Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray


Скачать книгу
lyk openlik geïrriteerd. “Moet jy altyd alles bevraagteken wat ek sê? Daar is nie nou tyd om te verduidelik nie. Dis ’n bevel. Nie een van die twee mag weet wat jou pa op die eiland doen nie.”

      “Hoekom is ons dan hier?”

      Don Alonso se vuiste bal, maar hy besef dis ’n redelike vraag. “Jou pa is ’n voëlkundige wat ’n studie van die eiland se voëls maak. Dit sal ook die nodige alibi verskaf vir sy verdwyning bedags. En jý, señorita, gaan ten ene male nie weer saam met hom nie! Dis ook ’n bevel!”

      “Ek het geweet seerowers kan vreeslik vloek, maar soos jy darem kan lieg . . . en dit vir ’n arme ou mens . . .”

      Dan skater sy dit uit, verdwyn by die voordeur uit. Haar kop loer weer om die voordeur en die neus wip snipperig: “Ouma se voet! Sy is net so min jou ouma as wat ek dit is. Dalk jou stiefouma, ja.”

      “Sy is my eie grootmoeder.”

      Die oë rek in die vuil gesiggie. “Liewe hemel, hoe vroeg het sy dan begin? Op tien?”

      Sy mondhoek trek. “Op vyftien. Jy is baie ver agter.”

      Met ’n snork wat die verfynde De Vitoria-ouma na haar asem sou laat snak het, gee sy pad.

      Don Alonso kan nie help om te glimlag nie. Dan wend hy hom tot Dries, terwyl sy gesig verstrak. “Ek is baie gesteld daarop dat hulle nie van die skatsoekery moet kennis dra nie, señor.”

      Dries voel ongemaklik. “En as die skat gevind word? Gaan jy dit dan nog geheim hou?”

      Don Alonso kan die veroordeling in die stem nie mis nie, en antwoord koel: “Dit sal van omstandighede afhang. Wat jy uit die oog verloor, señor Smit, is dat nie my grootmoeder of my kleinneef enige aanspraak daarop het nie. Donna Teresa is my grootmoeder aan die De Vitoria-kant. Wat ek van die Bonito-kant kry, het sy geen reg of seggenskap oor nie. Ook Juan het nie ’n druppel . . . e . . . seerowerbloed in sy are nie.”

      Dries beduie hulpeloos met sy hande. “Sy bedoel dit nie so erg as wat dit klink nie, señor. Jy moet my dogter nie te kras oordeel nie.”

      Don Alonso klop hom moedig op die skouer. “Moenie jou bekommer nie, señor. Laat daardie dogter van jou maar aan hierdie seerower oor.”

      6

      __

      Dries volg hom by die voordeur in, maar wonder of hy ná hierdie gerusstelling nie juis bekommerd behoort te wees nie. In sy kamer aangekom, soek hy deur die paar stukkies klere wat verdwerg in die groot klerekas hang. Ook hý gaan vanaand ’n bietjie meer aandag aan sy voorkoms gee, besluit hy. Dis maar net dat ’n mens nie in uitgelese geselskap wil afsteek nie. Dis maar al.

      Andrea is egter geensins haastig om klaar te kry nie. Toe sy besef sy gaan laat wees, verweer sy haarself deur die blaam op don Alonso se skouers te pak. Hý het mos daarop aangedring dat daar formeel vir aandete aangetrek moet word. Wel, moeite verg tyd. As hy haar dan opgetof wil hê, moet hy maar net wag totdat sy klaar is. Maar toe sy eindelik na haarself in die spieël kyk, voel sy glad nie tevrede met die beeld wat terugkyk nie. Sy vind met alles fout, want sy kyk na haarself deur don Alonso se ouma se oë. Sy sug. As donna Teresa tog net meer na ’n ouma gelyk het!

      Sy het doelbewus ’n vollengte rok gekies. Liewer oral toemaak waar sy kan. Veral haar knieë, want dié neig ná vanmiddag se buiging al om te wil knak en klap, so asof daar êrens binne-in ’n veertjie gebreek het. Sy kan haar bewende knieë dus op hierdie manier wegsteek, maar nie die bang kyk in die groot oë toe sy eindelik die patio binnestap nie.

      Don Alonso stap dadelik nader, maar die goedkeuring in sy oë troos haar nie. Dis wat sy ouma dink wat tel. Dit gaan sweet kos om die eerste indruk wat die Spaanse dame van haar gekry het, uitgewis te kry.

      Hy kom staan voor haar sodat die res van die geselskap uit sig is. Hy neem haar hand, bring dit na sy lippe en sê gedemp: “Jy lyk pragtig, pequena mia.”

      Sy fluister terug: “Moenie so onnodig staan en jok nie! Ek wil net weet of ek darem gangbaar lyk.”

      Die donker oë gly oor haar. “Ek sal jou altyd so onthou,” fluister hy.

      “Dan lyk ek darem goed?”

      “Jy lyk darem só bang! Ek kan my oë nie van jou afhou nie!”

      Haar oë flits vererg. “Wie’s bang? Jý is die bangbroek, nie ek nie.”

      Hy lag saggies en trek haar nader na die geselskap. Moedig ontmoet sy die ouer dame se blik. Dit bly koel en opsommend, maar dis nie meer so veroordelend soos vroeër die middag nie.

      Donna Teresa het ’n hele paar skokke die afgelope tyd weg. Eers moes sy by ’n winkelassistent hoor haar kleinseun het met ’n wildvreemde, uitlandse meisie daar ingestap om ’n klomp klere te koop én dat hy uit sy eie sak daarvoor betaal het. Daarna moes sy verneem dat die vreemde meisie saam met hom na Kokos is. En dit terwyl hy op troue staan met Miranda!

      Alonso is haar oogappel, haar enigste kleinkind. Sy het egter geweet dat dit fataal sal wees om hom trompop te loop oor die saak. Alonso het ’n sterk, koppige streep in hom. Soos alle mans moet hy met diplomasie aan sy neus gelei word in die rigting wat jy wil hê hy moet gaan. Maar pasop as hy agterkom hy word in ’n rigting gestoot! Dan steek hy soos ’n steeks donkie vas.

      Baie jare nou al bring sy die suggestie van ’n huwelik tussen hom en Miranda by hom tuis. Tot dusver het hy nog geen tekens getoon dat hy ongeneë is nie. Trouens, donna Teresa is oortuig dat hy, soos sy, besef dat Miranda die ideale vrou vir hom is. Omdat hy tot dusver geen ernstige belangstelling in enige ander meisie getoon het nie, het sy aanvaar dat hy, soos sy grootmoeder, vas besluit het dat Miranda die aangewese vrou vir hom is. Nie dat donna Teresa nie weet dat hy ligte flirtasies het nie. En solank hy wag dat Miranda grootword en die ouderdom bereik dat sy die verantwoordelikheid van ’n huwelik kan hanteer, is daar ook niks verkeerd met flirtasies nie. Hy is immers ’n man en – iets wat donna Teresa verkies om liefs te ignoreer – ook die afstammeling van ’n seerower. Daar is beslis rooi bloed in sy are. Maar sy grootmoeder was nog nooit bekommerd dat hy van die gebaande weg sal afdwaal nie . . . Totdat sy in daardie boetiek gekom het.

      Alonso is tradisievas grootgemaak. Hy ken die moets en moenies wat in die De Vitoria-familie geld. Hy het self ’n streng kode waarvolgens hy lewe, van wat mag en nié mag nie. Sy glo dat hy homself nooit só sal gedra dat dit sy voorgenome huwelik met Miranda in gevaar sal stel nie. Maar dis presies wat hy gedoen het! Hierdie is geen ligte flirtasie nie, het donna Teresa besluit, en daar sal iets aan gedoen moet word.

      Haar volgende skok was toe haar kleinseun by haar huis in San José ingestap en nie eens probeer het om die stories, wat sy nog altyd gehoop het net skinderpraatjies is, te weerlê nie. Inteendeel. Hy het die kroon daarop gespan deur nóg iets te erken: dat hy baie sterk aangetrokke voel tot señorita Smit. In so ’n mate dat hy sy bes gaan doen om haar guns te wen.

      “En wat van Miranda?”

      “Wát van Miranda?”

      “Alsono! Het jy só verlief geraak op ’n fortuinsoeker dat jou verstand gaan stilstaan het?”

      Sy stemtoon het haar vertel dat hy nie hou van wat hy hoor nie. Maar donna Teresa was te ontsteld om aan diplomasie en takt te dink. Sy was lus om hom tot binne-in die eerste kerk te stamp om hom en Miranda getroud te kry!

      “Daar is op die aarde niks met my verstand verkeerd nie en Andrea is ook nie ’n fortuinsoeker nie.”

      “O nie? Hier kom ’n ou meisietjie van anderkant die aardbol af aan, en jy raak sommer op die plek dolverlief!”

      “U dink nie dis moontlik nie?”

      Donna Teresa moes sluk en onseker swyg. Dis ’n historiese feit in die De Vitoria-familie dat ’n sekere Teresa op veertien met die eerste aanblik verlief geraak het op die agtienjarige Alonso – in so ’n mate dat die families aan albei kante niks anders kon doen as om hulle verlof tot die huwelik te gee nie. Op vyftien het Teresa geboorte geskenk aan haar eerste en enigste kind en jare en jare lank was die De Vitorias


Скачать книгу