Kyk na my. Nataniël
Maar dit gebeur inderdaad dat ’n judo-instrukteur bereid is om die dorp se seuntjies een keer ’n week te kom oplei in Oosterse vegkuns. Ons het ’n keuse, judo of rugby.
Ek is amper ag jaar oud en voel weke lank diep verontreg nadat die dogtertjies by ’n verjaarsdagpartytjie elkeen ’n pop met ’n wit rok ontvang het. Hierdie popklere is gemaak uit ’n spesiale materiaal waarop patrone en prentjies geteken kon word en dan gewas word om dit weer en weer te doen! Die seuntjies het elkeen ’n brandweerwa ontvang. Ek het ’n gat bo-in myne gemaak en dit begin vul met muntstukke, ek sal my eie tekenklere koop.
Ons moet rugby speel of judo doen, sê ek vir my ma.
’n Judo-pak is baie duur, sê my ma.
Hoe lyk ’n judo-pak? vra ek.
Soos pajamas, presies soos wit pajamas, sê my ma.
Ek doen judo! sê ek.
Ek gaan daai pajamas inkleur, vol drake teken, moontlik plak met blink goed, dis hoe ek besluit.
Ons koop die pajamas by die skool, die baadjie het glad nie knope nie, net ’n lyfband. Dinsdagmiddag drie-uur staan ons almal in die saal. Daar is matte op die vloer. Ons staan in rye, wit pajamas, ligblou lyfbande, ons lyk soos dwergies in ’n storieboek met net een kleur. Die instrukteur is jonk en vriendelik, hy lyk nie grommerig soos die ander onderwysers wat sport afrig nie. Hy vertel ons dat hy elke middag judo-lesse gee op ’n ander dorp, dis vir hom ’n voorreg, judo maak die wêreld verdraagsaam en veilig.
Judo bestaan uit vinnige besluite en beweging, sê hy, Ons val nie aan nie, ons verdedig.
Dit gee my selfvertroue. Ek steek my hand op.
Kan ek my belt groen of pienk maak?
Van die seuntjies proes.
In judo het ons range, jy kleur nie jou gordel nie, jy verdien hom, sê die instrukteur.
My moed sak tot op die saal se vloer, oud en jonk, almal stel jou teleur, niks is soos wat dit behoort te wees nie, niemand is verdraagsaam nie, niks is veilig nie. Maar dis beter as rugby.
Voor ons kan veg, moet elkeen ’n maatjie kies, ek kies vir Gideon. Hy het ’n sagte gesig soos ek en het ook gehuil by die atletiek. Die instrukteur verduidelik van grepe en gooie. En dat dit belangrik is om te weet hoe om te val. Een moet gooi en een moet val. Gideon gryp huiwerig na my gordel. My baadjie gaan oop.
Moenie, sê ek.
Ek gaan lê self en Gideon lê bo-op my. Later lê ek bo. Wanneer die instrukteur nader kom, ruk en pluk ons ’n bietjie aan mekaar se klere. Judo is glad nie sleg nie. Ek weet net nie hoe hulle ooit sal bepaal wie val aan en wie verdedig nie.
Op ’n baie warm Dinsdagmiddag stap ek huis toe ná nog ’n judo-les. Ek is vies oor die hitte en oor my klere en gordel wat nooit van kleur verander nie. Ek is lus vir ’n worsie by die hoekwinkel, maar ’n judo-pak het nie sakke nie en dus het ek nie 5c by my nie.
Jy! Mammagesig! sê ’n stem.
Ek kyk om. Skuins agter my loop Fudge. Hy was ’n lang kind wat gelyk het asof hy elke dag by die see was, bruingebrand met polisiespiere, kort stokkieshare en oranje wenkbroue. Almal het geweet dat hy moeilikheid maak met kinders en vriendelik is met grootmense. Hy was groter as enige van die kinders in die skool, dalk was hy dom, maar niemand het gevra nie. Hy het nog nooit met my gepraat nie. Hoekom nou? Wat gebeur? Ek kyk voor my.
Jy! Popkop! sê hy.
Ek hoor al die onheil en al die vlamme van die hel in sy stem. Ek raak warm agter in my nek, oor my hele kop. En yskoud aan die agterkant van my bene, ek bewe soos ’n masjientjie, dit gaan nooit, nooit weer ophou nie, dis hoe ’n kind verander in ’n spokie.
Skoenlapper! Ek gaan jou seermaak! sê hy, nou baie nader.
Vrek, vark, vrek, sê ek saggies, my droë lippe klou morsdood aan mekaar. Ek het dit ’n paar maande vroeër gehoor by die kerkkamp toe twee skoonmakers vuisgeslaan het agter die vullisdromme, vrek, vark, vrek. Ek het dit gebêre en sê dit nou.
Daar is ’n skielike geruis, soos ’n arendvlerk. Tannie Gagiano hou langs my stil met haar verskriklike groot Peugeot.
Ek weet dis net ’n perdespoeg huis toe, maar klim in, netnou smelt jy in hierdie son, lag sy.
Ek klim in. En ek bewe soos ná ’n bad in die winter.
Jy moet jou nie steur aan daai Fudge-kind nie, hy’s net wind, die Here gee en die Here neem, sê Tannie Gagiano.
Sy hou stil voor haar huis.
Wil jy inkom vir lemoensap? vra sy.
Nee dankie, Tannie, bewe ek.
Dis net die leë erf langs haar huis en dan is dit ons huis. Twintig kindertreë, maar dit neem my honderd lang jare voordat ek ons hekkie oopstoot. Ek kyk nie een keer om nie. Ek is ’n spokie, vorentoe, vorentoe.
Ek het hom nooit weer gesien nie. Twee weke later, net voor eerste pouse, het die skoolhoof ons klaskamer binnegekom en met ’n sagte stem verduidelik dat Fudge nie weer sou terugkeer na ons skool nie, hy het die vorige dag verongeluk, hy was met sy fiets op die Bothmaskloofpas. Die hoof het gesê dit was goed om hartseer te wees en as iemand sou wou huis toe gaan, was hulle welkom om dit te doen.
Ek het buite op ’n muurtjie gaan sit en my kosblik oopgemaak. Binne-in was bruinbrood met grondboontjiebotter. Ek kon dit nie glo nie, my ma het tog geweet ek eet nie grondboontjiebotter nie, ek eet dit nie, ek eet dit nie. Maar sy het bly aanhou, een keer per week was dit in my kosblik. Ek kon dit nie glo nie.
Luuks
Tegnies is ek nog baie jonk, een of twee jaar uit kleuterskap. Ek is ontevrede en ontuis, maar ek neem aan dat alles op ’n later stadium aan my verduidelik sal word, ek swyg dus soveel as moontlik, ek wag soos ’n soet kind om te hoor hoe dinge werk. My daaglikse behoefte is om almal op die dorp saam te roep en dan sonder enige beheer histeries te gil, Reg! Dis tyd! Sê my wat is aan die gang! Hierdie is verkeerd! Wat steek julle weg? Hoekom hou dit so lank aan?
Dit wat te lank aanhou, is my donkerte en my swaarte. Ek kan reeds aan elke klip in die voortuin en elke riet agter by die sukkelende vlei beskryf hoe die ure van my dag verloop. Gewoon. Gewoon. Sleg. Sleg. Baie sleg. Uitasem. Agterdogtig. Beter. Gewoon. Amper lekker. Weer sleg. Baie, baie sleg. Morsdood. Lewe nog. Bietjie beter. Slaap.
AMPER LEKKER is dus die beste tyd van my dag, dis hoe goed dit met my gaan. LEKKER of BAIE LEKKER is net by Ouma se huis, nie hier nie. Ek moet dus aan myself die verduideliking gee: Ek kan nie doen wat ander kinders doen nie, hulle is ligter en het nie ’n Groot Grys nie. Die Groot Grys leef in my skoolsak. (Waar anders? Die swaarte begin elke oggend wanneer ek my tas optel, Saterdae is ligter, Sondae begin die grys weer saampak.) Hoe die Groot Grys lyk wanneer dit in die donkerte van my tas is, weet ek nie. Sodra ek begin stap, skud my sak, die Groot Grys vind gaatjies en begin dan uitsypel na buite. Soos ’n giftige mis hang dit om my, net vir oomblikke, dan begin hoeke vorm totdat die skemer vierkantig is soos ’n groot kartondoos wat net my kop en voete laat uitsteek. Hierdie blok word swaarder en ligter, groter en kleiner, dit laat my stadiger loop, vassit in deure, struikel op trappe, stamp teen mure, dit maak my vingers dom naby die klavier, sorg dat ek nooit leer hoe om iemand te druk of te omhels nie, nooit, ooit na iemand se arms hardloop nie. Ek weet dis nie my verbeelding nie, ek kan hoor hoe hulle fluister, sekere mure, die leë huisie op die hoek waar die teer eindig, die hekpilare voor die kerk: Hier kom die swaar kind! Sjtt, hy het sy donker by hom!
Ek vertel myself dat daar ’n aangewese tyd is, ook ’n wese, reusagtig en aanskoulik, moontlik soos talle helde geklee in metaal, flink en baie slim, dié sal opdaag, vinniger as ’n valk, die Groot Grys met die lig van ’n arm opraap en neem na die strafkamp waar alle grys moet leef.
Die wese daag toe op, een middag ná skool, geklee in ’n bruin pinafore met ’n mosterdgeel truitjie, wagtend in die gang. Dis my ma. In haar hand is ’n opgerolde bondel bont papier met ’n velletjie bruinpapier rondom. Sy hou dit uit na my. My naam en ons adres is op die bruinpapier getik.