Agter die skerms. Christo Gerlach

Agter die skerms - Christo Gerlach


Скачать книгу

      My selfoon lui weer. Dis my suster. Sy huil net. Ek begin ook huil en druk die foon dood. Ek sukkel om my neus droog te vee met my hemp.

      Ek probeer beheer kry oor my gevoelens. Loop terug redigeerkamer toe. Ek gaan sit op die stoel langs die redigeerder met my Creme Sodas. Ek kyk, maar sien bitter min. Ek sukkel om te hoor wat hy sê of vra. Ek weet net ons is nog ver van klaar.

      Minder as twee uur later lui my foon. Dis Daniel. Ek stap vinnig uit. Hy hoor nie ek het opgetel nie.

      “Denis, I don’t believe it. Both of them?”

      Sy stem is helder aan die ander kant, met die lughawegeraas op die agtergrond. Aankondigings van vlugte wat kom en gaan, van die lewe wat aangaan.

      “Yes, Daniel, both of them,” antwoord ek hom. Al is ons verhouding nie die ideale saamwees wat ons aan die res van die wêreld voorhou nie, is hy die mens wat ek nou die graagste by my wil hê.

      My familie moet wag vir ’n opening in my skedule voor hulle ’n datum kan vasmaak vir die begrafnis.

      Dis soos twintig jaar gelede toe ons moes wag om ’n datum te be­paal vir my ma se begrafnis. My broer was besig met sy weermagopleiding in Angola, maar net een oproep na generaal Magnus Malan se kantoor het verseker dat hy betyds uit die oorlogsgebied op Clocolan kon aankom. Met die generaal se afsterwe in 2011 het ek met gemengde gevoelens oor sy lewe en loopbaan gelees, maar my opinie van hom het bly vassteek by die menslikheid wat hy getoon het met ’n gewone gesin se versoek vir ’n seun om sy ma se begrafnis by te woon.

      Clocolan se NG kerk is stampvol vir my pa en tannie Coba se begrafnis. Die rye en rye mense registreer net vaagweg by my toe ons familie die kerk inloop. Ek hoor skaars wat die dominee sê.

      Toe ons in die begraafplaas stadig na die oop grafte loop, val dit my by dat net ’n wintersdag in die Oos-Vrystaat so mooi kan wees. Die lug is ’n skoon witblou. Die lied wat die swart mense sing, is seer van mooi. Hel-seer.

      Ek kyk met gemengde gevoelens hoe my pa se kis afsak tot bo-op dié van my ma. Haar kis is nog in ’n perfekte toestand, met die nou droë blommerangskikking en die goudgeel linte net soos hulle destyds in strikke gevou is. Dit lyk asof iemand deur die jare gereeld die kis se geelkoperhandvatsels blinkgevryf het.

      My pa se graf was eintlik langs hare, destyds al bespreek met my ma se dood. Maar toe hulle die graf begin grawe, kom hulle agter daar is reeds iemand in die graf begrawe. Net in Suid-Afrika . . .

      Nou is hulle saam in een graf. “Soos dit hoort,” wil ek my ma hoor sê. (Die feit dat my pa ’n veel gelukkiger huwelik met sy tweede vrou gehad het, is nou nie meer belangrik nie.) Hy is op vyf dae na presies twintig jaar ná my ma dood, in Mei, dieselfde maand. Pinkstertyd. Ek onthou dieselfde bessierangskikkings in die kerk. En hoe graag my ma ons huis omgetower het met potte vol bessies – rooi en oranje bessies met of sonder dorings.

      Tannie Coba word net ’n paar grafte verder begrawe, in dieselfde ry as my ouers, langs háár eerste man. Haar graf is ook bestel toe hy dood is. Twee families langs twee oop grafte. Wonderlike tannie Coba. Ek huil oor tannie Coba wat my so onvoorwaardelik aanvaar en in haar huis en lewe toegelaat het.

      Dit voel asof alles so vaag en verwyderd om my gebeur. Is dit die pille wat my suster my gegee het om te sluk net voor die diens? Mense kom groet wat ek nie dadelik kan eien nie. ’n Neef van my pa. Niggies wat ek jare lank nooit gesien het nie. Ou onderwysers wat nog leef. ’n Swaer van my pa wat ek uit my kinderjare onthou as baie emo­sieloos, selfs koud, kom druk hom snikkend teen my vas.

      Die dominee wat die diens gelei het, kom stel hom aan my voor. Ek onthou weer die dominee op Ficksburg se kerkstem: “Eer jou vader en jou moeder . . .”

      Wat ek nou weet – en wat ek gelukkig toe nie geweet het nie – is dat die skuld en skok oor my pa se dood my lewenspad onherroeplik sou verander. Daardie koue wintersdag in Clocolan se begraafplaas was die begin van ’n selfverdelgende pad wat ek heeluit en heluit sou moes loop. Ek sou myself tot in die grond toe verrinneweer omdat ek my pa soveel keer vervloek het. Ek moes gestraf word vir sy gewelddadige dood.

      Ek moes hom eer. Ek het hom nie geëer nie.

      My eerste herinnering aan my pa is die kombuisdeur wat hy flenters geskop het. Dit was op my vierde verjaarsdag. Die rede vir sy woede was omdat my ma mense genooi het vir die “onthulling” van my ge­skenk in ons sitkamer: ’n groot houtsleutel met die syfer 4 in geelkoper daarop. Daarmee saam ’n groot geraamde foto van my, geneem deur ene Jan Hoekstra.

      Ek onthou ook hoe my pa doodluiters die deur weer aanmekaar ge­sit het. Met gom en klein spykertjies tik-tik hy saggies en reëlmatig asof niks gebeur het nie. Hy sit die hamer neer net voor die eerste gaste by ons huis aankom. Die hekkie in die middel van die sipreslaning is oop­gelaat, en hulle loop reguit op met die sementpaadjie wat weerskante versier is met smal beddings pers blomme. Hulle klop aan die glas van die voordeur. Ek kyk na my ma se grimering. Sy lyk nie soos ’n ma wat pas deur ’n hele herrie is nie. My pa is maar afsydig, soos altyd. Praat net as iemand met hom praat. Ek kan die pa wat ek uit my kleuterjare onthou, in grootmensterme beskryf as “menssku”, om die minste te sê. En besitlik en jaloers.

      Die partytjie wil maar nie ontdooi nie en bly ’n stywerige affêre. Die kuiergaste sit in die “formele sitkamer” na mekaar en kyk. Op die 1960’s-winkelhaakbank en bypassende groen-en-wit stoele. (In die 1990’s het die retro-etiket dit weer mode gemaak.) Almal glimlag stywelip vir me­kaar, die koppe knik. My ma se gulheid was miskien effens oordrewe, maar net ’n geoefende oog sou dit kon agterkom. Of ’n vierjarige oog­getuie.

      Dit was die begin van baie jare se voorgee. Ek sou altyd een lewe hê, maar ’n ander lewe begeer. Die begin van ’n leeftyd van fantasie en begeerte na iets beters – ’n leeftyd waarin die werklikheid net nooit goed genoeg was nie. Ek was ook nie goed genoeg vir myself nie, en ek het verskillende selwe aan verskillende mense voorgehou. ’n Ver­kleurmannetjie. Dit was ’n hanteringsmeganisme wat die gevaarlike fondament vir ’n psigotiese persoonlikheid (sou) kon vorm. Boonop het ek dit netjies gekoppel aan ’n paranoïese sy wat altyd sou vrees om “uitgevang” te word. Of om verwerp te word.

      Alles tesame ’n resep vir ’n psigiese ramp. Een met ’n ingeboude tyd­skakelaar, en daardie skakelaar was my pa se dood.

      GEBOORTE

      Ek wou om die dood nie gebore word nie.

      Ek het uiteindelik, nadat my ma “dae lank in kraam was”, die eerste lewenslig aanskou. “Dae lank” was natuurlik ’n oordrywing, maar dis hoe die lydingstorie deur die jare oorvertel is. Ek is “genadiglik” met be­hulp van ’n “tangverlossing” gebore. My ma was verlos van haar barensnood, en ek was verlos van die baarmoeder. Waarvan ek duidelik nie verlos wou wees nie.

      Niemand het dit ooit so beskryf nie, maar elke keer as iemand vertel het hoe swaar my ma tydens my geboorte gekry het, het ek net bloed gesien. Bloed orals. En nie eens my ma se eie bloed nie.

      Want terwyl ek volstrek geweier het om toe te gee aan die geboorte­proses, is die volgende deel van die storie dat ek my ma só aan’t bloei laat raak het dat die hospitaaltjie op Clocolan nog bloed uit Bloemfontein moes laat kom. Met ’n klein vliegtuigie. Ek kan nie meer ont­hou hoeveel pinte bloed nie, maar dit moes ’n hele paar gewees het. Dit was die enigste uitweg om te keer dat my ma haar doodbloei, en my oupa Le Grange het daarvoor betaal.

      Dit was egter nie net ’n kwessie van betaal en ’n paar pinte bloed val uit die lug uit nie. So maklik was dit nie. Die vliegtuigie kon daai tyd nie op Clocolan land nie, en my oupa en my pa moes die outydse twintig myl (veertig kilometer) Ladybrand toe jaag, waar die naaste lan­dingstrook was. In Oupa se groot grys Plymouth.

      Ouma Le Grange, in haar jonger dae ’n vroedvrou, versit geen tree van haar tweede jongste dogter se bed in die kraamsaaltjie waar my ma in kraam, maar ook nie in kraam, was nie. Waar sy geboorte wou gee en ek nie gebore wou word nie.

      “Jou ma het vreeslik swaargekry met jou geboorte. Jy kan maar sê sy was op die rand van die dood,” moes ek sommer baie vroeg in my kinderlewetjie hoor. Daarna is dit talle kere herhaal. Want veral


Скачать книгу