Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray
voordat Andrea se mond kan oopval, is hy reeds by die vertrek uit.
“Andrea, my kind . . .”
Sy laat haar kop sak, voel skielik aaklig. “Ek is jammer, Pa. Ek weet ek het my baie swak gedra. Ek . . . weet nie . . . wat oor my gekom het nie.”
Vir die eerste keer is haar pa se stem ook koel. “Ek wonder self wat met jou aangaan. Jy gaan daardie man om verskoning vra. Dadelik.”
“Maar hy is by die huis uit,” skerm sy.
“Dan doen jy dit wanneer hy weer inkom . . . al wag jy tot twaalfuur vannag. Don Alonso verdien nie sulke blatante ongeskiktheid nie, Andrea. Dit verbaas my dat ons nog hier op Kokos geduld word.”
“Ja, Pa.”
Sy en haar pa eet alleen en sy weet regtig nie wat sy eet nie. Ná ete gaan sit haar pa by die kaart van die eiland wat op die tafel oopgesprei lê, en sy dwaal rusteloos rond. Waar sou hy in die donker heen wees?
Later sê haar pa hy gaan slaap, hy wil vroeg môreoggend op ’n verkenningstog gaan. Sy bly dus alleen agter en raak al meer bedees hoe later dit word.
Sy kan van verligting en senuwees huil toe sy uiteindelik don Alonso se voetstappe hoor. Sy spring op. Sy het twee ure gehad om haar toesprakie agtermekaar te kry, maar haar verstand staan nou botstil.
Hy kom binne en sy kyk hom verbaas aan. Hy dra ’n rybroek en kamaste en sy hare is deurmekaar en windverwaai. Hy stap na ’n lig om dit af te skakel en dan eers sien hy haar raak. Hy kom tot stilstand. Die wind het nie die kilheid uit sy oë weggewaai nie, sien sy.
“Dis al laat. U moet ook gaan rus, señorita. Goeienag.”
“Señor . . .”
“Jy hoef nie.”
“Hoef nie wat nie?”
“My om verskoning te vra nie. Ek sien jy vind dit nog swaarder as om ’n kompliment te ontvang.”
Sy sluk. “Asseblief, ek wil . . .”
“Señorita Smit, my een voorsaat was ’n seerower, ja, en hy het kerke besteel, maar hy het nie mense gemartel nie. Hy was dalk ’n dief, maar nie ’n sadis nie. Gaan slaap nou.”
“Maar, kragtie, hou nou jou mond dat ek ook iets kan sê!” Nou is haar senuwees aan flarde! Sy stap reg op hom af, spits haar ken op na hom toe. Maggies, hy lyk nou kompleet soos sy seerowergrootjie met sy deurmekaar hare en gepofde rybroek. Hy kort nog net ’n kapmes of swaard in die hand.
Dan sis sy stem oor haar. “Señorita, ek is by my perke, ek waarsku jou! Waarvoor de duiwel lag jy?”
“Ek wou jou ’n kompliment maak, señor. Ek wou jou sê dit was ’n pragtige kompliment wat jy mý gemaak het en dis wederkerig.”
Sy frons is onheilspellend. “Wederkerig?”
“Ja. Soos jy nou hier voor my staan, kan ek verstaan hoekom señorita De Vitoria alles prysgegee het en vrywillig saam met Bonito weg is na sy seerowerskip. Dis nou as Bonito enigsins so aantreklik was soos wat jy nou is.”
Hy staar haar net aan en sy begin deur toe beweeg. “Goeienag, señor,” sê sy en by die deur waag sy dit om oor haar skouer te kyk, vas teen sy kwaai frons. “Señor, jy het my belowe jy gaan my baie dinge op Kokos leer. Dit lyk my nie een daarvan is hoe om ’n opregte kompliment waardig en met grasie te ontvang nie.”
“Ek sal jou meer as dit leer, señorita.” Sy het nie geweet hy kan so vinnig beweeg nie, maar hy is skielik by haar en haar skouerknoppe word stewig vasgevat. Die donker oë glinster diabolies in haar verskriktes af. “’n Mens bedank iemand vir ’n kompliment. Ek wil jou bedank vir die een aan my gerig . . . en daarna sê jy op dieselfde wyse dankie vir die een aan jou gerig.”
Sy het nie ’n benul waar sy bedanking eindig en hare begin nie. Toe sy weer tot verhaal kom, hoor sy hom teen haar lippe fluister: “Jy sal maak dat ek heeltemal verslaaf raak aan komplimente, señorita!” Dan word sy plegtig by die deur uitgedruk en word dit vinnig agter haar toegetrek.
Die volgende oggend weet Andrea nie hoe sy ’n sekere persoon in die helder daglig in die oë gaan kyk nie. Sy voel vies vir haarself. Dis darem wonderlik waarvoor ’n mens kans sien wanneer dit donker is – dinge wat jy in die helder oggendson nie eens sou oorweeg nie. Wat het haar besiel om sulke snert kwyt te raak? Don Alonso kon nie anders nie as om die indruk te kry dat sy met hom flankeer nie. Sy het, moet sy dan verleë aan haarself erken. Daardie Spaanse tafelwyn moes na haar kop toe gegaan het. Haar gasheer kan net een gevolgtrekking maak: Sy het by hom aangelê. Hy dink natuurlik nou sy is goedkoop. Maar hy het darem ook nie op hom laat wag nie! praat sy amper hardop. Hy trek verniet sy neus vanoggend vir haar op. Hy is ook maar soos alle ander mans: sal nie ’n kans laat verbygaan nie. Dan is hy nog ’n seerower op die koop toe en sal van elke geleentheid gebruik en misbruik maak . . .
Nee, sy kan nie sê hy het misbruik gemaak nie. Hy het haar ná daardie wonderlike soen netjies uit die vertrek gehelp en die deur toegetrek. As hy wou, kon hy haar soos ’n egte seerower in sy arms geneem en in ’n ander rigting met haar geloop het. Maar hy wou blykbaar nie . . .
Toe sy moet besluit wat om aan te trek, val haar keuse op haar ou, betroubare langbroek. Dis van nuwe rokke en komplimente dat dinge lyk soos dit vanoggend lyk.
Dat haar keuse nie sy goedkeuring wegdra nie, is onmiddellik duidelik toe sy haar verskyning maak, maar dit skeel haar min. Van situasies waarin komplimente uitgedeel kan word, bly sy weg in die toekoms.
“Hoe laat wil Pa gaan? Sommer net na ontbyt?” vra sy terwyl sy lustig aan die kos wegval. Sy het gisteraand beslis nie haar ete geniet nie.
“Ja, dis die plan.”
Die gasheer se bekende frons verdiep. “Moet ek daarvan aflei dat jy saam met jou pa wil gaan?”
“Ja.”
“Dit kan ek nie toelaat nie.”
Haar bekende frons verskyn ook nou. “Hoekom nie?”
“Jy gaan nie alleen op die eiland ronddwaal nie.”
“Pa is mos by my!”
“Ek ken jou reeds goed genoeg om te weet jy sal nie by jou pa bly nie en hier is soms allerhande ongewenste elemente . . .”
“Ek kan myself verdedig . . .”
Sy oë is spottend. “Jy lyk daarna. Hier is genoeg te doen in die palacio.”
“Soos wat?”
“Soos briewe tik . . .”
“Jy het my pá gehuur, nie vir my nie!”
“Andreatjie . . .”
“Nee, maar basta met hom, Pa! Ek staan nie in sy diens nie.”
“Jy staan onder my jurisdiksie solank jy op Kokos en onder my dak is, señorita Smit. Dít moet jy duidelik verstaan. Die saak is afgehandel. Jy verlaat nie die palacio se gronde sonder my verlof nie.”
Met ’n lang lip staan sy by haar pa terwyl hy die nodige vir die aanvang van sy soektog bymekaar kry.
“Hy is onuitstaanbaar!” blaas sy steeds stoom af. “Ek sweer hy is gereïnkarneer.”
“Hoe nou? Wat bedoel jy?”
“Hy is net te ongelooflik Middeleeus om regtig ’n produk van die twintigste eeu te wees. Hy is sy grootjie-seerower wat gereïnkarneer is. Hy móét wees!”
Dries skud sy kop, lag dan tog met ’n simpatieke lig in sy oë. Andrea was nog altyd ’n baie onafhanklike wese, en veral ná haar ma se dood, en met haar pa altyd êrens op ’n uithoek van die aardbol, het sy geleer om vir haarself te dink en te doen. Om nou soos ’n dom skoolkind behandel te word, moet swaar wees. Dit mag die etiek wees onder die hoë Spanjaarde, maar dit gaan nie deug met hierdie dogter van hom nie. Hy beter die skat gou kry . . .
Andrea staar haar pa vies agterna en gaan