Recce. Koos Stadler
nuuskierige inwoners gesels het.
Ek het gou agtergekom dat daar ’n oorlog aan die gang was in Ovamboland, aan Suidwes se noordelike grens met Angola. Sedert 1966 het Swapo-insurgente Suidwes uit Angola binnegesypel. Soos Swapo sy stryd om onafhanklikwording vir Suidwes uitgebrei het, is talle landmyne geplant en was daar sporadies plaasaanvalle in die noorde van die land. In 1974 het die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) die verantwoordelikheid vir die beveiliging van die 1 680 km lange grens tussen Suidwes en sy noordelike bure, Angola en Zambië, by die Suid-Afrikaanse Polisie oorgeneem.
Hoewel ek nie toe daarvan bewus was nie, is die 22-jarige lt. Fred Zeelie daardie jaar dood, die eerste Suid-Afrikaanse soldaat wat in die Grensoorlog gesneuwel het. Zeelie was ook die eerste Spesiale Magte-soldaat wat in die oorlog gesterf het.
Wat ek ook nie in 1974 geweet het nie, was dat Angola aan die vooraand van ’n grootskaalse, uitgerekte burgeroorlog gestaan het. In April daardie jaar het Portugal aangedui dat hy afstand wou doen van sy koloniale bestuur van die land. Dit het meegebring dat die drie bevrydingsbewegings – Holden Roberto se FNLA, Jonas Savimbi se Unita en die Marxistiese MPLA van Agostinho Neto – feitlik onmiddellik oor die beheer van die land begin stry het. Gevegte het in November 1974 in die hoofstad, Luanda, uitgebreek en spoedig na die res van die land versprei.
Elkeen het daarna ’n gebied in Angola oorheers: die FNLA die noorde, Unita die sentrale dele van die suide en die MPLA die kuslyn, die verre suidooste en natuurlik Cabinda, wat hulle in November 1974 verower het. Op 15 Januarie 1975 het vredesonderhandelinge tot die ondertekening van die Alvor-verdrag gelei. Ingevolge die verdrag is ’n oorgangsregering van nasionale eenheid ingestel en sou verkiesings in Oktober gehou word. Die land sou dan op 11 November 1975 onafhanklik word. Die ooreenkoms het dalk ’n einde gebring aan die stryd om onafhanklikwording van Portugal, maar het ongelukkig tot die eskalering van die burgeroorlog gelei. Skaars ’n dag nadat die oorgangsregering op 15 Januarie sy werksaamhede begin het, het gevegte tussen die drie bevrydingsbewegings in Luanda uitgebreek. Die koalisieregering wat deur die Alvor-ooreenkoms in die lewe geroep is, het spoedig tot ’n einde gekom.
Ek het eers van hierdie gebeure bewus geword toe wit Portugeessprekende vlugtelinge in konvooie deur Upington begin ry het, hul motors tot oorlopens toe vol gelaai met hul oorblywende aardse besittings. Die MPLA, gesteun deur die Sowjet-unie en Fidel Castro se Kuba, het op 9 Julie 1975 in Luanda beheer oorgeneem. Baie wit Portugese wat voorheen die koloniale regering gesteun het, het bedreig gevoel en het die meeste van hul besittings net so agtergelaat en in aller yl uit die land gevlug. Min het ek geweet dat ek binne ’n paar jaar in die Grensoorlog sou veg – en dit nogal skouer aan skouer met oud-Angolese burgers.
Einde 1975 is Operasie Savannah, ’n grootskaalse offensief deur die SAW, tot diep in Angola geloods. Die operasie het op 14 Oktober in die geheim afgeskop toe Taakmag Zoeloe, die eerste van ’n reeks SAW-kolonnes, die Angolese provinsie Cuando-Cubango binnegedring het. Die operasie was daarop gemik om die MPLA in die suidelike grensgebied en daarna in die suidweste te elimineer. Daarna sou die SAW na die sentrale gebiede en uiteindelik na Luanda opruk.
Met die Angolese bevrydingsbewegings wat in ’n stryd met mekaar gewikkel was, kon die SAW vinnig vorder. Taakmag Foxbat het middel Oktober 1975 by die opmars aangesluit. Die suidelike gebiede wat vroeër deur die MPLA verower is, is gou deur die Suid-Afrikaners ingeneem. Vroeg in Oktober het Suid-Afrikaanse adviseurs en tenkafweerwapens gehelp om ’n MPLA-aanmars op Nova Lisboa (die huidige Huambo) te stuit. Taakmag Zoeloe het Villa Roçadas (Xangongo), daarna Sá da Bandeira (Lubango) en uiteindelik Moçamedes (Namibe) voor einde Oktober 1975 verower.
Die opmars is kort voor Luanda gehalt en Suid-Afrika het sy magte einde Januarie 1976 uit Angola begin onttrek.2 Talle redes word vir die onttrekking aangevoer, maar in wese kom dit daarop neer dat Suid-Afrika alleen gestaan het in die stryd teen kommunistiese uitbreiding in Suider-Afrika. Gematigde Afrikastate soos Zambië en die Ivoorkus wat Suid-Afrika oorspronklik versoek het om in Angola in te gryp, was nie in staat om enige steun te verskaf nie. Westerse lande soos Amerika en Frankryk wat aanvanklik hulp belowe het, het nie woord gehou nie. Die Amerikaanse steun aan sowel die FNLA as Unita was sporadies en onbetroubaar en dit het finaal opgedroog op die kritieke oomblik toe Suid-Afrika gereed was om Luanda aan te val. Daarby was nóg Unita nóg die FNLA polities voldoende gevestig om ’n oorname van Luanda vol te hou.
3
Die saad word gesaai
ONDANKS DIE NUWE BESOEKERS aan ons dorp, was die Grensoorlog nie voorop in my gedagtes nie. Ek was in ’n ander soort geveg vasgevang – my eie stryd om oorlewing in die koshuis waar die lewe allerlei uitdagings na my kant toe gegooi het.
Ek is op die té jong ouderdom van sestien, toe ek in standerd 9 (graad 11) was, tot die skool se leerlingraad verkies. As die enigste skoolprefek wat in die seunskoshuis tuisgegaan het, moes ek daagliks my man staan teen die belhamels van die omgewing.
Pragtige groot moerbeibome het al langs die heining in die koshuis se voortuin gegroei. In die somer het die lieflike, ryp vrugte ’n welkome afwisseling tot koshuiskos gebied. Die moerbeie was egter ook ’n aantrekkingskrag vir bruin kinders van die buurt. Hulle was meestal kinders van huisbediendes wat in die wit woonbuurte gewerk het. Vir ’n paar juniors in die koshuis het dit ’n naskoolse tydverdryf geword om die bruin seuns te omsingel, een of twee van hulle te isoleer en hulle dan goed op te foeter omdat hulle kwansuis die moerbeie steel.
Die bruin kinders het gou die gevaar ingesien en besluit om nie moerbeie te pluk nie, maar slegs die ryp vrugte wat op die grond gelê het, te vat. Die koshuisseuns het hulle nie aan hierdie nietige puntjie gesteur nie: Die vrugte was hulle s’n, ongeag of dit op die grond gelê het of steeds aan die bome was. Die praktyk om die bruin seuns te teiken het dus voortgeduur. Gewoonlik sou ’n groep seniors terselfdertyd op die treetjies voor die koshuis se hoofingang sit en die jonges aanhits deur bevele te skree sodra die aanval geloods is.
Ek het dit aanvanklik as onskuldige pret afgemaak totdat ek eendag op pad terug van die kafee op ’n bruin kind afgekom het waar hy buite die koshuisheining lê en huil. ’n Paar van sy aanvallers het om hom saamgedrom terwyl hulle hom al vloekende probeer verjaag. Die seun was bebloed en nie in staat om op te staan nie. Op die koshuistrap het die groepie seniors getrou gesit. Enkeles het steeds aanmerkings geskree of die juniors bly aanmoedig.
Ek het na die seun gestap en hom opgehelp, maar toe ek die bloed met my sakdoek van sy gesig probeer afvee, het hy weggeruk en sy kop met sy arms bedek. Hy was te bang om selfs na my te kyk. Uiteindelik het hy moeisaam weg gehinkepink.
Ek het teruggedraai koshuis toe en na die groep aanvallers gestap. Hul houding was uitdagend: Hoe kon ek hulle verraai deur hul slagoffer te help? Ek het egter nie teruggedeins nie en hulle uitgetrap oor hul patetiese gedrag om ’n klein seuntjie aan te val en so te verrinneweer. Ek het hulle teruggejaag koshuis toe en na die ingang gestap waar die seniors steeds op die trap gesit het. Toe ek verbystap, kon ek gedempte aanmerkings hoor oor hoe ek die “verkeerde kant” kies. Nie een van hulle het egter die moed gehad om my openlik uit te daag nie, maar ek moes daarna dikwels hoor dat ek ’n “kafferboetie” is.
Ná die voorval het ek uit gesprekke met ander seuns afgelei dat die meeste koshuisseuns nie die aanvalle gesteun het nie, maar nie kans gesien het om die skuldiges uit te daag nie. ’n Klein minderheid het die aanvalle steeds as “onskuldige pret” beskou.
In daardie tyd het ek ook ’n onaangename onderonsie met een van die koshuis se inwonende onderwysers gehad. Hy was die personeellid aan diens en ek het twee seuns wat hulle oor die naweek aan drank vergryp het, aan hom gaan rapporteer. Die twee was al “gewoontemisdadigers” en almal in die koshuis was bewus van hul manewales.
Later daardie aand het die onderwyser my ingeroep en my in die teenwoordigheid van die twee seuns gekonfronteer. Hy het my uitgedaag om voor hulle te verklaar dat hulle dronk was, waarop hy hulle onmiddellik uit die skool sou laat skors, het hy gesê. Ek het geweet dat die onderwyser goed bevriend was met albei se ouers en dat die twee geensins slegs op grond van my verklaring uit die skool geskors sou word nie.
Ek is met ’n swaar gemoed uit die onderwyser