Agter die skerms. Christo Gerlach

Agter die skerms - Christo Gerlach


Скачать книгу
die Afrikaner nie.

      Die oggendritte was lekkerder as die middae. Vars en uitbundig. Die oggendlug was skoner en daar was nie so baie stof soos smiddae nie. Selfs die winteroggende het ek geniet, want ’n huishulp het my bene netjies toegevou met ’n warm kombers met fraiings en gesorg dat ek nie my wolhandskoene vergeet nie. Sy moes partykeer agterna hardloop met my skoolpet wat sy wild in haar hande rondgeswaai het. Ons het soms met die Hibberts van die plaas langsaan resies gejaag, maar omdat daar vier van hulle was, het hulle nie juis ’n kans gestaan nie.

      Elke middag het ’n lekker bord kos in die louoond onder ’n omgekeerde sopbord gewag. Skoolklere is uitgetrek, daar was tyd vir ’n bietjie speel en dan is huiswerk gedoen.

      Saans is daar vroegaand geëet, dan nuus en godsdiens oor die radio geluister voor slapenstyd. So nou en dan is ek toegelaat om die groot­mense “se tande te tel”. En die bederf van perskerolle of biltong saam met hulle te geniet.

      Dit was gewoonlik nadat Oupa gevra het: “Ouvrou, het jy nie iets lekkers om te eet nie?”

      Dan sê Ouma: “Ai, dié ou man darem . . .”

      My ouma was “Aida le Grange: Boervrou Duisend”. Dis wat sy ge­noem is in die artikel in Die Vaderland, met ’n foto van haar en haar reuseroostuin op die agtergrond.

      Sy het die plaas met ’n ysterhand en op die maat van die groot staan­horlosie in die gang bestuur. Sy het haar eie duur polshorlosie net op Sondae en met spesiale geleenthede gedra. ’n Matriarg in die ware sin van die woord. ’n Afrikaanse een.

      Haar uitgestrekte blomtuin was ’n lushof van kleur. Vrydagoggende is emmers water oral in die tuin neergesit en het sy elke blom en stuk­kie loof met sorg gekies en afgesny. Die emmers vol blomme is stoep toe gedra, waar al haar blompotte met water in reggestaan het. Dan het sy gesorg dat elke kamer in die huis sy spesiale rangskikking kry.

      Ek kan nie onthou hoeveel slaapkamers daar was nie, maar daar was baie. Al is die binnekante van die kamers soms weke lank net deur die skoonmakers gesien. Ouma se rangskikkings was nie die driehoeklynige ontwerpe wat destyds in die mode was nie, maar los en informele skeppings wat ek eers weer in die nuwe eeu sou sien, by Gavin Rajah se modevertoning in The One & Only Hotel in 2009. Dahlias en slap ou Engelse rose.

      Die opstal se gange was baie breed, en die stel houttrappe het sommer twee landings gehad. Die Vaderland se joernalis het gepraat van die vloere wat so blink gepoleer was dat dit as spieëls gebruik kon word. Maar dit was eintlik my ouma se tuin wat haar trots was.

      Gansfontein was my grootouers se trots, want dit het nie alles net so in hul skote geval nie. Hulle is deur die moeilike swaarkryjare van die depressie toe ouma meelsakkies se patrone en letters moes wegkook en aanmekaar stik vir haar ses kinders se klere.

      My oupa (sy woord was wet) het eendag in Die Volksblad gelees (en Die Volksblad se woord was wet) dat papawers oorsee die bron van opium was. So is ons toe almal beveel om een Sondagoggend ná kerk elke liewe papawer uit Ouma se tuin te loop trek. Die knoppe het dik ge­staan net voor blomtyd, en hier en daar het ’n kroonblaar skamerig begin kop uitsteek.

      Terwyl die trane oor Ouma se wange loop oor die verwoesting in haar paradys, het sy vir my gefluister: “Die ou man het nou heeltemal kêns geword.”

      In tye van droogte was die tuin ’n groot twispunt tussen my grootouers. My oupa sou opsluit enige waterverbruik belet, en my ouma sou net wag dat hy met sy bakkie by die hek uitry, dan is sekere beddings in die tuin skelmpies natgelei.

      Ek het jare later ’n soortgelyke storie oor mevrou Bridget Oppenheimer gehoor. Sy het ’n leeftyd gewy aan die manjifieke tuine van die Brenthurst-landgoed in Parktown. Toe sy uiteindelik die leisels aan haar skoondogter oorgee, moes sy toekyk hoe haar tuin “vergroen” word. Skoondogter Strilli is ’n groot voorstander van inheemse tuine en het begin om besproeiing te besnoei en die formele tuin stadig maar seker in ’n natuurlike veldlandskap te omskep. Mevrou Oppenheimer het blyk­baar soms net gewag dat haar skoondogter vertrek en dan opdrag gegee dat haar uitheemse plante en bome natgelei geword!

      In my ouma se tuin kon ek wegkruip en vrye teuels gee aan my ver­beelding. Ek sou op die sagte gras op my rug gaan lê en die wolke dop­hou wat verby die son beweeg. Donker. Lig. Helder son.

      Daar is niks soos die reuk van varsgesnyde grasperke nie. Of die kraakklanke van ’n doringboom se peule onder jou kaal voete. Of die soet geel sap wat jy uit die peule kon suig.

      Ek het altyd in die half weggesteekte somerhuisie op die heel boon­ste terras gaan sit as almal Sondagmiddae “ ’n uiltjie gaan knip het”. Augustusmaande was die ergste. Die wind het sonder genade gewaai. Die bloekomboom by die agterdeur het bo die boonste verdieping uitgetroon en het in ’n bastoon saam met die wind gekreun. Die kaal wilgertakke het in applous saam gewaai terwyl ek dwalend en alleen myself probeer vermaak het. Uit pure verveeldheid het ek maar stukkies suikersoet manna gesoek, maar voor ek daaraan geproe het, het ek die sand met sorg afgeblaas om seker te maak dis nie voëlmis nie!

      Met my sterk verbeelding het ek soms uit obskure vermaak myself bang gemaak. Ek sou die groot deur van die agterste sitkamer stadig oopstoot, saggies oor die krakende plankvloer loop en my verkyk aan die bloedige afdruk van “Die Slag van Bloedrivier”. In die voorgrond, aan die Voortrekkers se kant, het ’n swart kryger gelê met ’n spies wat sy hart deurboor. Ek het dan soos Lot se vrou versteen. Te bang om terug te draai deur toe om uit te gaan.

      Ek moes “versteen” wag vir die veraf geblêr van die skape. Dit was die wekker vir opstaantyd voor die melkuur op ’n Sondagmiddag, wat vroeër was as in die week.

      Dit was ook die tyd vir melktert en koffie, wat my ouma bedien het in haar gestyfde wit voorskoot met ’n borsspeld en egte pêrels. ’n Fyns­agte sakdoekie, met ’n stukkie kant rondom gestik, het soms haar goue pols­horlosie versier. Haar “uniform” gedurende die week was ’n deurleefde voorskoot, sonder juwele.

      Dit was Sondae. Maar daar was ook skooldae.

      Die hoogtepunt van elke skooljaar was die konsert aan die einde van die jaar. Juffrou Martie Botha was baie godsdienstig. (Sy het later jare charismaties en fanaties geword. Sy en haar man het selfs nie ’n televisiestel of koerante in hulle aftreehuis op Cornelia in die Vrystaat toe­gelaat nie.) Maar ek onthou haar as ’n pedagoog in murg en been.

      Vir die konsert is die Kersverhaal elke jaar op ’n ander manier voor­gestel. Die groot klaskamer is omskep in ’n saaltjie met behulp van hand­gemaakte gordyne wat aan ’n tydelike draad gespan is. Daar was altyd Kersliedere, begelei op die outydse traporrel wat jare lank nooit gestem is nie.

      Die konsert was vir my lekkerder as die prysuitdeling of die ge­skenke. Ek het altyd die hoofrolle gespeel, sekerlik omdat ek maklik die woorde kon onthou! Die toneelstukke is geskryf deur tannie Bok Botha, en sy het seker gemaak dat daar rolle (hoofrolle) was vir my en haar dogter Santi. (Tannie Bok is ’n ander storie. Sy het ’n broer gehad wat ook “so” was en ek kon haar – voor enigiemand anders – in my ver­troue neem dat ek “so” is. Die drie van ons kuier nog heerlik saam, en Santi se man maak homself dadelik ná koffie uit die voete.)

      Gumtree was ’n skool met alle soorte, klasse en tale. Ons was dubbel­medium, al was ons ’n nederige plaasskooltjie. Die Amerikaanse ambassadeur in Lesotho se kinders het langs die spoorwegarbeider se kinders gesit. Met oggendgodsdiens kon jy die “minderbevoorregtes” aan die reuk van hulle Lifebuoy-seep uitken.

      Hulle het ook soms met ongemaklike knoffelasempies gespog, so erg dat Juffrou een oggend geïrriteerd gevra het: “Hoekom eet julle so baie knoffel?”

      “Juffrou, my ma sê dit hou die slange weg, Juffrou!”

      Die hele klas het geskater van die lag.

      Verder is die klasseverskil aangedui deur Juffrou se plak waarmee slae mildelik uitgedeel is. Dis omtrent net die “minder gegoedes” wat ooit moes buk voor almal in die klas. Ek het my altyd verkyk aan Juffrou se tong terwyl sy haar arm verby haar skouers teruggevat en met mening die een hou na die ander geslaan het. Haar tong het half dubbel gevou oor haar onderste ry tande om ’n ekstra onderlip te maak.

      Terwyl


Скачать книгу