Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray
se monde val oop.
“Hofmakery?” Sy spreek dit uit asof sy nog nooit in haar lewe dié woord gehoor het nie en nog minder die vaagste benul het wat dit beteken.
“Ja, of wat noem jy die oefening wat julle daar op die rotse sit en doen het?”
“Op die rotse?” Sy kyk vraend na Juan. “Wat het ons op die rotse gedoen? Ek kan nie onthou . . .”
Juan voel lus om te lag, maar hy weet die duiwel sal dan behoorlik los wees. Hierdie man kan slange vang. Kragtie, hy ís dolverlief!
“Ek het oor jou hare gestreel en jy het my arm ’n slag aangeraak. Dis al.”
“Dis nie al nie! Wat van die soen?”
“Ons het nie . . . Haai, ja, ek het jou gesoen, Juan!” Haar blik vlieg beskuldigend en blitsend omhoog. “Is jy besig om my af te loer?”
“Ek het die volste reg om te weet wat my meisie doen wanneer sy met ’n ander man die bosse in verdwyn.”
“Ja, maar ek het nie . . .” Sy moet weer vinnig swyg. Dis nou sý wat kan slange vang. “Hoe durf jy insinueer ek is ’n meisie van swak karakter? En noem jy dit wat jy gesien het hofmakery? Liewe mens, dan weet jy mos glad nie wat hofmaak is nie. En laat ek jou nóg iets vertel. As ek lus voel vir ’n hofmakery, met wié ook al, sal ek beslis nie rotse soek om dit op te doen nie! O, jy is . . .” Haar woordeskat skiet te kort en sy stamp een van haar klein voetjies en dit lyk asof sy die man voor haar gaan stormloop.
Juan tree vinnig tussenbeide. “Ek is jammer, Alonso. Ek verseker jou dat daar geen bybedoeling was by wat jy ook al gesien het nie.”
“As ek gedink het daar was, sou jy nie nou nog hier gestaan het nie, my goeie neef.”
Dit voel vir Andrea asof haar vel dreig om te kraak, so na aan ontplof is sy. “Nou waaroor is die groot bohaai dan?”
“Juan se gedrag is verskoon, nie joune nie. As daar een ding is wat by my ’n absolute vereiste is in ’n verhouding, dan is dit getrouheid. Verstaan ons mekaar, Andrea?”
“Met ander woorde, jy is besig om my te beskuldig dat ek in die bondel vry. Dís wat jy eintlik wou sê!”
Ten spyte van die erns van die situasie, kan Juan sy lag nie hou nie en gee liewer pad. Die verliefdes moet maar self verder die saak uitstryk. Sjoe, ’n oomblik lank het hy gedink sy neef gaan hom te lyf.
“Daar was geen oomblik so ’n gedagte in my kop nie, señorita!” laat hy ysig hoor. “In alle billikheid moet jy erken dat ek rede het om ontevrede te voel!”
“O? En watter redelike rede voer jy aan?”
“Jou geheue is baie kort, señorita Smit. Gisteraand het jy gedreig om my aan te rand as ek jou weer soen. Vanoggend deel jy jou soene baie vrygewig uit, terwyl die man wat veronderstel is om ’n verhouding met jou te hê, jou nie mag aanraak nie.” Hy kyk vas in haar kwaai oë. “’n Baie redelike rede tot grimmigheid vir elke minnaar wat sy sout werd is.”
Sy voel soos ’n ballon wat geprik is. Deksels, soos hy dit stel . . . Maar dis alles onsin. “Jy is nie rêrig my minnaar nie . . .”
“Juan ook nie.”
Sy trek haar asem in. G’n mens kan met ’n seerower redeneer nie.
Hy kom nader. “Jy sal my daardie soen moet teruggee.”
“Wat?”
Skielik vonkel sy donker oë. “Dit sal jou onverantwoordelike gedrag van vanoggend kanselleer en dan vergeet ons daarvan.”
“Wag ’n bietjie . . .” Sy begin padgee. “Alonso, jy gaan nie . . . Ek gaan nie . . .”
Sy sien sy gaan verloor. Hy kom vasberade nader. Sy vlieg soos ’n blits weg huis toe, hardloop Juan byna uit die aarde en vlieg by die voordeur in.
’n Glimlaggende don Alonso kom val langs die verbaasde Juan in. “Sy het mos gesê sy kort oefening,” laat hy droog hoor. “Ek rig haar maar net af!” Dan sê hy terloops: “Ek gaan in die week vir Miranda haal. Wil jy saamkom?”
Juan besef dis nie ’n uitnodiging nie. Dis ’n bevel. Hy, Juan, gaan nie alleen by Andrea op Kokos agterbly nie. Hy glimlag effens, knik net en dan versomber sy oë. “Kom sy ook hierheen?” vra hy onnodig.
“Ja. Ek het gedink sy kan gerus by ons aansluit. Dan het jy ook geselskap.”
Juan kyk sy neef agterna toe hy voor hom by die deur uitstap. Hy weet nie of hy moet lag of huil nie.
Toe Andrea verneem dat Miranda ook binne die eersvolgende dae by hulle op Kokos gaan aansluit, kan sy haar gevoelens self nie verstaan nie. Dis die beste ding wat kan gebeur, vertel haar nugter verstand haar. Hoe gouer don Alonso Miranda haar lessie leer en wys wie is baas, hoe gouer sal hul verhouding regkom en sal hulle trou en sal hierdie klug tot ’n einde kom. Dis logies en verstaanbaar dat don Alonso die Spaanse meisie hier wil kry. Hoe sal sy haar les leer as sy in Europa rondflenter? En tog . . . tog vind Andrea ’n groot teësinnigheid in haar om van aangesig tot aangesig met hierdie meisie te kom. Sy wens dit was nooit nodig om haar te sien nie. Sy maak haarself wys dit is ter wille van Juan dat sy die vroumens nie hier wil hê nie.
Sy word nie saamgenooi toe die geselskap van drie twee dae later, baie vroeg die oggend, na San José vertrek nie. En sy is dankbaar daaroor. Twee dae lank kan sy darem asem skep sonder om gedurig in haar pasoppens en op die verdediging te wees. Dit is uitputtend, dié toneelspelery.
Sy gaan krap in haar kas en kry haar kuitbroek weer beet. In hierdie twee dae van grasie gaan sy saam met haar pa op sy soektog uit. Hoe gouer daardie skat gevind word, hoe beter, dink sy grimmig.
Teen laatmiddag bereik sy en haar pa die kus en sy gaan sit moeg op die rotse. Sy is besig om heeltemal onfiks te raak op hierdie eiland.
“Weet Pa, ek dink Pa soek heeltemal verkeerd.”
Hy kyk haar goedig aan. “Waar sou jy gesoek het?”
“Laat ek sien . . .” Sy beskou die wêreld ’n rukkie. “Sê nou maar ek is ’n seerower en het ’n klomp skatte wat ek veilig wil wegsteek. Ek sal nie die goed kilometers ver land in gaan begrawe nie. Dis in die eerste plek te swaar. Kiste vol kosbaarhede en muntstukke . . . kollektegeld wat uit kerke gesteel is . . . Dit bly ’n skande!”
Haar pa glimlag. “Waar sou jy dit dan weggesteek het?”
“Teen die see. In die see, as dit kon.”
Dries Smit kyk sy dogter skerp aan. “Wat bedoel jy?”
Sy lyk opgewonde. “Pa, ek dink ek het iets beet! Grotte . . . Grotte teen die see! Is hier nie grotte teen die see nie?”
“’n Paar, maar almal weet van hulle.”
“Maar ’n geheime grot . . . een wat niemand nog ontdek het nie,” hou sy vol.
Haar pa glimlag geduldig. “Ek twyfel of hier ’n grot is wat nog nie ontdek is nie, my kind. Dis ook baie onwaarskynlik dat Bonito sy skat daarin sou kon wegsteek.”
“Hoekom?”
“Hoe sou hy dit daar ingekry het? Kom ons veronderstel daar is ’n grot, selfs ’n ondersese grot. Hoe sou hy al die swaar goed tussen die magdom haaie deur daar gekry het? Hulle sou met die swaar kiste tot in die grot moes geswem het en lank voor hulle die grot bereik het, sou die haaie hulle verslind het. Jy weet self hierdie see is vervuil van die haaie. Kyk daar. Daar sien jy duidelik weer een sommer naby die strand swem.” Hy sien die teleurstelling op haar gesig en sê troostend: “Dis nietemin iets om in gedagte te hou. Ek sal tog daaroor dink. Dit kan net wees dat jy op ’n spoor is.”
Sy knik, haar oë peinsend op die rotsriwwe gerig. “Ek het net die gevoel dat die skat in die water lê, nie onder die grond nie.”
Haar pa kyk haar tergend aan. “Miskien het jy gelyk, my kind, en in daardie geval sal ons ons stamboom moet laat navors.”
Sy