Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray


Скачать книгу
sy volgende woorde nie tergend nie, maar eerder na ’n dreigement: “Ons is op pad Kokos toe, Andrea Smit . . . en jy het geen idee wat daar alles op jou wag nie!”

      4

      __

      Andrea Smit vergeet haar bedenkinge ná don Alonso se geheimsinnige woorde toe hulle eindelik die eiland onder hulle sien lê. Hoe laer hulle sak, hoe skouspelagtiger word die toneel onder haar. ’n Tropiese eiland lyk altyd vanuit die lug soos ’n groen smarag op ’n blou fluweelkussing en aangesien dit Andrea se eerste ervaring is, laat dit haar sprakeloos.

      “Dis . . . asemrowend!” fluister sy met ontsag.

      Don Alonso se blik is die eerste keer warm op haar. Kokoseiland lê baie na aan sy hart. Haar uitroep van bewondering maak dat sommer ’n klomp swart kruisies teenoor haar naam doodgetrek word.

      Daar is onverbloemde trots in sy stem toe hy hulle inlig: “Soos julle aan die twee spitse reg onder ons kan sien, het Kokos ’n vulkaniese oorsprong. Julle kan hiervandaan ook duidelik die twee hoofbaaie sien – Chathambaai is die een aan die noordoostelike kus. Daar waar die bote meestal anker, soos julle kan sien. Waferbaai is die ander een. Daar is ’n klein regeringspos wat onder meer toesig hou oor die skatsoekery.” Dis duidelik dat hy nie van plan is om daar te land nie, want die vliegtuig se neus swaai weg. “Vroeër is die eiland uitsluitlik gebruik as ’n strafkolonie. Gelukkig het hulle daarvan afgesien. Die eiland is in die besit van die Costa Rica-regering sedert 1888 en dit staaf my siening dat hulle nie geregtig is op die helfte van wat hier gevind word nie.”

      “Hoe so?” wil Dries weet.

      “Bonito het sy skat al in 1818 of 1819 hier kom versteek, lank voordat Costa Rica enige seggenskap hier gehad het. Selfs kaptein Thompson van die Mary Dear het sý skat voor Costa Rica se oorname hier kom versteek, reeds in 1826.”

      “Hier is dus meer as een skat?”

      “Ja. Wie die berekening gedoen het, weet ek nie, maar daar word beweer dat hier waarskynlik ’n honderdmiljoen dollar se skatte lê en wag om ontdek te word, dié van Bonito en Thompson definitief.”

      Teen haar sin is Andrea se belangstelling geprikkel. Tot dusver het sy nog altyd skepties gestaan teenoor hierdie danige skat – of soos sy nou hoor: skatte – en sy kon nie regtig opgewonde raak daaroor nie. Maar noudat Kokos in al sy glorie in die son onder haar skitter, kry sy die gevoel dat enigiets hier moontlik is – dat daar selfs seerowerskatte te vinde kan wees. En sê nou haar pa gaan die gelukkige een wees om dit te ontdek?

      “Waaruit bestaan die skatte, Bonito s’n veral?” wil sy weet.

      “Dis glo hoofsaaklik afkomstig uit Peruviaanse kerke wat hy geplunder het.”

      Sy kyk hom geskok aan. “Kérke geplunder? Maar hy behoort hom mos te skaam!”

      Hy hou sy gesig ernstig, hoewel sy een mondhoek suspisieus trek. “Ek dink nie hy is nou meer in staat om te bloos nie, señorita.”

      “Maar kérke! En daardie danig verfynde De Vitoria-dame met wie hy getroud was . . . Het sy nie omgegee dat haar man kerke besteel nie?”

      “Dit sal ek nie kan sê nie. Feit bly, as hý dit nie besteel het nie, sou iemand anders. Wat jy moet verstaan, señorita, is dat die meeste van die goed in daardie kerke reeds gesteelde goed was. Ons praat van die negentiende eeu, nie die twintigste eeu nie.”

      Sy kyk hom ontevrede aan, voel vreemd teleurgesteld in hom. Dat hy so iets nog probeer goedpraat! Hy behoort hom ook te skaam. Maar hy is mos Bonito se agter-agterkleinkind. Hy sál dit goedpraat. Trouens, hy volg perfek in sy oergrootjie se voetspore. Hy wil nou die skat terugsteel sonder dat die regering daarvan weet!

      “Steel is steel, señor!” sê sy streng. “Om darem ’n kerk te plunder . . . Dis verskriklik!” veroordeel sy sonder skroom.

      Hy knik. “Mag wees, maar dit sou veel erger gewees het as hy gewone mense se goed geplunder het. Want die gewone mense was toe brandarm. Die kerke het destyds al die skatte gehad. Nee, ek is trots op my voorsaat dat hy die regte keuse gedoen het.” Met ’n skuins glimlag na Dries keer hy vinnig die stortvloed verontwaardiging: “Ons gaan land. My grond lê nou reg onder ons. Daar oorkant tussen die bome kan julle die palacio sien.”

      Hulle kom ’n rukkie later op die aanloopbaan tot stilstand, en dadelik is daar helpende hande om die bagasie aan te dra huis toe. Hulle stap sommer die klein entjie en teen haar sin moet Andrea erken dat dit ’n idilliese plek is wat don Alonso hier het.

      Hy kyk op haar af. “Welkom op Kokos, señorita. Moenie dat die gedagte aan my verskriklike voorsaat jou verblyf hier vertroebel nie. Die palacio het niks met Bonito te doen nie. Alles hier, ook alles in die palacio, is wettig en eerbaar deur die De Vitoria-familie deur die eeue bekom. Jy kan gerus slaap. Niemand sal by jou kom spook nie.”

      Die palacio is nie so ’n groot plek en het nie sulke saalagtige vertrekke soos sy huis op Costa Rica nie, maar dit is net so weelderig en met soortgelyke kosbare antieke stukke gemeubileer.

      Die klere wat Andrea in San José gekoop het, sal by hierdie plek pas. Toe sy gereed maak vir aandete, soek Andrea tussen die nuwe voorraad en voel ’n opgewonde tinteling deur haar gaan toe sy haarself in die spieël beskou. Toe sy die klere in die winkel aangepas het, moes sy op en af voor die heer Alonso paradeer waar hy, kiertsregop op ’n stoel, haar van alle kante krities beskou het. Noudat sy tyd het om met aandag na haarself te kyk, besef sy dat don Alonso se smaak haar beslis aanstaan. Sy smaak is net te duur na haar sin. Aangesien dit egter nie uit haar beursie betaal is nie, kan sy dit maar ten volle geniet. Dis hopelik met die De Vitoria-erflating betaal, nie met wat uit kerke gesteel is nie.

      Hierdie keer is die reaksie op haar verskyning heelwat anders as die vorige keer. Haar pa lyk soos net ’n trotse pa kan lyk, en die gasheer . . . die gasheer se gesig bly eers geslote en onleesbaar, totdat hy die verergde vonkies in haar oë sien en besluit om haar nie verder te terg nie. Soos ’n ridder kom buig hy voor haar, neem haar hand en kus dit.

      “Muy bonito,” prewel hy oor haar hand.

      Haar oë flits vraend na haar pa. Kan die man nie in ’n verstaanbare taal sê wat hy wil sê nie? Haar pa se glimlag en goedkeurende blik stel haar egter gerus. Vir ’n wonder sê don Alonso sowaar mooi dinge vir haar. Sy glimlag vir die eerste keer sover sy weet spontaan na hom en dit ontlok ’n verdere Spaanse woordevloed.

      “Andrea es la mas hermosa de las mugeres!”

      Sy kan dit nie meer hou nie. “Wat práát die man, Pa?”

      “Vra hom self, my kind,” glimlag haar pa goedig.

      Don Alonso vertaal, sy oë waarderend op haar: “Andrea is die mooiste van alle vroue!”

      Sy kyk hom onseker, effens agterdogtig aan. Sy woorde maak haar onrustig. Sy weet sy lyk nie onaardig nie, maar sy is geen Hollywood-skoonheid nie. Hy plak dit net ’n bietjie te dik aan.

      Die welbekende frons vervang sy glimlag. “Wat pla, señorita? Wil jy meer hoor?”

      “Nee, regtig, dankie . . .”

      “Weet jy nie eens hoe om ’n kompliment te aanvaar nie?” Hy is duidelik omgekrap en sy vervies haar ook sommer.

      “Natuurlik weet ek! Dink jy dis die eerste keer in my lewe dat iemand my komplimenteer? Maar . . .”

      “Maar wat?”

      Dries Smit kyk hulle moedeloos aan.

      “Maar sodra daar buitensporigheid bykom, weet ’n mens dis vals.”

      “Wat was buitensporig aan wat ek gesê het?”

      “Dat . . . dat . . . Aag, los dit!” Wat makeer haar om so te bloos? ’n Mens sou sweer sy is ’n bakvissie!

      “Ek is verplig om myself te korrigeer. Jy mag lýk soos die mooiste van alle vroue, maar ek twyfel of jy dit ís.”

      “Wat? Hoe durf jy . . .” Sy ysige woorde kwets haar onverwags.

      “Daar


Скачать книгу