons na hom toe.
Ouma, steeds halflyf by die venster uit, se stem het opeens anders geklink: “Linkth! Linkth!”
Oupa het met geweld van die pad af geswaai. En daar was stof. En ’n toetergeskal. En remme.
Toe alles bedaar, het Ouma die Ranchero se deur oopgeswaai en vir my gesê: “Hardloop gou terug, theun, en gaan kyk tog of jy nie jou ouma se valthtande êrenth thien lê nie.”
Erfsonde
Oupa Swannie het sy beste resiesduiwe saamgeneem. Dit onthou ek.
Ouma Swannie het padkos gemaak: tamatietoebroodjies en hardgekookte eiers, frikkadelle, koue skaapnek, wors, gekapte biltong en droëperskes.
Pa het die watersak by die kraan volgemaak en voor aan die Holden se bumper gehang en Ma het haar naels rooi geverf. Toe ons by die hek uitry – Pa en Oupa voor in die Ford Fairline, ek en Ma en Ouma agter – het Simon in sy blou overall met ’n leë oliekannetjie in die hand om die huis se hoek gedraf gekom. Ons moet vir hom seewater saambring.
“Ons loop nie by die see nie, my skepsel!” het Ouma deur die Fairline se venster geroep. “Ons loop by Pretoria, by oubaas Verwoerd se begrafnis! Jy moet nou mooi kyk hier vir ounooi, hoor!”
’n Hoender het oor die radio gekraai en op Landbouradio het ’n stem gesê: “Ons roep die landman.”
Dit was aand en dit was môre, die vierde dag ná doktor Verwoerd se dood.
10 September 1966.
Van die rit stad toe onthou ek nie veel nie. Naby Brandfort, weet ek, het Pa langs die pad stilgehou, regoor ’n bordjie met ’n plaasnaam: De Aap. Dit was staatspresident C.R. Swart en sy vrou Nellie se plaas.
Ons het altyd op pad see toe daar stilgehou om padkos te eet. Dan het Oupa altyd gemaak asof hy deur ’n verkyker na die opstal tussen die bloekombome kyk en goed gesê soos: “Kan jy glo, ou Blackie en ou Nellie is nog in hul gowns. Allamintig! Die ou lady het nog krullers in haar hare!” Of: “Ou Blackie-hulle eet vanmôre net pap en longe. Dalk moet ons hulle oornooi vir ’n ordintlike brekfis.”
Maar daardie oggend het Oupa niks gesê nie. Ons het net daar langs die pad gestaan en ons padkos geëet. In die mandjie op die Fairline se dakrak het Oupa se duiwe geraas en hulle vlerke geklap. Oupa se favourite duif se naam was Kaptein, as ek reg onthou. En was daar nie een met die naam Jopie Fourie ook nie?
Naby Pretoria het Oupa “Nader, my God, by U” begin fluit terwyl die waaiertjie op die Fairline se dashboard heen en weer gedraai het. (Oupa het altyd “Nader, my God, by U” gefluit wanneer ons naby die stad kom.)
Ons is eers na oom Ys en antie Baba in Capital Park toe om ons kerkklere te gaan aantrek want die hele Pretoria was daardie dag ’n kerk. Niemand het hul karre hard ge-rev nie en ek moes skoene dra en oral teen die lamppale was luidsprekers waaroor die begrafnisdiens in die Uniegebou se amfiteater uitgesaai is.
“Ek weet nie wat gaan nou van ons word nie, ou suster,” het oom Ys gesê en Ouma omhels. Antie Baba het swaar van die hortjiesbank op die stoep orent gekom. Sy was nie so vet van te veel eet nie. Dit was haar kliere.
Die grootmense het ingegaan kombuis toe en oom Ys het vir hom en Pa en Oupa elkeen ’n tot whisky by hulle koffie gegooi. Of wag: Het oom Ys nie die whisky in hul koffie gegooi die keer toe die nuus oor die radio gekom het dat die resiesperd Sea Cottage geskiet is nie? Ek is meteens nie seker nie.
Ek wens ek kan meer van daardie dag onthou.
Ek wens ek kan meer van my hele verlede onthou. (Hoewel, soms wens ek ook ek kan alles vergeet.)
Ons het tussen ’n klomp mense op ’n sypaadjie in Pretoria se middestad gaan wag vir die lykstoet om verby te kom. Ouma het die hele tyd my hand vasgehou en antie Baba het ’n swart hoed op gehad met ’n swart net wat oor haar gesig hang. Laag oor die geboue het drie Spitfires gevlieg gekom.
Of eintlik onthou ek dit nie heeltemal só nie. Ek het net sulke vae beelde in my kop. Ouma se