Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray


Скачать книгу
verlief geraak op jóú nie, maar op jou aardse besittings . . . Daardie spul klere wat jy vir haar gekoop het, is ’n skande!”

      “U het in een opsig heeltemal gelyk, donna Teresa. Andrea is nie dolverlief op my nie. Nog nie. Nie so verlief as wat ek haar graag sal wil sien nie. Dis ék wat dolverlief is en ek gaan my bes doen om haar ook dolverlief te kry.”

      Sy het hom aangekyk asof sy weet sy verstand het verdwyn, hoewel hy haar verseker het dit funksioneer nog. “Jy is nie die soort mens wat oornag verlief raak nie, Alonso. Moenie onsin praat nie!”

      “Nie? Hoekom nie? Dit loop dik deur my bloed. My een voorsaat het net een blik op ’n seerower gegooi en sy is gewillig saam met hom na sy skip toe. My ander voorsaat het . . .”

      “Ja, toe maar. Ek ken my eie geskiedenis.” Haar kommer was diep en opreg. “Maar wat van Miranda, Alonso? Wat van daardie arme kind wat al die jare nog vas glo sy gaan met jou trou?”

      “Ek is bevrees dis ú probleem, donna Teresa. Ek kan nie onthou dat ek Miranda doelbewus onder daardie indruk gebring het of dat ek haar ooit gevra het om my vrou te word nie.”

      “Maar jy het tog geweet dis wat . . . wat . . .”

      “U beplan het? Ja, ek het.”

      “Maar jy het nooit ’n woord daarteen laat val nie!”

      “Nee, ek het nie. Om twee redes. Eerstens het dit nie saak gemaak nie. Ek het nogal met u saamgestem. Miranda sal die ideale vrou vir my wees. Tweedens het dit Miranda blykbaar nie gepla nie, miskien om dieselfde rede wat dit my nie gepla het nie. Ons was nie een verlief nie, nie op mekaar nie en ook nie op iemand anders nie. Albei van ons het geglo die probleem sal homself mettertyd oplos. Dit het nou. Ek is op ’n ander meisie verlief.”

      “Maar Miranda hét jou lief, Alonso! Sy wil met jou trou!”

      “Donna Teresa, Miranda dartel die hele Europa vol en is net so min lus om te trou as . . .”

      “Maar sy wil ééndag met jou trou! Goed, ek erken jy het seker begin moeg word van wag vir haar. Ek sal met haar praat. Sy is al twee en twintig. Dis tyd dat sy tot rus kom, trou en kinders . . .”

      “My liewe grootmoeder, dan sal u vir haar ’n bruidegom moet soek. Ék is nie meer beskikbaar nie.”

      Sy het hom bleek aangekyk. Eindelik moes dit tot haar deurdring dat haar kleinseun ernstig is. “Alonso, jy kan nie ernstig wees nie!”

      “Ek is doodernstig, donna Teresa. Ek gaan trou met die vrou van my keuse, nie met die een wat my grootmoeder vir my uitgesoek het nie.”

      Donna Teresa het orent gekom. “Ek kom saam met jou Kokos toe. Ek wil hierdie . . . wonderverskynsel sien wat jou so totaal die kluts laat kwytraak het.”

      Hy het geglimlag, beleef gebuig. “U is welkom. Kom oortuig uself dat sy nét die vrou vir my is.”

      Toe hy sy grootmoeder op die lughawe gaan haal het, het daar egter ’n skok op hom gewag. Die jong Juan was skielik ook in die geselskap. Don Alonso het sy ontevredenheid nie probeer verberg nie en dwarsdeur donna Teresa se leuen gesien dat Juan onverwags kom kuier het. Die jong Juan is inderhaas ontbied en hy kon raai hoekom.

      “Jy gee mos nie om dat hy hier is nie, Alonso?”

      Hy het die aantreklike man van twintig se blik ontmoet en in Andrea-taal daarin gelees: Of is jy bang ek sal jou nooi afvry?

      Donna Teresa kyk nou na die meisie wat haar toekomsplanne so dramaties omver kom werp het. Sy lyk nou beter, heelwat beter. Netnou het haar hart amper gaan staan. Sy kon nie gló dat die gedroggie aan die onderpunt van die trap don Alonso se voete só onder sy lyf kon uitslaan nie! Selfs nou, noudat sy duidelik haar bes gedoen het om eerste indrukke uit te wis, is daar niks aan hierdie vreemde meisie wat donna Teresa opgewonde laat voel nie, veral nie as ’n mens Miranda langs haar stel nie. Miranda is ’n Spaanse skoonheid met die kenmerkende Latyns-Amerikaanse trekke wat elke man se hart sal betower, of behóórt te betower. Daarbenewens is sy ’n fyn opgevoede dametjie (daarvoor het donna Teresa persoonlik gesorg) en ’n berese en belese meisie wat op twee en twintig tuis is in elke geselskap. Voorwaar die ideale, die perfekte vrou vir don Alonso!

      Die meisie wat sy nou openlik sit en bestudeer, skiet uiterlik heeltemal te kort. Die gesiggie het nie soveel skoonheid dat sy op ’n sypaadjie opgemerk sal word nie. Die neusie wip net effens te snipperig en die oë kyk ietwat te reguit en parmantig na donna Teresa. Miskien is dit iets binne-in die meisie wat hom begogel.

      “Kom sit hier by my, señorita,” kom die uitnodiging en Andrea word geen keuse gelaat nie. “Vertel my meer van jouself,” kom die tweede opdrag.

      Andrea tas in haar gedagtes rond. Sou die vrou haar geslagsregister verlang? Wil seker uitvind of sy goed genoeg is vir haar kosbare kleinseun . . .

      “Wel, ek is my pa se enigste kind . . . sover ek weet.” Sy knipoog skamper in haar pa se rigting. “Ons stam uit die Smitte van Van Helsdingen . . .”

      “Uit wát?”

      “Dis ’n streek in ons land waar . . . Ag, toe maar, u sal nie verstaan nie.”

      “Ja, ek moet erken ek was al in baie lande, maar het nog nie julle land besoek nie. Jy was seker ook al oral oor die aardbol saam met jou pa?”

      “O nee, hierdie is die eerste keer.”

      “Wat het jy dan al die tyd gedoen terwyl jou pa op sy reise was?”

      Andrea begin haar vererg vir die inkwisisie. Sy kyk die ouer vrou vas in die oë. “Ek het mans gewas.”

      Dries Smit laat maar liewer sy kop sak en Juan gee ’n gesmoorde laggie. Werklik! Hierdie meisie is kostelik! Sy oë gaan na donna Teresa en dit kriewel in hom van lekkerkry. Hierdie keer het die Spaanse despoot haar tier gekry!

      Don Alonso maak ’n beweging asof hy iets wil afweer. “Sy was ’n verpleegster, donna Teresa.”

      Sy ouma is ’n oomblik lank sprakeloos. “’n Verpleegster?”

      “Ja.” Die kennetjie kom parmantig uit. “Dit staan bekend, naas moederskap, as die edelste beroep vir ’n vrou.”

      “O . . . Ja. Ja, natuurlik.” Dit klink maar flouerig en onoortuigend.

      Andrea vervolg asof sy donna Teresa se verbystering nie opgemerk het nie: “Maar natuurlik, dit word altyd deur ander gesê. Vir ’n verpleegster self is daar niks edels in ronddraf met ontsmettingsmiddels en verbande en seep nie. Ek het al baie keer gedink . . .”

      “E . . . pequena, jy moet ’n slag aandag aan jou drankie gee,” waarsku don Alonso.

      Andrea kyk strydlustig na haar “geliefde”. Jy wil mos so ’n nuuskierige ouma hê! Ly wat daarop volg, besluit sy

      “O ja!” Sy neem ’n slukkie van haar drankie en loer ewe plesierig na die ouer vrou wat haar net beswaard sit en aankyk. “Wat wou ek sê? Ek is nou van my storie af. O ja! Ek verseker u, donna Teresa, ek het dikwels taamlik onedel gevoel as ek ’n stuitige ou man moes was. So siek dat hy wil doodgaan, maar vatterig! Gelukkig het ek altyd raad met so een gehad, glo my!”

      Juan kan homself nie keer nie. Hy blaas die vlam aan. “Wat het jy dan gedoen?”

      Sy lag. “Ek het die waslap vol seep gesmeer en dit in sy hand geplak en gesê: ‘Oupatjie, as jou hand nog sterk genoeg is vir sulke dinge, kan dit ’n waslap ook vashou. Was jouself!”

      Sy is verbaas toe daar ’n proesgeluid opklink. Toe sy opkyk, sien sy dat dit van don Alonso afkomstig is. Selfs donna Teresa se lippe begin teësinnig trek.

      “Werklik, dis ’n goeie plan,” sê Juan.

      Dan lag donna Teresa openlik saam met die res en sê droog: “Jy moes ’n interessante lewe gehad het!”

      “O ja! Dis ’n baie interessante en leersame beroep. Dit berei ’n meisie voor om eendag ’n goeie vrou en moeder te wees.”

      “Hoekom sê


Скачать книгу