Agter die skerms. Christo Gerlach

Agter die skerms - Christo Gerlach


Скачать книгу
en die eerste skuldgevoelens oor my bestaan leer ken en daarmee begin worstel, moet ek my dan boonop nog dom hou ook. Ek kon hulle mos nie laat agterkom dat ek lankal uitgewerk het ’n baba kom uit ’n ma se maag en dat die ooievaarstorie net . . . wel, net ’n ooievaarstorie is nie. In werklik­heid ’n volslae leuen, terwyl ’n kind geleer is om nooit te jok nie.

      Sou ek iets sê, sou ek net weer moes hoor ek is darem so voor op die wa, “ ’n regte klein japsnoet”. Maar ek kan dink wat ek wil. Dink word my enigste uitweg.

      Soveel so dat Angelina, my “ander ma”, gereeld net haar kop ge­skud het terwyl sy anderpad kyk. “Kleinbaas dink te veel. Die kleinbaas se kop, dié sal seer word.”

      Wyse woorde, maar dit sou dekades later eers insink tot ’n werklikheid.

      Nog iets wat my oor my geboorte vertel is, is dat dokter Schulenberg die dokter was wat my ma se lewe gered het (en seker myne ook) op die sesde Augustus hoeveel dekades gelede. Dokter Schulenberg was ’n tipiese kleindorpse Joodse geneesheer (“geneeshere” is deesdae selfs op klein dorpies ’n seldsame verskynsel), en hy is met allemintige agting en respek behandel deur al die dorpsmense.

      Ek kan nie onthou dat enigiemand ooit genoem het dat ek deel was van daardie “wonderwerk” nie. Ek was bloot die baba wat nie wou saam­werk met geboorte nie. Die baba wat vasgeskop het. Waaragtig letterlik. My ma se weergawe van my geboorte was dat sy deur die pyn groot ge­skrik het toe sy my “stukkende gesiggie” sien. Gekneus en geskraap van die tangverlossing. Die gebreklike bene het sy nie dadelik raakgesien nie, en hulle het dit ook nie dadelik vir haar gesê nie.

      Sonder dié nuus was dit al klaar nie ’n maklike tyd wat vir my ma voorgelê het nie. Ek was nou wel nie ’n koliekbaba nie, wat blykbaar enige nuwe ma se grootste nagmerrie is. Dis net dat ek om die dood nie wou byt aan die idee van tepels en borste nie. Ek sou my ook nie laat dwing nie. Ek het net my tandvleisies ingespan en gebyt.

      My ma het toe gelukkig melkkoors ontwikkel en ek het gelukkig ’n bababottel gekry. Die salige prentjie van ma met baba wat rustig haar bors knie, sou my ma nie beskore wees nie.

      Toe sy eindelik ná ’n lang slaap in Clocolan se hospitaaltjie tot verhaal kom en na my vra, was dit my vroedvrou-ouma se taak om haar van my bene te vertel. “Die dokter sê dis dalk omdat jy tot op die laaste in jou swangerskap gewerk het en by die lessenaar gesit het.”

      Dit was die begin van die hegte band tussen my en my ma. Só heg dat dit seker as ’n bietjie onnatuurlik beskryf kan word. En dit as ge­volg van ’n liefdevolle skuldgevoel. Sy het gevoel dis haar skuld dat haar kind twee “krom” bene het. Die dokter het wel gesê dit kan reggemaak word, maar dit sal “ ’n lang ruk” duur.

      Die prosedure het heel eenvoudig daarop neergekom dat ek na die “groot” hospitaal in Bloemfontein moes gaan, waar albei my bene gebreek en in gips gesit sou word om weer reguit aan te groei. Die praktyk was nie vir my ma en pa so eenvoudig nie, want die bene moes toe nog ’n keer of wat gebreek word.

      My pa het oor en oor vertel hoe hulle klein tweedehandse karretjie (was dit ’n Hillman?) langs die pad gaan staan het op pad Bloemfontein toe. En my ma het oor en oor vertel hoe sy moes sukkel om die morsigheid by my boude skoon te kry, wat heeltyd by die gipsomhulsel sou inglip. Ek kan – natuurlik – niks daarvan onthou nie.

      Jare later kom ek toe iewers in ’n solderkamer op ’n paar pare “gebreklike’ skoene in ’n groot trommel af. Saam met ou stukke gips, ge­stoor tussen vergeelde Saries, Landbouweekblaaie en Huisgenote. Dit was deel van ’n tyd wat my ma seker maar wou wegpak, maar tog ook nie. Ook die foto’s van ene Steenkamp, die verloofde wat haar so te sê voor die kansel laat staan het. Dit was nege maande voordat sy my pa ontmoet het. Net drie maande later is hulle getroud.

      Septembermaand. Ma se rebound-maand.

      Ek is in Augustus die jaar daarna gebore.

      “Ek weet nie hoekom nie, maar toe ek met jou pa getrou het, wou ek net dadelik ’n kind hê,” sou my ma vertel. Gevolg deur die magiese woorde: “ ’n Seuntjie soos jy . . . Voor ons in die skiprestaurant by Bethlehem se dam getroud is, was jou naam al klaar gekies.”

      Ek het haar menigmaal aangepor om dit weer vir my te sê. Dit het my altyd baie geliefd laat voel. Geliefd, en terselfdertyd ’n bietjie selfbewus. Maar voor ek my kom kry, glip dit weer uit: “Hoekom wou Ma ’n kind hê net toe Ma-hulle getroud is?”

      As sy nie dadelik antwoord nie, wag ek nie lank genoeg nie.

      “ ’n Seuntjie soos ek?” Dan het die herversekering altyd weer ge­kom. “ ’n Seuntjie soos jy.”

      Dit was uiteindelik seker maar ’n vrywillige keuse, maar my dierbare ma het onteenseglik haar deel bygedra tot die Griekse tragedie van my lewe. Sy het die tipiese Freudiaanse moffiema gespeel en wetens en on­wetens ’n verhogie vir haar klein Oedipus geskep. Eers jare later sou ek besef dit was alles gekoppel aan haar eie vrese, seerkrye en kompleksi­teite. Haar eie gepantserde drome wat onvervuld gebly het.

      En dis hierdie minder mooi herinneringe aan haar wat soos ornamente in ’n glasvertoonkas stuk-stuk deur die jare uitgebreek het. Herinneringe soos ornamente uitgestal in ’n outydse vertoonkas met bal-en-klou-pote en ’n spieël agter. Die mooies word netjies voor gerangskik, gereeld uitgehaal en afgestof. Die minder mooies agter vergader stof en breek “per ongeluk” met die verloop van tyd. Daardie klein ou drogbeeldjies wat jy liewer nie wil onthou nie.

      Gedroggies met grynslaggies.

      KLEINTYD

      Ek het nie juis van kinderspeletjies gehou nie, veral nie as dit nie deur myself uitgedink en uitgespeel is nie. Maar ek was van jongs af bewus van onderlinge verhoudings en gevoelens tussen mense. Dit was seker ’n soort magsposisie, want ek het vroeg al besef as ’n mens nie sterk is nie, moet jy slim wees. So was ek maar altyd bewus van die “verbode terreine” in families. Dis natuurlik daardie soort geheime wat “nooit gebeur” in goeie Afrikaanse families nie.

      En dit het my eindeloos gefrustreer dat ek heeltyd my woorde moes tel. Ek moes onthou ek is ’n kind en almal om my is grootmense. ’n Kind wat die grootmense se rympies uit sy kop ken. ’n Kind wat agter ’n grootmens se rug sy oë rol en voor die grootmens hom dom hou wanneer daar gepraat word oor “grootmensgoed”.

      Soos: “Jy loop nie en gaan krap in die doktersboeke nie! Dis grootmensgoed!”

      “Hoe kan ek, Ma?” wil ek vra, maar ek keer myself. Die boeke met die manlike en vroulike geslagsdele en hoofstukke oor voortplanting is weggepak tussen haar kraaknuwe spaarlinne in haar bal-en-klou-trousseaukis. Sy sluit dit toe met ’n groot geelkoperslot – “Weg van die nuuskierige agie se ogies!” – en ek weet régtig nie waar die sleutel weggesteek word nie.

      Ek kon nooit vir haar of enigiemand anders sê dat ’n familievriend wat vir die spoorweg gewerk het, my lankal gewys het hoe dit werk om babas te kry nie. Dit was mý verbode terrein, al was ek skaars sewe jaar oud. Dit was veral verbode terrein om vir enigiemand te sê dat Jan Bezuidenhoudt my selfs gewys het hoe om babas te máák.

      Ek moes gereeld hoor: “Jong, die kind is darem baie voor op die wa.”

      “Ouma se klein japsnoet!”

      Een ouma sou my so noem terwyl sy effens na my kant toe knip­oog met ’n skewe glimlaggie. Die ander ouma sou my dieselfde noem, maar háár toon was afkeurend. Dit was ’n toon wat sê: “Hierie kind is heeltemal te groot vir sy skoene. Julle gaan nog die vrugte pluk van sy voor-op-die-wa-geit.”

      Ek weet Ouma is slim. Ek weet sy hoor nie hoe ek haar namaak nie, maar sy weet ek koggel haar.

      Ek gaan nie sê watter ouma is watter ouma nie, want beide my oumas het baie vir my beteken as jong kind en ook later as tienerseun. Die een ouma het my warmte en sekuriteit gegee, die ander ouma het voor ek vyf was al voorspel: “En hier volg die nuus gelees deur Christo Gerlach.”

      My oupa aan moederskant, oupa Lou le Grange, was ’n groot figuur in my kinderjare – letterlik, wat hy was ’n lang, forse man. Godvresend. Ek was nog baie klein, toe het Oupa my al laat


Скачать книгу