Kyk na my. Nataniël

Kyk na my - Nataniël


Скачать книгу
’n skip, sê ek.

      Ek sien net blou, sê my ma.

      Hy het gesink, sê ek.

      My ma sit die prent neer.

      Hoe was Dag Een? vra sy.

      Wat is Dag Een? vra ek.

      Jou eerste dag op skool! Môre is Dag Twee!

      Moet ek wéér gaan?

      My ma lag.

      Ai, sê sy, Jy ís ’n grapjas!

      Hoofkwartier Van Sif

      My eerste skooltas was ’n klein reghoekige bruin kissie, binne was ’n kosblik, ’n botteltjie vir koeldrank, ’n blikkie met gekleurde potlode en af en toe voorbeelde van die monsteragtige kuns wat kinders in Sub A voortbring. Daar was ook ’n dun boekie met ligblou lyne. In hierdie boekie het Juffrou Van Wyk kennisgewings geplak of kort boodskappies aan die ouers geskryf. Op ’n dag, ná skool, was ek en my ma in die sitkamer, ek het die boekie uit my tas gehaal en aan haar gegee. Binne was ’n boodskap: Indien nuwe leerlinge sou belangstel om klavieronderrig te ontvang, moet ouers asseblief die skoolkantoor kontak.

      Het ek dit self gelees of het my ma? Ek het geen idee nie, maar laat ek eers vertel van die sitkamer: My skooljare het plaasgevind in die tydperk toe hierdie planeet se binnenshuise dekor ’n laagtepunt bereik het, toe bruin en ougoud as pragtig beskou is, toe dik, sandkleurige matte en dik, kleierige eetgerei ’n middelklashuishouding se grootste trots was. Hierdie plaag het ons wonings getref binne twee jaar nadat die klavierboodskap uit my tas verskyn het, maar op daardie dag was ons nog veilig, die vensters was behang met lang wit gordyne waarop ’n woud van dun swart bamboes geverf is, vinnige kwashale in die styl van Japannese skryfkuns. Die meubels het bestaan uit donkergrys sitplekke met liggrys rugleunings, oorgetrek in geweefde materiaal met ’n knoppiestekstuur, aan die onderkant was dun, ronde uitskoppootjies uit ligte hout. Ons sitkamer het gelyk soos ’n vertrek waarin James Bond na ’n langspeelplaat sou luister en meisies met lang nekke wynglase sou vashou, dit was sonnig, modern en dramaties en ek het soveel tyd as moontlik hier spandeer. Met ons trek na die volgende huis het hierdie meubels en gordyne verdwyn, dit het my veertig jaar geneem om weer geverfde bamboeslap op te spoor. (Dié word nou gereeld as tafeldoek gebruik wanneer ek onthaal met my pikswart eetservies.)

      Enige gesprek oor klavierlesse was onnodig. Ek het klein-kleintyd reeds begin spoeg sluk elke keer as ek my naby ’n ding met klawers bevind, in elke kerk, kerksaal, skoolsaal, eetsaal, sitkamer, orals waar my jong ouers se geloof of sosiale verbintenisse ons geneem het, was daar ’n instrument, gehawend, vals, voos of geliefd. Selfs die aaklige elektroniese huisorrels wat daai jare hoogmode was, het my gelok asof dit eetbaar was. In Wellington het ek gereeld saam met Oupa gery wanneer hy by Meneer Byleveld gaan inloer het, daar in die middel van die dorp was die werkswinkel waar klaviere herbou of herstel is, in rye en rye het hulle gestaan soos wagte voor die kluis van melodieë, ek het toe reeds besluit die hemel sal eendag gevul wees met klaviere, nie harpe soos my ma aan my voorgelees het nie.

      ’n Uur nadat die boodskap oorhandig is, het my ma skuins oor die straat gestap, drie erwe verder was Die Wêreld Hoofkwartier Van Sif. Hier het Mevrou Joubert gewoon. Sy was die dorp se orrelis, die skepper van daardie grote geluid wat Sondag na Sondag my jong sieletjie laat bokspring het, hoër en verder as wat enige preek kon. In haar skemer eetkamer het ’n regopklavier teen die muur gestaan, toegepak onder lappies, familielede in klein raampies, glaspotjies, porseleinfigure en ’n paar waaiers uit vreemde lande. Aan die linkerkant van die klavier was ’n skuifdeur na die sitkamer en nog verder links die boog wat lei na die groot kombuis. Die hele huis was vol goetertjies, aandenkings, geskenke, kookboeke, leesboeke, foonboeke, skryfblokke, pakkies koeverte, houers met penne, bakkies met skuifspelde, poskaarte, opdienborde, glasbekers, droë koekies, vrugte, skilderye, lampe, hekelwerk en kantgordyne. En sif. Behalwe vir die sifdeur op Oom Attie en Tannie Miems se agterstoep, moes hierdie plek alle ander sif op aarde gehuisves het, daar was sif voor elke venster en sif voor elke deur. Sif wat kon opstoot, skuif, weggly, sif wat nie kon beweeg nie, opgerolde sif wat onder die kombuistafel lê en wag het vir ’n opening. Hier moes iets binne of buite gehou word.

      Die Wêreld Hoofkwartier Van Sif het, soos Mevrou Joubert, haar klavier en al haar besittings, my nie aangetrek of weggestoot nie, dit het my nie verwelkom of laat vlug nie, dit was donkerder as dag en ligter as nag, en ek het om een of ander rede baie, baie tyd hier spandeer, eetgoed ontvang, buite gespeel en alles verken. (Was dit ek alleen? Indien wel, hoekom? Of het my ma so gereeld hier gekuier?) Ek kan vandag my oë toemaak en die hele agtertuin onthou. Die bome – vyebome, suurlemoenbome, moerbeibome, bome sonder vrugte, bome met dun rankplante wat afhang, bome waaraan voëlkoutjies met oop deure swaai, almal met wilde takke soos wesens wat met opgehewe arms té na aan mekaar dans – het gegroei tot teenaan die buitegebou met die waskamer, stoorkamer en garage. Net die garagedeur was sonder sif. Rye netjies gelêde bakstene het ’n spoor gevorm na die breë hek. En daar was ’n prieel, ’n welige groeisel met druiwe wat nooit wou ryp word nie, waaronder dit altyd koel en donker was, maar ook altyd mooi. Groen krulle het hulleself luierig teen die dun teerpale drapeer.

      Hier het my ma aan Mevrou Joubert genoem dat ons nie ’n klavier het nie, maar dat ek sonder twyfel musiekles gaan ontvang en dat ek iewers sal moet oefen. Mevrou Joubert het verduidelik dat sy elke middag om presies drie-uur ’n bietjie gaan lê in die agterste kamer en dat ek welkom was om haar klavier te gebruik, dit sou haar nie pla nie, daar was ’n eetkamerdeur, gangdeur en kamerdeur tussen haar rus en my talent.

      Ek het geoefen met dom vingers, drie middae per week, van drie-uur tot vieruur. Nuuskierig en gedrewe het ek my eenvoudige blertsies musiek ontdek en leer ken, alleen in die skemer, dankbaar vir die klavier en die droë koekies wat af en toe vir my neergesit is, maar elke keer, soos met die meerderheid ander plekke wat ek vir die res van my lewe sou besoek, volkome ongemaklik. Beide produktief en ontuis. DIE ONGEMAKLIKE LEWE. THE UNCOMFORTABLE LIFE. Die boek en lied wat ek altyd wou, maar nooit sou skryf nie, dit het hier ’n naam gekry.

      Toe, op ’n doodgewone dag, stap ek ons huis binne, ek was moontlik by die skool of by die Stoepsusters of by mense met kos, maar ek was vir ’n paar ure weg. Soos gewoonlik hardloop ek kombuis toe. My ma sit by die tafel, my boetie sit in sy hoë stoeltjie. My pa staan by die wasbak. Hulle lyk anders as voorheen.

      Wat nou? sê ek.

      Niks, sê my pa.

      Die koerant lê op die bank, gaan kry dit gou, ek wil vir jou iets wys, sê my ma.

      Ek draai om. Iets is fout. Ek loop tot in die sitkamer en kyk na die bank.

      Waar’s die koerant? skree ek.

      Agter jou! skree my pa.

      Ek draai om. Teen die muur staan ’n klavier. Tjoepstil, kiertsregop, splinternuut, uit dowwe hout soos die nuutste mode, ’n kordate stoeltjie met vier gekrulde pootjies, alles hier in James Bond se vertrek. Ek lig die deksel en streel oor die klawers. Ek sê nie dankie nie, ek speel nie ’n noot nie, ek sit nie op die stoeltjie nie. Ek staar. My gesin staan in die deur.

      Wie s’n is dit? vra ek hees.

      Joune, jou lawwe kind, sê my ma.

      Uit Byleveld se stoor, sê my pa.

      Ek was in geen ander plek waar ons as familie ooit sou woon so gelukkig as in dié huis met die vertrek met die klavier en die bamboes en die son en die grys jazz-meubels nie. Ek kan nie meer Mevrou Joubert se gesig onthou nie, maar elke keer as ek terugdink aan Die Wêreld Hoofkwartier Van Sif is daar nog ’n venster sonder sif, nog ’n deur wat oopstaan, nog meer lig. Dalk was daar nooit een stukkie sifdraad nie, wie sal weet?

      Nou is dit moontlik anders, in daardie jare het ’n kind beslis nie geweet wat sy ouers se inkomste was nie, hoeveel hulle moes opoffer vir ’n groot oomblik nie. En ’n kind weet tot vandag toe selde wanneer ’n hoofkwartier in die nabyheid verskyn, wanneer die geleentheid om die onbereikbare aan te raak homself openbaar, wanneer ’n poort, verskans as ornament of instrument, verskyn.

      Vegkuns

      Was


Скачать книгу