Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray


Скачать книгу
lag saam en hoewel die man met die verkyker nie die geluid kan hoor nie, kan hy hul bewegings duidelik sien, soos hy die streling van Juan se hand oor Andrea se hare en wang ook duidelik kon sien.

      Maar hulle is salig onbewus daarvan dat iemand hulle hier op die rotse dophou. Die ligter oomblik versober weer dadelik.

      “Jy moet Miranda nie te kras oordeel nie, Andrea. Sy is maar net die produk van die manier waarop sy grootgemaak is.”

      Andrea gee ’n spotlaggie. “Ek sou nooit kon dink dat ek ooit dankbaar sou wees dat ek nie in oorvloed grootgeword het nie. Ek het soms weelde begeer . . . Vandag is ek dankbaar ek het so gemiddeld grootgeword. Dis nie goed om alles in die lewe te kry wat jy wil hê nie. Dis nodig om te leer om nee te kan aanvaar. En jou Miranda ken nie daardie woord nie.”

      “Nee. Ongelukkig nie.” Hy sug weer. “’n Ruk gelede het ek hoop gekry. Miranda het besef dat ons geheime verhouding nie vir ewig kan voortgaan nie en dat Alonso ook nie vir ewig op haar kan wag nie. Sy moes kies, en eindelik het sy besluit dat sy na San José sou kom en met donna Teresa en Alonso sou praat. Maar toe sy daar aankom, het haar moed haar weer begewe. Sy het my die aand gebel en gesê sy sien nie kans om hulle te vertel nie. Ek het die eerste vliegtuig hierheen gehaal om hulle self in te lig, maar toe ek Miranda ontmoet, was sy skielik vir my ’n vreemdeling. Sy het my verbied om hulle te nader en hulle te vertel dat ons mekaar liefhet. Sy het ook baie reguit gesê dat sy ’n fout gemaak het en dat sy besluit het dat sy beslis met Alonso gaan trou.”

      Andrea kyk hom ontevrede aan. Haar dunk van daardie danige Spaanse dametjie daal al laer. “Dit moes ’n groot skok gewees het.”

      “Dit was, en ek verstaan nou nog nie wat die dramatiese verandering veroorsaak het nie.”

      Sy lippe pers opmekaar en hy belewe weer daardie oomblik van ontnugtering. Hy kon sy ore nie glo nie.

      “Jy sê jy het mý lief, maar dat jy met ’n ánder man gaan trou!”

      “Ja.”

      Dit was bitter in hom. “Hoeveel is jou liefde dan werd, Miranda?”

      Die donker oë het na hom geflits. “Ons huwelik sal nie slaag nie, Juan. My nugter verstand sê dit vir my. Teen die einde gaan ons mekaar haat. Ek gaan liewer met Alonso trou, soos dit van die begin af bedoel was.”

      Hy het sy trots gesluk en met pleitende, oop hande voor haar gestaan. “Sê my net wat jou so skielik van besluit laat verander het! Jy het hierheen gekom met die uitdruklike doel om hulle te vertel dat jy mý liefhet. Wat het gebeur . . .?”

      “Wat maak dit saak, Juan? Aanvaar dit nou, asseblief. Dit is my finale besluit. Ek gaan met Alonso trou – en hoe gouer, hoe beter.”

      Toe hy hom weer kom kry, was hy reeds by donna Teresa se voordeur. Tot sy verbasing is hy gul ontvang en binnegenooi.

      “Jy kom asof jy gestuur is, Juan! Ek het jou hulp dringend nodig.”

      Hy het swyend geluister na wat donna Teresa te vertelle gehad het van ’n vreemde meisie op wie Alonso skielik smoorverlief geraak het. Beter nuus kon hy nie ontvang het nie. En toe donna Teresa se versoek: Hy moet saam Kokos toe om die vreemde meisie af te rokkel! Hy kon hardop lag! Donna Teresa was nie bewus daarvan dat Miranda reeds in San José aangekom het nie. Hy het besluit om hierdie feit te verswyg. Hy het nóg iets besluit: Hy sou saamgaan na Kokos en alles in sy vermoë doen om Alonso se liefde nog hoër aan te blaas. Eindelik was daar vir hom lig op die horison.

      Maar Andrea is so ’n heel ander mens as wat hy hom voorgestel het sy sou wees. In sy kop het hy ’n prentjie van ’n opperste fortuinsoeker gehad, en dis allesbehalwe wat hy hier aangetref het. Trouens, die meisie oor wie Alonso so kop verloor het, is die soort meisie wat hy graag sou wou hê Miranda moet wees. By haar tel geld en vertoon glad nie. En sy het geen valse trots en valse waardes nie. Sy is nie skaam om te erken dat sy nog altyd moes werk vir haar bestaan nie. As Miranda maar soos hierdie meisie tot die besef kon kom dat geld nie geluk kan koop nie. Dit maak jou net gerieflik ongelukkig. As Miranda en Andrea mekaar maar kon leer ken het. Miskien sou Andrea haar tot ander insigte kon laat kom . . .

      Hy glimlag nou skuldig en bieg: “Ek is jammer. Ek moes nie gesê het wat ek gesê het nie. Dis sommer net die mismoedigheid wat my oorval het. Ek is net bang dieselfde lot gaan jou tref, Andrea, en ek sal nie graag wil hê dit moet gebeur nie. Jy is te ’n gawe en opregte mens om deur Alonso in die steek gelaat te word. Nee, ek het ook nie die reg om so iets te beweer nie – hy bedoel dit opreg met jou as hy die moed gehad het om donna Teresa oor jou te konfronteer. Hy het in elk geval meer moed aan die dag gelê as Miranda,” eindig hy weer bitter.

      Andrea swyg. Sy kan dit nie oor haar hart kry om hom oor die ware toedrag van sake in te lig nie. Dis ál hoop wat Juan het: dat Alonso verlief is op ’n ander meisie. Hoe kan sy so wreed wees om hom te vertel dis alles skyn? ’n Voorspel tot die huwelik tussen Alonso en Miranda – waarna laasgenoemde gou sal besef wie baas in die huis is.

      Sy lê haar hand simpatiek op sy voorarm en sê bemoedigend: “Hulle is nog nie getroud nie, Juan, en solank hulle nog nie getroud is nie, is daar hoop.” Sommer om hom moed in te praat, vervolg sy manhaftig: “Laat ek jou nog iets vertel. Ek laat nie my kêrel sommer los en vas afrokkel nie. O nee! Alonso is mý kêrel en dit gaan hy bly totdat ék besluit dis die einde van die pad.”

      Hy glimlag, plaas sy arm om haar skouer en gee haar ’n dankbare drukkie. “Dít wil ek vir jou sê, Andrea. Ek is lief vir Miranda, maar as Alonso gaan toelaat dat jy deur sy vingers glip, is hy ’n dwaas!”

      “Ditsem! Dis die gees! Ons baklei hulle tot by oom Daantjie in die kallerhok!”

      Sy gee hom ’n klapsoen . . .

      Don Alonso draai weg van die venster en lê die verkyker hard neer.

      Donna Teresa kyk vraend op. “Wat skort, Alonso?”

      “Waar is Miranda op dié oomblik?”

      Sy kyk hom skerp aan. Begin hy verlang? “Sy was laas nog in Switserland. Hoekom?”

      “Wanneer kom sy terug?”

      “Sy behoort eintlik al terug te wees. Hoekom vra jy?”

      Daar is ’n besliste trek om sy mond. “Ek dink dis tyd dat sy by ons aansluit.”

      “Jy bedoel . . . sy moet ook hierheen kom? Kokos toe?”

      “Dis presies wat ek bedoel, donna Teresa.”

      Sy kyk hom peinsend agterna toe hy met lang hale uitstap. Dan verlig haar frons. Dis ’n puik plan! Sy moes self daaraan gedink het. Met Miranda ook hier sal Alonso opmerk hoe hemelbreed die twee meisies van mekaar verskil. Dan sal hy besef wie die regte vrou vir hom gaan wees!

      Sy staan op. Sy moet Miranda dadelik in die hande kry.

      Andrea en Juan stap rustig en gesellig terug. Hulle het blykbaar vergeet hulle wou gaan draf, dink iemand ergerlik terwyl hy op hulle afpyl.

      “’n Gewone mens kan nie teen die De Vitorias baklei en wen nie, Andrea,” sê Juan skielik weer pessimisties.

      Sy klik haar tong. “Ag, wie is hulle nou so danig? Hulle het net ’n bietjie geld, dis al.”

      “’n Bietjie geld! Dis miljoene! En Alonso is ’n uiters aantreklike man, selfs al kyk ’n mens nie na hom deur verliefde oë soos jy nie.”

      “En wat laat jou dink . . .” Sy maak haar mond vinnig toe. Sy is veronderstel om verlief te wees op hom. Sy verander haar sin haastig: “En wat laat jou dink jy is minder aantreklik? Moet jouself nie verkleineer en onderskat nie, Juan! Jy kan verseker by hom kers vashou.”

      Maar nie heeltemal nie, moet sy heimlik erken. Want die seerower is deksels aantreklik, selfs wanneer hy boos is. En boos is hy wel, besef sy toe hy skielik voor hulle verskyn. Wat sou tog nou weer oor sy Spaanse lewer geloop het?

      “Ek verstaan julle het oefening nodig en het gaan hardloop.”

      Die beskuldiging kom op die man af en Juan blik vlugtig


Скачать книгу