Agter die skerms. Christo Gerlach

Agter die skerms - Christo Gerlach


Скачать книгу
my op. Wat ’n idilliese kinderlewe van oop velde en ongebondenheid kon wees, is ongelukkig belemmer deur ’n desperate soeke na identiteit. Nog jammerder was die gebrek aan onvoorwaardelike liefde en sekuri­teit, wat tog sekerlik elke kind se reg behoort te wees. ’n Ma met depressie en ’n pa wat ek in my kinderjare as aggressief en liefdeloos ervaar het, het gesorg dat ’n sukkelende selfbeeld my vroeë kinderlewe vertroebel het. (Ek sou later soveel aanklank vind by die dramas van Tennessee Williams.)

      Maar, het ek myself moed ingepraat, dit sou beter gaan volgende jaar . . . As ek hoërskool toe gaan . . . Ná die koshuis . . . As ek universi­teit toe gaan . . . Ná my graad . . . As ek Johannesburg toe gaan . . . Ná die army . . .

      Eendag . . .

      Altyd môre of oormôre. Ek sou net nooit kon ontsnap van my selfopgelegde vlugtelingstatus nie. Wel, vir baie en nog meer jare vorentoe.

      ’n Grootmens in ’n kind se liggaam. Toe ’n kind in ’n grootmens se lyf. ’n Tiener vasgevang in ’n kleuter, en ’n middeljarige wat soos ’n tie­ner dink, reageer en optree.

      Soekend.

      Dit sou die leitmotief van my bestaan word. En bestáán in die lydende sin.

      Uitstekende skoolrapporte en hoë punte was maar altyd die voorwaarde vir my ma se aanvaarding. Maar altyd net tydelik. En my pa? Niks sou en kon ooit my pa verootmoedig nie. Of so het ek altans ge­glo. Ek het gevrees vir sy stilstuipe teenoor my wat my kinder-, tiener- en later volwasse jare gekenmerk het.

      Dis die beeld van ’n pa gekniehalter deur sy eie onbeholpenheid. Ek was die simbool van sy onuitstaanbare verhouding met my ma. Sy vrou het haar liefde op my gestort en hom ligtelik verwerp. Ek het haar Steenkamp geword, die man wat haar as jong meisie op die kerk se drum­pel agtergelaat het en haar amper na selfmoord gedryf het. Sy moes trou, en my pa was die eerste beskikbare man wat sy ontmoet het.

      Hoe ironies dat ons eendag ’n troue sou bywoon en tot op die kerk­trap gevorder het, maar dat my pa net daar voor die swaar kerkdeure omgedraai het. (Dat dit vanweë sy eie worsteling met ’n gevoel van minderwaardigheid was, het ek eers later besef.) My ma, wat só na die geleentheid uitgesien het, moes hom noodgedwonge volg in die splin­ternuwe uitrusting wat sy spesiaal daarvoor aangeskaf het, met my teleurgesteld agterna.

      Vir my was my pa ’n boelie. Hy was die ouderling wat agteraf sy vrou geslaan het. Die voorsitter van komitees in die gemeenskap, maar as hy onder die gemeenskap se oë uit was, kon hy onbeheers op sy huismense skree en die plaaswerkers aanrand.

      My pa was vir my die ontstellende klank van bottels mooimaakgoed wat in ’n oomblik van woede van ’n spieëlkas afgevee word. Van buite, deur ’n skrefie van die gordyne wat ek bewend oopvou, sou ek nooit my ma se spierwit gelaat vergeet ná ’n veeg deur die gesig nie.

      My onaardse gil het hom by die slaapkamer laat uitstorm. Die oom­blik toe hy in die tuinpaadjie was, het sy stap kalm en berekend geraak, as­of niks gebeur het nie. Hy het eenvoudig weggeloop van sy vrou en kind. My ma het my geroskam omdat ek deur die venster geloer het. “Hoe durf jy? Jy vertel dit vir niemand nie. Nooit nie! Hóór jy my?”

      Ek het nooit nie. Wel . . . tot nou toe.

      Maar ek het geweet. En my pa het geweet ek weet.

      In my pa se verdediging moet ek sê dat ek so ’n uitbarsting net een keer beleef het, maar daar sou nooit weer ’n groter fondament tussen ons wees om te skud nie. Of so het ek altans gedink. Die feit dat sy pa as ’n oorlogwesie saam met sy sussie “soos honde weggegee” is net nadat hulle pa uit Nederland in die land aangekom het, is nooit in sy verdediging geopper nie. Sy pa – my oupa Gerlach – is toe getroud met ’n Afrikaanse nooi Joubert. Hulle het dit nie juis breed gehad nie, maar hulle was ’n slim gesin.

      Wat ook al my pa se geskiedenis, ons kon ons ongelukkige verhou­ding in meer as vier dekades nie regsmee nie. Dit sou ná sy dood soos ’n damwal breek en my brose huis (wat in ieder geval met strooibak­stene aanmekaargeslaan was) verswelg. Dit sou ’n vloed wees, ’n aard­skudding wat vure veroorsaak het in my kop, vlamme in my hart en vulkane in my liggaam. ’n Helse tsunami.

      Ek sou my chaos omarm. My as die misdadiger aanmeld, skuldig pleit vir my sondes en myself tot lewenslange hel en verdoemenis vonnis. Ek het my persoonlike skuld aanvaar, maar dit was meer as ooit onder­­worpe aan die skuld wat ek teenoor my pa gevoel het. Dit was die laaste hupstoot om my te laat val tot in die onderste, donkerste put. ’n Diep grot waar ek kon verdwaal in die swart onderwêreld.

      Skok, skuld en seer oor my pa se skielike, gewelddadige heengaan het my die pad laat byster raak. Dwelms, seks en leuens het my nuwe self­behoud geword.

      HOËRSKOOL, CLOCOLAN

      Hoërskool het beteken skool en koshuis op Clocolan. My ma was in die­selfde skool. Ek was beslis nie die gelukkigste koshuisbrak nie en net soos ek Sondagaande gevrees het voor die week se koshuis, kon ek Vrydae skaars wag om huistoe te gaan.

      Verder het ek my maar geskaar by die rowwer “menere” in die kos­huis- en skoolomgewing om te oorleef. As jy nie sterk is nie, moet jy slim wees. Maar net soos ek nie kon verstaan hoekom ons uit die kos­kuis moes slip om te gaan kersies steel nie, het ek ook gesukkel om te byt aan die gemeenskaplike masturbasiesessies wat gereeld uitgeroep is.

      Die hoogtepunt van my hoërskoollewe was dat ons ’n nuwe drama­juffrou op die dorp gekry het. Juffrou Santie Velleman was die nuwe skoolhoof se vrou. Onder haar leiding het ek geblom. Wat ook al die ongelukkigheid in my jong lewe, dit sou nou meer as ooit soos mis voor die son verdwyn met die versugting: “As ek klaar is met skool . . .”

      Eendag . . .

      In kunswedstryde het ek die sertifikate en toekennings ingeryg. Die hoogtepunt was die André Huguenet-beurs wat ek in matriek van SUKOVS, die destydse streeksraad, gekry het. Die ander twee ontvangers het mettertyd ontwikkel tot verhoogheldinne in my oë: Annelize van der Ryst en Trudie du Plessis. Trudie het baie jare later bekeerd geraak, voordat sy die knie voor depressie gebuig het en toe haar eie lewe geneem het.

      Annelize het ook bekeerd geraak en haar as ’n pastoor in die Presbiteriaanse Kerk bekwaam. Later het sy die bediening verlaat (ek dink sy het ’n kerkie in Yeoville bestuur) om ’n groot ster op die seepkassie te word.

      Daar was intussen ’n storie (glo, na bewering) dat sy die ekstras op die einste seepstel met haar handsak bygekom het uit pure frustrasie. Dié wat weet, het (of wou) dit nooit bevestig nie. En ek kan nie dink dat Annelize ’n urban legend soos dié juis amusant sou vind nie.

      Wat ook al of wie ook al Annelize geword het, niemand kan ooit haar briljante vertolking van die naamrol in Brecht se Die Goeie Vrou van Setzuan van haar wegneem nie. Ek het haar dit sien speel in Bloemfontein.

      My skoolvakansies het daarom gedraai om die nagtrein na Bloemfontein te haal. Dis heerlik om te skryf oor die treinritte. Dis deesdae amper makliker om te skryf oor ’n treinrit met Rovos Rail van Dar es Salaam na Kaapstad as om te probeer onthou hoe lekker dit was om die trein van Kaapstad na Muizenberg te vat.

      In elk geval. Ons praat van die Oos-Vrystaat, in die 1970’s, toe daar nog ’n melktrein tussen Bethlehem en Bloemfontein geloop het.

      In Bloemfontein aangekom, het ek in die strate rondgedrentel tot ek ’n middaguurtoneel (Sondag kos vyf pesos) van die SUKOVS-geselskap kon sien. Soms was daar selfs ’n kindervertoning in die middag, en saans het ek dan die groot aanbieding wat op die planke was, gaan sien. Anna Neethling-Pohl in Moeder Courage.

      Ek was altyd betyds om die laatnagtrein terug na Gumtree te haal. My ma moes my drie-uur in die oggend op die stasie kom haal. Sy het die wekker gestel en gelê en wag vir die veraf klanke van die stoomloko­motief voordat sy in haar nagrok, kamerjas en pantoffels die plaaspad gevat het stasie toe. Dit was ’n outydse drie myl ver, met ’n plaashek (bekslaner) of twee in die pad.

      Ek dink nie ek het ooit vir enige van my skoolvriende vertel ek het een vakansie ’n besoek gebring aan die Hertzogpryswenner Ernst van Heerden nie. Ek het besonder goed gevaar met my vertolking van sy gedig “Die Hardloper”, en dit was vir my ’n groot oorwinning om op eie stoom


Скачать книгу