Recce. Koos Stadler

Recce - Koos Stadler


Скачать книгу
het die voorval ook aan 1 Recce se bevelvoer­der gerapporteer – en hy was uiteraard nie baie in sy skik met sy manne se gedrag nie. Die voorval het ’n slegte nadraai gehad omdat daar baie jare daarna nog ’n ongemaklikheid tussen die twee eenhede was.

      Die voorval het egter ook ’n positiewe gevolg gehad. Al die studente moes terugkeer Fort Vreeslik toe om ’n tweede Kleintaktiek-­kursus onder die uiters bewame lt. Frannie du Toit – wat my aan­vanklik vir die verkenningsvleuel gewerf het – en sy span instrukteurs te doen. Hierdie keer het ons die kursus saam met die Boesmans gedoen, dieselfde spanne saam met wie ons binnekort tydens operasies sou ontplooi. Vier weke lank het ons dag en nag saam met hulle geëet, geslaap en opleiding gekry – en alles ingeneem wat hulle ons oor bosoorlogvoering kon leer.

      Baie van die Boesmans was al deel van die Fletchas (“Pyle”) terwyl die meeste van ons nog op skool was. Die Fletchas was spe­siale eenhede van die Portugese magte wat tydens die koloniale oorlog in Angola gestig is. Hulle het uit lede van die plaaslike stamme en rebelle-oorlopers bestaan en het as peloton-grootte sub­eenhede in spoorsny, verkenning en pseudo-guerrilla-operasies gespesialiseer. Nadat Angola onafhanklik geword en die Portugese uit die land padgegee het, het baie van die Fletchas by die SAW aangesluit.

      Ons kon geweldig baie by die Boesmans leer. Veral hul ongeloof­like veldkennis was nuttig, soos ons tydens ons opleiding en latere operasies sou agterkom. Ek het elke geleentheid aangegryp om by hulle te leer. Daarmee saam was die kennis en ervaring van ons instrukteurs ’n groot bron van inspirasie. Frannie en sy span was volwasse en professioneel en hulle het ons met groot geduld deur die opleiding gelei.

      Die opleiding wat ons daardie paar weke in die afgeleë bosse van die Wes-Caprivi ontvang het, is van die beste wat ek ooit in ons weermag ervaar het. Ek het elke greintjie kennis ingedrink, soveel praktiese ervaring as moontlik opgedoen en probeer om een te word met die bos.

      Frannie, ’n briljante soldaat en militaris sonder weerga, het geglo die bos bied jou alles om ’n taktiese voordeel bo jou teenstander te kry – mits jou oë oop was om die geleenthede raak te sien. Hy het my aangemoedig om die klassieke werke oor ongereëlde oorlogvoering te lees en die beginsels my eie te maak. F. Spencer Chapman se The Jungle is Neutral was een van die boeke wat ons benadering gevorm en in ’n sekere sin die verkennings­vleuel se doktrine bepaal het, ten minste in die drie jaar wat ek deel van die verkenningspanne was.

      2

      Vuurdoop in die bos

      IN SEPTEMBER 1978 het die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheids­raad Resolusie 435 goedgekeur. Ingevolge die resolusie moes vyan­delikhede tussen die strydende faksies aan die grens met Angola en Zambië oor ’n tydperk van drie maande gestaak word. Die Suid-­Afrikaanse magte moes tot 1 500 soldate verminder word en ’n ver­kiesing sou onder toesig van die United Nations Transition Assistance Group (UNTAG) in Suidwes uitgeroep word. ’n Ge­demilita­riseerde strook sou ingestel word, maar dit het nooit gebeur nie omdat Swapo volgehou het om die binneland van Suidwes te infiltreer.

      Sektor-verantwoordelikheidsgebiede tydens die Grensoorlog

Kaart_2_fmt.jpg

      As ’n jong kandidaatoffisier pas uit die Infanterieskool was die groter politieke prentjie vir my duister. My fokus was uitsluitlik daarop gerig om te wys dat ek bevoeg genoeg was om ’n verkenningspan bos toe te vat.

      ’n Swapo-aanval op 23 Augustus 1978 op Katima Mulilo en sy militêre basis het ’n nuwe fase in die konflik tussen Suid-Afrika en Zambië ingelui. Sektor 70 se hoofkwartier, wat in beheer van operasies in die Oos-Caprivi en suidwestelike Zambië was, was op Katima Mulilo.

      Tien Suid-Afrikaanse soldate is dood toe ’n 122 mm-vuurpyl ’n kaserne getref het tydens ’n Swapo-bestoking vanuit Zambië. Die Suid-Afrikaanse magte het onmiddellik gereageer en drie veggroepe op oorgrensoperasies gestuur om hulle te straf. Hulle het geen noemenswaardige militêre suksesse behaal nie omdat Swapo reeds weg was toe die Suid-Afrikaners by die teikens aankom. Die boodskap aan pres. Kenneth Kaunda van Zambië en aan Swapo was egter duidelik – moenie met ons mors nie.

      In 1979 is ’n reeks goed beplande oorgrensoperasies na Zambië van stapel gestuur. Die verkenningsvleuel van 31 Bataljon het ’n prominente rol gespeel om die ligging van basisse te bepaal en aanvalsmagte na hul teikens te lei.

      Die Nasionale Party-regering het Zambië destyds as een van die frontliniestate5 beskou wat ’n alliansie teen die apartheidregering gevorm het en deel was van die kommunistiese “totale aanslag” teen Suid-Afrika. Zambië het taamlik goeie handelsbetrekkinge met Suid-Afrika gehandhaaf, maar was ook onder druk van die destydse Organisasie vir Afrika-eenheid (OAE) om die bevrydings­bewegings in Suidwes en Suid-Afrika, onderskeidelik Swapo en die African National Congress (ANC), te steun.

      Suid-Afrika het via die VN groot druk op Zambië uitgeoefen om Swapo nie te steun of ’n veilige hawe aan sy vegters te verskaf nie. Die frekwensie en intensiteit van die SAW se operasies in Zambië het ook toegeneem. Die Zambiese weermag, die Zambian National Defence Force (ZNDF), het soms ook teen wil en dank by gevegte betrokke geraak omdat Swapo hul logistieke toevoerroetes gebruik en hul basisse dikwels naby ZNDF-ontplooiings opgerig het. Die Zambiese regering het gevolglik druk op Swapo uitgeoefen om sy bedrywighede in die suidweste van Zambië te staak omdat die Suid-Afrikaners te veel moeilikheid in daardie gebied veroorsaak het. Hy het via die VN ook druk op Suid-Afrika uitgeoefen om sy optrede in dié gebied te staak en hom tot vredesonderhandelinge met Swapo te verbind.

      My eerste ontplooiing saam met die manne van 31 Bataljon se verkenningsvleuel was ’n gewaagde klein operasie in hierdie einste suidwestelike deel van Zambië. Ons moes ’n Swapo-offisier op die pad langs die Zambezirivier tussen Sesheke en Luso gevange neem. Dit was vroeg in Februarie 1979. Swapo was destyds baie aktief tussen die Cuando- en Zambezirivier omdat die gebied as deurgangs- of afspringpunt vir vegters op pad na die front in Angola gedien het. Die terrein het baie soos die operasionele gebiede van Suid-Angola en Ovamboland gelyk en was uiters geskik vir die opleiding van ’n guerrilla-mag. Tot in daardie stadium het Swapo die suidwestelike hoek van Zambië as veilig beskou aangesien die Suid-Afrikaners selde voorheen daar ontplooi is.

      Ons opdrag was om ’n hinderlaag te lê en ’n senior Swapo-offisier vir ondervraging terug te bring. Die hoofdoel was om die posisies van Swapo-ontplooiings in die Zambiese gebied te bepaal. Drie van ons sou die vroeëwaarskuwingsgroep noord van die hinderlaagposisie vorm, terwyl ’n tweede, klein groepie suid van die hinder­laagposisie sou ontplooi. Die hoofmag, bestaande uit Frannie du Toit en 11 manne (ses makkerpare wat elk uit ’n Boesman en ’n wit spanlid bestaan het), sou in ’n takties geskikte posisie tussen die vroeëwaarskuwingsgroepe ontplooi word en die hinderlaag akti­veer wanneer die Swapo-voertuig in die doodsakker inry (die area waar die vyand in ’n hinderlaag onder vuur kom).

      Wat my altyd van daardie paar dae sal bybly is dat ek nog nooit vantevore só nat en só miserabel was nie. Dit het onophoudelik gereën.

      Vir die ontplooiing het ons hoofsaaklik Swapo-uitrusting gedra wat nie na die SAW teruggespoor sou kon word nie. Dit het ook as misleiding gedien indien ons gesien sou word. Ons het dus Swapo-­poncho’s gehad wat net ’n deel van die lyf bedek het. Van dag een af – tot aan die einde van die ontplooiing – was ek deurnat. In die vroeëwaarskuwingspos kon ons dit nie waag om te beweeg nie en het onbedaarlik gebewe om ’n mate van hitte te behou. Ons was skaars 2 m van die pad af, dus was warm kos of ’n koppie koffie ook buite die kwessie.

      Die operasie is afgelas nadat ’n lid van die plaaslike bevolking (of PB, soos ons na hulle verwys het) in die hinderlaagstellings vasgeloop en toe weggehardloop het voordat enigeen kon reageer. Frannie het ons vinnig laat oppak en die drie spanne het na ’n vooraf bepaalde RV onttrek. Almal het teenspoorsny-tegnieke toe­gepas om te verseker dat ons spore nie gevind en gevolg kon word na die grens toe nie. Ek was erg verlig dat die ontplooiing opgeskort is en het my in die stilligheid voorgeneem om volgende keer beter voorbereid te wees.

      Nadat die hele span hergroepeer het, het Frannie my geroep en gevra of ek die terugtog sou lei na die punt waar ons die grens moes oorsteek. Ek was gretig om myself in


Скачать книгу