Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray
nie, want sy het ’n gemaklike langbroek aangetrek. Hulle gaan mos eiland toe, en dis gemakliker in en uit ’n bootjie met ’n langbroek. Maar aan die blik wat oor haar heupe gegly het, kon sy ewe goed kaal gewees het. Ag, die man maak haar moeg!
“Wanneer vertrek ons?” wil sy weet.
Hy antwoord stug: “’n Uur na ontbyt . . . sodra jy vir jou ’n rok aangetrek het.”
Dries Smit frons. Die man moet darem nie aanhou met Andrea bodder nie. Sy lyk vir hom heel ordentlik in haar langbroek.
“Is daar iets verkeerd met my broek?” vra Andrea op die daad opstandig.
“Ek verkies dat dames wat in my geselskap gesien word, rokke dra. Ek hou niks van die moderne vrou se gebroekdraery nie.”
Genugtig, hier begin dit al weer! Net betyds keer sy wat sy regtig wou sê. Dit is asof sy letterlik voel hoe sy die leisels van haar tong styf intrek toe sy sê: “Maar, señor, niemand sal my tog op ’n bootjie op die oop see sien nie. Ek het juis die broek aangetrek omdat ek gedink het dis . . . e . . . ordentliker met die inklim- en uitklimslag.”
Sy frons is kwaai. “Ag, onsin! Hoekom sal ons met ’n boot eiland toe gaan?”
Sy kyk haar pa en don Alonso beurtelings aan. “Ons gaan nié met ’n boot nie? Hoe kom ons dan op Kokos? Met ’n ballon?”
“Baie snaaks, señorita. Ek moet erken, ek vind jou opmerkings soms ’n bietjie kinderagtig.”
Sy voel haar nekhare rys. “Ek het net ’n eenvoudige, ordentlike vraag gestel. Pa . . .?”
“Ons vlieg daarheen, Andrea.”
“Vlieg? O! Met ’n vliegtuig?”
Dries Smit kyk don Alonso verskonend aan. “Ek dink nie sy weet presies waar Kokos lê nie, señor.”
Andrea frons. Sy word nou agterdogtig. “Lê die eilandjie dan nie sommer net hier om die draai nie?”
“Dis omtrent tweeduisend kilometer van die kus van Costa Rica af.” Sy oë spot. “Wou jy róéi daarheen?”
“Tweeduisend kilometer! Maar Pa!”
“Wat is dit? Hoekom is jy so ontsteld daaroor? Wat maak dit saak waar die eiland lê?” wil haar pa weet.
“Dis darem baie ver.”
“Ver van waar?” wil haar gasheer weet.
“Van die beskawing af.”
“Waarvoor is jy bang?”
Sy kyk hom fronsend aan. Daar is nie weghardloopplek nie, wil sy graag sê. Sy het die gevoel dat solank hierdie man in die omtrek is, sy altyd êrens ’n agterdeur moet oophou. En ’n eiland het nie juis ’n agterdeur nie. Sy sal moet swem as sy wil wegkom.
Maar dié ontsnaproete word ook met sy volgende woorde afgesny: “Kokos is nie ’n primitiewe, afgesonderde eilandjie nie, señorita. Wees gerus. Dit word gereeld deur toeriste besoek. Al wat daar primitief is, is die haaie.”
“O? Haaie, sê jy?”
Hy begin vriendeliker lyk. Hy hou blykbaar baie van die eiland. “Ja. Maar om te vergoed daarvoor, is daar geen slange, muskiete, rotte of muise op die eiland nie. Wat daar wel is, is wildevarke, ’n aantal beeste, ape en duisende voëls. Dis ’n voëlparadys en ’n oord vir jag – op die wildevarke, natuurlik – en dit is veral bekend vir sy wonderlike hengelplekke. Amerika se president Roosevelt het die eiland dikwels besoek om daar te gaan hengel. Stel dit jou meer gerus dat jy nie heeltemal uit wat jý die beskawing noem, gaan padgee nie?”
Sy is geensins gerusgestel nie, maar sy knik. Hoekom het sy so te kere gegaan toe hy haar wou terugstuur Suid-Afrika toe? Nou sal hy haar nooit laat gaan nie, al is dit bloot uit suiwer seerower-hardkoppigheid.
Hy sien die onsekerheid in haar oë en vra: “Of is daar ’n ander rede hoekom jy nie so ver wil weggaan nie?”
“Nee, watter rede kan daar wees?”
“Miskien ’n ou kêreltjie wat jy daar anderkant gelos het op wie se briewe jy wag? Dan kan ek jou ook . . .”
“Ek is nie maansiek nie, señor.”
“O? Dan het jy nie eens ’n spesiale vriend nie? Hoe oud is jy?”
Sy kyk hom waarskuwend aan. Hy moenie weer begin lol nie! “Hoekom?”
“Ek vra maar net. Jy lyk vir my oud genoeg om al getroud te gewees het met minstens ’n kind of twee.”
Haar humeur dreig. “Señor, ek is twee en twintig. En ons Suid-Afrikaanse vroue laat ons nie as broeikaste gebruik nie. Hoe oud is jý?”
“Twee en dertig.”
“’n Mens sal dit nie sê nie.”
“Wel, wat beteken dit? Ek kan dit kwalik as ’n kompliment aanvaar, komende van jou, señorita,” sê hy vererg.
“Nee, ek . . . bedoel maar net . . . Ek het aanvanklik aanvaar jou señorita bly seker op Kokos en jy hier.” Daar is so ’n halwe snorklag van haar pa se kant af, maar sy lig haar oë onskuldig na die hoof van die tafel op. “Maar later – toe ek hoor wat jy van vroumense dink – het ek geweet ek moet verkeerd wees. Jy het blykbaar nog nie daarin geslaag om ’n nooi te kry wat kans sien om net plesier en broeikas te wees nie.”
Sy gesig is onleesbaar. “Verkeerd, señorita. Ek hét iemand in die oog. Ek is nog net besig om haar te leer . . . om haar plek te ken.”
“Werklik?” Sy wens hy wil stilbly. Sy wil niks van sy vrysake af weet nie. Dis seker so droog soos die ou wyn wat hy gisteraand vir hulle geskink het. Maar sy sal graag wou sien hoe lyk die mal señorita – want mal móét sy wees – wat don Alonso in die oog het.
“Kry jy darem al iets uitgerig? Is sy darem vatbaar?”
“Andrea!”
“Vatbaar vir die lésse, Pa!”
“Dit sukkel maar ’n bietjie, maar ek sal haar wel regkry.”
“Foei tog. ’n Bietjie dom, hm?” Of sommer gewoon onnosel om met jóú deurmekaar te raak, voeg sy swyend by.
“Ek hoop nie so nie, señorita. Sy moet vir my eendag ’n hele klompie kinders gee,” antwoord hy gelykmatig.
“Ja, natuurlik. Maar jy moenie te lank wag nie, señor. Jy weet, ’n mens se tyd gaan verby vir sulke dinge.”
Hy knik ernstig. “Ek sal onthou, señorita. Wyse raad. Dankie.”
“Ek neem aan sy is ook uit die een of ander adellike familie?”
“Hoekom adellik? Dis nie ’n vereiste nie.”
“O, nee, ek het maar gedink . . . daar is nou al seerowers en status gekruis. Julle kort nou nog net ’n kroon.”
“Andrea . . .”
“Pa, wie het hiermee begin? Wie het eerste uitgevra oor ouderdom? Wie het eerste gepraat van behoort getroud te wees en behoort al ’n dosyn kleintjies te hê en . . .”
Sy kyk die man boosaardig aan toe hy skielik hardop lag en sy donker oë vonkel van die pret – pret ten koste van háár, weet sy.
“Señorita, jy hét hoë aspirasies. Jy sal ook moet begin. ’n Mens se tyd gaan verby vir sulke dinge. Hierdie goeie raad het iemand my onlangs gegee.”
“Ag, gaan bars!” skel sy onderlangs op Afrikaans en haar pa kyk hul gasheer vinnig aan.
Dié knik net, met die lag weg uit sy oë. “Ek weet nie presies wat dit beteken nie, maar ek kan my voorstel. Jou dogter se opvoeding laat veel te wense oor, señor Smit.”
“Ek is jammer. Sy het meestal alleen by haar ma grootgeword . . .”
Andrea voel sy kan ontplof. Voordat sy egter haar pa oor sy gebrek aan lojaliteit