Stormkind. Riana Scheepers
STORMKIND
Riana Scheepers
Tafelberg
Hierdie boek word met deernis opgedra aan
die eerste inwoners van ons land, die Boesmans.
Hulle het ’n beskawingspeil gehad waarvan
ons maar net kan droom.
For oh, I know, in the dust where we have buried
The silenced races and all their abominations,
We have buried so much of the delicate magic of life.
Uit “Cypresses”
(Collected Poems van D.H. Lawrence)
1
Storm
Sy word wakker van die kletterende reën op die dak en die geloei van die wind. Verruk lê sy in die donkerte na die storm en luister. Die wind huil soos ’n wolf. Dit ruk aan die deure van die huis, dit blaas in die skoorsteen af. Die wind waai die as van die vorige nag se vuur soos ’n grys wolk in die vuurherd rond, pluk woedend aan die rame en die ruite van die plaashuis.
Dit is ’n verskriklike storm, ’n wind wat dit sal regkry om ’n huis se gewel te laat intuimel, skoorstene af te ruk, dakplate weg te waai. Hierdie wind sal ’n hele huis kan optel, met kaste en stoele en tafels en alles binne-in, ma en pa en kinders nog in hul beddens aan die slaap, en aan die ander kant van die berge gaan neersit. Reën en selfs ’n paar haelkorrels klap dof op die rietdak, die geute suis van die druising van baie water, die breë stoepe om die huis word oorspoel met die reënvlae.
Dit is ’n wonderlike nag. Dis ’n nag vir opstaan en buitentoe gaan. Sy sal sommer toelaat dat die reën haar wegvat saam met die rivier, dobberend oor die ronde wit klippe wat uit die berg loskom. Doller as kopaf sal die rivier haar vat, soos ’n mens ’n wilde perd ry. Of sy wil hê dat die wind haar optel en by die wolke inkatrol, tuimelend in groot bolmakiesies, saam met blare en lakens wasgoed en wit skaapvelle sneeu.
Hierdie storm beteken iets. Dit is ’n storm wat ánders is, sy voel dit so seker as wat sy ouma Lien se lappieskombers oor haar lyf kan voel. Maar wát?
Sy klim uit die bed en gaan staan voor die venster. Daar is weerligblitse wat die donker skeur, vreemd hier in die Boland, helder flitse lig en rammelende donderweer. Sy lig die skuifraam op. Die wind stoot in en druk haar nagrok teen haar lyf vas. Die gordyn word rondgepluk en raak nat. ’n Boek op die tafel wat ooplê se bladsye blaai om, asof ’n onsigbare mens daardeur blaai. Sy klim deur die venster en gaan staan op die stoep. Die uile se hoe is stil.
Raka, die rooi rifrug, verskyn van êrens uit die donker en kom staan styf teen haar. Hy druk sy groot kop onder haar hand in.
“Sjjjt, Raka, gaan lê, gaan slaap. Jy loop nie nou saam met my nie!” Sy vryf oor sy kop, frommel sy ore tussen haar vingers.
Kan ek nie maar saamgaan nie? vra hy mooi, maar hy sien sy wil hom nie saamhê nie. Nie vannag nie. Hy los haar. Net so stil as wat hy gekom het, verdwyn hy weer.
Haar hele lyf tril, nie van koue nie, van die heerlikheid van die storm.
Storm, noem die mense op die plaas haar. Stormkind.
“Nee, my allakragtie,” sê haar ouma vererg. “Die mansmense in hierdie familie se naam is Storm. Julle gaan waaragtig nie ’n meisiekind ook nog só noem nie. Of sy nou van storms hou of nie, haar naam is Jana en dis ’n pragtige naam en ek praat nie weer hieroor nie, basta!” Alles in een asem.
Maar niemand luister na ouma Lien nie. Almal op die plaas noem die meisiekind Storm. Stormkind. As hulle onthou dat sy ook ’n ander naam het, noem hulle haar StormJana. Sy is OuStorm van Deventer van Stormkloof se kleinkind, KleinStorm van Deventer se dogter.
Moya, noem Ntuli, die stil man wat uit KwaZulu-Natal kom en in haar ouma se tuin werk, haar. Sy kyk op, hoor wat hy sê en verstaan hom. Ja, dit is sy. Moya. Wind.
Dit is hierdie wind wat haar nou roep.
Jana weet dat haar pa en ouma Lien se toorn om haar kop sal losbars as sy weer die pad vat en in die reën loop, maar sy kan haarself nie keer nie, die nag roep haar. Dit maak nie saak dat dit stikdonker is nie; sy ken die pad, sy sien goed genoeg in die donkerte.
Wat StormJana nie weet nie, nog nie, is dat sy so ver soos sy loop, met haar lang hare ’n blink draad spin. Terwyl sy loop, kom daar een of twee van haar rooi hare los uit haar kopvel en knoop hier en daar vas aan die struike, die bome, die heinings. Sy los ’n glinsterende spoor so ver as wat sy gaan.
In die wingerd sien Tarsis, Stormkloof se spookperd, haar aankom. Hy runnik saggies, kap met sy voorpoot teen die grond en skud sy kop sodat sy blonde maanhaar uitwaai oor sy nek.
Binne sekondes is StormJana sopnat, haar nagrok ’n nat vel teen haar lyf, maar sy voel nie die koue nie.
Kyk hoe maak my kaal voete spore in die grond, kyk na die kleur van water in die nag, ruik hoe soet is die wind, dink sy.
Sy loop deur die wingerd waar die druiwestokke hul koppe afbuig teen die reën, verby die spookperd van Stormkloof wat sy kop na haar draai en haar stil aankyk, tot by die boonste weikamp. Sy loop tot by die olienhoutbos met die groot boom wat met sy knoetserige stam krommer as al die ander bome staan en bo almal uittroon. Dit is die oudste boom op die plaas, sê OuStorm, dit was reeds ’n stokou boom toe sý voorsate op die plaas gekom het. Die mense wat die geskiedenis van die Stormvallei ken, weet almal van dié boom. Dit word beskryf in die geskrifte van die reisigers wat hier verbygekom het, Burchell en Andrew Geddes Bain. Piet Retief, voordat hy koers gekry het oor die berg die binneland in, het die mense onder dié boom laat bymekaarkom. Ouma Lien sê selfs lady Anne Barnard het ’n mooi klein tekening van die boom gemaak toe sy Stormkloof besoek het, en dit was meer as tweehonderd jaar gelede.
StormJana gaan sit onder teen die boom se stam. Hoe stil is dit hier. Die surings op die grond maak ’n digte mat. StormJana se voete word suringgroen. Tjier, tjier … sing die nag. Die boomblare ruis bokant haar kop. Die olienhout grom diep uit sy stam. Sy voel die rilling tot in haar rugmurg. Haar hart klop stiller. Sy ruik die reën en asem die wind diep in haar longe.
Sy weet iets gaan gebeur.
Hier. Vannag.
Eers toe die reën bedaar en die wind ’n bietjie gaan lê, is sy gereed om terug te gaan huis toe. Sy staan op, draai om na die boomstam. Teen die voet van die stam is daar nou ’n holte wat oopgespoel het in die reën. Dis ’n holte wat sy nog nie voorheen gesien het nie, sy wat elke dag van haar lewe hier by dié boom is.
Moenie, sê ouma Lien terwyl hulle deur die koel bos loop wanneer hulle piekniek hou, wanneer hulle met die bergpaadjie tussen die blommende proteas stap, terwyl sy waterblommetjies uit die dam pluk en dit vir Jana aangee om in haar mandjie te sit. Jana, my meisiekind, moenie jou hand sommer in enige holte druk nie. Moenie op jou knieë staan en jou gesig in erdvarkgate druk om te loer wat daarin is nie, moenie moenie moenie in vrot, hol boomstamme klim nie, moenie met jou hand voel wat binne-in daardie vrot boom se gat lê nie, wat daarbinne skuil, is slange en slym en skerpioene.
Maar StormJana gril nie vir slym nie en sy skrik nie vir slange en skerpioene nie. StormJana druk haar hand in die holte onder die boom. Daar is spinnerakke en verrotte blare en modder en water onder in die gat. Onder haar vingers voel sy ’n dooie skerpioen se karapaks, sade van die olienhoutboom, takkies en gruis en goeters wat lankal vermolm het. En ’n klip wat skielik koel in haar hand kom lê. Sy tel die klip op uit die gat en bevoel dit met haar vingers. Só ’n klip het sy nog nooit gesien nie, rond én hoekig met ’n skerp snypunt na onder. Dit is ’n groterige klip, maar die ronding met sy drie hoeke pas perfek in haar hand, asof dit vir haar hand gevorm is.
Sy loop terug huis toe met die klip, deur die nat weikamp en af met die modderige pad waar haar voetspore reeds opgevul het met water. Sy sien nie die glinsterspoor wat haar hare gespan het en waarlangs sy terugloop nie. Sy klim deur die oop raam van haar kamer, bly binne staan sonder om die venster toe te maak.
Tarsis die spookperd runnik tevrede en verdwyn in die nag.
Raka