Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray
Engels wat ook baie gehoor word. Die señorita, baie duidelik van Spaanse afkoms, het Andrea vertel dat daar wel nog suiwer Spaanse families is – iets waarop hulle baie trots is. Ook is die band met Spanje nog baie sterk in hierdie families.
Andrea het vertel dat sy en haar pa op pad is na ’n Spanjaard met die naam Alonso en dat hulle op die eiland Kokos gaan bly. Die dametjie het haar vreemd aangekyk en Andrea het gevra: “Ken u dalk hierdie Alonso?”
Haar antwoord was ietwat droog: “Hierdie Alonso, señorita, is Alonso Juan Bonito de Vitoria – en almal in dié wêrelddeel weet wie hy is. Terloops, ’n mens praat nie sommer net van Alonso nie.” Haar oë het gevonkel. “Ek dink nie hy sal baie daarvan hou nie!”
Andrea was verbaas. “Word hy dan elke keer voluit aangespreek?”
“Nee, natuurlik nie. Maar hy is ’n belangrike man, van hoë aansien in Costa Rica. Nee, almal ken hom as don Alonso en so word hy ook deur almal aangespreek. Dis ’n eerbiedwaardige aanspreekvorm wat ons Spanjaarde het.”
“O, dankie dat jy my reggehelp het, señorita. Ek kon dalk ’n groot flater begaan het!”
Die meisie het vriendelik geglimlag, steeds met die vonkeling in haar donker oë, asof sy iets amusant vind. “Ja, en don Alonso is nie ’n man vir flaters nie. Hy is nog van die ou garde. Baie gesteld op wat mag en nie mag nie. Baie tradisievas.”
“O? Wel, ek sal gelukkig nie veel met die vername heer te doen kry nie. Dis hy en my pa wat sake gaan doen.”
“Watse soort sake?”
Andrea het gelag en vrymoedig vertel: “My pa gaan op versoek van A . . . ekskuus, don Alonso na die seerowerskat van Bonito op die eiland Kokos soek.”
Die Spaanse señorita was diep geïnteresseerd. “En jy? Waar pas jý in die prentjie?”
“Ek is glad nie in die prentjie nie,” het Andrea haar laggend verseker. “Ek is met vakansie en drentel sommer net saam met my pa. Bly jy ook op Costa Rica?”
“Nee. Ek is ook met vakansie.”
Sy hoor haar pa se naam word genoem en toe sy omkyk, sien sy ’n motorbestuurder voor haar pa staan. ’n Rukkie later ry hulle in ’n luukse motor deur San José en dan kies die voertuig koers na die buitewyke van die hoofstad. Eerlank ry hulle tussen koffie- en piesangplantasies deur en sy verneem van haar pa dat dit die twee belangrikste uitvoerprodukte van die land is. Soos dit wil voorkom, is don Alonso – op navraag van haar pa aan die motorbestuurder – een van die groot grondeienaars op Costa Rica. Die ou man moet skatryk wees, dink Andrea toe sy ’n rukkie later die Spaanse huis tussen die lowerryke bome sien verskyn. Dit lyk nie asof hy ’n seerowerskat nodig het nie. Maar . . . hoe meer die mens het, hoe meer wil hy mos hê. Hy is dus by al sy bekonkeldheid, soos die Spaanse señorita haar op die vliegtuig gewaarsku het, nog boonop ’n ou gierigaard.
Die Spaanse huishoudster ontmoet hulle by die voordeur en Andrea kan die verrassing op die vrou se gesig nie miskyk nie. Sy glimlag en volg haar pa deur die luukse voorportaal na ’n besonder breë dubbeldeur met pragtige houtsneewerk. Sy kyk verbaas om haar rond. Sy weet weinig van meubels, maar selfs sý kan sien dat dit kosbaarhede is wat om haar staan. As hy dit nie geërf het nie, moes die ou vrek al sweerlik vantevore op ’n seerowerskat afgekom het. Sulke goed is seker net in museums en oliesjeiks se paleise te sien.
Die dubbeldeur swaai oop en die huishoudster staan opsy sodat hulle kan binnestap. Dan gaan die deur weer geluidloos agter hulle toe. Ver voor hulle, ’n saallengte ver, staan ’n massiewe lessenaar. Die ou gierigaard staan op . . . en Andrea se bene weier meteens om haar nader aan hom te dra.
“Señor Smit? Baie welkom. U het veilig gereis?”
“Ja, dankie, don Alonso. Ek . . .”
Die donker oë kyk oor Dries Smit se skouer. “En wie is dit dié?” vra hy streng.
“O . . . e . . . dis my dogter, Andrea. Ek . . .” Hy kyk teen die man se donker frons vas. “Ek hoop nie u gee om dat sy saamgekom het nie . . .”
“Om wat hier te maak?”
Dries Smit kug. “Wel, sy het nou vakansie en ek het voorgestel dat sy my vergesel. Ek moes u seker . . .”
“Hoe lank duur haar vakansie?”
Andrea begin haar stadigaan vererg, noudat die egste skok verby is.
“Nee, sy het onbepaald vakansie. Ek bedoel . . .”
“Wat my vader bedoel, señor, is dat ek op die oomblik nie werk het nie en dus saam met hom gekom het vir die volle tydperk wat hy hier sal wees.” Koel ontmoet haar blik syne oor die lengte van die saalagtige vertrek. “Gee u om?”
“Ja.” Stilte. Die een hand wink na ’n stoel. “Sit, señor.” Hy gaan ook sit en ignoreer Andrea waar sy nog steeds by die deur staan asof sy geplant is. Hy spreek haar pa aan asof sy nie teenwoordig is nie. “U dogter sal onmiddellik moet teruggaan.”
Dries Smit lyk verleë en ongemaklik. “Sy . . . sy sal nie lastig wees nie, señor . . .”
“Daar bestaan nie ’n vrou wat nié lastig is nie. Ek ken hulle.”
Andrea sluk. Sou die mansmens wil beweer dat sy dalk lastig met hóm sal raak? Sy voel die bloed na haar kop toe styg.
“Die soektog na Bonito se skat word in die grootste geheim gedoen. Vanselfsprekend was net ons twee veronderstel om daarvan te weet.”
Dries Smit se oë sak. “Ek is jammer. Ek het nie besef . . . dis só ’n groot geheim nie.”
Die vraag kom skerp: “Ek hoop nie jy het meer mense daarvan vertel nie – dat jy spesifiek na die skat kom soek?”
“Nee. Nee! Ek weet darem van beter, maar . . .”
“Jou dogter het jy wel vertel. Dis jammer. Daarom moet sy dadelik teruggaan na waar sy vandaan gekom het.”
“Hoekom?” werp Andrea die vraag vinnig tussenbeide.
Hy bly haar steeds ignoreer en antwoord haar vraag asof haar pa dit gestel het: “Vyf en sestig miljoen dollar is nie kleingeld nie, señor. Veral as iemand uitvind dat dit ék is wat na die skat laat soek, gaan dit geweldige belangstelling wek, veral plaaslik. Ons gaan toegesak word deur nuuskieriges en belangstellendes – mense wat sal wil aas indien die skat gekry word. Veral leeglêers wat nie werk het nie, wat nie geregtig is op die skat nie . . . Voordat jou dogter haar mond verbypraat, moet sy liewer terug.”
Haar bene dra haar ’n paar treë nader. “Maar ek kan my mond in Suid-Afrika ook verbypraat.”
Sy oë bly op haar pa. “In ’n ander land sal dit afgemaak word as ’n grap; ’n fabel wat nagejaag word. Hier in Costa Rica en op Kokos weet ons dis geen fabel nie. Die skat ís daar; dit moet net gevind word.”
Dries Smit kyk sy dogter verskonend aan, kyk dan half pleitend op na sy gasheer. “Maar as sy belowe dat sy haar mond sal hou . . .”
“Daar bestaan nie ’n vrou wat haar mond kan hou nie, señor Smit. Dit behoort die lewe jou darem seker al te geleer het. Dit sal my nie verbaas as sy dit reeds uitgebasuin het nie. Vra haar gerus.”
“Andreatjie, jy . . . jy het mos niemand op pad hierheen vertel wat ons hier kom maak het nie, het jy?”
Andrea sluk. Ag, wel, die Spaanse señorita op die vliegtuig tel nie. Sy is maar net ’n toeris wat ’n paar dae hier kom vakansie hou. Sy het seker al klaar vergeet wat sy op die vliegtuig gehoor het.
“Natuurlik nie! Pa ken my . . .” Haar blik gaan woedend na die man agter die lessenaar. “Die hele ding is maar net dat don Alonso bang is ek is ook teen die einde van dié wat wil aas, een van die leeglêers wat nie geregtig is op die skat nie. Ek wonder net hoeveel reg het hý daarop.”
“Andrea!”
Vir die eerste keer kyk die don direk na haar. “Ek is die enigste een wat werklik reg daarop het, señorita. Ek is ’n