Kyk na my. Nataniël
ook nie!
Hulle is weg, ek is verlig, ek hardloop kombuis toe, in die onderste laai is twee baie klein ligblou strikkies, my ma het dit van my boetie se babatruitjie afgehaal. Ek hardloop terug. Ek gryp ’n wit karretjie en sit dit voor die kerk neer. Ek sit versigtig die strikkies op die enjinkap. Troukar.
Dag een
: Kan hy ons hoor?
: Nee, hy’s in sy kamer. Waar’s jul enetjie?
: By die buurvrou, die’t ’n opblaasswembad, ek kry hom nie daar weg nie.
: Wat gaan ons doen? Dis nog net ’n paar weke!
: Wat kan ’n mens doen? Jy kan nie vlug nie, jy kan nie die tyd laat stilstaan nie, ons het maar solank die klere gaan koop.
: Ons ook, nog nie alles nie, ons moet weer gaan. Dit gaan nie die skok minder maak nie, maar ’n mens kan hom ten minste dophou as hy die goed aanpas, of die tassie sien, dalk is daar iets wat jou laat agterkom of hy een van Die Gelukkiges gaan wees.
: Ek weet! Maar ons kon nie veel wys word nie. Hy was mal oor die das wat so aanknip, hy’t dit sommer in die motor weer aangesit. En die skoene! Hy sê heeltyd hy’s nou groot. Soos sy nefies.
: Ons het al daaraan gedink om net blatant te lieg oor sy ouderdom en hom net ’n jaar terug te hou, dit gee ’n mens darem tyd.
: Ja, gelukkig is hulle nie van daai lang kinders nie.
: Hulle is so klein!
: Dalk verander die wet nog! Ons hoor die hele tyd van dinge wat gebeur. Daar is van hulle wat nou tuisbly.
: Dis die skatrykes, hulle kry alles reg.
: Wat van Die Prins? As Die Prins kom, is alles anders!
: Wanneer was Die Prins al ooit hier rond? Ons hoor net van ander wat gered word op ver plekke, nooit ’n plek wat ons ken nie.
: Blykbaar laat hy sommiges verdwyn, ander gaan na plekke wat absoluut net vir hulle ingerig is, party leef én leer onder koepels, mét hulle families, stel jou dit voor! Net Die Genadiges kan hulle wel sien!
: Ons kan net hoop! En rondvra! Dis mos veilig om te vra?
: Ons sal iets gedoen kry. Ek sal nie my kind laat vergaan nie.
: My kind is spesiaal, nie een van hierdie lot gaan weet wat hy nodig het nie.
: Waar is jy, Prins?
Hierdie gesprek het nooit plaasgevind nie. Hulle was wel in die sitkamer, my ma, my pa, Derick se ma en pa. Ek was in die gang en kon alles hoor, hulle het gepraat oor die prys van skoolklere, wie die kinders gaan oplaai en aflaai, tot hulle oud genoeg is om self te stap, dis regtig nie ver nie. En dit sal heeltemal veilig wees as hulle saamstap. En uit die pad staan as daar ’n ryding aankom. Behalwe as dit reën, natuurlik. En dan was daar goed soos sport en koorsing, maar dit sou darem seker eers oor ’n jaar of meer begin. So het hulle gepraat, maar Die Gesprek het nie plaasgevind nie. Hoe kon dit? Hulle het mos nie daarvan geweet nie. Ek ook nie. Ek het dit eers onlangs neergeskryf, Die Gesprek Wat Alle Ouers Behoort Te Hê Voordat Kinders Skool Toe Gestuur Word, Veral As Daar Moontlik Kinders Met Feë-sand Ter Sprake Kan Wees.
En Die Prins? Niemand het toe van hom geweet nie.
En so, ’n paar weke later, sonder ingryping, sonder trompette en boodskappers wat die nuwe wette aankondig, doodgewoon, asof dit absoluut natuurlik is, begin die skooljaar. Dag Een begin soos op ’n skip, my ma lyk soos altyd, my pa ook, die huis het nie sy vorm verloor nie, maar die res is alles vreemd, ek is onvas op my voete, die wêreld wankel. Ek het my nuwe klere aan, wit hempie, dun grys truitjie, grys kortbroek, grys sokkies, swart skoene. (Ek besef nou dat dit moontlik ander kleure kon wees, maar al daai jare se foto’s was swart-en-wit, ek is dus in grys.)
In my hand is my skooltas, ’n klipharde, klein bruin koffertjie. Binne-in is ’n kosblik met toebroodjies, daar is ook ’n reghoekige plastiekbotteltjie met rooi koeldrank, ’n sakdoek, ’n appel, twee groot boeke, een met ligblou lyntjies, een daarsonder, en ’n sakkie met gekleurde potlode. Ek hou baie van my tas, dit ruik splinternuut. Ek maak die deksel oop en draai om na my kas toe.
Nee, nee, sê my ma, Jy hoef nie speelgoed saam te neem nie, hulle het alles. Kom nou, ons wil nie laat wees nie.
Dit is ’n verskriklike ding wanneer iets bekends skielik lewe kry en jou wys dat jy niks geweet het nie, jy word nou onkant gevang. Ons was al honderde kere verby die skool, dis tussen die kerk en die koshuis, op pad na drie gereelde kuierplekke, maar vandag sluk hy ons, in by die hekkie, op met die trappe, verby ’n saal, om ’n hoek, verby ’n pilaar, nog ’n pilaar, kinders, kinders, kinders, in by ’n klaskamer. Hier is jou stoeltjie, hier is jou tafeltjie, hier is jou ouers, hulle is nou vreemdelinge, hulle gaan jou net hier los, kyk hoe lag hulle, gesels met ander vreemdes, hulle waai vir jou, jy waai nie terug nie, jy kyk af. Wat skuur so? Dis die blok om jou nek, ’n donkergrys platterige, skurwe blok, dit druk teen jou maag, krap teen jou keel, dis jou vrees, van nou af altyd saam met jou, nee, jy is nie vaak nie, nee, jy is nie swak nie, nee, jou bene is sterk genoeg, dis maar net die blok wat nog nuut is, ja, die naarheid is doodgewoon, jy sal nog daaraan gewoond raak, jy dryf nou, soos op ’n skip, die skip wieg in die see, op die skip is ’n swembad, hy wieg ook en jy is in daardie water. Jy wieg saam met die wieg van die wieg. Jy gaan nie dood nie, jy vat net nie grond nie. Jy hoor alles wat jou juffrou sê en jy doen wat jy moet, sy is een van Die Genadiges, sy sien jou, sy sien jy dryf, maar sy kan dit nie keer nie, sy moet haar werk doen.
Ek het baie van Juffrou Van Wyk gehou, sy was vriendelik, nie vriendelik genoeg om te sê skoolgaan is nou verby nie, maar sy het haar ontferm. (Dis Ouma se woorde, as iemand hom of haar ontferm, is jy veilig.) Op ’n foto in my album sit ek langs haar, jy kan glad nie sien ek dryf nie, ek glimlag breed. Op my bors is ’n papiergesiggie met my naam.
Waarvan ek baie hou, ten spyte van die skip en sy gewieg en die blok om my nek en my ouers wat weg is, is die reuk in die klaskamer. Poeierverf, styselverf, waterverf, speelklei, kryte, gom, houtblokke, houtkrale, papier in alle diktes en teksture, alles saam skep ’n reuk wat ek vir die res van my lewe sou herken in ateljees en werkswinkels, die plekke waar vakmanne aanhou swoeg om iets onherkenbaars of onbereikbaars sy vorm te gee.
Van iewers kom ’n stem wat ek nie ken nie, ’n manstem, hy praat met my, sag en kalm: Dis nie so sleg nie, sien jy? Dis glad nie so sleg nie.
Buite lui iemand ’n klok. Juffrou Van Wyk laat ons in ’n ry staan.
Gaan ons nou huis toe? vra ek. Maar die blok druk teen my keel en maak my hees, niemand hoor my nie.
Dis nou pouse, sê Juffrou, Ons gaan almal saamstap tot by die bome, daar kan julle speel en julle broodjies eet. As iemand wil badkamer toe gaan, sê net vir my, dan stap ek saam geboutjie toe.
So leer ken ek ’n woord wat meer vrees en wreedheid inhou as enige spookstorie wat Oupa nog ooit kon uitdink. Pouse. My blok is swaar, ek haal hard asem en volg net die kind voor my. Ek kyk nie op nie, ek sien net skoene, daar moet meer as ’n miljoen wees, al die skoene lyk soos myne, ek kyk effens op, almal se klere lyk ook soos myne, vir wat? Sodat ons kan verdwyn soos die stukkies in my legkaart met die baie lug? My ma en pa gaan my nooit kom soek nie, hulle is by die huis met my boetie. Hoekom wil hulle my weg hê? En hierdie kinders! Hoekom gil hulle so? En spring soos bokkies? Weet hulle nie ons is gelos vir die wolwe nie? (Ook Ouma se woorde.)
Hier leer ken ek nog ’n ding, afwagting. Ek dryf, nou tussen die miljoene identiese kindertjies, niemand maak my seer nie, niemand sê snaakse goed nie, niemand gryp my broodjie nie, maar ek wag daarvoor, hier is niemand om my te help nie, Juffrou kan nie almal dophou nie, hoekom is daar ’n pouse? Hoekom moet jy weggaan van jou tafeltjie en jou tas? Jy kan mos by die huis speel!
Ek kyk op. Nee, kyk af! Daar is groter kinders by die geboutjie met die toilette. Hulle kyk vir ons. Ek hap my broodjie, ek hou van eet, maar hier proe ek niks.
Die dag hou nog ’n duisend ure aan. Ek weet nie hoe ek by die huis gekom het nie. Ek het ’n ster op my voorkop en ’n prent in my hand.