Stormkind. Riana Scheepers

Stormkind - Riana Scheepers


Скачать книгу
kom haal sy suster op die stasie en vat haar na die klein wit huisie met sy grys leiklipdak in Baile Uí Fhiacháin, terug na die rawe en die monnike se spoke en die ou vrou Katherine Jane se sterfbed.

      Jana van Stormkloof huil drie nagte oor haar ma wat weg is, sy suig haar duim en slaap snags in ’n warm holtetjie tussen ouma Lien en OuStorm in hul katel. Bedags as sy moeg gespeel is, raak sy aan die slaap teen die blad van Raka die Verskriklike wat haar slaafs oppas. Hy wag geduldig totdat sy wakker word voordat hy opstaan en sy lyf uitrek. Raka die Wraka, wat nooit blaf nie, maar tande wys vir almal wat op die werf kom. Hy grom wanneer iemand naby hom kom, maar nooit vir Jana nie. Sy kan maar aan sy ore trek en op sy rug klim, tussen sy pote deurkruip en in sy bek na sy tong en wrede tande kyk. Hy staan doodstil en laat alles toe wat sy aan hom doen. As sy by hom is, is hy nie Raka die Wraka nie, hy word Raka die Sagte, Raka die Oppasser, Raka die Held.

      Jana besef nooit dat haar ma wegraak nie.

      Haar ma gaan weg en kom nooit weer terug nie.

      Maak nie saak hoe die mense in die Vallei skinder oor die beeldskone Ierse vrou en haar kortstondige huwelik met KleinStorm van Deventer nie, sy bly weg.

      9

      Weg

      Kort ná ouma Katherine se dood, kort ná die tradisionele begrafniswaak met baie whiskey en trane en Ierse grappe, kort ná die begrafnis in die klipperige grond van die begraafplaas, verdwyn Jana se ma. KleinStorm van Deventer se Ierse vrou wat hy liefhet meer as homself, selfs meer liefhet as Stormkloof se grond, verdwyn van die aardbol af.

      Wat het geword van Deidre O’Donnell-Van Deventer?

      Niemand weet nie. Nie eens haar eie Ierse mense nie.

      Niemand kon voorsien wanneer Katherine sou sterf nie, daarom bespreek Deidre nie haar terugvlug op ’n vaste datum nie. Eers toe die begrafnis verby is, bevestig sy haar vlug vir ’n week later en begin saam met Muriel hul ma se sake en besittings opruim. Dit is nie moeilik nie; Katherine se sake is eenvoudig en haar besittings min. Alles is eintlik reeds beredder. Muriel en Deidre praat baie en lag baie terwyl hulle die kaste leegmaak en uitsorteer en skoonmaak en regpak. Hulle praat oor hul liewe, kwaai ma en hul lewens en die toekoms. Deidre vertel van haar lewe in Suid-Afrika. Sy is gelukkig, sê sy, sy het ’n liewe man, ’n pragtige kind, selfs ’n skoonma wat wonderlik is. Muriel vra: “Wat kan jy meer in die lewe wil hê?” Deidre sê: “Niks, heeltemal niks.”

      Katherine se lapgoed en meubels, die kombuisgoed en die enkele stukke silwer word onder die kinders verdeel soos wat elkeen wil hê en sentiment aan het. Daar bly vier dae oor voordat Deidre moet teruggaan huis toe, na haar man en haar meisietjiekind Jana (Jane, soos die Ierse familie haar noem). Hulle wag vir haar op die wynplaas in haar nuwe land, Stormkloof, Stormvallei, Suid-Afrika.

      Deidre sê vir die res van haar familie dat sy ’n paar dae deur haar land wil reis voordat sy terugkeer. Hoe weet sy wanneer sy weer die kans sal kry om deur die groen eiland te reis? Die Boland is haar nuwe tuiste, maar in Ierland bly iets van haar hart agter.

      Sy huur ’n motor en vat die pad. Agterna kon die familie en polisie en die speurders haar spoor maklik volg. Van ’n plattelandse B&B na ’n klein hotel, toe na ’n herberg in ’n dorpie in die berge. En uiteindelik na die beskeie gastehuis waar sy vir die laaste keer sou tuisgaan.

      Haar motor staan verlate in die parkeerarea van die Skye View-gastehuis in Cushendall, ’n klein, mooi dorpie in Noord-Ierland aan die wal van ’n donker rivier.

      Daar raak Deidre weg.

      Sonder spoor.

      Sy word die vrou wat nooit in die gastehuis se bed slaap nie, nie opdaag vir ontbyt nie en ook nie die rekening betaal nie. Van haar bagasie is in haar kamer, een tas steeds in die kattebak van haar motor. Die broskoekies in die silwerbokaaltjie langs haar bed is nooit geëet nie. Daar is geen desperate brief wat iets verduidelik nie, geen teken dat sy depressief is nie, geen bewys van ’n vurige minnaar met wie sy kon wegloop nie. In haar tasse wat later deur die polisie deursoek word, is daar klein presentjies vir almal tuis.

      Die enigste besitting wat sy by haar moes gehad het, behalwe die klein rugsak met haar beursie, dokumente en selfoon wat sy heeltyd by haar hou, is haar fluit. Die fluit se houtkissie in haar kamer is leeg.

      Weg.

      Wat, wat op aarde kon van die vrou met die rooi hare geword het? So wonder die polisie en die gastehuis se eienaars en die dorp se inwoners. Selfs die drinkers in die kroeg vra dit vir mekaar en skud die kop oor die krisis en die warboel in hul klein dorpie, polisiemanne en speurders en nuusmense die hele wêreld vol; al wat leef en beef wat ondervra word, al wat leef en beef wat soek. In die bosse en weivelde om die dorp, maar veral op die strand onder die loodregte kranse word daar gesoek; mense en honde en helikopters wat in elke hoekie en gaatjie kyk. Die dorpsmense wat op die strand kom, het al van alles opgetel wat uit die see kom: silwerteepotte gespoel uit die wrak van ’n vergane skip, dooie dolfyne en ou skoene en stukke seewier; selfs een keer ’n paar vaatjies konjak uit Frankryk, maar nié die bleek liggaam van Deidre O’Donnell-Van Deventer, die Ierse vrou uit Afrika nie.

      Het sy van ’n hoë krans afgeval terwyl sy gaan stap het? (Die ruwe kransvoete en die alkowe onder die kranse en die strande word met ’n fynkam deurgesoek. Duikers duik en snuffelhonde snuffel terwyl die laagwater hou. Niks.)

      Is sy ontvoer deur ’n barbaarse wellusteling? (Dié bekend aan die polisie is almal ondervra, sonder enige bewyse.)

      Het iemand haar êrens gesien? Het sy koffie gedrink in die dorp? Het sy in die lane en stegies tussen die boerderye gaan stap? (Kathy O’Leary van die gastehuis het haar na haar kamer geneem, en toe nooit weer gesien nie. Sy het nêrens in ’n restaurant geëet of koffie gedrink nie. Nie een van die inwoners van die dorp wat hul hulp in die soektog aanbied, het haar gesien nie, niemand. En dit wil gedoen wees in hierdie kleine dorp waar almal alles sien.)

      Het sy ’n lankvergete minnaar ontmoet? (Niemand het ’n vreemde man opgemerk nie.)

      Het sy depressief en alleen haar hand aan eie lewe geslaan? (Geen bewys daarvan nie, geen laaste brief, geen SMS, geen woedende, desperate telefoonoproep nie.)

      Was sy betrokke by een of ander misdaad? Die skakel in ’n dwelmnetwerk wat geheime boodskappe moes ontvang en pakkies van laakbare aard uitruil? Dalk diamante wat sy uit haar Suiderland aan ’n vreemdeling moes oorhandig? (Geen spoor daarvan nie.)

      Was sy deel van ’n ondergrondse politieke organisasie wat terreur wou stig in Suid-Afrika en Noord-Ierland? (Nie een van die tallose, amptelike ondersoeke wat volg, dui naastenby op só ’n moontlikheid nie.)

      Dwaal sy iewers rond met geheueverlies? (Dan sou iemand, iemand haar tog gevind het, want teen dié tyd weet en soek die hele Ierland na die Ierse vrou uit Afrika wat spoorloos verdwyn het.)

      Niemand doen die moeite om hulle te vra nie, maar dit is die oudste inwoners van Cushendall wat met bygelowige sekerheid presies weet wat met Deidre gebeur het. Dit is die jong vrou se jaloerse ma wat die blaam moet kry, skinder hulle op die stoepies van hul huisies oor dit wat in hul dorpie gebeur het. Dit is tog so duidelik soos daglig, die pasgestorwe ma het jaloers besluit om haar geliefde dogter vir altyd in Ierland te hou, sy kon nie verduur dat sy weggaan na haar nuwe land nie. Die gees van die bose ou Katherine het haar dogter in ’n swaan verander, natuurlik! En so iets hét mos al gebeur, einste hier op hierdie dorp. Mense mag nou wel sê dis net ’n verhaal, ’n sprokie, maar jare der jare gelede is koning Lir se kinders deur hul jaloerse stiefma ook in swane verander. Die swaankinders moet volgens die stiefma se vloek ’n duisend jaar lank in die stormsee tussen Ulster en Skotland swem, en nou het daar maar net nóg ’n swaan bygekom.

      Die mense van Cushendall luister na dié ouvroustories. Hulle kyk na elke spierwit swaan in hul waters en wonder watter een Deidre is.

      Don’t be ridiculous, King Lir’s story of his children turning into swans is a tale for children, raas Maggie McDougal met die dorp se mense waar sy in haar kombuisie staan en uitkyk oor die see. I have absolutely no doubt, it’s the faeries that took the woman. She should have known better, after all, she is an Irishwoman,


Скачать книгу