Stormkind. Riana Scheepers

Stormkind - Riana Scheepers


Скачать книгу
staanplek op die breë houtplank van die vensterbank. Sy trek haar nagrok uit en laat dit in ’n nat hopie by die voetenent van die bed op die vloer lê, klim net met haar broekie in die bed. Toe sy die lappieskombers oor haar optrek, is haar lang, dik bos hare reeds droog.

      Ek sal blaas en ek sal blaas tot ek jou huisie omblaas, grom die gruwelike wolf saggies oor haar kaal skouers en trek sy bek oop oor sy tande, maar sy glimlag vir hom en dommel heerlik in die sagtheid van haar donskussing en verekombers. Sy hoor nie hoe die oudste boom op die plaas diep uit sy stam begin kraak nie en ’n paar sekondes later met ’n blaargedruis en brekende takke sy wortels uit die aarde skeur en met ’n verskriklike slag omval en sidderend tussen die ander olienhoute bly lê nie.

      StormJana droom.

      2

      Droom

      StormJana droom van fluitmusiek wat oor heuwels weerklink, van die see wat teen rotse slaan, van ’n kind wat saam met haar hardloop om te kyk hoe die branders daar doer onder teen die rotse slaan. StormJana droom dat sy en die kind, ’n dogtertjie bruin soos klip, mekaar se hande vat en van die krans afspring. Hoog vlieg hulle deur die lug, sweef liggies na onder. Maar hulle kom nooit tot heel onder nie. Hulle hang halfpad stil in die lug, want kyk, iets het hul aandag getrek, iets sit vas in die skeur van die krans.

      3

      Klip

      Jana se pa maak haar wakker met ’n beker rooibostee wat hy vir haar bed toe bring. Hy sien die klam bondeltjie nagrok op die vloer. Hy skud sy kop, glimlag moedeloos.

      KleinStorm van Deventer het al lankal opgehou om sy kind in die huis te probeer hou. Hoe hou ’n mens ’n kind binne wat nie binne kan bly nie? Bedags of snags kies sy koers. Sy loop waar sy wil. Hy het al alles probeer: luike wat van buite gegrendel word, deure wat gesluit word, waterkomme voor haar bed met die hoop dat sy in die water sal trap en wakker word, boererate van warm melk met wilde heuning, boegoe wat saans op haar bors en rug ingevryf word. Niks het haar nog gekeer om snags rond te loop nie. Al die gekarring en vermanings maak haar net meer onrustig. En opstandig. Angstig is hy wel oor dié lopery in die nag, snags lê hy ure lank wakker om te hoor of sy uitgaan.

      Dit gebeur nie gereeld nie, maar altyd op die onhebbelikste tye, wanneer geen sterfling dit buite sal waag nie. Op stormnagte kan niks die kind binne hou nie.

      ’n Wilde kastaiing van ’n dogter het hy, ’n nagloopkind, ’n windverwaaide stormkind. Daarmee moet hy vrede maak. Hou haar vas en probeer haar inperk, dan word sy buierig en begin haar duim suig, dan is sy Storm. Los haar uit en laat haar loop, dan is sy gelukkig en vrolik, die duimsuigery vergete, dan is sy Jana.

      Sy het nog nooit iets oorgekom as sy so rondloop nie, dank die Vader, maar hoe maak mens só ’n kind groot?

      Hy gaan sit by haar op die bed, vou die lappieskombers en lakens weg.

      “Jana?”

      Jana word wakker en kruip in haar pa se arms in. Hy ruik haar hare, haar warm vel, sien die sproetjies op haar neus. Sy hart krimp ineen.

      Hy sit by haar terwyl sy die beker tee in haar twee hande hou en saggies daaroor blaas.

      “Waar het jy gisternag oral rondgeloop, Ounooi?”

      “Pappa, dit was só mooi, die reën, die wind … die storm het bolmakiesie geslaan oor die plaas!”

      “Ek weet. Dit was ’n verskriklike storm. Die plaas lyk bietjie sleg vanmôre, daar lê takke en blare die wêreld vol. Ek moet nog gaan kyk of daar ander skade was. Ek hoop nie ’n boom het op die wingerd omgeval nie.”

      Sy begin die tee met klein slurpies drink.

      “En dit? Waar kry jy dit?” Storm staan op en tel die klip van die vensterbank af op. Hy draai dit al in die rondte, bekyk dit van alle kante, weeg die klip se gewig in sy hand.

      “Dis my boomklip, ek het dit gisternag gekry.”

      “Wat is ’n boomklip?”

      “Ek het dit gisternag by die boom gekry.”

      “Weet jy wat dit is?”

      Jana skud haar kop. Dis ’n klip, haar boomklip.

      “Dit is baie meer as net ’n klip, Jana, dis ’n klipwerktuig. In die Steentydperk het hier baie mense in die berge om Stormkloof gebly, eers die oermense en toe later ook die Boesmans wat ook dié klippe gebruik het. Hulle was slim genoeg om ’n klip met ’n ander klip net reg te kap en dit te gebruik as ’n mes of ’n skraper of ’n byl. Jy kan maar sê dit was hulle gereedskap. Dis mooi, nè?”

      Jana se pa kantel die klip in sy hand en wys vir haar die drie hoeke van die klip. “Kyk hoe het hulle die klip gekap: hier, eers hier, en toe hier, net reg om perfek in jou hand te pas en die skerp kliplemme te kan gebruik.” Hy vat die leë beker uit haar hande en sit dit op die bedtafeltjie neer. Hy vou die klip in haar regterhand toe, die skerp punt na onder.

      “Met die dun snykant aan hierdie kant van die klip – voel jy? – kon ’n mens iets sny of skraap, en met die skerp punt hier onder kon jy iets stukkend kap of fynkap.” Hy druk saggies die klip se skerp punt in haar ander handpalm om te wys hoe dit gedoen is. “Jy het ’n waardevolle kunswerk opgetel, Jana! Wat gaan jy daarmee maak?”

      “Hou,” sê StormJana. “Dis nie ’n kapklip of ’n snyklip nie, dis my boomklip.”

      Toe haar pa uit die kamer loop, lê sy terug in haar bed. Sy druk die klip styf teen haar oor vas, soos mens met ’n skulp maak. StormJana hoor die gesuis van water in die klip se stilte, ’n groot waterval wat van ’n vreeslike afgrond afstort; sy hoor die suising van wind deur die bome.

      En die soet, hoë note van ’n fluit.

      4

      !X’uri

      “Nou ja toe,” sug ouma Lien, “daar het die oudste boom op die plaas toe uiteindelik omgeval. Ek het gewonder of ek dit in my leeftyd sal sien. Daar is mense wat sê die boom was meer as vierhonderd jaar oud, maar hoe sal ons regtig weet? Ek is nogal hartseer; dit was ’n pragtige boom.” Sy kyk na Jana wat by die kombuistafel sit en ’n bakkie hawermoutpap met heuning eet. “Jy bly weg van daardie boom, Jana, my meisiekind, dis gevaarlik. Die takke lê die wêreld vol en daar is slange.”

      Ouma Lien dreig altyd met slange as sy vir Jana wil weghou van ’n plek.

      Die slange wat Jana al op die plaas gesien het, het haar nog nooit bedreig nie. Hulle het skigtig tussen die fynbos en die blare weggekapel as sy naderkom. Sy was nog nooit bang vir hulle nie. Slange is lieflike diere met geruislose, gladde velle en klinkende name. Nagadder, rinkhals, koperkapel, kobra. Geelslang, glinsterslang, glipslang, weg.

      Ouma, ek is nie bang vir slange nie! Maar sy sê dit nie, want dit is nie wat haar ouma wil hoor nie.

      En natuurlik bly Jana nie weg van die boom nie. Gelukkig is dit nie nodig vir die werksmense om enige iets op te ruim nie. Die olienhoutbos is ver van die plaas se kragdrade en geboue. Dit het nie ’n skuur se dak of ’n trekker of ’n waterpyp verpletter nie. Die omgevalle stam lê diep vasgestamp in die nat grond en surings. Met die val van die boom het ’n paar kleiner olienhoute naby hom ook in die slag gebly. Later sal ’n paar manne met petrolsae en byle kom en die grootste takke wegsny om die bome oop te maak wat onder die ou boom se stam vasgeknel word.

      Die plaas se grootste boom het geval soos die natuur dit voorgeskryf en bepaal het; daar waar hy lê, daar lê hy nou. Vir altyd.

      Jana loop vroegoggend terug op haar spore van die nag, Raka die Rooie al om haar hakskene. Daar het van haar voetspore nie veel oorgebly nie; dit is amper weggespoel deur die reën.

      Weet Jana dat haar spoor nooit kan wegspoel nie?

      Die glinstering van haar rooi hare, daar waar sy gisternag geloop het, blink in die oggendlig, maar sy sien dit nie. ’n Flentertjie rooi lint wapper hier en daar aan ’n wingerdstok, ’n stukkie het onder teen ’n skurwe klip bly lê,


Скачать книгу