Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray
Hy het skielik besluit dat hy eers weer ’n oog oor sy boerdery in Costa Rica moet gaan hou. Hy is ook ’n man met uitgebreide sakebelange, veral in die hotelbedryf, en daar is vergaderings wat bygewoon moet word.
Natuurlik is Andrea bly om hom te sien vertrek. Nou kan sy tog kom en gaan soos sy wil en hoef sy nie altyd op haar hoede te wees nie. Sy weet self nie juis hoekom nie, maar die oomblik wanneer sy in don Alonso se teenwoordigheid kom, is sy op die verdediging. Dit het byna al ’n obsessie geword om vir elke woord van hom twee van haar eie gereed te hê. Sy moet erken sy is verbaas oor haar reaksie. Sy het dit nog nooit moeilik gevind om met mense oor die weg te kom nie. In haar professie leer ’n mens om met alle soorte klaar te kom. Maar hierdie Spanjaard . . . Dis sý skuld, sus sy haar gewete. Hy het haar van die begin af in die harnas gejaag met sy dominerende, meerderwaardige houding. Nou moet hy maar ly wat daarop volg.
Sy vergesel haar pa gedurende die week op sy staptoere deur die tropiese woude van Kokos. Teen die einde van die week voel sy vir haar pa se onthalwe mismoedig.
“Maar, Pa, soos ek die saak bekyk, sal Pa elke sentimeter van Kokos moet omdolwe. In die geheim sal Pa dit nie kan doen nie. Die regering sal dit wel agterkom. En buitendien is dit ’n onbegonne taak.”
“’n Mens moet net weet waar om te soek. Geen skat word sommer net begrawe nie. Dis altyd op ’n spesifieke uitkenbare plek. ’n Mens moet jou in die man wat die skat kom wegsteek het, se plek probeer stel. Jouself afvra as dit jóú skat was, waar jy dit sou begrawe het.”
Andrea frons. Daardie manier was nie juis suksesvol in die verlede nie. Haar pa het nog nooit iets gevind wat hy gaan soek het nie.
“In daardie geval behoort don Alonso self die waarskynlikste plek aan te dui. Met sy seerowerbloed kan hy ons dalk na die regte plek toe lei.”
Haar pa skud sy kop, kyk haar geamuseerd aan. “Sou hy makliker in jou goeie boekies gekom het as hy nié ’n seerower in sy voorgeslagte gehad het nie?”
Sy glimlag. “Ek twyfel. Sy meerderwaardige De Vitoria-eienskappe maak hom weer so opgeblase dat hy kan bars daarvan. Ag, nee wat, Pa, ek kan nou net nie ooghare vir die man kry nie. Maar om terug te kom na die skat . . . is daar nie dalk ’n versteekte kaart iewers nie?”
“Nee, my kind, die versteekte kaartstorie is ’n produk van Hollywood se draaiboekskrywers. In al die seerowerfilms is daar altyd die een of ander tyd ’n stokou kaart wat ontdek word en wat mense na die skat toe lei. In die werklike lewe gebeur dit nie so nie.”
Sy frons en wil nie dadelik toegee nie, net omdat dit don Alonso weer reg sal bewys. Dit is waar. Daar duik altyd ’n kaart op in die seerowerfilms wat sy al gesien het.
“Maar dit beteken nog nie dat daar nie so iets soos ’n versteekte kaart kan bestaan nie,” hou sy koppig vol. “Dink maar aan ou Bonito. Die dag toe hy die buit hier kom versteek het nadat hy al wat kerk is kaal gestroop het – dit bly terloops vir my skokkend, don Alonso kan sê wat hy wil! – moes hy, as hy nie onnosel was nie, daaraan gedink het dat hy miskien iets kan oorkom en dan sou niemand weet waar dit versteek is nie. Dit sou vir sy eie nageslag ook verlore wees.”
Haar pa knik. “Dit sou veel veiliger gewees het om die besonderhede mondeling aan die nageslag oor te dra.”
“Maar hy hét nie, want don Alonso weet nie waar dit is nie.”
“Ja. Dit kan wees dat hy oorlede is voordat hy dit kon oordra, of dit kon met sy opvolger gebeur het. Intuïsie is al wat ons na hierdie skat sal lei.”
“Maar dis erger as om na ’n naald in ’n hooimied te soek!”
“Maar as die naald vir ons ’n paar miljoen rand werd is, my dogter, is dit seker die moeite werd om ’n poging aan te wend, of hoe?”
Nie eens vir ’n paar miljoen rand moes sy ingestem het tot hierdie sotlike voorstel van don Alonso nie, dink sy toe sy en haar pa daardie middag laat by die palacio aankom en deur die don, sy ouma en nog ’n vreemdeling op die stoep ingewag word.
“Ouma” is nie eintlik ’n woord wat by dié statige, pragtige vrou pas nie. “Arme ou mens” en “ou dame”, soos sy al na hierdie grootmoeder van don Alonso verwys het, pas nog minder. Selfs Dries Smit, wat lankal nie meer amoreuse gedagtes teenoor die teenoorgestelde geslag koester nie, se oë rek ’n bietjie.
Pa en dogter voel dadelik die Spaanse dame se sterk persoonlikheid aan. Sy kan dalk selfs meer dominerend wees as haar kleinseun. Natuurlik van háár sy hoogheilige houding geërf, besluit Andrea sommer ontevrede. Hoekom moet hulle juis nóú ontmoet? ’n Halfuur later sou sy gebad en ordentlik aangetrek gewees het, gereed om dié formidabele dame op meer gelyke voet te ontmoet. Maar nou staan sy hier by die onderpunt van die trap, vuil en gesweet en in ’n kuitbroek wat sy wéét ’n erger euwel vir die twee De Vitorias aan die bopunt van die trap sal wees as haar gewone langbroek. Sy weet ook sy is reg toe sy die teregwysing in die elegante dame se oë sien en die ontevredenheid, om dit sagkens te stel, in don Alonso se oë lees.
Ag, na die duiwel met hulle! besluit sy en skud haar skouers. Sy is g’n winkelpop wat heeldag moet paradeer nie.
“Kom nader.” Don Alonso sê dit op ’n toon wat eerder impliseer sy moet heeltemal voor sy oë padgee.
Die twee Smitte blik mekaar vinnig aan en Andrea grom onderlangs: “Genade, Pa! Daar’s nou twéé van hulle!”
Dries glimlag. Hy begryp, en terwyl hy haar hand neem, fluister hy: “Kom ons om, so kom ons om!”
Andrea het nie ’n benul wat van haar verwag word met die bekendstelling nie. Haar pa is egter in beheer. Hy waag dit nie om sy beswete hand na die Spaanse dame uit te steek nie, maar erken die bekendstelling met ’n klap van die hakke en ’n waardige buiginkie wat Andrea swyend in haar hart laat juig.
Dan is dit haar beurt en aangesien sy beslis ook nie haar vuil hand kan uitsteek nie, besluit sy maar sy sal haar pa se voorbeeld volg en haar knieë teen mekaar klap terwyl sy hulle tegelykertyd buig. In ’n aandrok sou die gebaar miskien geslaag het. Maar in ’n kuitbroek uitgevoer, laat dit amper die waardige dame se mond oopval. Die vreemde jong man wat die spulletjie met geamuseerde verbystering betrag, skuif sy hand vinnig oor sy mond om sy glimlag te verberg.
“Andrea . . .”
“O, hallooo daar!” Sy flap haar wimpers. “Jy’s terug!”
Dit lyk asof don Alonso wens hy het nooit gekom nie. Sy stem is styf toe hy sê: “Ontmoet Juan de Vitoria, my kleinneef.” Hy gee haar nie eens kans om die bekendstelling te erken nie. “Julle wil julle seker bietjie gaan opknap. Ons sal oor ’n halfuur ’n skemerkelkie op die patio geniet. Donna Teresa, jy wil seker ook eers kamer toe gaan.”
“Ja, dankie, Alonso,” antwoord sy dadelik en verdwyn met ’n laaste ongelowige blik na Andrea by die voordeur in.
Koel oë keer na die kleinneef wat nog bly staan, sy oë tergend op Andrea. “Señor . . .” ’n Hand wys baie beslis na die voordeur en die jong Juan gehoorsaam die onuitgesproke bevel.
“Net ’n minuut, señorita.” Andrea word teruggehou en daar word eers gewag dat die voordeur agter Juan toegaan voordat hy streng, maar gedemp, vervolg: “Jy trek nóóit weer hierdie affêre aan nie! Verstaan ons mekaar?”
“Daardie moderne winkel waar jou ouma koop, hang vól van die goed,” verweer sy.
“Nóóit weer nie! Staan stil. Ek is nog nie klaar nie. Wees versigtig vir Juan. Hy is ’n man met ’n oog vir dames.”
“O, regtig? Waaroor is jy dan bekommerd? Ek is mos nie ’n dame nie.”
“Ek wil g’n stuitigheid tussen julle twee hê nie, Andrea! Jy is veronderstel om met mý ’n verhouding te hê. Sorg dat jy jou by ons ooreenkoms hou.”
Sy lag hom openlik uit. “As jy dan so bang is hy slaan jou hand in die as, hoekom het jy hom saamgebring?”
“Dit sit nie in sy broek om mý hand in die as te slaan nie, señorita. As ek my hart op ’n vrou gesit het, sal niemand haar van