Recce. Koos Stadler
die senior onderoffisier die uitrusting gereed sou kry. Rantsoene en water is voorberei en verpak, radio’s getoets, batterye gelaai en spesiale toerusting soos nagsigbrille getoets. Die senior spanleier het die finale voorligting aan die hoofkwartier gedoen in die teenwoordigheid van die lugskakeloffisier (LSO) en vlieëniers.
Geskrewe orders en ’n ontsnap-en-ontwykingsplan (O&O-plan) is ingedien, waarna die span op Mpacha sou bymekaarkom vir finale voorbereidings. Die ondersteuningspersoneel het buite sig rugsakke in die helikopters gelaai terwyl die spanne ander klere aangetrek het. As standaard-prosedure het die spanne dan in ’n verlate hut aan die einde van die aanloopbaan gewag, swart gesmeer en met hul wapens gereed. Die helikopters sou op die aanloopbaan uitry terwyl die vlieëniers deur die voorvlugprosedures gaan. By die hut sou hulle omdraai en ’n oomblik talm om die span kans te gee om aan boord te spring.
Tydens een ontplooiing het ons in twee Alouette-helikopters uitgevlieg nadat ons dieselfde prosedure gevolg het. Die vlieëniers is ingelig dat die span uit twee wit en twee Boesmanlede sou bestaan en dat daar ’n swart en wit makkerpaar in elke helikopter sou wees. Die wit spanlid wat in die tweede helikopter sou klim, was ’n stoere plaasseun van Suidwes. Teen die tyd dat hy in die helikopter moes klim, was hy reeds swart gesmeer en het hy sy Afro-pruik opgehad om die prentjie af te rond. Die helikopter waarin ek was, het reeds opgestyg, maar die ander een het op die grond gebly. Nadat ons ’n paar keer gesirkel het, het die boordtegnikus vir my ’n radiokopstuk aangegee: Die vlieënier op die grond wou weet waar die tweede wit spanlid was. Volgens hom was daar net twee Boesmans aan boord. Ons kon eers vertrek nadat ek verduidelik het dat die tweede “Boesman” eintlik die boerseun van Suidwes was.
Tydens ’n ander verkenningstaak moes ons Swapo-ontplooiings oos van Sesheke oorkant die Zambezirivier soek. Die terrein was vreemd en baie moeilik om in te werk. Die Zambezi-vloedvlakte – wat ver aan weerskante van die rivier gestrek het – het uit groot, oop gebiede met kolle tropiese woud (sowat 100 m in deursnee) bestaan. Die kolle tropiese bos het voldoende dekking gebied en die span kon daar skuil, maar moes eskaders muskiete en hordes bosluise verduur. Dit was onmoontlik om in die dag te beweeg, omdat die vyand ons van ’n afstand af sou kon sien. ’n Ander gevaar was dat die span maklik in so ’n boskol geïsoleer kon word. ’n Mobiele vyand sou ons kon omsingel en weens die oop vlaktes sou ontsnapping byna onmoontlik wees.
Die span het weer uit vier lede bestaan, twee wittes en die baie betroubare tweemanskap van Xivatcha en Chimango. Ons het daglig nodig gehad om tekens van die vyand te vind, maar dit was natuurlik ’n risiko om bedags in die oop gebiede te beweeg. Ek het besluit om vroegoggend, met dagbreek, en weer in die laatmiddag, ’n bietjie daglig te steel om die gebied vir spore te fynkam. Ons het Swapo se tipiese, maar onortodokse styl van patrollering – enkelgelid en met wapens oor die skouers gehang – nageboots in die hoop dat ons op ’n afstand vir ’n Swapo-patrollie aangesien sou word. Ná donker het ons ons stewels uitgetrek en kaalvoet na ’n skuilplek ver van die dag se bedrywighede beweeg.
Laat die middag van die vierde dag het ons skielik stemme voor ons gehoor – dit het gekom uit dieselfde kol bome waar ons pas inbeweeg het. Terwyl ons dekking soek, sien ons oral om ons stewelspore en besef dat ons letterlik in die leeu se bek ingestap het. Die volgende oomblik gewaar ons soldate wat die kol bome aan die oorkant verlaat. Dit was egter nie duidelik of hulle ons gesien het nie.
Omdat die terrein nie veel beweegruimte toegelaat het nie en ons onseker was oor die vyand se sterkte en posisie, het ek onmiddellik die taktiese HK laat weet. Ek het nie eens die boodskap probeer enkodeer nie, net maj. Oelschig na die radio laat kom, ons posisie gegee en hom vinnig oor die situasie ingelig. Ek het hom laat weet dat ek oor 30 minute weer ’n vorderingsverslag sou stuur.
Toe het ons ’n skuiling ingeneem sodat ek ’n behoorlike waardering van die kaart af kon doen. Ons het pas ons rugsakke afgehaal toe ons voertuie hoor nader kom. Ek het begin bid dat hulle verby die klein woudkol waar ons geskuil het, sou ry, maar helaas, so gelukkig was ons nie. Russiese Ural-vragmotors het aan die ander kant van die kol bome tot stilstand gekom en ons kon duidelik hoor hoe bevele geskree word, deure toegeslaan en die bakke van die voertuie oopgegooi word.
Dit was tyd om spore te maak. Ek het Xivatcha naby my gehou omdat ek al geleer het om sy intuïsie in sulke situasies te vertrou. Ons het ons rugsakke opgesit en laag in die bosse gebly, gereed vir aksie, want ’n stil onttrekking was buite die kwessie.
Daar was vier voertuie vol soldate wat ’n helse lawaai opgeskop het. Sommige het gevloek en allerlei snedige opmerkings oor die “Boere” in Kwanyama, die lingua franca in Ovamboland, gemaak. Hulle het klaarblyklik vermoed dat ons SAW-soldate was. Die soldate is in ’n linie opgestel om ons te soek, maar om die een of ander onverklaarbare rede – waarskynlik omdat hulle die spore van die kleiner groep wat ons vroeër in die kol bome teëgekom het, met ons s’n verwar het – het hulle in die teenoorgestelde rigting, weg van ons af, begin beweeg.
Ek het besef hulle het geen benul waar ons skuil nie. Die geraas en geskree was duidelik daarop gemik om ons uit ons skuilplek te verdryf. Dit sou egter nie lank duur nie voordat hulle besef dat ons iewers aan die teenoorgestelde kant van die bos is. Ek het net daar besluit dis genoeg opwinding vir een dag en die span beveel om gebukkend weg te beweeg met die kol bome tussen ons en hulle om ongesiens te bly.
Ná ’n paar minute het Xivatcha, wat deurentyd voor my gehardloop het, sy kop opgelig en met ’n glimlag na my gekyk: “Vliegtuig ...” het hy gesê. “Boere-vliegtuig!”
Ek het vinnig die UHF-radio (ultra-hoëfrekwensie-radio, vir kommunikasie met vegvliegtuie) aangeskakel en die vlieënier se stem het dadelik oor die lug gekom: “Kilo Sierra, this is Cheetah. Do you read me?”
“Cheetah, this is Kilo Sierra,” kon ek uitasem uitkry. “Angels from heaven. You come as if you were sent!”
Ter wille van misleiding was kommunikasie met die lugmag altyd in Engels8 want die vliegtuie se radioseine het natuurlik weens die hoogte bo grondvlak veel verder gedra.
“We have indeed been sent. Thought you were in trouble. Where’s the enemy?” wou die vlieënier weet.
Die volgende oomblik het twee Impala-vegvliegtuie oor ons koppe geskeer en ons spannetjie het mekaar byna van blydskap omhels. Ek het die vlieëniers deur middel van peiling en afstand gerig op die gebied waar ons die vyand laas gesien het. Hulle kon egter niks opspoor nie want teen daardie tyd het die soldate die voertuie waarskynlik diep in die tropiese bos versteek. Die vlieëniers het wel ’n paar sarsies spekulatiewe vuur op moontlike skuilplekke gevuur om die vyand te ontmoedig om ons verder te agtervolg.
Tydens die nabetragting op Katima het dit aan die lig gekom dat maj. Oelschig die vliegtuie laat opstyg het kort nadat hy met my gepraat het, sonder om te wag vir my tweede oproep 30 minute later. Hulle kon nie bekostig om Suid-Afrikaners aan die verkeerde kant van die rivier te verloor nie, want Suid-Afrika was immers nie in ’n oorlog met Zambië gewikkel nie, het hy gesê. Vir die span was dit ’n riem onder die hart dat ons ’n missiebevelvoerder met visie én ’n gut feeling gehad het.
Op ’n praktiese vlak sou ek baie nuwe dinge gedurende my jare op Omega leer, nie net oor oorlewing in die bos nie, maar ook oor my kamerade. Hoewel ons Boesman-makkers onmisbaar was in die bos, het hulle ook swak punte gehad. Een hiervan was dat hulle hoegenaamd nie kon swem nie. Om ’n rivier oor te steek, was altyd ’n resep vir ’n chaos.
Dit het ek besef toe ons tydens ’n ingewikkelde ontplooiing die Cuandorivier moes oor om by ons teiken uit te kom. Die Cuando vloei suid vanaf die Angolese sentrale hooglande en vorm die grens tussen Angola en Zambië. Dit sny deur die Caprivi (waar dit die Kwandorivier genoem word) en mond uit in die Linyanti-moeras in Botswana.
’n Vegpatrollie van die verkenningsvleuel is opdrag gegee om Swapo se vernaamste logistieke toevoerroete na sy basisse in die suidwestelike hoek van Zambië te ontwrig. Ons sou ’n hinderlaag op die pad lê om ’n logistieke voertuig te vernietig. Die gevangeneming van ’n Swapo-offisier was ook nog hoog op die agenda.
Om te verseker dat die span die pad ongemerk bereik, is besluit om die Luiana- en Cuandorivier te voet oor te steek en dan uit ’n westelike rigting na die pad te beweeg. Dit het gou geblyk dat net