Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray

Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray


Скачать книгу
lag, voel weer die tinteling wat hy so goed ken. Hy ervaar dit elke keer wanneer hy aan die begin van ’n projek staan. Ook hierdie keer . . . net sterker as voorheen. Hierdie laaste skattejag van hom gaan suksesvol wees. Hy wéét dit net! “Ja, Andrea. Ek het álles uitgevind. My gedagtes sing al daarvan. Vyf en sestig miljoen dollar is die waarde van die skat. ’n Kwart van ’n kwart daarvan is steeds ’n paar miljoen rand – en dis myne.”

      “Hoekom net ’n kwart van ’n kwart?”

      Haar pa lag saggies en sê tergend: “Word jy nou gulsig, my kind?”

      Sy grinnik verleë. Genugtig! Sy voel dronk in die kop! “Nee, ek bedoel maar . . .”

      “Ek verstaan. Nee, die res gaan natuurlik na señor Alonso en die Costa Rica-regering.”

      Sy frons. “Wie is señor Alonso en wat het die skat met Costa Rica te doen?”

      “Kokos behoort aan Costa Rica en ’n mens mag slegs na seerowerskatte op die eiland soek met ’n permit van die regering, en dan ook op voorwaarde dat die helfte van wat jy kry aan hulle afgestaan word.”

      “O, die helfte nogal . . . En señor Alonso?”

      “Hy is die man wat my gehuur het om na die skat te soek. Hy betaal my reiskoste en voorsien my van wat ek ook al in my soektog nodig mag hê. As ons iets kry, kry ek dus ’n kwart van ’n kwart van die totaal. Kry ons niks, dra hy die verlies.” Hy glimlag. “Maar hierdie keer, dit verseker ek jou, Andreatjie, gaan Pa dit kry. Hierdie keer gaan ek die boerpot wen!”

      “Waar kom Pa aan dié señor Alonso?”

      “Hy het aan mý gekom. Ek het baie mense leer ken deur die jare . . . Hy het my geskakel en die voorstel gedoen. Ek het hom toe gesê ek is net eers op pad terug Suid-Afrika toe om my dogter weer te sien, maar ek sal binne ’n maand by hom wees. Die helfte van die maand is reeds verby. Ek het dus nie baie tyd oor nie. Ek moet so gou moontlik vertrek.” Sy oë pleit. “Kom saam, Andrea! Jy verdien ’n vakansie. Beskou dit as ’n heerlike, lang vakansie op ’n pragtige, veraf eiland. Jy sal geen ander koste hê as jou reisgeld nie, want ons sal tuis gaan in señor Alonso se palacio. Dit gaan ons niks kos nie.”

      “Palacio?”

      “Ja. Paleis. Nou nie ’n regte paleis nie, maar dis glo ’n kolossale plek en word na verwys as die palacio van Kokos. Hy is reeds ’n skatryk man.”

      “Waarom wil hy dan so graag Bonito se skat ook nog hê?” wil Andrea agterdogtig weet. Haar pa was nog altyd te liggelowig. Hy glo alles wat hy hoor.

      “Wanneer is genoeg genoeg? Selfs ’n miljoenêr versmaai nie nog ’n miljoen of wat nie. Maar eintlik gaan dit vir hom om ’n ander rede. Hy beweer hy is ’n direkte afstammeling van Bonito en dat die skat hóm toekom, en niemand anders nie.”

      Haar oë rek weer. “Pa bedoel hy is ook ’n seerower?”

      “Nee, kind, natuurlik nie. Daar is nie meer vandag sulke goed soos seerowers nie. Hy is net die hoeveelste agterkleinkind van die berugte Bonito. Dis wat hy sê. Of hy dit kan bewys, weet ek nie. Maar dis nie ter sprake wat my betref nie. Feit bly, Bonito se skat is nog nie gevind nie. Señor Alonso is oortuig dat dit iewers op Kokos lê – en ek moet dit vind voordat iemand anders dit kry. Andrea, ek sweer vandag dis die laaste keer. Ná Kokos sal ek by jou kom bly en my oudag rustig slyt. Nog net hierdie één keer, asseblief, my kind, en . . . kom saam met Pa, toe?”

      Die volgende dag besoek Andrea die matrone se kantoor en stel haar saak. Nie dat sy die dame alles vertel nie. Dié merkwaardige, stabiele vrou sal dink haar altyd rustige verpleegsuster is haar wysie kwyt as gevolg van die klomp geld wat sy gewen het as sy moet hoor sy wil aan die ander kant van die wêreld na ’n seerowerskat gaan soek.

      “Ja, suster Smit, ek moet erken ek het jou bedanking verwag.” Sy glimlag spytig. Sy verloor ’n baie bekwame en betroubare personeellid. “Ek moet jou nog gelukwens. Ek het natuurlik ook verneem van die groot geluk wat jou getref het, maar . . .” Sy voel dit haar plig om te sê: “Om sommer te bedank en op te hou met werk . . . Wil jy nie maar liewer net ’n maand vakansie neem nie?”

      “Dankie, matrone, maar . . . ek voel ek het in ’n sleur verval.” Sy praat haar pa nou na die mond – iets wat sy nie geglo het sy ooit sou doen nie! “Ek sal weer kom werk sodra ek voel ek het genoeg van . . . e . . . ledigheid gehad. Ek is gewoond besig wees. Ek sal nie vir altyd ledig kan wees nie.”

      “Ja. En geld hou ook nie vir ewig nie, nè?” voeg matrone droog by. “Nou goed dan, suster. Ek aanvaar jou bedanking. Ek voel nie gelukkig omdat jy so dadelik wil gaan nie, maar nouja . . .”

      Alles verloop voorspoedig. Selfs die reisreëlings word in ’n japtrap en sonder haakplekke afgehandel.

      Elke bedenking aan haar kant praat haar Pa met oortuiging weg: “Dis nie nodig dat ek señor Alonso moet laat weet jy kom saam nie. Ek sê jou dan die man het ’n reusagtige huis. Daar sal plek wees vir jou. En sy vrou sal tien teen een bly wees vir geselskap.”

      “Maar hoe weet Pa? Het Pa hulle al ontmoet?”

      “Nee. Ek en señor Alonso het net oor die telefoon gesels. Maar ek is oortuig hy sal nie omgee nie. Al waarin hy belang stel, is die skat – en hoe gouer ons op Kokos kom, hoe beter.”

      2

      __

      “Hasta la vista, señorita. Ek hoop julle kry die skat waarna julle kom soek!”

      Andrea glimlag die lieflike meisie, ’n pragvoorbeeld van die Latyns-Amerikaanse skoonhede wat ’n mens in hierdie wêrelddeel aantref, breed toe. “Adios, señorita! Dankie vir u goeie wense. Geniet u vakansie.”

      “De seguro! Natuurlik!”

      Met ’n wuif van die hand stap die Smitte se medepassasier weg. Hulle het so pas op die lughawe El Coco in San José, hoofstad van Costa Rica, geland.

      Terwyl Andrea haar pa na die ontvangtoonbank volg, kyk sy geïnteresseerd om haar rond, en sy moet weer haar pa bewonder. Sedert hulle uit Suid-Afrika weg is, het sy geleer om meer respek vir hom te kry. Dikwels het sy skaam gevoel. In die verlede het sy, om heeltemal eerlik te wees, altyd maar met ’n bietjie minagting aan haar pa gedink. Maar die afgelope dae dat sy pal in sy geselskap was, het sy ’n ander Dries Smit leer ken.

      Soos die wêreldreisiger wat hy inderdaad is, het hy alle reëlings selfversekerd getref en hulle met gemak van die een land se lughawegebou na die ander deurgevoer. Wat baie gerieflik is, is dat hy – soos sy tot haar verbasing moes uitvind – ses tale magtig is.

      Haar benoudheid om na die ander kant van die aardbol te reis, het ná die eerste dag sommer verdwyn. Met haar pa aan haar sy sou sy om die aardbol reis, wetende dat sy haar pad na Suid-Afrika sou terugvind. As sy op eie houtjie haar land moes verlaat het, sou sy só weggeraak het dat hulle haar nooit weer sou opspoor nie. Vir die meisie wat nog maar altyd in ’n klein wêreldjie geleef het, is dit ’n besondere ervaring om soos ’n wêreldburger te voel.

      Ook vind sy in hierdie dae uit dat haar pa nie net ’n berese man is nie, maar dat hy met gesag oor baie onderwerpe kan praat. Hy is nie ’n geleerde man nie, maar hy is intelligent. Dikwels kom die gedagte by haar op dat dit ’n jammerte is dat hy nooit die geleentheid gehad het om verder te studeer nie. Sy kyk met ander oë na hom. Dit is so maklik om te oordeel en te veroordeel . . . Haar pa was een van agt kinders uit ’n arm gesin. Hoewel haar pa graag wou leer, moes hy uitspring en gaan werk om geldelik te help met die sewe ander kinders. Al wat hom gegun was, was drome . . .

      Opreg bid Andrea nou dat hy hiérdie keer sy droom verwesenlik sal sien. Soos sy haar pa beter leer ken, weet Andrea nou dat sy skattejagtery nie soseer gaan om die materiële sy van die saak nie, maar eerder om iets te bereik; om erkenning te kry.

      Terwyl haar pa na hul bagasie omsien, staan sy na die bedrywige menigte om haar en kyk. Sy sien die donker señorita wat langs haar gesit het deur die hoofuitgang verdwyn. Sy het heelwat inligting oor hierdie wêrelddeel van haar gekry.

      Die


Скачать книгу