Recce. Koos Stadler
punt te lei waar ons die grens na die Caprivi moes oorsteek. Dit was ’n geringe prestasie, maar het my geweldig baie selfvertroue gegee. Dit het hopelik gehelp om Frannie te oortuig dat ek bevoeg genoeg was om saam met hom te ontplooi.
Een van die vele waardevolle lesse wat ek tydens daardie ontplooiing geleer het, was dat teeninsurgensie-operasies se sukses in relatiewe terme gemeet moes word. Soos in hierdie geval, kon ’n operasie nie summier as ’n mislukking verklaar word omdat die doel nie bereik is nie. Dit lewer dikwels ander positiewe uitkomste op, soos die inwin van waardevolle nuwe inligting. Die blote teenwoordigheid van die Suid-Afrikaanse magte in ’n omgewing waar hulle nie veronderstel was om te wees nie, kon ’n groot invloed op die vyand se bewegings uitoefen. Inligting wat tydens ’n “mislukte” operasie ingewin is, het boonop in ’n volgende ontplooiing dikwels tot sukses gelei.
’n Tweede les was hoe groter die mag, des te groter was die kans om opgespoor te word. Oor die volgende drie jaar sou ek hierdie grondbeginsel baie goed leer verstaan.
Destyds was die norm in 31 Bataljon se verkenningsvleuel om in sesman-spanne te ontplooi. Die ontplooiings was takties eerder as strategies en kontak met die vyand was byna onafwendbaar. Daar is gemeen dat die span sterk genoeg moes wees om homself in ’n geveg te handhaaf. Tydens talle ontplooiings in die suidweste van Zambië het die span dus altyd ’n kompanie van 31 Bataljon agter hom gehad, nooit verder as ’n paar honderd meter weg nie.
Ek het weldra agtergekom die doel was om kontak met die vyand te maak, ’n vuurgeveg aan te knoop om te verhinder dat hy onttrek en dan die kompanie kans te gee om hom die nekslag toe te dien. Dit het egter nooit so gewerk nie, omdat die vyand altyd die klassieke Mao Zedong-taktiek gevolg het van “vlug eerder vandag en oorleef om later weer te veg”. Swapo-soldate het laat spaander as hulle onverhoeds betrap is. Hulle het dit trouens vermy om in enige geveg betrokke te raak as hulle nie die tyd en omstandighede self bepaal het nie. Hulle het die terrein intiem geken en was uiters aanpasbaar in die bos. Ons is tydens vroeëre opleiding wysgemaak dat Swapo bang was vir die “Boere” en met enige kontak onmiddellik sou weghardloop. Ek het egter stelselmatig ontdek dat hulle takties baie fyn ingestel was en dikwels vreesloos in gevegte ingegaan het, waarskynlik omdat hulle so sterk in hul saak geglo het en alles daarvoor sou opoffer.
In my tyd by 31 Bataljon en veral tydens latere kleinspanoperasies as lid van die Spesiale Magte het ek uit vele naelbyt-ervarings geleer dat weghardloop eenvoudig ’n deel van jou mondering móét wees. Dit is ook nie noodwendig ’n mislukking of neerlaag nie. Mao Zedong se slagspreuk het vir ons ’n leefwyse geword want ons het guerrilla-taktiek om presies dieselfde rede as Swapo gebruik – om te oorleef! Onder lede van die spesiale operasies-gemeenskap op Katima Mulilo het ek, meestal in ’n goedige sin, bekend gestaan as ’n man wat bitter vinnig kon hardloop. Ons moes dikwels met behulp van heel on-taktiese taktiek die aftog blaas om te oorleef.
Ná daardie eerste ontplooiing het ons ’n hele reeks verkennings in Zambië gedoen. Frannie du Toit was ’n uitstekende leermeester en ek was bevoorreg om verskeie opdragte saam met hom uit te voer. Met sy kragdadige persoonlikheid en buitengewone aanleg vir verkenning is hy as ’n bietjie onortodoks beskou. Aangesien hy die eerste Boesmans vir die verkenningsvleuel gekeur en opgelei het, kon hy altyd die room afskep en is sy span altyd as die beste beskou.
Ons eerste ontplooiing ná die hinderlaagoperasie was ’n verkenningstaak om ’n Swapo-detachment in die omgewing van Kalobolelwa langs die Zambezirivier op te spoor. Benewens ek en Frannie was Tango Naca en Dumba Katombela, twee ervare Boesmans van die verkenningsvleuel wat toe al permanente lede van Frannie se span was, ook deel van die groep.
Tango was een van die ou garde – ’n rateltaai, gesoute soldaat wat as ’t ware ’n sesde sintuig gehad het wat hom byna bonatuurlik goed in die bos gemaak het. Hy kon ’n spoor soos ’n storieboek lees. Tango het die bos soos die palm van sy hand geken. Hy het voëls en diere se gewoontes verstaan en het gevaar instinktief aangevoel. Gedurende my ontplooiings saam met hom het ons nooit die vyand of plaaslike bevolking teëgekom sonder dat ons eerste van hul teenwoordigheid bewus was nie. Talle kere kon ons, danksy Tango, stilweg onttrek of in die lae bosse skuil sonder dat die vyand of PB ons gewaar het.
’n Week voor die ontplooiing is ons per helikopter van Omega na Katima Mulilo vir finale beplanning en voorbereiding. Op Katima het ons die meeste van die tyd in die operasiekamer deurgebring (van waar alle operasionele aktiwiteite beheer is; meestal die opskamer genoem). Roetes is in die fynste besonderhede beplan, kaarte voorberei en noodmaatreëls uitgewerk en geoefen. Een dag laat in Februarie 1979 is ons in ’n Super Frelon-helikopter van die lugmagbasis Mpacha buite Katima ontplooi.
Dit was ’n nuwe ervaring – net ons vier in die maag van die reuse-helikopter die onbekende in. Die adrenalien het gepomp want ek het nie geweet wat om te verwag nie. Ná omtrent 20 minute het ons die landingsplek, beter bekend as landing zone of LZ, in ’n omuramba 30 km suidwes van die teiken bereik. Toe ons net ná laaste lig (’n weermagterm wat op die tyd tussen sononder en donker dui) uit die helikopter hardloop, het ek so half verwag dat die vyand vir ons sou lê en wag, gereed om ons af te maai. Maar niks het gebeur nie.
Die bos was doodstil. ’n Drukkende hitte het ons omvou terwyl ons ’n skuilingposisie ingeneem en geluister het hoe die klank van die helikopter in die verte wegsterf. Die stilte daarna het my laat voel of ek stoksielalleen in ’n geluidlose, vyandige wêreld was. Daar was nie tyd om oor die vreemde gevoel te lê en tob nie. Die skielike eensaamheid was in elk geval ’n ervaring wat ek nog ’n duisend keer daarna sou beleef, dikwels in selfs nog meer uitdagende omstandighede. Ná ’n paar minute het ons hergroepeer en ’n entjie van die LZ af gaan skuil. Ons het tot skemer gewag om te kyk of daar enige vyandelike reaksie was en daarna in die rigting van die teiken begin beweeg.
Die operasie sou twee weke duur, want ons moes ’n groot gebied dek. Frannie se plan was om dadelik die strook net wes van die pad wat al langs die Zambezi gekronkel het, te fynkam. Sy plan was gegrond op die veronderstelling dat enige groot groep van logistieke aanvulling afhanklik sou wees en dat alle voorraad langs hierdie pad vervoer sou moes word. Die plaaslike bevolking het oral langs die rivier gewoon, wat ons taak bemoeilik het om die pad dop te hou. Die plan was dus om tekens van vyandelike logistieke aanvulling wes van die pad op te spoor en dit dan te volg totdat ons die basis kry.
Ons het wyd om die gebied gesirkel en ’n omuramba gevolg wat na die rivier lei om by die pad uit te kom. Toe het ons stelselmatig van noord na suid langs die pad af begin soek na tekens van Swapo-teenwoordigheid. Sewe dae later, nadat ons sowat 30 km gevorder het, was daar steeds geen teken van Swapo nie. Óf ons inligting was verkeerd óf die basis was verder suid. Frannie het ons taak as afgehandel beskou en gemeen ons moet ons soektog op ’n ander plek voortsit. Hy het die taktiese hoofkwartier (HK) gevra om ons te onttrek, maar dis summier geweier, omdat die ontplooiing opsluit twee weke moes duur.
’n Argument het ontstaan nadat die HK wou weet of ons inderdaad die bosgebied verder wes van die Zambezi verken het. Hoe meer Frannie probeer verduidelik het dat dit nie nodig was nie, aangesien ons reeds al die moontlike toegangsroetes gedek het, hoe meer het die HK daarop aangedring dat ons die volle twee weke na die basis soek.
Dit het vir my redelik onsinnig geklink om nog vir sewe dae te soek na ’n teiken wat jy geweet het nie daar is nie. Dit sou meer sin maak om terug te gaan, ’n herwaardering van die vyand se posisie te doen en weer te ontplooi. Min het ek geweet dat dit maar die eerste van etlike soortgelyke voorvalle in my loopbaan sou wees waar die base in die HK kwansuis beter weet as die arme drommel in die veld wat sy lewe waag om die vyand uit te snuffel.
In die twee dae wat ons in die lowergroen bosse gesit en wag het op ’n besluit om te onttrek al dan nie, het ek ’n interessante ervaring met die Boesmans gehad. Tango Naca het begin om ’n voëltjie dop te hou wat sy opwagting by ons skuilplek gemaak het. Die voëltjie het lawaai en al om ons skuilplek gefladder. Dan vlieg hy weer skielik in ’n rigting, net om ná ’n paar minute terug te keer en van voor af te kere te gaan. Eers het ek gedink Tango is geïrriteerd met die klein pes, want sy geraas kon maklik ons posisie verraai.
Maar toe stap hy na Frannie en fluister iets in sy oor, waarna ons spanleier sy kop knik. Tango wys dat ek by hom en Dumba moet aansluit