Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray
Ek is bereid om haar te vergoed. Julle kan die bedrag bepaal. Ek wil net hê sy moet alles staaf wat ek aan donna Teresa gaan vertel. En natuurlik van haar kant af wys dat sy nie ongeneë is teenoor my nie.”
“Wat is jy van plan om haar te vertel?”
“Dat daar ’n wedersydse aantrekkingskrag tussen my en señorita Smit ontstaan het.”
“En wanneer gaan dié wedersydse aantrekkingskrag ’n skielike dood sterf?” wil Andrea weet.
“Wanneer ek dink dit het tyd geword daarvoor.”
“En jy dink sy gaan dit aanvaar? As sy dít gaan glo, is sy onder ’n kalkoen uitgebroei en nie op ’n seerowerskip gebore nie.”
“Sy is my De Vitoria-ouma. Sy was nooit naby ’n seerowerskip nie. Sy is ’n ware Spaanse dame.”
“Dan behoort jy jou te skaam om die arme ou mens so te wil belieg. Gaan staan voor haar en sê jou sê. Jy kan dit goed doen. Jy het al genoeg oefening met my gehad.”
“Ek dink ’n bietjie skrik sal meer effektief wees.” Hy wend hom tot Dries. “Sal jy my help, señor?”
Dries sluk, kug en lyk ongemaklik. “Dis eintlik my dogter wat tot hulp gaan wees, señor. Dis sý wat moet besluit of sy daarvoor kans sien. Dit is ’n . . . e . . . buitengewone situasie en ook nie so eerlik nie . . .”
“Ek gee dit toe, maar andersins is ek bevrees daar wag ’n groot skok op donna Teresa en Miranda.”
“Jy bedoel?”
“Indien hulle nie die situasie goed verstaan nie, sal daar geen huwelik wees nie. Ek laat my nie in ’n huwelik indwing nie.”
Andrea kyk hom skepties aan. “Sal jy só ver gaan ter wille van jou trots?”
“Ja, señorita. Die man wat nie die septer in die huis swaai nie, is geen man nie.” Die vraag skiet vinnig op haar af. “Sal jy my help?”
Sy skuif rond en kyk onseker na haar pa wat ewe onseker terugkyk. Dis nou húlle wat in ’n hoek is. Feit bly, don Alonso betaal haar pa om dalk binnekort ’n paar miljoen rand ryker te wees . . . Intussen geniet hy en sy dogter don Alonso se gasvryheid, bly gratis onder sy dak waar hulle vyfster-behandeling ontvang. Nou vra hy ’n gunsie, waarvoor hy bereid is om te betaal, en dit gaan baie ondankbaar lyk as sy weier. Alles klink onskuldig genoeg en dis vir ’n goeie doel. Sy sal dit nie vir hom sê nie, maar sy wil met hom saamstem. In die huwelik wat sý eendag hoop om te hê, wil sy ook ’n mán hê, nie ’n papbroek nie. Nogtans soek sy na ’n verskoning.
“Dis altyd makliker om ’n ding te begin as om dit te beëindig,” laat sy wysgerig hoor. “Wat my hinder, is hoe ons die ding gaan ontknoop. ’n Mens kan mos nie nog een aand verlief wees en die volgende oggend het die verliefdheid maan toe gevlieg nie. Die kastige wedersydse aantrekkingskrag moet op só ’n manier verdwyn dat dit geloofwaardig lyk. Anders help al die jakkalsdraaie niks nie.”
“Ja, ek het ook daaraan gedink. As jy nie sal omgee nie, sal ek bly wees as jy bereid sal wees om teen die einde die slegste daarvan af te kom, bedoelende dat jý die een sal wees wat in die steek gelaat word.”
“Jy bedoel jy ontdek ewe skielik dit was net ’n verbygaande gevoel wat jy vir my gehad het en dat Miranda maar nog al die pad dié een in jou hart was?”
Sy mondhoeke trek. “Dis min of meer wat ek bedoel.”
“Dit klink vir my na ’n oppervlakkige romantiese verhaaltjie.” Haar stemtoon verraai dat sy nie tevrede is nie.
Don Alonso laat op redelike toon hoor: “Dis ongelukkig al uitweg. Omgekeerd gaan dit nie werk nie. Miranda kan dalk net nie van die gedagte hou om met ’n man te trou wat nog ’n gevoel vir ’n ander vrou koester nie. Jy wil tog hê dat my huwelik uiteindelik wel gelukkig moet wees, nie waar nie?”
“Ag, wat traak dit my . . .” sê Andrea vies. Sy hou net niks van die gedagte dat sý die een moet wees wat sommer in die vlug gelos gaan word nie. Sy het ook haar trots. “Hoe het jy gedink gaan jy dit doen?”
“Wat doen?”
“My die trekpas gee. Sommer by die voordeur uitboender?”
“Ag, Andrea!”
“Ja, maar, Pa, ek weet mos nie hoe die Spanjaarde dit doen nie! Die seerowers het, as hulle moeg word vir hul meisies, hulle sommer oorboord gegooi vir die haaie . . .” Haar oë gaan vinnig na die edelman. En hierdie see is juis vervuil van die haaie!
Don Alonso moet ook maar saam met Dries lag, en hy verseker haar: “Ek belowe plegtig dat ek jou nie vir die haaie sal voer of by die voordeur sal uitsmyt nie. Jy kan ’n week of wat in San José gaan kuier en sodra donna Teresa en Miranda oortuig is die huweliksklokkies gaan lui, sal hulle dadelik Spanje toe vertrek om alles in gereedheid te bring. Dan kan jy terugkeer Kokos toe en rustig verder kuier.”
Rustig . . . Dit klink vir haar of sy dan rus sal nodig hê. Sy kyk hulpsoekend na haar pa, maar dié skud sy kop beslis.
“Nee, my kind, jy moet self besluit. Ek moet darem sê ek kan nie sien wat so danig verkeerd kan loop nie. Jy moet maar net ’n rukkie lank voorgee jy geniet don Alonso se aandag. Dis hý wat sal moet sorg dat hy sy sake só hanteer dat hy aan die einde nie sonder sy bruid sit nie. Die onus gaan op hom rus, nie op jou nie.”
“Wat presies verlang jy van my, señor? Ek bedoel, hoe dik moet die pap aangemaak word? Ek gaan nie heeldag aan jou hang en klou nie, hoor!”
“Dit sal nie nodig wees nie. Hulle ken my nie as ’n man wat demonstratief is nie en sal dit dus ook nie nou verwag nie.”
“Ek het dan nog altyd verstaan die Spanjaarde is sulke warmbloedige mense!”
“Maar ons ís, señorita. Ons is. Ons bêre dit egter vir wanneer ons privaat is,” sê hy met oortuiging.
“O.”
“Probeer maar net doodnatuurlik optree. Jy sal weet hoe . . . of was daar nog nooit ’n man van wie jy besonder baie gehou het nie?”
“E . . . nie juis nie. Ek was nog nooit waansinnig verlief nie, maar daar was so een of twee wat my al effens opgewonde laat voel het . . .”
“Terwyl jy hulle gewas het?”
Dries Smit frons. “Gewas het?”
“Ja, jou dogter het my vertel sy het al ’n paar honderd mans gewas. Nou wonder ek maar net . . .”
Dries lag agter uit sy keel uit.
Andrea sê minagtend aan haar pa: “Dié man verstaan nie wat ’n verpleegster is nie!”
“Natuurlik verstaan ek, señorita. Maar jy het nog nie my vraag beantwoord nie.”
Sy sukkel om haar lagspiere onder beheer te kry. “Señor, ek verseker jou, al het hulle my aanvanklik ’n bietjie opgewonde gemaak, sou dit ná die wassery beslis verdwyn het.”
“Hoekom?”
“Omdat ’n kaal man nie juis die aantreklikste ding is wat ’n jong meisie kan aanskou nie.”
“Andrea!”
“Hy het gesoek daarna, Pa! Hy wou ’n antwoord hê!”
Maar die don se gesig bly ernstig. “Wil jy my dus vertel dat as ’n man jou van jou verliefdheid op hom wil genees, moet hy net kaal voor jou verskyn?”
“Dít sal ek nou nie kan sê nie, señor. Ek was nog nooit verlief nie. Dit kan wees dat ek dalk nóg meer verlief raak.”
Dan, vir die eerste keer, hoor Andrea don Alonso se hartlike lag opklink. “Ek is vooraf gewaarsku, señorita! Ek sal liewer nie die kans waag nie!” Hy skud sy kop, steeds laggend. “Een ding weet ek egter. Daar wag interessante dae op ons. Ek wens amper donna Teresa is al hier!”
“Ek het nog nie gesê ek gaan jou help nie.”
“Maar