Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray
voel, haar hande vol gehad het met al die klein Spanjaardjies. Maar danksy die gode is sy nou nié ’n Spaanse dame nie en is haar altyd besige hande so ledig dat sy kan gil daarvan.
Maar toe sy werk kry, is haar ledige hande geensins gewillig om besig te raak nie.
“Ek was netnou ernstig. Ek sal dit waardeer as jy ’n paar briewe vir my kan tik,” hoor sy ’n stem agter haar sê.
Sonder om om te kyk, sê sy: “Ek kan nie tik nie.” Dit word op ’n stemtoon gesê wat dit laat klink asof dit ’n prestasie is.
“Alle vroumense kan tik. Wat kán jý dan doen?”
“Belangriker dinge.”
“Soos?” Die skeptiese toon in sy stem vertel haar dat hy dit sterk betwyfel of sy enigiets kan doen.
“Soos mans was en skeer.”
“Wat?”
“Mans was en skeer,” herhaal sy en kyk om na hom.
Sy gesig is ’n stywe masker. “Is jy ernstig?”
“Natuurlik! ’n Hele paar honderd mans het die afgelope paar jaar onder my hande deurgeloop. Ag, jy weet, ’n mens raak gewoond daaraan. Dis later soos jou eie gesig: ’n mens sien dit nie meer raak nie.”
“Señorita, asseblief . . .”
“Maar dis ’n verpleegster se werk, señor!”
“Vanselfsprekend . . . maar die gedagte staan my nie aan nie.”
“Watter gedagte? Dat ’n vrou ’n siek man moet was en skeer en . . .”
“Asseblief! Nee! Nee, die gedagte dat daar al hónderde vréémde mans onder jou hande deur is, ontstel my.”
Andrea kan bars van die lag. Voorwaar! Hy hoort in ’n klooster op die hoogste kruin van die Himalaja-gebergtes! “Hoekom? Kry jy die mans jammer? Ek verseker jou nie een het klagtes gehad nie. Ek is ’n goeie verpleegster,” laat sy trots hoor.
Don Alonso se gesig verander nie. “Gaan jy terug na daardie . . . e . . . beroep wanneer julle teruggaan?”
“Natuurlik. Dis dan al wat ek kan doen.”
“Jy kan trou en kinders hê.”
“Ag, genade, nee. Ek wil nie nou al trou nie. Ek is nog gans te jonk.”
“Nie te jonk om vreemde mans te was en . . .”
“Verpleging is ’n edel beroep, señor!” Sy begin haar vererg.
“Natuurlik is dit, maar dit pas nie by alle vroue nie.”
“En hoekom sal dit nie by mý pas nie? Ek is nie ’n Spaanse dame wat in ’n glaskasteel opgesluit word totdat sy in ’n broeikas moet verander nie.”
Sy is oortuig dit is ’n egte Spaanse vloekwoord uit sy grootjie se woordeskat wat gedemp oor sy lippe kom. “Jy verstaan my moedswillig verkeerd!”
“Ons verstaan mekaar glád nie, señor – moedswillig of nie moedswillig nie. Ons sál mekaar nooit verstaan nie.”
“Natuurlik sal ons mekaar verstaan as jy nie so hardkoppig is nie. Maar jy hou vol om dinge te sê wat jy goed weet my in die harnas gaan jaag!”
“Maar ek praat die waarheid! Of wil jy voorgee ek staan jou en belieg? Kom lê dan en gee my ’n kom water en ’n waslap. Dan sal jy self sien hoe handig ek is . . .”
“Genugtig! Ek betwyfel nie jou bekwaamheid nie! Ná ’n paar honderd mans onder jou hande deur is, behoort jy dit in jou slaap te kan doen! Dis net . . .”
“Dis net wat? Wat krap jou om?”
“Die feit dat jy mans al só goed ken dat hulle nie meer vir jou vreemd is nie.”
“Jy verstaan my verkeerd!” baklei sy terug. “Ek het dit nie só bedoel nie!”
“Jy het self gesê hulle is so bekend soos jou eie gesig!”
“Ja, ek het, maar . . .” Sy ruk haar asem in. Grote griet, waaroor staan hulle en baklei? Dis ongelooflik!
“Daar! Jy kan dit nie ontken nie! Hoe kan jy verwag om geluk en vervulling in jou huwelik te vind as jou man vir jou so bekend soos jou eie gesig in die spieël gaan wees?”
Sy kyk hom verbaas aan. Hy is óf nie reg aanmekaar gesit nie óf hy is die jaloersste man op aarde. Sy sal haar maar moet aanpas en saamspeel. Hy lyk werklik ontstig.
“A, maar, señor, die man met wie ek eendag gaan trou, sal baie, baie spesiaal wees. Hy sal daardie iets hê . . . daardie spesiale iets . . .”
“Jou man, señorita, sal beslis ’n baie spesiale iets moet hê . . . ’n spesiale genade om met jou getroud te kan bly.”
Met dié verdoemende woorde stap hy die huis binne en sy staar hom agterna. Wat op aarde sou die Spaanse señor só ontstel het?
Sy dwaal tuin toe, al verder van die palacio af weg. Later sien sy dit glad nie meer nie. Dit hinder haar nie. Haar weg is nog deur geen hek of draad versper nie, en sy vorder ongehinderd totdat sy later op ’n paar rotse tot stilstand kom.
Sy kry nou baie warm in die langbroek en van die oefening, want sy het vinnig gestap omdat sy self ook ontstig is deur die gesprek met don Alonso. Die poel tussen die rotse lyk baie aanloklik. Sy kyk om haar rond. Niemand is in sig nie. En as hierdie kusstrook aan die palacio behoort, soos sy aanvaar, dan is dit redelik veilig om ’n vinnige swem te waag. Sy is nou jammer sy het nie haar swemklere onder haar klere aan nie, maar ná nog ’n verkennende blik rondom haar, voel sy gerus en begin haar langbroek afstroop. Sy aarsel, maar trek dan haar bloes ook uit. En dan besluit sy die bra kan ook maar gaan.
Tyd het ’n manier om verby te vlieg sonder dat ’n mens dit agterkom. Sy lê in die water en dryf op haar rug, sluit haar oë. Dié don Alonso . . . ’n Vreemde man. Hoekom sal dit hom so ontstel dat sy al honderde naakte mans gesien het? Wat kan dit met hom te doen hê? Die feit dat dit deel is van haar daaglikse pligte, maak blykbaar aan hom geen verskil nie. Hy was werklik geskok! Die arme man, besluit sy, hy hoort rêrig in die Middeleeue. Hy is heeltemal uit pas met die twintigste eeu. Of hy is sommer net . . .
“Is jy van die duiwel besete!” bars ’n stem hier digby haar oor los en die volgende oomblik voel sy hoe sy uit die water gegryp en teen die rotse uitgedra word.
Sy is aanvanklik te verlam van skrik om te reageer. Dan begin sy heftig spartel.
“Lê stil! Wil jy ons hier laat aftuimel?” vra hy streng.
“Los my! Ek hét voete!”
“Maar geen verstand nie!”
Hy sit haar neer en sy kyk hom woedend aan, meer van skrik as van enigiets anders. “Waar kom jy vandaan . . . O!” Sy gryp na haar bloes wat langs haar voete lê en hou dit voor haar kaal borste. “Hoe dúrf jy my afloer?”
“Ek loer nie. Ek kyk. Daar is in elk geval niks besonders te sien nie. Hoekom die haai so in jou belang gestel het, weet ek nie.”
“Haai? Háái?” Sy kyk beangs na die rotspoel.
Sy donker oë blits terwyl hy met die hand beduie. “Ja, haai, señorita. Kyk daar! Net agter die rif waar jy jou lyf meermin gehou het.” Sy sidder en dit klink vir haar asof hy dit geniet om haar verder in te lig: “Nog vyf minute en die gety was hoog genoeg om hom deur te laat na die poel toe. En hy het reeds gaste genooi om saam met hom maaltyd te kom hou. Kyk ’n bietjie dieper die see in en jy sal nog vinne sien. Hierdie water is vervuil van die haaie en ek het jou dit gesê!”
“Ek . . . ek het vergeet . . .” Sy sluk swaar. Dis ’n verskriklike groot haai wat agter daardie rif rondswem!
“Trek aan! Jy het my al genoeg uitgelok. Ek waarborg nie wat die volgende keer gaan gebeur nie.”
Sy swaai na hom terug en hierdie keer maak dit nie saak of die bloes sy werk