Susanna M Lingua-keur 11. Susanna M. Lingua
en astrant gevind, en as Gino hom die opstopper gegee het wat hy gedreig het om hom te gee, sou dit beslis sy verdiende loon gewees het.”
“Ek sal my broer môre bring om om verskoning te vra, barones,” probeer Francesca die hele aangeleentheid doodpraat.
“Dankie, maar dit is nie nodig om hom hierheen te bring nie,” keer Lizelia verontwaardig. “Jou broer kan my net so goed oor die telefoon om verskoning vra.”
Francesca weet dat sy sal moet wal gooi sodat Edoardo nie uitvind wat haar aandeel aan die onaangename voorval was nie. Sy het gedink Alberto sal Lizelia met sy sjarme kan oorweldig, maar nou het sy blykbaar ’n afkeer van hom. Dis ook net Alberto wat haar planne om die baron se hart terug te wen so kan verongeluk. Sy wens sy het hom nooit gebel om te sê dat Lizelia vanmiddag by die begraafplaas sal wees nie!
Edoardo se eienaardige stilswye laat Francesca so skuldig en ongemaklik voel dat sy ná ’n rukkie verskoning maak en vertrek.
Lizelia merk die vreemde, onpeilbare trek om Edoardo se mond en sê ietwat huiwerig: “Verskoon my, ek wil nie met jou sake inmeng nie, Edoardo, maar as jy ’n egskeiding verlang om met juffrou Bove te kan trou … Ek bedoel, dit is tog baie duidelik dat sy jou wil terughê, en ek kan môre teruggaan Suid-Afrika toe. My paspoort is nog geldig …”
“Dit sal beter wees as jy liewer niks meer sê nie, Lizelia,” sê hy met onderdrukte woede. “Ek het niemand se advies nodig nie! En moet ook nooit weer praat van teruggaan Suid-Afrika toe nie. Moet ook nie probeer om my te ontvlug nie, want ek sal jou kry, waarheen jy ook al vlug. Ek weet jy het al dikwels jou huwelik met my berou, maar onthou net, jy was gewillig om met my te trou toe jy my geld nodig gehad het.”
“Dit is nie nodig dat jy my aan hierdie dinge herinner nie, Edoardo,” sê Lizelia gebelg. “Ek het maar net die voorstel gemaak omdat ek weet hoe lief jy vir juffrou Bove …”
“Jy weet niks,” val hy haar ongeduldig in die rede. “Bepaal jou liewer by jou eie sake.”
Ná hierdie onvriendelike afjak maak Lizelia verskoning en stap die huis binne, vasbeslote om haar nooit weer met sy sake te bemoei nie.
5
__
Met haar tuiskoms bel Francesca haar broer onmiddellik om hom uit te trap omdat hy haar planne byna verongeluk het met sy voortvarendheid.
“Die barones is vreeslik verontwaardig! Sy sê jy het haar gemolesteer!” beskuldig sy Alberto.
“Ek het haar nié gemolesteer nie,” stry Alberto. “Ek wou maar net met haar vriende maak. Maar waarom het jy my nie vertel dat sy so onbeskryflik mooi is nie, Francesca? Ek dink jy moet hierdie wilde plan van jou maar liewer laat vaar. Die baron sal nooit so ’n beeldskone vrou vir jóú verruil nie …”
“Ek het nie jou mening oor die baron se smaak gevra nie, Alberto,” wys sy hom vererg tereg. “Sorg jy maar net dat jy jou deel van ons ooreenkoms nakom. Terloops, ek het vir die baron gesê dat ek jou môre na die villa sal bring om die barones om verskoning te vra. Ek hoop jy gedra jou môre soos dit ’n man met ’n goeie opvoeding betaam.”
“O, nou goed, ek sal my bes doen,” belowe hy halfhartig, haastig om aan Francesca se vervelige gesanik ’n einde te maak. Hy besef dat dit groot inspanning van hom gaan verg om sy hande van die skone Lizelia af te hou. Aan die ander kant sal hy eerder die onbereikbare Lizelia se hart kan wen as Francesca daarin slaag om Edoardo se huwelik te laat verbrokkel.
Alberto heg nie veel waarde aan sy suster se versekering dat sy die edelman in ’n japtrap weer na haar pype sal laat dans nie. Sy is nou wel lank, slank en gesofistikeerd – ’n lus vir die oog van diegene wat van swartkopmeisies hou. Maar as hý tussen haar en Lizelia moet kies, sal sy keuse beslis op die fyn, blonde Lizelia val. Hy glo ook nie ’n oomblik lank dat die baron so dom sal wees om so ’n mooi vrou vir Francesca te verruil nie. Sy suster mors net haar tyd en energie, en as sy na goeie raad wil luister, sal sy van Edoardo de Mashatini vergeet.
Ondanks sy twyfel oor die wenslikheid van sy suster se plan, is Alberto fyn uitgevat toe hy die volgende middag by Francesca se woonstel opdaag. Sy betrag hom met ’n kritiese oog van kop tot tone, en besluit dan dat hy aantreklik en netjies genoeg lyk vir die rol wat hy moet speel.
“Ek is bly om te sien jy het darem nie kop uitgetrek nie, Alberto,” begroet sy hom met ’n vriendelike glimlaggie.
“Ek weet nie wat my besiel om deel te hê aan hierdie speletjie nie, Francesca,” sê hy half ergerlik. “Dit is gemeen om iemand se huwelik doelbewus te vernietig. Maar jy sal tog nie in jou doel slaag nie. Edoardo se familie glo nie aan egskeidings nie.”
“Laat ons liewer gaan, voordat jy dalk kop uittrek,” lag Francesca hom saggies uit. “Ek is vasbeslote om Edoardo weer terug te wen, en ek gee nie om of dit gemeen is of nie. Hy het ’n paar maande gelede aan mý behoort en ek wil hom terughê.”
Alberto haal sy skouers op en volg Francesca voordeur toe.
Lizelia is besig om vir Edoardo uit ’n tydskrif voor te lees toe ’n werker in sy studeerkamer verskyn en die koms van Francesca en haar broer aankondig.
“So, dan het sy tóg haar voorbarige broer saamgebring,” merk Lizelia ergerlik op. “Ek hoop nie dit is my lot om hom geselskap te hou nie, Edoardo, want dan gaan ek my maniere vergeet en baie onbeleef met hom wees. Ek kan vreeslik onbeleef wees as ek wil, weet jy?”
“Moet jou nie oor Alberto verontrus nie, Lizelia, ek sal hom self geselskap hou,” stel Edoardo haar dadelik gerus. “Neem my nou na die ontvangskamer, en onthou, jou plek is langs my op die rusbank.”
“Toe maar, ek sal jou nie aan die genade van daardie twee oorlaat nie,” sê Lizelia toe sy sy arm neem. “Jy kan jou maar vir my vererg, maar ek sê jou reguit: Ek vertrou nie een van die twee nie.”
“Jy praat al weer uit jou beurt, meisiekind,” sê hy, sy stem sag en gemoedelik, en nie soos gewoonlik kil en ongenaakbaar nie.
“Nou goed, ek sal probeer om nie weer uit my beurt te praat nie,” belowe sy met ’n sagte laggie, en lei hom na die ontvangskamer waar hulle gaste reeds op hulle wag.
Alberto en Francesca kom dadelik orent toe Lizelia en Edoardo die vertrek binnekom. Alberto vra sy gasvrou nederig om verskoning vir sy voorbarige optrede die vorige middag.
“Dit was nie nodig dat jy my persoonlik om verskoning kom vra nie, meneer Bove,” wys Lizelia hom met ’n onpersoonlike stem tereg. “Jy kon dit net so goed oor die telefoon gedoen het …”
“Ek sal Edoardo na ’n stoel toe neem,” stel Francesca vinnig voor, “dan kan jy en Alberto hierdie misverstand tussen julle ongesteurd uit die weg ruim.”
Lizelia se stem is byna net so kil soos Edoardo s’n gewoonlik is toe sy Francesca vierkantig aankyk en met onversteurbare kalmte sê: “Gaan sit gerus, juffrou Bove. Ek sal self na Edoardo omsien. Ek het niks meer vir jou broer te sê nie. Daar is geen misverstand wat uit die weg geruim moet word nie.”
“Ek is jammer as ek iets verkeerds gedoen het,” stamel Francesca, rooi van ergernis en verleentheid.
Edoardo gee haar nie kans om meer te sê nie.
“Ek is nie bereid om die hele middag in die middel van die vertrek na jou verskoning te staan en luister nie, Francesca.” Hy wend hom na Lizelia. “Neem my asseblief rusbank toe, my beskermengel.”
Francesca en Alberto gaan ook sit. Edoardo begin ongeërg met Alberto gesels asof niks gebeur het nie, maar dit is duidelik dat Francesca ietwat van stryk is. Omdat Lizelia nog nie een maal vantevore getoon het dat sy Francesca se vriendskap met Edoardo afkeur nie, het Francesca haar onderskat en te gerus geword. Sy besef egter dat sy in die vervolg versigtiger sal moet wees. Dit sal haar hoegenaamd niks baat om haar Lizelia se onguns op die hals te haal nie, want dan gaan hulle deur vir haar gesluit wees. Sy ken Edoardo ook wanneer hy kwaad is en weet presies hoe ’n duiwel en ’n tiran hy kan wees.
Francesca is vreemd