Ena Murray Omnibus 23. Ena Murray
veronregte tikster sug en sak agter haar lessenaar neer. “O, wel, laat dit wees wat dit wil, maar ek wens van harte hierdie buierigheid van hom gaan nou verby. ’n Mens kan beswaarlik deesdae met hom huishou.”
Amanda aarsel voor die kantoordeur voordat sy aanklop. In die verlede sou sy aangeklop en dan vrymoedig binnegestap het, haar hart bonsend in haar keel. Hy sou opgekyk, haar gewaar en geglimlag het.
Maar deesdae … Dis beslis waar dat iets met Raul skort. Deesdae het selfs sy, die suikerbroodjie, soos sy weet die ander haar agteraf noem, geleer om te wag tot daar op haar klop geantwoord word.
Sy hoor hom antwoord en sy stap binne, sien met ’n sinkende hart die frons tussen sy wenkbroue. Huiwerig lê sy die brief voor hom neer. Hy kyk vlugtig daarna, teken dit en gee dit dan terug. Sy weet hy verwag dat sy dadelik sal gaan, maar sy bly staan.
Toe hy ongeduldig opkyk, kan sy nie langer stilbly nie. “Raul …” Die ongelukkigheid lê oop en bloot in haar oë. “Raul, wat is verkeerd?”
Sy stem klink soos dié van ’n vreemdeling. “Ek het nie geweet dat daar iets verkeerd is nie.”
“Maar daar ís! Jy is nie meer soos altyd nie. Is jy dan nie meer lief vir my nie?”
Sy frons word onheilspellender, maar dis duidelik dat hy ’n poging aanwend om sy humeur te beteuel. “Amanda, ek het klaar gepraat. Werk en … liefde meng nie. En ons is nou aan die werk.” Hy sien die blou oë vol trane skiet en hy sug skuldig. Vir ’n emosionele breekpunt sien hy nie kans nie. Hy staan op en druk haar kop spontaan teen sy bors vas. Hy hou haar liggies vas, sy frons nou een van bekommernis. “Ons kan vanmiddag ná klas gesels. Ek sal jou daar kry en dan kan ons êrens iets gaan drink. Goed?”
Die blou oë kyk op en hy lees haar hele hart daarin en sluk. Baie liggies soen hy haar op die punt van haar neus en gee haar dan ’n speelse klappie. “Nou toe, weg is jy. Ek het baie werk.”
Maar toe die deur agter haar toegaan, neem hy nie weer agter sy lessenaar plaas om met die baie werk voort te gaan nie. Hy gaan staan voor die venster.
Dit het alles so onskuldig begin. Omdat dit uit die aard van sy beroep tweede natuur is om ’n mooi vrou raak te sien, haar potensiaal op te som, op te let hoe sy aantrek, of sy die meeste van haarself maak, bloot uit ’n professionele oogpunt, het hy gou die nuwe tikstertjie in sy kantoor opgemerk. Dit was die manier waarop sy aangetrek het, die wyse waarop sy beweeg het, en veral die kinderlike onskuld wat van haar uitgestraal het, wat sy aandag getrek het.
Veral haar klere het hom begin interesseer. Hy het opgemerk dat dit nooit van die duurste en beste materiaal was nie. Tog was die styl en snit altyd iets besonders. Haar klere het nooit die stempel van ’n kettingwinkel gedra nie. Dit was oorspronklik. Maar sy self het ook reg laat geskied aan dít wat sy gedra het. Gou het hy die potensiaal in haar raakgesien. Amanda Conradie was ’n gebore mannekyn.
Daar het dit begin. Maar die professionele belangstelling wat hy in haar gehad het, het baie gou tot iets meer persoonliks ontwikkel. Hy het haar kinderlike spontaneïteit verfrissend gevind, so anders as waaraan hy deur die jare gewoond geraak het in sy kunsmatige wêreld. Hy het sterk aangetrokke gevoel tot haar, haar op ’n besondere manier liefgekry. Nou, vandag, op hierdie oomblik, kan hy die gevoel wat sy in hom wakker gemaak het in die regte perspektief plaas, kan hy dit sien vir wat dit was en is.
Daar is ’n siniese trek om sy lippe. Hy het deur die jare geleer om ’n mooi vrou op te som. Hy werk jare lank al daagliks met hulle en hy dink hy kan sê hy kén die vrouegeslag. Hy weet dat baie van hulle net ’n mooi gesig en ’n mooi liggaam as enigste bate het en verder is daar niks nie. En selfs dié wat intelligensie kan byvoeg, boet dikwels karakter in. Op die oog af is hulle pragtig, maar van binne is hulle lelik.
Hy besef dat hy miskien te kras oordeel. Die lewe stel baie meer eise aan ’n mooi vrou. Daar is soveel meer versoekings, soveel meer slaggate. En dikwels val daardie pragtige beeld omdat dít wat binne is nie sterk genoeg is om dit staande te hou nie.
Hy weet. Hy was met so ’n vrou getroud.
Daarom dat Amanda Conradie hom so aangetrek het. Hy het homself dikwels betrap dat hy gewens het dat sy in jare ’n bietjie ouer was. Tog het die waarskuwingsligte gedurig geflits wanneer hy na haar gekyk het: Sy is te jonk, hopeloos te jonk vir hom. Aan die begin sal dit goed gaan, maar soos die jare aanloop, het sy nugter verstand hom gewaarsku, sal dit nie meer goed gaan nie. Sy bied hom nou haar liefde met kinderlike openhartigheid aan, maar hy sal ’n skurk wees as hy dit vir homself gaan toeëien.
Al hierdie dinge het sy verstand hom vertel, en tog het hy geweet dat hy vasgevang was. Amanda was reeds hopeloos verlief op hom. Diep in sy hart hoop hy dat dit van verbygaande aard sal wees, maar as dit nie is nie? Soos haar ma vermoed.
Hy weet hy het te veel aandag aan haar gegee. Hy weet dat hy in ’n onverantwoordelike oomblik vir haar gesê het dat hy lief is vir haar. Dit was ook nie ’n leuen nie. Hy ís lief vir haar. Sy wek in hom net die teerste gevoelens op, ’n beskermingsdrang wat hy nog nooit ervaar het nie. Maar hy weet nou presies wat sy liefde vir haar behels.
’n Ander gesig verskyn voor hom en sy hande trek stadig tot vuiste in sy broeksakke saam. As hy haar net vroeër ontmoet het. As hy Amanda se moeder net maande gelede leer ken het.
Hy voel weer die verbasing in hom posvat terwyl hy na die beeld voor sy geestesoog kyk. Sy innerlike blik is baie krities en hy kyk niks mis nie. Genadeloos dwaal sy oë vanaf die reguit, gryswordende hare tot by die huisdraskoene … en daar is verbystering in Raul Günther se hart.
Wena Conradie hoor daardie middag weer haar voorhekkie kraak, en toe sy vinnig opkyk, voel sy iets in haar styftrek. Sy sien hom die paadjie opgestap kom en haar gelaat verstil. Maar ín haar is dit nie stil nie.
Sy wag tot sy sy klop teen die voordeur hoor opklink. Dan eers staan sy op. Nog aarsel sy. Sy kyk om haar rond, amper asof sy na ’n uitvlugkans soek. Dan stap sy amper teësinnig voordeur toe.
“Goeiemiddag, Wena.”
“O … middag … Raul.”
Hy glimlag effens. “Dit klink asof dit nog steeds swaar gaan om my op my voornaam te noem.” Sy lyk verleë, laat haar oë sak, en hy vervolg vraend: “Mag ek jou kom pla?”
Sy glimlag skuldig. “Natuurlik. Waar is my maniere? Kom binne.”
“Dankie.”
Raul volg haar weer die kort gangetjie af, en weer moet sy eers materiaal van die stoel af optel voordat sy hom sitplek kan aanbied.
“Sit.”
“Dankie.”
Dis stil. Albei se oë rus op die tapyt voor hul voete.
Dan vra sy sag: “Is daar iets verkeerd? Amanda …?”
“O nee. Sy vorder nog steeds pragtig.”
“Ek is bly.”
Hy kyk op. “Maar jý is nog baie bekommerd, nie waar nie?”
Sy knik eindelik. “Ja,” antwoord sy eerlik. “Amanda is nie gelukkig nie.”
“Hoekom sê jy so?”
“Die laaste paar dae … Daar is iets wat haar hinder, haar seermaak. Sy probeer dit wegsteek, maar ek ken my kind. Het julle … miskien woorde gehad?”
Hy frons nou. “Nee. Ek het haar net baie duidelik laat verstaan dat ons nou eers net op haar loopbaan gaan konsentreer …”
“Sy sal nie daarmee tevrede wees nie. Jý is vir haar belangrik. Nie haar loopbaan nie.”
“Ek weet, maar wat moet ek daaromtrent doen? Ons het dit tog al bespreek.”
“Ek weet.”
Hy sug. “Jy neem my kwalik, nie waar nie?”
Sy antwoord nie onmiddellik nie, sê dan gelykmatig: “Maak dit saak? Dis Amanda wat tel, dit is sy wat seerkry …”
“Nie net sy nie.”