Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray
nie waar nie!”
“Trek aan, of jy ly die gevolge!”
Sy pluk die bloes oor haar kop en vlieg soos blits in die langbroek in terwyl sy voel hoe haar binnegoed bewe. “Raak net aan my . . . jou seerower!”
“Vir ’n seerower het ek my tot dusver besonder kuis gedra, veral aangesien die buit so voor my neus gehou word.”
Sy kyk met ’n moordende blik op, vas teen haar bra wat swaaiend aan sy voorvinger hang. “Jy het dít vergeet.”
Sy gryp dit by hom en stamp hom amper van die rotse af toe sy by hom verbystorm. Hy kyk die woedende meisie agterna, die intieme kledingstuk wapperend in haar regterhand, terwyl sy met lang hale en armswaaiend so vinnig moontlik die grootste stuk aarde tussen hulle probeer inkry.
Toe haar pa daardie middag laat tuis kom, sit en wag sy dogter hom in. Onder hierdie man se dak bly sy nie langer nie. As hy haar nie wil toelaat om êrens anders op Kokos of Costa Rica te gaan bly nie, gaan sy sowaar terug na haar eie land toe.
Maar die don spring haar voor. Hy het ook uitgesien na Dries Smit se terugkeer. “Iets gevind?” wil hy met die intrapslag weet.
“Net dat al die waarskynlike plekke reeds baie goed deursoek is. Dis nie die moeite werd om weer daar te gaan tyd mors nie . . . Ja, Andrea? Wat is dit?”
“Ek wil Pa dadelik spreek. Privaat, asseblief.”
“Ja, señor Smit, ek het ook iets dringends om met julle te bespreek. Die señorita se saak kan wag. Myne is dringender.”
“Myne . . .”
“Wag nou, Andrea. Ja, señor?”
“Ek wil jou om jou dogter se hand vra, asseblief.”
Andrea se mond val oop.
5
__
“As dit as ’n grap bedoel is . . .” sê Andrea dreigend.
“Ek voel nie na grappies nie, señorita, nie ná wat ek vandag verneem het nie.”
“Wat het jy verneem?”
“My grootmoeder is op pad hierheen.”
“Jou ouma?” Iemand se verstand werk nie meer lekker nie, besluit Andrea in absolute verwarring. “Dié ouma vir wie jy pakkies by die byderwetse dameswinkel in San José kry?”
“Dieselfde een.”
Sy swyg en sien die verwarring op haar pa se gesig. Dit laat haar beter voel. Hy verstaan ook nie.
Dries maak keel skoon. “As jy my sal verskoon, señor, maar wat het jou grootmoeder se koms hierheen te doen met die feit dat jy skielik met my dogter wil trou?”
“Ek wil nie werklik met haar trou nie, señor. Ek vra net ’n tydelike verhouding of dat sy vóórgee daar is ’n verhouding tussen ons.”
Dries Smit se lippe sluit opmekaar. Don Alonso ofte nie, sy dogter is sy dogter, en hy is baie lief vir haar en hy is trots op haar. “Jy moet liewer baie duideliker praat, señor.” Hy kyk die ander man vas in die oë. “Jou voorstel grens aan ’n ernstige belediging vir my dogter.”
“Dis nie so bedoel nie, señor. Ek verseker jou – en vir haar – dat as ek gedink het sy is ’n slegte soort meisie, sou ek my nie na julle gewend het vir hulp nie.”
“Hulp?” Andrea kry weer haar spraak terug. “Watse hulp?”
Die Spaanse heer is verleë. “Dis ’n lang storie.”
Sy swart oë waarsku haar dat die bordjies dalk op ’n dag verhang kan word. Maar sy kyk hom met leedvermaak aan. Dis ’n seldsame verskynsel om don Alonso in ’n hoek en benoud te sien. Sy gaan dit geniet solank sy kan. Dis wonderlik om te weet hy kan ook in die knyp beland. Dit laat hom meer menslik voorkom en haar meer menslik teenoor hom voel.
“My pa het ná my moeder se dood weer getrou, met ’n weduwee met ’n dogtertjie. Toe my pa – en kort daarna ook my stiefma – oorlede is, het donna Teresa vir Miranda onder haar vlerk geneem. Dié twee het baie geheg aan mekaar geraak. Donna Teresa was nog altyd oortuig dat ek en Miranda eendag sal trou. Dit is vir haar ’n uitgemaakte saak en met verloop van tyd het sy hierdie gedagte ook in Miranda se kop geplant sodat sý ook nou aanvaar dit is wat gaan gebeur . . .”
“Hoekom wil jy nie met haar trou nie? Is jy bang sy sal nie die verwagte kwota seerowertjies kan produseer nie?”
“Nee, señorita,” kom die ysige antwoord. “Miranda is ’n pragtige meisie en sy weet presies wat van haar verwag word wat die voortbestaan van my nageslag betref. Sy is die ideale vrou vir my.”
“Dan verstaan ek jou nie, señor,” kom Dries by. “Wat hinder jou dan?”
Hy wend hom na die ouer man en sy tong kap die woorde af: “Die man is die jagter, señor. Jy sal daarmee saamstem. ’n Man is nie net ’n noodsaaklike benodigdheid tydens ’n huweliksbevestiging nie.”
’n Lig gaan vir Andrea op. “O, nou verstaan ek ook. Jy voel in jou eer gekrenk. Jy wil die vrywerk én die vrawerk doen.”
Haar pa kyk haar fronsend aan. Regtig, soms is Andrea darem té uitgesproke.
Don Alonso knik styf. “Ja, señorita. ’n Mens kan dit seker so ook stel.”
Dries Smit kyk die ander man simpatiek aan. “Ek verstaan, señor. Niemand wil graag as vanselfsprekend aanvaar word nie. Maar om ’n skynverhouding te gebruik om hulle ’n les te leer . . . Gaan jy nie miskien die risiko loop om jou aanstaande dalk te verloor nie?”
“Nie sommer nie.” Hy glimlag effens. “Jy ken nog nie vir donna Teresa nie. En Miranda is al soveel jare lank gewoond aan die gedagte dat sy nie sommer daarvan sal afstand doen nie. Nee, maar hulle gaan goed skrik.”
“Maar dis ék wat die gevolge van hul skrik gaan dra,” protesteer Andrea. Sy voel glad nie lus om by don Alonso se persoonlike sake betrek te word nie. Sý is die een wat die spit gaan afbyt. Sy gaan beslis nie gewild wees by die twee dames nie. En dit klink hoeka vir haar don Alonso het ’n regte seerower-ouma . . .
“Ek is bereid om jou te vergoed vir jou dienste, señorita. Beskou dit as ’n saketransaksie. Ek neem jou ’n kort rukkie in diens. Die salaris is onderhandelbaar.”
“Wat bedoel jy . . . onderhandelbaar?”
Sy gesig is ernstig, maar Dries Smit sien die effense knip van die oog in sy rigting. “Wel, voordat ’n mens oor ’n salaris kan ooreenkom, moet die werkgewer darem weet of die werknemer iets werd is. Of hy, of sy in hierdie geval, in staat is tot die eise wat die betrekking stel . . .”
“Bedoel jy nou daarmee dat jy twyfel of ek kan vry, señor? Dan verseker ek jou ek . . .”
“Nee, nee, señorita! Daar sal nie sulke . . . hoë eise gestel word nie. Nee, ek bedoel of jy ’n bietjie kan toneelspeel . . . en of jy ’n bietjie waagmoed het.”
Sy frons kwaai in haar pa se rigting. “Pa, waarvoor sit en lag Pa? Dié man wil my in ’n gemors laat beland en Pa dink dis snaaks.” Dan kyk sy kwaai na die ander man. “Natuurlik kan ek toneelspeel as dit moet en natuurlik is ek nie ’n lafaard nie!”
“Jy is nie bang nie?”
“Waarvoor moet ek bang wees?” vra sy agterdogtig.
“Nee . . . e . . . ek weet dis ’n onnodige vraag. Ek weet teen hierdie tyd jy kan jou man staan . . . met jou mond.”
“Dankie,” sê sy sarkasties. “Hierdie ouma van jou . . . is sy ’n kwaai ou dame?”
Sy gesig is onleesbaar. “Sy klink soms erg, maar dis meer blaf as byt. Daar is baie mense wat so is. Raas heeldag, maar dit beteken nie juis iets nie. Jy sal haar kan . . . e . . . hanteer, ek is seker.”
Andrea frons bekommerd. Seerowers is diewe, nie kannibale nie.