Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray
wat te leer.”
“’n Seerower gaan vir mý leer?”
“Daar is báie dinge wat jy sal moet leer. Is julle klaar? Dan kan ons gaan. Solank ek en die señorita inkopies doen, kan jy solank Costa Rica verken, señor. Ek glo jy sal dit geniet.”
Dries Smit glimlag. Ver en vreemde plekke is sy kos en grootste vreugde. “Sekerlik, señor.”
“Inkopies?” wil Andrea weet.
“Ja, señorita. Jou eerste lesing is voor die deur: Hoe om soos ’n dame aan te trek. Kom.”
Sy kyk hulpsoekend na haar pa, maar kan geen hulp uit daardie oord verwag nie. Hy staan hom en verkyk aan die kroonkandelaar bokant hul koppe, asof hy dit nou die eerste keer opmerk.
“Señor, ek sal nie toelaat dat jy vir my klere koop nie! Dis onbehoorlik.”
“Onbehoorlik?”
Haar wange is warm. “Ja. Ek is geleer ’n . . . ’n dame laat nie toe dat ’n vreemde man vir haar klere koop nie. Dis . . . swak smaak, swak opvoeding . . . e . . .”
“Ek gaan nie vir jou klere koop nie, señorita. Ek gaan jou maar net leiding gee om sélf die regte klere te koop. Jy gaan ook self daarvoor betaal.” Sy oë tart uitdagend. “Jy is mos vol geld, dan nie? Kan mos selfs vir mý uitkoop . . .”
Sy staan vinnig op. Nee kyk, wat te erg is, is te erg! “Dis mý geld, en jy gaan nie sommer mý geld rond en bont uitgee nie!”
Dries Smit tree tussenbeide. “Moenie so hardkoppig wees nie, Andrea! Ek dink dis ’n goeie plan. Gaan koop vir jou ’n paar mooi goedjies. Dis nie elke meisie wat aan die ander kant van die aardbol inkopies kan gaan doen nie. Gaan kry vir jou iets wat jy kan saamneem huis toe as ’n aandenking.” Hy sug toe hy haar bot gesig sien. “Ek sal jou alles terugbetaal sodra ek my aandeel kry. Ek belowe!”
“Hmpff! Daardie aandeel sal ek glo wanneer ek dit sien.” Sy aarsel. Haar pa het ’n punt beet. En al dink hierdie danige Spaanse señor daar skeel so baie áán en mét haar dat sy kwalik as ’n vrou bestempel kan word, ís sy een. Sy het nog nie veel aan haarself bestee nie. Sy kan gerus ’n paar stukkies klere bykry . . .
Sy moes voet by stuk gehou en hom na sy peetjie gestuur het, besluit sy ’n hele rukkie later. Om saam met die don inkopies te doen, is geen plesier nie. Met alles wat vir haar mooi is, vind hy fout.
“Jy wil van my ’n Spaanse dame maak en dit sal ek nooit wees nie!” protesteer sy later briesend.
Die antwoord is ewe koel: “Sulke hoë aspirasies sal selfs ék nooit hê nie, señorita. Nee, ek wil jou net sover kry dat jy darem gangbaar is.” Sy arendsoog het die rooi bikini wat sy onder die rokke ingedruk het, klaar raakgesien. “Daardie ding koop jy nie. Sit dit terug.”
“Dis mý geld . . .”
“En dis mý dak waaronder jy sal vertoef. Jy sal nie so iets daar aantrek nie.”
Andrea sluk en gooi dan maar om vredesonthalwe die stukkie swemklere eenkant toe. Sy wonder klaar wat die verkoopsdames dink. Don Alonso is ’n baie bekende persoon in San José.
Pak onder die arm staan sy eenkant toe don Alonso betaal. Sy het hom net een kyk gegee en prontuit gesê: “Dis jóú klere hierdie. Jý het dit uitgesoek. Jý betaal daarvoor.”
Hy het met ’n glimlaggie gehoorsaam en die verkoopsdame het breed geglimlag. “Kom gerus weer, don Alonso. Dis altyd aangenaam om u tot diens te wees.”
“Dankie, señorita. Adios.”
Andrea kyk skuins op na hom toe hulle terugry. Sy weet sy moet nie, maar sy kan die vraag nie keer nie: “Doen jy hierdie soort ding gereeld?”
“Watter soort ding?”
“Om klere vir vroue te koop. Ek het die indruk gekry jy is ’n ou en gewaardeerde klant in daardie dameswinkel.”
Hy werp haar ’n skuins blik toe en antwoord ernstig: “Ja. Ek tel dikwels goed daar vir my ouma op.”
Sy kyk vinnig weg. Ouma! Hy moet dink sy is onnosel. Sy is nie genoeg van ’n dame vir hom nie, maar hy is ’n ander soort “heer”. Koop klere vir vroue, en dring agterna seker op “betaling” aan. Die kamtige heer sal natuurlik nou betaling van haar ook wil hê . . . op sý voorwaardes. Maar hierdie keer gaan hy hom vasloop, besluit sy. Laat hom net iets probeer . . .
“Regtig, señorita, as jy so gaan aanhou, gaan jy ’n plooi tussen jou oë hê so diep soos die Grand Canyon voordat jy drie en twintig is. Lag tog ’n slag!”
Sy draai haar gesig weg van sy speurende blik en mompel vererg: “Ek voel g’n lus vir lag nie. Waarvoor moet ek?”
“Ek moet sê ek het lank laas ’n ondankbaarder skepsel as jy teëgekom. Hier sit ons met ’n kattebak vol klere waarvoor ék moes betaal, en jy lyk asof ek jou ’n enkelkaartjie Siberië toe present gegee het. Soveel nuwe klere sal elke ander vrou laat oorborrel van plesier, maar jy . . .”
“Ek is nie elke ander vrou nie, señor.”
“Dit weet ek teen hierdie tyd. Vertel my iets nuuts.”
Regtig, dié man! “Jý het daardie spul klere op my afgedwing. Ek sou dit nooit gekies het nie. Elke mens betaal self vir dit wat hy graag wil hê, dankie. En onthou asseblief: jou voorbarigheid gaan geen voordele inhou nie.”
“Ekskuus?”
Sy bly stil. Sy het weer te vinnig gepraat. Sy het geen bewyse dat die don die soort man is wat op vergoeding sal aandring nie. Sy roer haar skouers ongemaklik onder sy skroeiende blik. Natuurlik moet hy daardie soort man wees! kom sy tot haar eie verdediging. Watter man koop ’n bagasiebak vol klere vir ’n vrou en verwag nie iets in ruil daarvoor nie? Hy moet nog gebore word! Maar don Alonso is lank gelede gebore en sy is self nie van gister af op hierdie aarde nie.
“Jy het gesê, señorita?”
Sy lek oor haar lippe wat skielik droog voel, heilig oortuig hy kan hoor hoe haar gedagtes maal. “Ek wil dit maar net aan jou tuisbring dat ek nie volgens jóú smaak op ’n eiland tweeduisend kilometer van die beskawing af gaan paradeer nie.”
Sy oë, wat nog ’n rukkie stil op haar bly rus, vertel haar dat hy nie so oortuig is dat dit dít is wat sy bedoel nie. Dan besluit hy skynbaar om haar die voordeel van die twyfel te gee en sê net kortaf: “Ek is nou hartlik siek van jou gesanik. Loop dan maar kaal rond as jy so voel!”
Sy laat ’n lang, stadige, onhoorbare sug uit haar gespanne boesem ontsnap. Genade, dit is een ding om parmantig te wees, maar dis ’n ander ding om ’n man sonder bewyse van immorele gedrag of bedoelings te beskuldig.
Sy is hartlik dankbaar om haar pa op die sypaadjie te sien waar hy staan en wuif om hul aandag te trek.
Toe hulle ’n ruk later by die lughawe kom, wag daar nog ’n verrassing. Andrea en haar pa volg maar waar don Alonso lei, wissel net ’n vlugtige blik toe hulle sien hulle is op pad na ’n sessitplek-privaatvliegtuig. Hulle wissel weer ’n blik toe hulle sien don Alonso skuif self agter die stuur in. Natuurlik! Wat kon haar laat dink het dat hy nie sy eie vliegtuig sal hê én dit self sal loods nie? Om vir so ’n man te wil vertel sy sal hom kan uitkoop . . . met driehonderd en vyftig duisend randjies!
“Wat amuseer jou so geweldig, señorita?”
Sy ontmoet sy oë, kyk dan weg, skud haar kop en laat laggend hoor: “Nee, ek dink sommer net, señor.”
“Ek het jou reeds gesê dis ’n gevaarlike ding vir ’n vrou om te doen.”
Sy kyk terug na hom, al die geamuseerdheid weg, en laat waarskuwend hoor: “Moenie weer begin nie, señor!”
Maar dis sý beurt om te lag en sy kop te skud terwyl hy die vliegtuig op die aanloopbaan rig. “Ons begin maar nou eers, señorita.”
“Wat bedoel jy? Señor, as jy so gaan aanhou sukkel met my, kan jy my maar nou