Kyk na my. Nataniël
het daaroor gepraat nie. Nou kon jy weer regs draai, net ná die tennisbaan en parkeerplek vir die boere met plase wat vir eers in ’n ander wêreld geleë was, dan was jy in die hoofstraat, alhoewel die straat waarin jy so pas was, Hoofstraat genoem is.
Maar ons hou reguit aan. Op die volgende hoek is ’n motorhawe. Hier het my pa gewerk, hy was een van die dorp se werktuigkundiges en kon alles regmaak, alle beweging op die dorp was as gevolg van my pa, almal het gesê hy was die beste in die streek. Wat was ’n streek? Waar in die Ganse Wêreld het ’n streek ingepas? Ek het nooit gevra nie, dat Pa die beste was, was genoeg.
Hier het die grondpad begin en ook die heuwel, kerk, skool, koshuis, almal in ’n ry. Nou weer afdraand, dan volg ’n systraat na regs. Hier het almal gedraai sonder om vir ’n oomblik links te kyk. Nét voor jy draai, nét na die leë stuk grond langs die koshuis, het Die Vuurhoutjies gewoon. Wie ook al die woord boskasie uitgedink het, moes eers hier verbygekom het. Bome soos wat jy nêrens anders te sien sal kry nie het hier gegroei, krom en gebuig in alle rigtings, soos mal ballerinas het hulle ’n sirkel gevorm rondom ’n hut uit klei, stene, sement, hout en sink, nie ’n plakkershut nie, ’n skewe towenaarskokon met ’n aantrekkingskrag wat niemand kon weerstaan nie, as jy eers gekyk het, het jy stilgehou of stilgestaan, jy was vasgenael. Die vuilste familie in die Ganse Wêreld het hier gewoon, hulle is Die Vuurhoutjies genoem omdat almal se gesigte roetswart was. Hulle was nie sonder water nie, ook nie sonder elektrisiteit nie, ook nie sonder klere nie, hulle was net nie lus daarvoor nie. Kos het geprut in ’n pot oor ’n vuur, ’n bok het geblêr, ’n skaap het geskree, hoenders het geskrop, ’n tros kinders het rondgedwaal, in komberse gedraai of in handdoeke gebind, almal met lang bosse hare, nie klein kindertjies nie, tieners, pragtige, gespierde, vuil tieners wat skoolgegaan het wanneer hulle wou, soms tydens ’n kerkdiens in die deur kom staan het, laatnag rondgesluip het, geen kwaad gedoen het nie, net gesluip en gegrom het soos wolwe.
Draai regs, draai vinnig regs. Op ’n groot erf, twintig treë van Die Vuurhoutjies, het ons gereeld gekuier, hier het Oom Sam en Tannie Stienie gewoon. Tannie Stienie was Ouma se suster, ’n klein, dierbare vroutjie wie se gesig ek nooit kon onthou nie, my ma moes haar elke keer aan my voorstel. Oom Sam was groot en besig op die werf, orals was stapels materiaal, vele projekte het geduldig bly wag op voltooiing. Daar is ook tuingemaak, rye groente het gedy in die son, en hoenders is geslag, ja, die eerste keer het ek niksvermoedend nader gestaan toe ’n hen op ’n houtstomp neergelê is. Ek het gedog hier is ’n toertjie op pad. Lank ná die kop weg is en die pootjies ophou stuiptrek het, het ek teen die hoop teerpale gestaan en om die beurt opgegooi en gehuil.
Wat ek wel met plesier onthou, is die donkerte van die huis, ’n groot huis met ’n lang gang. Dit was ’n goeie donkerte, Tannie Stienie se oorwinning teen die hitte, sy kon ’n vertrek donker kry met lang gordyne – was daar hortjies of aftrekblindings ook? – dat ek nie die koelte kon glo nie. Ek onthou ’n keer toe die huis volkome stil was, daar was ’n lyk in die hoekkamer, die lykswa moes van ver af kom, van ’n plek wat net bestaan het wanneer ’n lykswa nodig was, en hierdie was die koelste huis denkbaar. Was dit ’n familielid? Of net ’n kennis met geen ander wagplek? Ek weet nie, maar ek onthou die vredige geleentheid, kalm en vol aanvaarding, vir my was dit geheel en al nuut en ek het daarvan gehou. Dit was soos deesdae se winkelvla, dodelik én heerlik en niemand praat daaroor nie.
’n Jaar nadat my geheue opdaag, weet ek nog nie hoeveel vrae elke mens toegelaat word nie, hierdie bevindinge is dus my eie:
Ons dorp is vinnig om te verken,
net af en toe verrassend,
mooi genoeg,
slaaptyd voel effens te vroeg,
op die oomblik het almal genoeg om te eet.
Dankie.
So was dit hier in die twee wêrelde aan weerskante van die netjiesste onvolledige heining in die geskiedenis.
Seuntjies
Geen idee waar hulle vandaan gekom het nie, maar hulle was gereeld daar. Om onder die groot boom langs die motorhuis te speel. Daar was die grond anders as in die sandput, ons kon huise bou en slote grawe.
Soos met die meerderheid van eersgeborenes was my slaapkamer gevul met speelgoed, alles waaraan ouers kon dink, was daar in kaste en kiste. Ekself kon aan heelwat ander dinge dink, baie beter voorwerpe om myself mee te vermaak en te onderrig, maar vir eers moes ek tevrede wees met dit wat gepas was vir seuntjies. En sover dit speelgoed vir seuntjies aangegaan het, was ek net geboei deur die verpakking.
Motors was my pa se hele wese en op ’n stadium het miniatuurvoertuie, helderkleurig, glad afgewerk en lewensgetrou, op winkelrakke verskyn. Pappas en hulle seuntjies het mal geraak en tolle, ketties, rubberdiere en houtwaens is eenkant gegooi. My pa moes mal raak sonder my, maar het steeds ’n vloot by my kamer ingedra.
Ek was nie ondankbaar nie, elke dingetjie met wiele was verpak in ’n kleurvolle kartondosie met ’n deurskynende plastiekvenster. Hierdie nuwe dosies het na fabriek geruik, dit was kraakvars met skerp hoeke en gedrukte tonele en ontwerpe. Ek was baie beïndruk deur hierdie aanbiedings uit ’n kleine glanswêreld, ek het hulle in formasies gepak en uitstallings gehou, belig met my bedlamp en my flits. Al hierdie voertuie, sportmotors, bakkies, busse, stootskrapers of vragmotors is karretjies genoem.
Gaan haal jou karretjies! Jou maatjies is hier!
Watse maatjies?
Ek wou elke keer aan my ouers verduidelik dat my maatjies reeds rondom my was, sien hulle dan niks?, maar die huisengel het dan van iewers verskyn en in my oor gefluister: Hulle is nog nie gereed nie.
Dalk wou my ma ’n nasorgbesigheid begin, dalk het my pa die ouers betaal, maar die seuntjies was daar, onder die boom, twee keer, drie keer per week. Ons het ons karretjies, grafies, emmertjies met water, plankies uit die pakkamer en botteltjies koeldrank met blou papierstrooitjies. Ons skraap paaie, maak modder, bou huise, rivierwalle en winkels. Ek bou die kerk. Elke keer. Met ’n klok en ’n klein koster voor die deur.
Langs my stoot ’n seuntjie ’n rooi ding met ’n rooi sleepwa verby die ry huise.
Gggrrrrooooomm, maak hy in sy keel.
Is jy ’n leeu? vra ek.
My pistons is gebreek, sê hy.
Ek gaan my ma sê jy vloek.
Hierdie lorrie trek swaar, sê hy.
Jy gaan die paadjie breek, sê ek, Moenie so na aan die huise ry nie, speel netjies!
Wwhhrrr! grom ’n ander kind.
Sjuut! sê ek, Hulle bid in die kerk!
Ek soek tou, sê die kind met die goue kop. Hy het kort, klipharde goudgeel hare gehad wat almal vorentoe geleun het soos soldaatjies wat buig voor ’n koning.
Ons het nie tou nie, sê ek.
As ek my strooitjie op hierdie lorrie vasbind, is dit ’n kanon, sê hy.
’n Kanon is vir oorlog, sê ek.
Die oorlog kom, sê die goue kop, Hulle wil ons goed vat.
Wie?
Die mense van die lokasie, sê hy.
Ons moet ’n muur bou, sê die een met die rooi sleepwa, Hoog, hoog, hoog!
Ons kan alles platspring voor hulle kom! skree nog een baie opgewonde.
Wat is ’n lokasie? vra ek.
Elke dorp het ’n lokasie, sê die goue kop, Hulle wil ons goed hê, so sê my pa.
Julle speel nie reg nie, sê ek, Mens maak nie kanonne nie! En mens spring nie goed plat nie!
Ons mag speel soos ons wil!
Jy mag nie! sê ek, En jy moet jou karretjies opvryf! Joune is altyd vuil en dof!
Jy’s simpel, sê die goue kop.
Jy’s simpel!
Ek gaan nou loop, ek