Die naaimasjien en ander stories. Rachelle Greeff
eintlik min mense,” het Ma agterna oor die foon vertel, “as jy dink hoe baie mense sy geken het.”
Ná Pa se dood, seker tien of so jaar ná Nan s’n, het Ma besluit om na ’n kleiner plek te trek. Ek het van Johannesburg en Nicola van Brisbane in Australië gekom om te help inpak. Soos verskeie van haar ander mooi goed wou Ma weet wie van ek of Nicola Nan se glashaas wil hê.
“Besluit julle maar, ek wil net gou badkamer toe,” het Ma haar verskoon. Dalk het sy gedink ons gaan daaroor stry.
“Nee dankie,” het ek gesê.
“Weird hoe klein hy nou lyk. Ek onthou dit as groter,” sê Nicola terwyl sy die haas bekyk. “Dis seker nogal iets werd, wat dink jy?”
Ma was nog nie terug nie.
“Nou vat dit dan,” sê ek.
“Weet jy wat dit my reeds gaan kos om al die ander goed in Brisbane te kry? Nee wat, hou jy dit.”
“Ek sê mos, ek wil dit nie hê nie.”
Moet ek haar vertel?
“Nou wat nou?”
“Kom ons laat dit per ongeluk val,” stel ek voor. “Of sit dit op Gumtree.”
Nicola lag. “Imagine wat Nan sou sê as sy weet ons verkoop haar haas op Gumtree.”
“Imagine.”
“Jy’t my nog nooit vertel hoekom Nan haar glamour vir jou verloor het nie, Sus,” herinner Nicola my, maar vergeet blykbaar haar vraag tussen die toedraaiery en Ma wat terug is en al weer oor ’n volgende item tob.
“Mens gaar te veel op,” sê Ma.
“Travel light,” beaam Nicola.
“Wat van tee, Ma?” vra ek, maar sê wat ek toe reeds ’n rukkie dink: “Ons dink ook jy moet die haas maar saamvat.”
“Ek weet nie, maar ek gaan eers vir ons iets maak om te drink.”
Toe Ma uit is, toe sê ek dit. Ek wag al sedert die einde van my standerdses-jaar, daardie Oujaarsaand, vir die regte tyd om vir Nicola te vertel. Hier was die kans nou.
“Oukei, ek sal jou vertel, Nicky,” begin ek.
En dan is Ma terug, gouer as wat ek gehoop het. Nicola vat die skinkbord by haar. Ek het vergeet Ma het altyd ’n warmfles met kookwater in die kombuis. “Kyk wat het ek vir julle twee gemaak!”
“Jippee!” Nicola klap haar hande. Ma blom. Vreemd hoe party grootmense weer kinderlik raak in die geselskap van hul ouers.
“Ystervarkies!” lag Nicola en onthou met dié dat sy nog sommige van die resepte in Ma se handgeskrewe resepteboek wil laat inskandeer en na haarself e-pos. “OMG!” Sy sal ook nooit voor Ma God sê nie. “Dink jy daai plek is al toe, Sussie?” Nicola het die volgende aand teruggevlieg, en ek het haar nooit vertel nie.
Dit was daardie Oujaarsaand in Nan se huis. Ek wou by Nan oorslaap oor Tommie en Nicola is saam met Ma terug. Pa het gesê hy loop agterna, hy het heeltemal te veel geëet, dit sal hom goed doen.
Ek weet nie hoe laat dit was toe ek wakker word nie, maar my bedliggie was nog aan en Tommie wat vroeër die aand by my op die bed was, was weg en die venster oop. Ek het geskrik: Nan het my gevra om die venster toe te hou, juis sodat Tommie nie kan uit nie, hy moet nog binne slaap, hy’s nog te klein. Ek het deur die lae skuifraamvenster geklim en saggies na hom geroep. Nan se kamerlig was gelukkig al af. Ek was nie bang omdat ek alleen buite was nie, maar doodbang dat ek vir Tommie laat wegraak het.
Ek stap ’n entjie, stop, roep saggies, luister. Loop aan, luister. Ek was byna teenaan Nan se studio aan die ander kant van haar erf toe ek die flikkerende skaduwees sien. Miskien het Tommie daar ingespring, dis waar Nan saans werk.
En toe sien ek wat binne aangaan, want daar brand ’n kers: ’n Man sonder klere tussen my en die venster. ’n Man sonder klere met sy rug na my, onbewus van my. Nan lê op die leerbank. Haar hare is los. Haar langlyf-bra blink soos iets wat opgevryf is. Die man draai effens en ek sien die sweep. Ek skrik. My hart galop so hard, dalk kan mens dit hoor, maar die man gaan net aan, hy hoor niks. Nan gaap. Mens gaap mos nie as jy bang is nie? Dan lek sy haar lippe, soos die honde as ma met hulle kos werk. Maar die honde se monde is nie so rooi nie, en hoekom het die man nie klere aan nie? Die man lig die sweep. Hy slaan haar een hou oor haar lyf dat die sweep klap. Ek voel naar soos die keer, net daardie een keer, wat Pa ons pakgegee het, vir my en Nicola met die stert van ’n sebra, een van sy uitstalgoed by die horsswepe en kieries van ivoor. Nan se lyf ruk. Haar mond is oop asof sy skreeu, maar ek hoor niks nie. Een van haar bene vlieg oor die agterkant van die bank, die ander voet in die skoen met die hak trap op die vloer langs die bank. Ek wil omdraai. Ek wil loop. Maar toe sy haar heupe lig, plak my oë aan haar daar onder wat nie hare het soos Ma en nou ook Nicola elke maand al meer nie. Die sweep val en die man tree nader aan haar. Sy gesig maak haar gesig toe. Ek kan ook nie meer haar daar onder sien nie. Al wat ek sien, is dat dit Pa is.
’n Mooi mondvol
Die hoek van Plat- en Bougainvilleastraat is meer perdeskoen as winkelhaak. Bougainvillea is van die hoofstraat af teer en loop so geteer deur die draai waar hy Plat word, maar die teer maak dit nie enduit nie, soos ek dit nie sou gemaak het as dit nie was vir Erik & Eddy en antie Yvonne en Mr D’Oliviera en so nie. Van net voor die draai is dit, soos die tande van baie mense in Rondomskrik, meer gate as iets anders, al is hulle nie eers oud nie. In daardie draai van die pad – wat ek goed ken, dis waar Erik & Eddy se huis is – is soveel slaggate, as jy ’n inkommer is en dit het lank nie kom reën nie, sal jy kan dink Platstraat is van daar heelpad verder eintlik grondpad.
Platstraat word elke paar jaar gelap, maar dit hou nie. Die munisipaliteit stuur briewe vir die base van die lorrie-klase en daar’s ’n bord met ’n rooi streep dwarsoor ’n wit lorrie wat lyk nes die plestieklorrietjies by Pep, en somtye sit en rol Piet Wiele die spietkop snotbolle in die lappie skaduwee van die spekbosse om Erik & Eddy se huis. Desondanks al hierdie bangmaakgoete steur die drywers van die appelkoos- en skaaplorries hulle nie. Dis al kortpad Skapieseinde toe én die meeste appelkoosplase lê die dorp uit daai kant toe, verby die slagpale. Erik & Eddy het naderhand ook opgehou om vir Veronique September by die munisipaliteit en vir die mense by die Die Aalwyn te bodder met die lorries wat die pad in sy kanon in ry.
Hulle het toe al seker geweet hulle gaan waai, lank voor hulle vir my gesê het.
Die vrou wat nou Erik & Eddy se plek huur, huur net vir ’n tyd. Nes laas jaar, en die een voor dit. Sy kom elke oggend vir ’n espresso en bly Saterdae vir lunch, hier by Salomo.
Direk na Erik & Eddy weg is, het mense van die Kaap met kinders en baie honne en tot ’n ponie bid jou aan daar gehuur terwyl hulle gewag het vir die bouery aan hulle plek teenaan die leidam waar hulle nou ook regte perde aanhou. Vir die res is die hortjies toe en as ek daar verbykom, wat net af en toe is, moet ek my keer dat ek nie die drempel oortrap na die donkerte toe nie. Die For Sale / Te Koop-bordjie staan op windskeef bene langs die voorhek. Op die oomblik, so sê Doreen van Seeff en Magda van Kontrei Eiendomme beaam, is daar nege-en-tagtig huise in Santa Gamka in die mark. Petrol raak te duur om net vir ’n naweek hierheen te ry. Met soveel blyplekke om van te kies, waarom sou een hier – met die lorries wat van voor ligdag en tot watter tyd saans om jou jaag dat dit bars – wil woon? Boonop vra Erik & Eddy te veel, maar daaroor het ek my mond gehou. Dis die ding met rand en euro, jy kan nie wen nie. Hulle is mos terug België toe. Hulle sal nooit daai prys ruik nie, al was hulle inheemse tuin (buiten vir die vye en suurlemoene en olywe, het Eddy my geleer) glads in Garden & Home (die Icebergs en lavender is ook inkommers) en die binnekant van die huis in daai vreeslike fancy en belaglike duur tydskrif met die naam wat ek altyd vergeet. (Toe ek daai boek die eerste keer sien, daar by Erik & Eddy, sê ek vir hulle die meubels en goete is net so simpel soos die mense op Fashion TV, hotnosgotte op hemelhoë hakke, en vir wat lag niemand nie, is dit dan nie snaaks nie?)
Die een hele muur van die eetkamer van Erik-hulle is onder borde. Dit was nie die eerste keer dat ek gesien het hoe ryk mense se kombuis en eetplek