Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray


Скачать книгу
“Aikôna! Dis die Van Helsdingens se bloed wat só werk! Hulle was almal heldersiende!”

      ’n Rukkie later, toe sy en haar pa moeg en vuil by die palacio se voordeur instap, wens sy in haar hart dat sy wel van die heldersiende Van Helsdingens afstam. Dan sou sy beslis vooraf gewaarsku gewees het. Maar ongelukkig kan sy nie deur mure sien nie en sy loop haar trompop in die ellendes vas.

      “Wat maak jy hier?” vra sy asof die palacio nie aan hom behoort nie.

      “Ons het al ’n halfuur gelede tuis gekom.”

      Ag nee! “Julle sou dan eers môre . . .”

      “Ek het besluit om onmiddellik terug te kom.” Sy vernietigende blik laat haar wonder hoekom die arme kuitbroek nie daar en dan in vlamme opgaan nie. “Jy is heeltemal onbetroubaar, Andrea. Die oomblik as ek uit sig is, soen jy ander mans en die oomblik wanneer ek my rug draai, klim jy in daardie afskuwelike broek!”

      Haar ken ruk op. “Ek kan altyd onmiddellik daaruit klim, as jy so sterk daaroor voel!”

      “Dan, señorita Smit, is ek glad nie verantwoordelik vir my dade nie! Kom ontmoet Miranda.”

      “Ek gaan eers . . .”

      “Nee, jy gaan jou nie eers netjies maak nie. Dis jou straf. Jy kom nes jy is.”

      Sy word onder sy blad ingetrek en haar voete moet net saamloop . . . en sy wonder of moord wat net in ’n mens se gedagtes gepleeg word ook eendag as ’n doodsonde teen jou gehou gaan word . . .

      “Jy kan my maar los. Ek sal self regop bly.”

      “O nee, señorita. Ek het gesien hoe vinnig jy kan hardloop. Ek sal jou maar liewer persoonlik na die patio begelei.”

      Dis nie net Andrea wat onder die palacio se dak aan kaal, koelbloedige moord dink nie. As Juan net nie hier was nie! dink Miranda byna paniekerig. As hy net uit haar lewe verdwyn het! Dit was ’n groter skok om hóm by Alonso en donna Teresa te sien as om te verneem dat ’n ander meisie besig is om in haar slaai te krap. Die gedagte dat ’n ander meisie sal kan verhoed dat Alonso met haar trou, was so belaglik dat sy geensins ontsteld gevoel het nie. En toe sy hoor wie die meisie is, kon sy oor donna Teresa se ontsteltenis lag.

      “’n Volbloed-Spanjaard soos Alonso sal dit nooit eens oorweeg om met ’n uitlander te trou nie, donna Teresa.”

      Donna Teresa het meteens kalmer gevoel. Miranda het reg. Sy ontstel haar verniet. Daar sal niks van hierdie verliefdheid van Alonso kom nie. Sodra Miranda op die toneel kom, sal sy patriotisme weer die oorhand kry.

      “Ja, ek glo ook so. Sy is buitendien net agter Alonso se geld aan. Maar dis in ’n mate jóú skuld dat hierdie ding gebeur het, Miranda. Jy het Alonso te lank laat wag. Hy is ’n man en hy het moeg geword van wag.”

      Miranda het gerusstellend geglimlag. “Die einde van sy wagtyd het aangebreek, donna Teresa. Ek het teruggekom om met Alonso te trou.” Toe het sy kortaf gevra: “Wat soek Juan hier?”

      “Hy het onverwags vir my kom kuier en ek het hom saamgeneem Kokos toe met die spesiale opdrag dat hy probleme in daardie verhouding moet veroorsaak. Hy het hom tot dusver baie goed van sy taak gekwyt.”

      “O, regtig? Vind hy die dame ook onweerstaanbaar?”

      “Natuurlik nie, maar hy doen wat ek hom gevra het om te doen. Dit maak in elk geval nie saak of hy regtig verlief raak of nie, solank daar net ’n einde aan hierdie verspotte verhouding kom.”

      ’n Rukkie later het Miranda daarin geslaag om ’n minuut of twee alleen met Juan te wees.

      “Jy moet teruggaan Spanje toe, Juan. Jy het niks hier op Kokos verloor nie.”

      Hy het haar koel in die oë gekyk. “Miskien hét ek niks hier verloor nie . . . altans niks wat die moeite werd is nie.”

      Haar oë het vuur geskiet. “Beledigings sal jou nêrens bring nie!”

      “En die plannetjies wat jy gemaak het, gaan jou ook geen geluk bring nie, querida.”

      “Moenie my liefling noem nie!”

      “Ek kuier op Kokos op uitnodiging van Alonso. Wag totdat jy wettig sy vrou is voordat jy my die deur wys.” Sy mondhoeke het gesmaal, maar sy oë was bitter. “As jy dit ooit word!”

      “Ek laat my nie afskrik deur ’n vaal ou meisietjie nie. Ék gaan met Alonso trou.”

      Hy het sy wenkbroue opgetrek. Ook sy skouers. “Wel, die toekoms sal maar leer, maar ek sal nie so selfversekerd wees as ek jy is nie, Miranda. Alonso het die skoot hoog deur . . .”

      “Twak!”

      “En ek kan verstaan hoekom. Ek is ook half verlief op Andrea. Daar is iets aan, en ín daardie meisie, wat eenvoudig onweerstaanbaar is.”

      “Nou regtig!” Haar sarkasme was neerhalend.”Jy draai liefde oop en toe asof dit water in ’n kraan is, sien ek. Goed dat ek dit betyds uitgevind het, nie waar nie?”

      Hy het ook geglimlag. “Ja. Goed dat ons mekáár betyds uitgevind het, Miranda.”

      In die vliegtuig op pad terug Kokos toe laat Miranda ongeërg hoor: “Ek verstaan daar is gaste in die palacio, Alonso?”

      “Ja, ’n señor Smit en sy dogter Andrea.”

      “Wat doen hulle daar – of kuier hulle maar net?”

      Dis donna Teresa wat antwoord: “Señor Smit is ’n voëlkundige wat opnames maak en inligting oor die voëllewe van die eiland insamel. Hy is nogal ’n besonder gawe man en baie intelligent. Ek geniet sy geselskap. Maar die dogter . . .”

      Sy swyg en dis Juan wat die sin voltooi: “. . . is soos ’n verfrissende seebriesie . . . Of wat praat ek alles, Alonso?”

      Alonso kyk met ’n klein glimlaggie na agter. “Ja, en soms soos ’n orkaan wat oor jou uitbars en jou wil verteer.”

      Donna Teresa se gesig word ’n suurpruim, maar Miranda lyk geensins ontsteld nie. Sy sê net fyntjies: “Werklik? Sy klink interessant. Ek sal haar graag wil leer ken.”

      “Jy sal,” sê Juan met ’n bedekte waarskuwing in sy stem. Dis hoog tyd dat iemand Miranda terugbring aarde toe. Sy is so seker van haarself dat hy lus voel en skud haar!

      ’n Selftevrede glimlag trek om haar lippe toe Alonso met die “gedroggie” (soos donna Teresa haar aan Miranda beskryf het) onder sy blad op die patio uitstap. Juan, wat met leedvermaak uitgesien het na hierdie oomblik, kan sy teleurstelling nie wegsteek nie. Andrea moes nou soos ’n koningin hier ingestap het. In plaas daarvan lyk sy soos ’n verdwaalde kat wat nou net uit die vuilgoedblik gespring het! Hy vang Miranda se glinsterende blik, lees die boodskap daarin: Seebriesie, het jy gesê?

      Aanvanklik is donna Teresa byna net so geskok soos die eerste keer toe sy Andrea ontmoet het. Sy sit terug teen die rugleuning van haar stoel en glimlag ingenome. Sy kon dit self nie beter gereël het nie! Die kontras tussen die twee meisies is oorweldigend. As Alonso se oë nie nóú oopgaan nie . . .

      Andrea kom botstil onder Alonso se blad tot stilstand. Dit kan haar nie in die minste skeel wat die res van haar dink nie. Nog minder pla haar onvleiende uiterlike haar. Al gedagte wat registreer toe sy Miranda se geamuseerde blik ontmoet, is dat Miranda die meisie in die vliegtuig was aan wie sy uitgeblaker het waarom sy en haar pa op pad na Costa Rica en Kokos is.

      Sy voel skielik weer soos ’n maanreisiger wat terug is op die aarde, en hierdie keer het die feit dat don Alonso se arm haar nog stewig teen hom vashou, niks met die jellierigheid in haar knieë te doen nie. Trouens, sy is dankbaar vir die ondersteuning, want sy sien die herkenning in Miranda se oë. Hierdie meisie sien deur die klug. Alles was verniet. Dis sy en don Alonso wat die gekke is.

      Hy gaan my vermoor, dink sy toe die pragtige meisie opstaan en glimlaggend nader stap. Hy gaan my aan ’n skip se maspaal vasmaak en my met ’n sambok laat slaan.

      “. . . en dis Miranda,” hoor sy sy stem vaagweg


Скачать книгу