Susanna M Lingua-keur 11. Susanna M. Lingua
in die teater.
In die villa gaan die lewe sy gewone gang. Skynbaar dink niemand aan Lizelia se kommer nie, want niemand sê ’n woord oor haar afwesigheid nie, totdat Tina later aan die ontbyttafel vra: “Kan iemand vir my sê hoe het Lizelia vanoggend by die hospitaal gekom?”
“Ek het gister vir haar gesê Gino sal haar hospitaal toe neem,” lig Edoardo haar ongeërg in asof dit hom nie in die minste kan skeel hoe Lizelia by die hospitaal gekom het nie.
Maar Tina steur haar nie aan sy afsydigheid nie. Sy is duidelik bekommerd toe sy sê: “Ek glo nie Gino het haar hospitaal toe geneem nie, Edoardo, want net nadat ek haar deur die groot hek sien verdwyn het, het ek Gino langs die huis met die tuinier sien praat.”
“Wel, as Lizelia deur die groot hek gestap het, het sy beslis ’n bus na die middestad gehaal,” sê Marco.
“Dan sou sy te laat by die hospitaal aangekom het om haar moeder voor die operasie te sien,” meen Tina.
“Dit sal net haar eie skuld wees as sy te laat was om haar moeder te sien,” meen Eduardo ongevoelig. “Sy het geweet dat Gino tot haar diens is.”
“Dis waar, sy het dit miskien geweet. Maar het jy ooit daaraan gedink dat sy nie ’n woord Italiaans kan praat nie en dus nie sal weet hoe om Gino dit aan die verstand te bring dat hy haar hospitaal toe moet neem nie?” kom dit verwytend van Tina.
“Ek wonder of sy ooit by die hospitaal aangekom het?” wonder Marco hardop. “Hoe goed ken sy die stad?”
Edoardo lyk nou werklik bekommerd. Hy wend hom na sy sekretaris en sê saaklik: “Bel asseblief die hospitaal ná ete en hoor of die barones daar is, Angelo.”
“Ek dink ons is ’n hartelose, onsimpatieke familie om Lizelia so alleen met haar kommer, angs en hartseer te laat,” sê Tina skuldig. “Sy is so klein en fyn, dit lyk nie of haar skouers swaar laste kan dra nie.”
“Nou waarom gaan onderskraag jý haar nie, Tina? Niemand belet jou om dit te doen nie!” kom dit skerp van die baron.
Tina kyk vinnig na haar broer. Sy is daarvan oortuig dat sy bruin oë vuur blits agter daardie donkerbril, wat hy slegs afhaal wanneer hy saans in die bed klim.
“Ek is seker jou vrou sal dit meer waardeer as jý haar in hierdie uur van angs en nood bystaan, Edoardo,” sê Tina verwytend.
“Ek dink jy moet jou liewer by jou eie sake bepaal, Tina,” waarsku Edoardo haar nou met ’n koue, ongenaakbare stem. “Ek het geen teregwysing van jou of van enigiemand anders nodig nie. Ek was ook nog altyd in staat om my sake sonder jou hulp te behartig. My vrou is ook nie jou verantwoordelikheid nie, sy is mý verantwoordelikheid; daarom sal ek besluit wat goed is vir haar.”
“Ek gee nie ’n flenter om nie, jy kan al daardie dinge doen, Edoardo. Maar laat ek jou een ding vertel: Jy weet niks van vroumense af nie,” gaan Tina ongestoord voort.
Toe sy sekretaris die hospitaal na ontbyt bel, is Edoardo merkbaar verlig om te hoor dat Lizelia op die oomblik in die wagkamer is. Die wete dat sy veilig by die hospitaal aangekom het, stel hom in ’n mate gerus dat hy sy aandag onmiddellik by ander sake bepaal.
Edoardo is die oggend so besig met sy eie sake en belange dat hy totaal van Lizelia, haar moeder en die operasie vergeet. Dit is eers toe Tina hom ná middagete vra of hy al weer die hospitaal gebel het, dat hy van Lizelia en haar moeder onthou.
“Ek vrees daar is gans te veel sake wat my aandag vereis, Tina,” hoor sy haar broer met ’n onpersoonlike stem sê terwyl hy na sy studeerkamer stap. “Jy moet maar liewer self die hospitaal bel.”
Tina kyk haar broer stil, berekenend agterna toe hy saam met sy sekretaris in die rigting van sy studeerkamer verdwyn. Te oordeel na sy onverskillige optrede gee hy glad nie vir sy vrou om nie … en hulle is maar eers gister getroud!
Daar is iets in verband met haar broer se huwelik wat nie vir Tina pluis is nie. Hy is gans te onverskillig teenoor sy vrou wat op die oomblik sy onderskraging nodig het. Dit laat ’n mens wonder of hy haar regtig liefhet!
“Gaan jy nie die hospitaal bel nie, Tina?” ruk Marco se stem haar meteens uit haar gedagtewêreld.
“Ja, ek sal nou dadelik bel,” sê sy en stap dadelik na die telefoon in die voorportaal.
Tina lyk duidelik bekommerd toe sy by Marco, wat diep ingedagte voor die eetkamervenster staan, aansluit.
“Ek vrees dit gaan nie te goed met Lizelia se moeder nie,” hoor Marco sy vrou meteens langs hom sê.
Hy kyk vinnig na haar en vra besorg: “Is die operasie afgehandel en … het sy al bygekom?”
“Ja, die operasie is afgehandel en sy het al bygekom, maar sy verkeer op die oomblik in ’n diep koma. Die saalsuster sê haar toestand is kritiek,” vertel Tina met kommer in haar stem. Sy voel bitter jammer vir Lizelia, veral noudat dit so sleg met haar ma gaan, want dit lyk nie of sy veel simpatie van Edoardo sal kry nie.
Terwyl almal in die villa besig is met hulle eie belange, sit Lizelia met haar ma se stil hand in hare. Sy kom nie eers agter dat sy sedert ontbyt nog niks oor haar lippe gehad het nie.
Dit is donker buite toe die suster die siekekamer binnekom. Sy voel die pasiënt se polsslag. Dan stap sy om die bed, verwyder Irma se stil, koue hand uit haar dogter s’n en trek die laken oor die ontslapende se bleek gelaat. Sy neem die verbysterde Lizelia se arm en lei haar uit die kamer.
Omdat sy nie die mense se taal kan praat nie, bedank sy die suster met ’n knik vir haar bedagsaamheid en verlaat die hospitaal soos ’n slaapwandelaar. Die skok dat haar moeder gesterf het sonder dat sy daarvan bewus was, is so groot dat sy nie ’n traan kan stort nie. Die pyn in haar hart is soos ’n fisieke pyn. Sy voel verskeurd, gebroke en stom van verdriet.
Doelloos stap sy van die een straat na die ander en bevind haar later op een van die talle brûe wat oor die Tiberrivier strek. ’n Ruk lank staar sy met hartseer oë na die stil, donker water. Toe begin sy meteens onbedaarlik bewe van skok en koue en eindelik dring dit tot haar deur dat sy ’n bus moet haal en huis toe gaan. Maar verder as dit kan sy ook nie dink nie …
“Is my vrou al terug van die hospitaal af, signora Bartoldi?” vra die baron vir die huishoudster toe hulle aansit vir aandete.
“Die barones is nog nie tuis nie, my heer die baron,” antwoord die huishoudster bekommerd.
Daar is ’n donker frons op die edelman se voorkop toe hy sonder enige verskoning van die tafel af opstaan en gebiedend sê: “Bel asseblief die hospitaal vir my, Angelo, en sê vir hulle ek wil met my vrou praat.”
Dit neem nie lank nie, toe praat Angelo met die saalsuster. “Die baron De Mashatini wil graag met sy vrou die barones praat, suster,” sê hy saaklik en gee die gehoorbuis vir sy werkgewer.
“Die barones se moeder het twee ure gelede gesterf en sy het die hospitaal net daarna verlaat,” sê die suster saaklik.
Edoardo bedank die suster en keer saam met Angelo terug na die etenstafel. Almal kyk hom vraend aan toe hy sy plek aan die bopunt inneem, maar niemand sê ’n woord nie, want daardie onpeilbare frons is nog steeds op sy voorkop.
“Lizelia se moeder het twee ure gelede gesterf,” kondig die edelman ná ’n rukkie aan. “Maar moenie vir my vra waar sy is nie, want ek weet self nie. Die suster sê sy het die hospitaal pas na haar moeder se dood verlaat.”
“Sy het seker ’n bus gehaal huis toe,” meen Tina.
“Dan moes sy lankal tuis gewees het,” help die baron haar stroef reg. Hy wonder of Lizelia miskien besluit het om haar ooreenkoms met hom te verbreek noudat haar moeder oorlede is. Maar dan tref dit hom dat sy nie haar paspoort, geld of klere by haar het nie, en dus nie die land sal kan verlaat sonder om eers huis toe te kom nie.
Dit is buitengewoon stil aan tafel. Edoardo is in ’n ongenaakbare bui, en almal voel bekommerd oor Lizelia se afwesigheid so laat in die aand, en dit terwyl sy waarskynlik in ’n toestand van skok verkeer …