Susanna M Lingua-keur 11. Susanna M. Lingua
Edoardo met ’n harde trek om sy mond. “Jy praat nie nou met ’n verpleegster nie, Francesca. Laat my toe om my vrou, die barones Lizelia de Mashatini, aan jou voor te stel.” Hy wend hom na Lizelia en vervolg ongestoord, onbewus van die geskokte uitdrukking op Francesca se gesig: “Hierdie voorbarige dame is ’n gewese vriendin, Francesca Bove. Toe sy hoor ek is blind, het sy ons verlowing summier verbreek en haar aan iemand anders verloof. Ek sal dus graag wil weet wat haar vanoggend daartoe gedryf het om my te besoek.”
“Ek het jou alreeds gesê dat ek my byna dood na jou verlang het, Edoardo,” hou Francesca met ’n stroopsoet stem vol, terwyl sy vir haar ’n stoel nader trek. “Ek het gister my verlowing met Giovanni verbreek.”
Francesca is slim genoeg om te weet dat sy die rede vir hierdie verbreekte verlowing moet verswyg. Laat Edoardo maar glo dit is omdat sy hóm nog steeds liefhet. Hy hoef nie te weet dat sy uitgevind het dat Giovanni ’n kerkmuis is nie. Sy moet Edoardo weer terugwen. Hierdie sogenaamde vrou van hom is nie ’n onoorbrugbare probleem nie.
Toe Edoardo niks sê nie, gaan Francesca met ’n ongeduldige frons voort: “Ek het nie geweet dat jy getroud is nie, skat. Jou vrou lyk vir my nog na ’n skone kind.”
“Ek dink jy vergis jou met my vrou omdat sy so klein en fyn is, Francesca,” merk Edoardo met ’n stywe glimlaggie op. “Lizelia sal met haar volgende verjaardag drie en twintig jaar oud wees. Sy is dus glad nie meer ’n kind nie.”
“Dis waar,” erken die swartkopmeisie halfhartig, “sy is nie meer ’n kind nie, maar ek dink nog sy is te jonk vir jou vier en dertig jaar, Edoardo, skat.”
“O, jy sou graag wou sien dat ek met ’n oujongnooi opgeskeep sit,” sê Edoardo. Hy weet dat die nege en twintigjarige Francesca dié stekie sal voel. Lizelia glimlag geamuseerd agter die koerant en maak asof sy niks gehoor het nie.
Francesca is rooi van ergernis en verleentheid, maar laat niks deurskemer nie toe sy versigtig vra: “Hoe lank is julle al getroud, skat, of mag ek nie vra nie?”
“Daar is niks geheimsinnig in verband met ons huwelik nie, Francesca. Ons is vier maande gelede baie stil hier in die tuin van die villa getroud omdat my skoonmoeder op daardie tydstip op sterwe gelê het. Sy is die dag ná ons huwelik dood,” vertel Edoardo bedaard.
“So, dan is julle al vier maande getroud,” sê Francesca met ’n gesteurde frons. “Wel, ek moet sê dit het jou nie lank geneem om my te vergeet nie, of het jy miskien getrou met die hoop dat jy my sal kan vergeet?”
Edoardo lag kortaf en bitter en sê dan met ’n siniese klank in sy stem: “Wat laat jou dink dat jý onmisbaar is, Francesca? Geen mens is onmisbaar nie, weet jy? Of het jy miskien gedink dat dit vir my die einde van die lewe was toe jy ons verlowing beëindig het? Ek het nog nooit dinge nagejaag wat buite my bereik is nie.”
“Wel, ek moet sê, jy kon darem ’n paar maande langer gewag het met hierdie huwelik …”
“Ek sien geen rede waarom ek en Lizelia ons huwelik moes uitstel nie, my liewe Francesca,” sê Edoardo ongeërg. “Ons is gelukkig en ek verlang niks meer van die lewe nie, behalwe om weer die gebruik van my oë te hê.”
Lizelia vou die koerant op, maak verskoning en stap tydsaam in die rigting van die agterdeur. Sy besef dat sy haar maniere sou vergeet en die meisie presies sou vertel wat sy van haar dink as sy langer daar sou bly. Toe sy Edoardo gehad het, wou sy hom nie hê nie omdat hy blind is. Maar noudat hy getroud is, is hy skielik goed genoeg en wil sy hom weer hê. Sy kan nie verstaan waarom Edoardo haar nie na haar peetjie stuur nie.
Hy het haar natuurlik nog lief, daarom duld hy haar onbeskaamde voorbarigheid, dink Lizelia. Nie dat sy weet wat hy in haar sien nie, want vir Lizelia lyk sy maar soos talle ander Italiaanse meisies – miskien net deftiger en meer gesofistikeerd. Daar is baie mooier meisies hier in Rome …
Dit tref Lizelia meteens dat sy gebelg voel dat die swartkopmeisie Edoardo se hele hart in die palm van haar hand hou. Sy voel onthuts omdat die skaamtelose meisie weer haar verskyning in sy lewe kom maak het, net om ou wonde oop te krap.
Lizelia vertel die huishoudster van Francesca se onverwagte besoek en vervolg versigtig: “Ek dink u moet maar dadelik iemand stuur om te hoor of die dame vir middagete gaan bly, mevrou Bartoldi. Sy was nogal taamlik geskok toe sy hoor die baron is getroud.”
“Ek hoop sy besef dat dit skaamteloos en voorbarig sal wees om in dié omstandighede vir middagete te bly, barones,” sê die huishoudster onvergenoeg.
“Ek glo nie Francesca weet wat daardie twee woorde beteken nie, mevrou,” meen Lizelia. “As ek haar reg opgesom het, en ek dink ek het, gaan sy alles in haar vermoë doen om die baron terug te wen.”
“Ek glo nie sy sal dit regkry nie, barones,” verseker mevrou Bartoldi haar ernstig. “My heer die baron sal hom nie twee maal deur dieselfde persoon laat mislei nie.”
“O wel, dit sal die baron se verdiende loon wees as hy weer toelaat dat sy hom ’n rat voor die oë draai,” sê Lizelia met ’n ligte skouerophaling en stap sonder meer na die ontvangskamer om te kyk of die blomme nog vars is.
Lizelia sluit net voor ete weer by Edoardo in die somerhuisie aan, en is glad nie verbaas toe sy Francesca nog daar kry nie.
“Ek kom jou haal, want dit is tyd vir middagete, Edoardo,” sê Lizelia saaklik.
“Toe maar, ek sal hom eetkamer toe neem,” bied Francesca aan.
“Francesca bly vir middagete, Lizelia,” stel Edoardo haar in kennis. “Maar ek verkies dat jy, my vrou, my binnetoe neem, en nie ’n buitestander nie.”
“So, dan is ek nou ’n buitestander, na alles …”
“Jy is nie ’n lid van ons familie nie, Francesca,” wys hy haar tereg, “en ek laat in elk geval net twee persone toe om by my te staan – my vrou en my lyfkneg.”
Francesca is rooi van ergernis. Haar lippe is saamgepers. Lizelia kan sien dat sy nog nie daarin geslaag het om Edoardo se verharde hart week te maak nie.
Lizelia neem Edoardo se arm en voel hoe sy lang, goed versorgde hande na hare soek, dit vind en sy vingers versigtig deur hare strengel.
“Jy het darem ’n vreeslike fyn handjie, my kleintjie,” hoor sy hom met ’n vriendelike glimlaggie sê. “Net so klein en fyn soos ’n Dresdenpoppie s’n.”
“Ja, dit is jammer,” glimlag sy terug, “dat almal nie met lang, slanke ledemate geseën is nie.”
“Jy het hoegenaamd nie nodig om lang, slanke meisies te beny nie, my skat,” hoor sy die edelman weer gemoedelik sê. “Ek verkies ’n klein vroutjie wat ek kan beskerm. Lang dames het myns insiens nie ’n man se beskerming nodig nie.”
Lizelia merk hoe Francesca haar onderlangs dophou. Sy slaag nie daarin om haar wrewel en afguns te verberg nie, want die harde, onvergenoegde trek om haar mond verraai elke emosie in haar.
Hulle stap die villa binne. Edoardo maak verskoning by hul gas en vra Lizelia om hom eers badkamer toe te neem sodat hy sy hande kan gaan was.
Daar is ’n onpeilbare uitdrukking in Francesca se swart oë toe sy Lizelia en Edoardo agterna staar. Sy besef dat sy ’n groot fout begaan het toe sy destyds haar verlowing met Edoardo verbreek het. Nou is hy getroud, en dit gaan ’n opdraande stryd wees om ’n einde aan sy ongewenste huwelik te maak. Sy weier om te glo dat hy haar so gou vergeet het en dat iemand anders alreeds haar plek in sy hart ingeneem het. Sy sal nie rus voordat sy Edoardo en sy miljoene weer vir haarself gewen het nie. Dat hy blind is, maak nie meer saak nie.
Tydens middagete slaag Francesca daarin om Edoardo se aandag op haar te vestig deur aanhoudend met hom te gesels asof dit net hulle twee aan tafel is. Mevrou Bartoldi het Lizelia ’n paar maal betekenisvol aangekyk en toe huishoudelike sake met haar begin bespreek. Angelo Calbo, die baron se sekretaris, het Francesca afkeurend betrag en probeer om sy werkgewer van haar opdringerigheid te red deur ’n paar onbenullige sake met hom te bespreek. Maar Francesca se vasberadenheid is ongeëwenaard en ook