Kyk na my. Nataniël

Kyk na my - Nataniël


Скачать книгу
grys reuk, my ma was uiters ontsteld toe ek eenkeer voor die ander kinders aan ’n sny brood begin ruik het, ek kon nie help nie, ek was seker Die Reuk het weggekruip in die dik snye doodsbrood wat daagliks voor elkeen neergeplak is. Geen botter of konfyt kon hierdie grou sponse vermom nie.

      Dalk was dit die resepte van daardie jare of die feit dat elke dorp nie iemand soos my ouma gehad het nie, maar uit daardie groot kombuis het net moegheid en vaalheid verskyn. Ek wou skree, Waar is die beskuit, waar is die skons, waar is ons koekies, ons is kindertjies! Dis daar waar my groot gril begin het, wanneer die skinkborde met plastiekbakkies vol dryfsand en begrafnismodder die eetsaal binnegedra is. Ek het gewag tot my ma wegkyk en is dan gangaf.

      Dit was tydens een van hierdie woedende ek-gril-en-ek-is-honger-wandelinge dat ek sien een van die seuntjies se kamerdeur staan oop. Hy sit op sy bed en blaai deur ’n boek. Sy voete hang in die lug. Ek het nooit geweet wat sy naam was nie, in my gedagtes het ek hom Prentjie genoem. Hy was die oudste kind in die koshuis, maar ook die kleinste, hy was stil en baie mooi, dit het gelyk asof hy geteken was, sy klere was nooit vuil of gekreukel soos ander kinders s’n nie, daar was nooit ’n blonde haar uit sy plek nie, hy het nooit skoorgesoek nie en net gepraat wanneer iemand hom ’n vraag gevra het. Dis hoe al die kinders in die wêreld moes wees. Ek het baie van hom gehou.

      Ek het na Prentjie in sy dorre kamer staan en kyk, nie lank genoeg dat hy sou opkyk nie, maar lank genoeg om te sien daar was niks moois nie, nie ’n matjie nie, nie ’n stoel nie, net ’n bed en ’n kas met ’n tas bo-op, die mure was leeg, die enigste prentjie was Prentjie. Hoekom was hy nie saam met die res in die eetsaal nie? Vlug hy ook vir Die Reuk? En waar sal hy gaan? Hy het net sy lelike kamer, ek het hom so jammer gekry, ek het vir dae gewonder wat ek sou doen as ek in ’n kamer moes woon sonder enige van my goed.

      Dit was ’n warm weeksmiddag, ’n paar kinders het lusteloos langs die koshuis gespeel, die res het in die eetsaal na hulle boeke gesit en staar. Ek was in die gang. Prentjie se kamerdeur het oopgestaan. Ek het nader gestap om te loer. Hy en sy boek was nie op die bed nie. Maar die Geel Juffrou was langs die bed op haar knieë. Sy was een van die onderwyseresse wat in die koshuis gewoon het, sy was jongerig met kort liggeel hare en ’n besonder breë gesig, daar was ’n dimpel in die middel van elke wang wat haar laat lyk het asof sy heeltyd glimlag. Sy was die Standerd Twee-juffrou en het elke dag ’n geel truitjie gedra.

      In haar hand was ’n potlood. Sy het ’n dun horisontale lyntjie teen die muur getrek, toe het sy nog een direk onder die eerste lyn getrek en die twee aan albei kante verbind. Daarna het sy vanaf die linkerkantse hoek twee dun strepe na die vloer getrek, ook aan die regterkant, ’n tafeltjie!

      My ma verskyn in die gang.

      Kom jy? sê sy.

      Aan die een arm hang haar handsak, aan haar ander arm hang my boetie. Hy herken my en lag met ’n oop mond, hy knak sy knieë en spring op en af op sy kort beentjies. Huis toe gaan, groot speel tot aandete, dan bad tot die hele vloer onder water was, dis waarvoor hy op koshuisdae gewag het. Maar ek was nie lus vir speel nie. Iets was aan die gebeur. Waarmee was die Geel Juffrou besig? Ek het geweet slaap laat kinders groei, maar ek was die hele nag wakker.

      Die volgende dag het skool vir ure aangehou, kry tog klaar! Ek het met die trappies afgestorm, verby die tennisbane, in by die koshuisvoordeur, in die portaal gaan staan en hygend gewag dat al die kinders die eetkamer in verdwyn vir middagete en Die Reuk. Ek het gebid Prentjie se deur was oop.

      Uiteindelik. Die gang is leeg. Prentjie se deur is oop. Langs sy bed, presies waar daar geteken was, staan ’n tafeltjie. Ek snak hardop na my asem. Dis hoekom hy sy eie kamer het! Dis hoekom hy so klein is! Dis hoekom hy nie praat nie! Hier word getoor, dis ’n kamer van truuks!

      Maar hoekom net die tafeltjie? Hoekom nie ’n stoel nie? Was die Geel Juffrou bang sy word betrap? Ek maak my skooltas oop, ek gryp na my potlood. Die kinders eet nie vir lank nie, dan kom hulle kamers toe vir skoolklere uittrek en speel voor huiswerk. Wat ook al hier aan die gang was, ek was steeds jammer vir Prentjie. Langs die tafel teken ek vir hom ’n stoel, ek teken vinnig en die pote is skeef, maar hulle sal regkom met die toor. Ek teken ook vir hom skilderye teen die muur, storieboeke op ’n ry, ’n ekstra venster wat uitkyk op ’n rivier met visse en bootjies, ’n groot potplant met vingerblare soos op ons voorstoep, ’n blik met koekies, nog ’n blik met beskuit, ’n radio, ’n staanlamp, twee vet katte en ’n fiets. Dit gaan die mooiste kamer wees, hiérna is Prentjie my maatjie.

      Jou ma slaan jou dood, sê ’n stem.

      Ek ruk om. Een van die kombuistannies staan in die deur. Dis sy wat altyd die stink brood sny en in stapels pak.

      Wie krap op ’n muur? vra sy.

      Die Geel Juffrou, sê ek.

      Jou ma slaan jou twee keer dood, jy mag nie Geel Juffrou sê nie!

      Sy het die tafel geteken, toe toor die kamer dit lewendig! Ek teken net goetertjies, hy het niks!

      Sy het net gemerk waar die lessenaar moet kom, as ’n voorbeeld, dat die helpers moet weet waar, al die ouer kinders kry lessenare langs hulle beddens!

      Nee!

      Ek huil kliphard. Die kombuistannie wikkel haar neus.

      Moenie huil nie, sê sy, Hulle gaan jou hoor. Ons kry ’n lap en maak gou skoon.

      Sy draai om en verdwyn.

      Ek huil van skrik en oor daar nie wonderwerke is nie en oor twee keer se doodslaan. En oor Prentjie wat net ’n tafel het. Twee kombuistannies verskyn. Elkeen met ’n groot lap en ’n spuitbottel. Die eerste een sit haar hand op my kop.

      Gaan was jou gesig, ons sal nie ’n mens vertel nie, sê sy.

      Ek stap in die gang af. Ek hoor hulle praat.

      Wat het hier gebeur? vra die een.

      Die snaakse enetjie wou toor, sê die ander, Sy arme, arme ma.

      Kerkkamp, maalvleis, Nero

      Ek sit agter in die motor. Langs my sit my boetie in sy motorstoeltjie, ’n primitiewe uitvindsel van metaal, seil en leer, ’n groteske tuinstoel sonder pote. My ma sit voor met ’n mandjie op haar skoot. Agter die motor is my pa besig om die laaste van die stel blou tasse in die kattebak te laai. Hy klim in die motor en draai die sleutel. Ons ry agteruit tot in die straat, my pa trek die handrem op, dit maak kkrrrr! soos wanneer ’n hond deur ’n been byt. My pa klim uit, trek die hek toe en klim weer terug in die motor. Ons ry verby die klein wingerd, op teen die bult, verby die Stoepsusters se huis en draai regs. Ek voel ’n kol op my maag, die senuwee-muisie begin skielik aan my kou. Vir alle lekkertes, Ouma se Wellington, inkopies, Johannesburg se Kaap (dis hoe Oupa die Paarl genoem het), draai ons altyd links.

      Waantoe gaan ons? vra ek.

      Ons is op pad kerkkamp toe, sê my ma.

      Waar is dit? vra ek.

      Nog ’n entjie, sê my pa.

      Wat gaan ons daar doen? vra ek.

      Ons gaan kuier, sê my pa.

      En sing, sê my ma, Ons gaan Bybel lees, vir julle kinders stories vertel, ons gaan hande vat en al in die rondte dans. En ons gaan baie bid.

      Ons kan mos by die huis ook bid, sê ek.

      Partykeer moet ’n mens vir ’n tydjie weggaan, sê my ma, Jy moet saam met mense wees wat dink en glo soos jy, jy moet stilte hê dat jy kan konsentreer.

      Grrts, grrts, kou die muisie.

      Ons kan mos by die huis konsentreer, sê ek.

      Ja, jy kan, maar dis nie dieselfde nie, sê my ma.

      Partykeer moet kinders minder praat en net gehoorsaam wees, sê my pa.

      Hy draai links, op in ’n klein straatjie, hou stil voor ’n metaalhek, draai sy ruit af en waai met sy arm. Iemand stoot die hek oop en ons ry tot onder ’n afdak. Daar is baie motors, rye en rye staan hulle onder parallelle afdakke.

      Hier


Скачать книгу