Fees van die ongenooides. PG du Plessis

Fees van die ongenooides - PG du Plessis


Скачать книгу
was seer. Daantjie was al ongeduldig met sy gehink en het gesê die ding moet nou afvrot en klaarkry. Maar onder die wal kon hy rus en sy pyn verduur, al was hy onrustig, omdat hy al meer begin agterkom dat die gesweer in sy toon in sy kop begin werk. Sy gedagtes was deurmekaar, hy het gesweet en koud en warm gekry, en by tye was dit of hy nie mooi weet wat om hom aangaan nie. Maar hulle het hom gelukkig weggewys van die loopgraaf af, want, het Daantjie gesê, dit is ’n witmansoorlog hierdie en Soldaat het niks daarbo tussen die lood verloor nie.

      Danie sou daardie nag altyd presies onthou, omdat dit die laaste keer was wat hy rus in sy gemoed gehad het. Amper elke oomblik kon hy onthou:

      Agter hulle het die rivier in sy donker bedding tussen die steil walle sy geruislose gang gegaan. Aan hulle linkerkant, meer as ’n halfmyl ver, het ’n lig deur die donker geflikker. Dit was die lig van Modderrivierstasie naby die opgeblaasde brug oor die rivier en ’n baken vir vriend en vyand.

      Hulle het meestal stil gesit-lê in die loopgraaf en soms geluister vir geluide uit die suide waarvandaan die vyand sou kom. Daar was nie ’n oggendbries om die riete agter hulle te laat roer en ritsel nie. Dit het vir Danie gevoel asof die riete en die oop veld rondom hulle daardie nanag saam met hom asem ophou voor die onbekende wat kom. Dit was die 28ste November en somer. Die dag wat kom, sou sy lig gooi oor die vars jong spriete en stengels van die somergras wat al deur die geel winterstoppels gegroei het. Daar was nuwe blare en bloeisels aan die bossies en bosse. Die doringbome het al vars volblaartjies aan blink, nuwe twyge. Die landskap sou al somer-sag wees, en agter hulle in die riete het die skerp nuwe groei al deur die droë stele van die vorige jaar begin breek asof hulle haastig was, want hulle moes al hulle groei in een seisoen klaarkry. Van die vinke wat hulle vroegaand so versteur het, het tog in die riete geslaap en hulle sou wel aan die stele hang, so naby moontlik aan hul half-voltooide meesterstukke. Op die vlakte voor hulle sou daar ander voëls slaap: die luidrugtige dikkopkorhane, die kwartels en koestertjies in hulle knus holtes. In die doringbome en taaibosse sal daar tortelduiwe wees en naby hulle sal ’n laksman slaap. Daar sal ’n jakkals êrens draf en ’n rooikat, ’n muishond en ’n vlakhaas. Pofadders en kapelle en akkedisse, geitjies en koggelmanders sal stram wag vir die son om hulle reptielbloed weer op te warm vir beweging, en daar sal bokkies wees op dun stelte – duikers, steenbokkies, springbokke. Diere wéét goed, wag hulle ook?

      Nooit sou Danie weer so naby aan die land voel as in die stilte van daardie wag nie.

      ’n Land, was wat hy gedink het.

      Hy het later onthou hoe ’n angstigheid, amper so redeloos en raak soos ’n dier s’n, daardie nag in hom kom sit het. In dié terugdink van later af het hy altyd gewonder of hy daardie nag ’n soort voorgevoel, ’n gesig, kon gehad het van die verlies, die verliese, wat na hom toe sou kom – al kon hy geen benul hê uit watter rigting syne orals sou kom nie.

      Die swaar dreun van ’n trein het deur die grond onder hulle begin bewe. En veraf het die ritme van stoom deur die oggend gepols. In die ooste was die skynsel van die oggend in die vlieswolkies te lese.

      “Dit gaan ’n warm dag wees,” het Danie voorspel.

      “Nie so warm soos vir die Engelse nie, Pa.”

      “Onthou dat ons die visiere stel vir die opgeefsel, Jakop,” het Danie almal herinner.

      Daar was niks anders om te doen as om te wag nie. Die vyand sou dan daardie dag kom. Daar sal ’n gepantserde trein met grofgeskut op wees; die infanterie sal in ’n lang dwarsstreep kom; die ligter artillerie sal net buite kleingeweer-afstand staangemaak word; daar sal ’n masjiengeweer wees wat dinge kan warm maak. So is hulle vertel. En onthou, julle het almal al op die vlaktes gejag, julle weet wat maak die hitte en die opgeefsel met julle visiere en die manier waarop julle koeëls trek. Dis soos om ’n vis deur water te skiet. En onthou verder julle sal net ’n stukkie van die geveg sien, die generaal sal weet wat aangaan oor die hele linie. Luister tog na bevele en moenie probeer slim en braaf raak op julle eie nie. Gehoorsaam bevele.

      Op die plat horison, nog platter as jy lê, het ’n strepie in die vroegste lig verskyn. En was dit rook of stoom daar regs? Sien jy die taaibos daar, net links van hom. Moet die trein wees. Hulle kom soos ons gesê is – net soos op Graspan en Belmont.

      Die streep op die horison het uitmekaargerafel en kolletjies gemaak, die kolletjies het uitroeptekens geword, en die uitroeptekens soldate. Hulle mog nie skiet voor die sein nie. Met die vyand op duisend treë het daar ’n skoot geklap. Bietjie gou, dalk het iemand se uithou padgegee, maar die skietery het begin. Hulle het oor die gelyk grond geskiet en elke staande man was ’n goeie teiken. Baie beter as om van die hoogtes af te skiet, want van daar af was dié wat lê amper beter teikens. Hoeveel ammunisie het hulle daar op dooies gemors?

      Die mausers het sonder ophou langs die linie af geknetter, die pom-pom se dowwe hik het by hulle aangesluit en die antwoord het gekom. Aan die begin, toe die lig nog donker-vals was, kon jy ’n strepie flikkertjies uitmaak – vonkies uit die bekke van leemetfords. Die meksims het begin afstand soek, en die skeepskanon. Die diepdreun-golwe van ontploffings het deur die grond begin bewe. Die hel was los en al wat jy kon doen, was om so goed moontlik te korrel en die skoot af te knyp. Hou die rumoer uit jou ore uit, vergeet die koeëls wat deur die riete zirts, die gesing van die opslagkoeëls, die stof wat opgeskop word deur ’n stukkie warm lood wat hierdie keer goddank nie deur jou gegaan het nie.

      Hulle het later so min te vertelle gehad oor daardie ure. Hulle kon net dinge vertel wat dié wat nie daar was nie sou begryp. Soos die hitte van daardie dag, dít kan ander tog verstaan. Van hoe die son op hulle rûe en die agterkant van hulle bene neergebrand het vir elke uur wat hy op daardie 28ste November geskyn het. Maar die taal van ’n veldslag soos die gewere en grofgeskut hom praat, laat hom nie vir vreemde ore vertaal nie. Net soos die nabyheid van die dood nie vertel kan word nie, of die spanning wat in jou sit totdat die afgematheid oorneem en jou nie meer laat omgee nie. Hou dit vir jouself, want tot die goed wat op daardie dag uitgestaan het bo ander, klink klein en onbelangrik. Wie stel belang in hoe warm ’n geweer kan word? Of hoe groot die doppiehoop langs jou kan groei? Of ’n dors tien tree van ’n rivier af? ’n Mens kan dalk nie eers tien ure son vertel nie, want dis net die storie van die oggendstilte wat verpletter is, van ’n hele dag son waarin die blou waters van die opgeefsels in jou visier bewe totdat die genadige laatmiddag kom. Die hitteverwronge gedaantes wat voor jou visier soos gode op die waters van die lugspieëling geloop, en soms geval het … wéét jy sélf nog van hulle? En selfs die stilte, die goddelike, moeë stilte ná die tyd, is te groot om te vertel, selfs vir jouself, want jy kan dit nooit weer regtig hoor nie – nie as jy nie eers ’n dag in die dreun van mensgemaakte dood gelê het nie.

      Die een ding wat die Van Wyks en Minters sou kon vertel, het hulle gesweer hulle sou nie. Want dit was “daardie ding” wat met Daantjie gebeur het.

      Daantjie en Gerhard van As was langs mekaar in die sloot. Die hele oggend het hulle skoot vir skoot saamgeskiet. Dit het met Daantjie gebeur toe die windjie gaan lê en die ergste hitte oor hulle begin toesak. Die lyne van die landskap was toe al onseker en het in golwe begin bewe. Die vlakte het ’n stoofplaat geword. Voorwerpe op ’n afstand het begin verwater. Op agthonderd treë het die opgeefsel sy eerste blou strepies getrek. ’n Paar van die vyand het tot in ’n duikie op drie-, vierhonderd treë gevorder. Daantjie en Gerhard het geweet hulle was daar, maar kon hulle nie van so laag af sien nie en het nie geweet hoeveel nader hulle buite sig deur die leegtetjie sou kon kruip nie.

      Gerhard van As het half orent gekom om te sien of hy hulle nie kan gewaar nie.

      “Sien jy hulle?” was Daantjie besig om te vra.

      Die leemetford-koeël het Van As in die linkerkakebeen getref, sy wang oopgekloof en sy tande verbrysel. Sy neksening was af en sy slagaar geskeur.

      Daantjie het na Van As gekyk toe die koeël tref. Die klank, selfs in daardie lawaai, het Daantjie van ’n afstand af geken – wanneer ’n koeël op die blad van ’n bok klap, of wanneer ’n slag-os se bene onder hom invou en hy neerslaan. Maar Gerhard van As se kop het oorgeruk na die kant van die nog gespanne en onbeskadigde regter-neksening en die beweging het die wond in sy vergruisde linkerkaak oopgesper. Daar was skielik nog ’n mond met stukkies tand en kakebeen en ’n tong.


Скачать книгу