Fees van die ongenooides. PG du Plessis
gewys soos dié van iemand wat verwurg word. Miskien wou hy skreeu, maar hy het te veel mondopeninge gehad vir sy tong om te beheer en sy keel het net ’n rooi sproei uitgeblaas. Hy kon nie meer skreeu met die laaste lug uit sy longe nie – sy bloedverdronke stembande kon net ’n gorrelgeluid uitkry. Hy het vir amper twee sekondes probeer regop kom, asof hy wou opstaan, en toe het hy geval, gesneuwel.
In daardie twee sekondes is ’n stempel van wat die dood is, êrens in Daantjie van Wyk se binneste harsings afgedruk. Soos ’n bok wat die spartel opgee en verslap onder die tande en kloue van ’n onafwendbare dood, het Daantjie in die koel, pynloos-neutrale kuil van bewusteloosheid weggesink. Die sagte waters het oor hom toegemaak en sy sinne oorspoel. Hy’t nie meer die dreun van die veldslag gehoor nie, hy’t nie meer die hitte gevoel nie, hy’t nie meer die vrees met bravade probeer besweer nie, hy’t nie meer met beklemming gewonder hoe dit moes voel nie.
Danie het eers agtergekom dat daar iets met Daantjie skeel toe Petrus Minter agter hom verbykruip na die gevalle Van As toe. Petrus het die bloeding met sy hand probeer keer, maar dit het uit te veel plekke geborrel en gespuit. Dit was maar ’n paar oomblikke voor die polsinge begin hort, verflou en heeltemal opgehou het.
Maar Danie was meer bekommerd oor sy seun wat tussen die doppies en bloed op die bodem van die sloot lê. Hy’t na Daantjie toe gekruip en aanhoudend vir Petrus gevra: “Waar’s hy geskiet? Waar is Daantjie geskiet?”
Hy het Daantjie op sy rug gedraai en gesoek na ’n wond, na bloed. Daar was nie ’n wond nie en die bloed was Van As s’n. Maar Daantjie se spiere was slap – sy lyf en ledemate willoos. Danie het sy oor teen sy seun se bors gedruk en hy kon dofweg ’n hartklop onderskei – meer op gevoel as wat hy dit in die gedonder kon hoor. Hy’t sy hand natgelek en voor Daantjie se mond gehou en die koel van asemhaling gevoel. Daantjie se ribbes het beweeg.
En toe het Danie dit gesien. Tussen Daantjie se bene het daar ’n nat kol gekom wat teen die een been van sy rybroek af beweeg en begin uitsprei het. Danie het na die steeds groter wordende donker kol gestaar met oë wat nie wou glo nie.
“Hy pis hom nat,” het Danie gesê. “Hy’s besig om hom nat te pis!” het hy herhaal toe die waarheid tot hom deurdring.
Danie van Wyk het op sy voete gekom, hy het oop en bloot in die vlak loopgraaf gestaan en hom nie gesteur aan die koeëls wat soos bye om die maklike teiken toesak nie.
“My seun pis hom nat!” het hy geskree. Nie vir iemand nie, sommer om sy teleurstelling vir God te sê. En toe het hy vir die eerste keer in sy lewe sy seun geskop. Hy het afgekyk op die willose liggaam deur oë wat half blind was van trane. Hy het die lyf wat daar lê, geskop, en geskreeu: “Word wakker en veg, bliksem. Jy’s ’n Van Wyk, veg!” Dit was of hy Daantjie wou terugskop tot die man wat hy wou gehad het hy moet wees, tot die seun wat hy gedink het hy het, tot die man wat hy begeer het hy moes word. Hy het regop gebly en aanhou skop, asof hy wens die stroom lood om hom wil hom saamsleur, déúr hom gaan en sy teleurstelling en die verlies van sy seun uitwis. Maar geen koeël was so genadig nie. Die bebloede hande van Petrus Minter het opgereik en Danie in die loopgraaf teruggerem.
“Buk af, oom Danie, hulle gaan Oom raakskiet. Hulle is besig om hier links te wil deurbreek waar die bom die sloot getref het. Ons moet hulle nóú keer.”
Die bywonerseun het Danie sonder seremonie teruggedruk na sy plek toe en hom sy geweer in die hand gedruk. “Ons het elke geweer nodig, Oom. Kan Soldaat skiet?”
Danie het nie geweet of Soldaat kon skiet nie, hy het net ’n vol magasyn met bewende vingers ingesit, die slot oor die boonste patroon toegedruk en die loop oor die dooierus-walletjie gestoot. Sy oë was nou droog genoeg vir korrel.
Petrus Minter het Van As se hoed oor die lyk se verwonde gesig gesit, want hy was aaklig om na te kyk en die eerste veldvlieë was van god-weet-waar-af al daar. Hy het Soldaat byna opgesleep teen die wal uit, hom in Daantjie se plek laat kniel en eers die afstand van die visier ingestel. Hy het opgemerk dat Daantjie die laaste tweehonderd treë wat die vyand nader gekom het, nie die visier aangepas het nie. Daantjie was ’n lafaard. Die ontdekking het ’n oomblik by hom gebly. Daar was ’n soort genoegdoening aan die gedagte: Blink-Daantjie van Wyk, Grootbek-Daantjie, Baasspeel-Daantjie, Spog-Daantjie van Wyk wat hom soveel geskel en verbie en ge-Minter het, was ’n papgat.
Soldaat het in die sloot gekniel en sy voet só gehou dat sy toon minder pyn. Daarna het hy by die witmansoorlog aangesluit. Dit was Daantjie wat hom skelm leer skiet het en dit was vir Soldaat gepas dat hy Daantjie se werk vir hom moes doen.
Hy’t geweet wat met Daantjie gebeur het, want hy kon sien Daantjie is nie dood nie en sy broek is nat. Soldaat het geweet Daantjie van Wyk het homself daardie dag ontmoet, en dat hy die vreemdeling wat hy raakgeloop het, sal haat met alles wat hy gedink het hy is.
Laat daardie middag het die slag sommer begin uitloop. Die vyand is die grootste deel van die dag in die hitte vasgepen en hoeveel ammunisie kan ’n voetsoldaat dra? Die Boere het nie geweet dat dit nie ammunisie is waaraan die Kakies dink nie, maar aan die waterkarre wat dit nie te naby wou waag nie. Hulle het stadig begin terugval van die punte waar hulle die verste gevorder het. Die geweer- en kanonvuur het hortend begin kom, minder geword, en uiteindelik opgehou. Die slag het verbygegaan. Die klanke van ’n beuel moet iets vir hulle beteken. Die son was al laag, en die hitte het met die wegsak van die bron versag. Daardie vreemde gesamentlike besef dat die slag verby is, het in vriend en vyand opgekom. Die Boere-linie het gehou, behalwe op een plek, en daar was die deurbraak kortstondig. Die aanvallers het teruggekeer na waar hulle vandaan gekom het, die bedreiging was verby. Hulle sou nie daardie dag weer probeer nie. Die gepantserde trein het begin stoom opbou.
Hulle moes die loopgrawe verlaat en terugkeer kamp toe, het die bevel langs die linie af gekom, en hulle moes alles van nut saam terugbring. Daar sal gereël word oor die lyke. Almal moes met die gewondes help.
Daantjie was nie meer flou nie, maar hy’t opgekrul gelê soos ’n krimpvarkie. Hy’t gebewe. Hoekom so bewe in dié hitte? Petrus Minter het maar geraai toe hy en Soldaat oor Daantjie buk. Miskien was dit omdat hy bang was vir sy pa. Dalk het hy geweet hoe sy pa hom geskop het. Maar dit was nie daardie vrees nie. Net Soldaat het aangevoel dat dié verlam-angs niks met jou kop of hart se wil te doen het nie, maar dat hy sommer in ’n mens kan kom sit sonder dat jy hom geroep het – in mens en dier. Want Soldaat het al gesien hoe gevange steenbokkies onbeskadigd oorgee en vrek, en hoe ’n swartslang hom uit sy vasgekeerdheid probeer lieg met doodspeel: met sy bek skeef van sy kamaliel-dood en sy weerlose pens boontoe, óóp voor sy bedreiger – sy ontwapening ’n verdere bewys van sy vrekte. Dalk is ’n rinkhals régtig flou, het Soldaat se koorsbenewelde kop gewonder.
“Ek sal hom terughelp,” het hy aangebied, want Danie het óór die liggame van sy seun en Van As getrap en aangegaan asof hulle nie bestaan nie. Jakop Minter wou weet wat aangaan, maar Danie het hom kortaf saamgeroep.
“Staan op, dis verby,” het Petrus vir Daantjie gesê. Daar was geen reaksie nie. Petrus het Daantjie opgetel, die drie treë rivierwal toe gedra en hom teen die steil helling afgegooi. Daantjie het afgerol tot in die vlak water tussen die naaste riete.
“Dalk lawe dít hom!”
Daantjie het nat en skaam uit die modderwater opgestaan en sommer met die riete langs begin aansukkel na die afsaalplek toe. Hy’t niks probeer saamvat nie. Soldaat het sy geweer en die hoed met die opslaanrand waarop Magrieta se patriotiese borsspeld blink, opgetel, en saam met die grawe, kos- en drinkgoed agternagedra. Petrus was besig om die ongebruikte patrone bymekaar te maak.
By die perde het hulle gesien dat Danie en Jakop al opgesaal en gery het.
“Gaan jy saam met hom, Soldaat, ek wil kyk waar ek met die gewondes kan help.”
Soldaat het klaar die ander stem in Petrus Minter begin hoor. Hy het hulle perde opgesaal en Daantjie het opgeklim. Hulle het nie gepraat met die terugry nie. Soldaat se koorsigheid het begin om sy sinne heeltemal te benewel. Hy het met moeite op die perd gebly. Die toon was amper nie meer seer nie, behalwe wanneer die stiebeuel of die perd se sy aan hom raak en die hel deur die toon, sy been en sy heup skiet. Maar tog was hy nog helder genoeg om agter te kom dat Daantjie saggies