Ena Murray Omnibus 23. Ena Murray
het alles skielik verander. Hy is nie meer teenoor my soos hy was nie. Hy sê hy het my nog lief, maar dit lyk nie meer so nie. Hy is deesdae onmoontlik op kantoor. Ook teenoor my gedra hy hom styf en formeel en het selfs al ’n paar keer met my geraas. Verder … Hy vra my nooit meer om saam met hom te gaan uiteet of fliek nie. Hy gesels skaars met my! En vanmiddag …”
Weer volg ’n nuwe tranevloed en die moeder wag stil tot haar dogter weer ’n mate van beheer oor haar stem het. “En vanmiddag het ons ’n afspraak gehad. Ek het hom vanoggend reguit in die kantoor gevra wat aangaan, of hy my dan nie meer liefhet nie.”
“Ai, Mandatjie, my kind …” begin Wena vermanend.
Die nat oë is uitdagend. “Hoekom nie? Ek is lief vir hom en ek is nie skaam daaroor nie.”
“Maar ’n meisie vra nie sommer vir ’n man of hy haar liefhet nie.”
“Hoekom nie? Hy het eerste gesê hy het my lief,” kom dit driftig.
Die moeder kyk haar kind magteloos aan. Dis so moeilik om te verduidelik. Günther het dit nie só bedoel nie. Aan die ander kant … Sy het net sy woord daarvoor. Watter versekering het sy dat hy nie besig is om met haar dogter te speel nie … en terselfdertyd besig is om haar moeder met mooi woorde en vleiende aanbiedinge ’n rat voor die oë te draai nie? Wat laat haar die man se woord sonder meer aanvaar? Wat weet sy van hom af? Hoe goed ken sy hom?
Maar haar dogter ken sy. Sy weet dat albei haar kinders ’n inherente eerlikheid in hulle het – iets waarvoor sy die Vader nooit genoeg sal kan dank nie.
“ ’n Meisie moet trots en selfrespek hê, Amanda. Sonder integriteit kan sy nooit volwaardig vrou wees nie. My kind, as ’n man duidelik toon dat hy nie langer belang stel nie, dan moet jy nie aan hom bly vasklou en jou aan hom opdring nie. Dan maak jy jouself goedkoop.”
“Dis nie dat hy nie meer belang stel nie, Mams. Maar daar het iets tussen ons ingesluip. Ek voel dit aan! As daar ’n ander meisie is … As ek weet daar is ’n ander meisie vir wie hy meer omgee, dan is dit iets anders. Maar daar is niemand nie, en ek kan sien hy is ook ongelukkig. Ek kan dit nie verstaan nie, Mams!” Haar blou oë pleit. “As ek net kan agterkom wat aangaan!”
Wena kyk stilswyend terug. Sy verstaan ook nie. Sy behoort te verstaan. Sy en Raul Günther het tog openlik oor Amanda gepraat. Tog moet sy met haar dogter saamstem: Hier is iets wat nie rym nie. Amanda vertel hy is moeilik op kantoor. Sy sê hy is ongelukkig. As hy werklik net ’n vaderlike liefde vir haar het soos wat hy voorgee, hoekom ontstel die saak hom dan so hewig?
“Jy het my nog nie vertel wat toe vanmiddag gebeur het nie.”
“Ons het ’n afspraak gehad. Toe ek hom in sy kantoor vra of hy nog vir my omgee, toe sê hy ja, maar dat ons vanmiddag verder sal praat. Hy sal my ná my klas kry en dan kan ons iets gaan drink. Ek het ’n ronde uur gewag. Hy sal nou nog opdaag. Dís nie Raul nie, Mams!”
Haar mond gaan oop om haar dogter daarop te wys dat hy miskien ’n onvoorsiene oponthoud gehad het, en toe tref dit haar. Raul Günther was hiér! Hy is pas voordat Amanda tuisgekom het, hier weg. Hy was die hele tyd hier terwyl hy ’n afspraak met haar dogter gehad het!
Wena dink fronsend terug. Hy was beslis nie buierig of moeilik nie. Weliswaar was daar een of twee keer ’n tikkie ongeduld in sy stem, maar deurentyd was hy die kalm, goedgemanierde man wat sy leer ken het. Hy het ook rustig en ontspanne gelyk terwyl hy sy koffie en beskuit geniet het. Hy het nie ongelukkig of rusteloos voorgekom nie. Inteendeel.
Sy ruk haar gedagtes tot stilstand, fokus op haar kind voor haar, en besef dat dit nou vir haar onmoontlik is om Amanda van die wonderlike aanbod te vertel. Sy weet sy behoort haar te vertel dat Raul hier was, maar dis of iets haar lippe snoer. Sy weet nie hoekom nie. Daar is tog niks om weg te steek nie. Die man het hier aangekom en gevra sy moet vir hom ’n paar ontwerpe doen. Dis al.
Maar diep in haar hart weet Wena dis nie al nie. Diep in haar hart weet sy dat sy meteens skuldig voel oor Raul se besoek en dat sy hoop dat Amanda nooit sal uitvind dat hy hiér was toe hy veronderstel was om ’n afspraak met háár na te kom nie.
Daardie aand in haar kamer, alleen met haar gedagtes, knaag iets al erger aan haar. Het Raul werklik vanmiddag van sy afspraak met Amanda vergeet, of wóú hy dit nie nakom nie? Is Raul besig met ’n speletjie? Nie net met Amanda nie, maar ook met haar? Is die man besig om met fyn vernuf en ervaring ma en dogter om sy pinkie te draai? Is sy aanbod van vanmiddag opreg, of doen hy dit met ’n spesifieke doel voor oë?
Eindelik laat sy haarself toe om die eerste deel van hul gesprek te ontleed. Wat het hy werklik bedoel met alles wat hy gesê het? Wou hy haar maar net week maak, en ás dit sy doelwit was, hoekom? Hoekom het hy so gedelf, so hard probeer om hulle op gelyke vlak te kry? Wat beoog die man?
In die kamer langsaan kan sy hoor hoe haar dogter rusteloos lê en rondrol … en sy wens meteens diep uit haar hart dat haar en haar dogter se paadjies nooit met dié van die groot modebaas gekruis het nie.
6
Dit kos die jong meisie al haar moed om oënskynlik kalm binne te stap toe daar op haar klop geantwoord word.
“Goeiemôre.”
Raul kyk dadelik op, knik vlugtig. “Môre, Amanda.” Hy hou ’n vel papier na haar uit. “Ek wil hierdie tabelle oor ’n uur gereed hê, asseblief. Dankie.”
Sy kop het reeds weer vooroor gesak, die pen flitsend oor die papier voor hom op die lessenaar. Die stem wat hom antwoord, is toonloos: “Goed.”
Sy stap uit, trek die deur agter haar toe en plaas die tabelle op haar lessenaar. Dan neem sy haar handsak, stap vinnig na die kleedkamer en druk die deur agter haar toe. Sy leun daarteen aan, sluit haar oë en hou haar bewende vingerpunte op haar kuiltjie waar haar ontstelde hart tamboer.
Hy het nie eens om verskoning gevra nie! Hy onthou nie eens dat hy gister ’n afspraak met haar gehad het wat hy nie nagekom het nie.
Dit was op die punt van haar tong om hom daaraan te herinner, toe sy haar ma se woorde onthou. ’n Vrou moet ook haar trots hê. Sy moet haarself nie goedkoop maak nie. Gister, eergister, sou sy hom onomwonde aan sy blaps herinner het, hom selfs laat verstaan het hoe sy daaromtrent voel.
Maar Amanda is stadig besig om te leer, om groot te word …
Tog is sy nog nie groot genoeg om die trane te keer nie. Dan byt sy hard op haar onderlip, knip haar handsak oop en probeer die skade aan haar grimering herstel. Sy durf nie teruggaan met rooigehuilde oë nie. Die ander is reeds so katterig. Noem haar “meneer se suikerbroodjie”. Ook voor hulle moet sy haar trots behou.
Terwyl haar dogter moedig weer die kleedkamer se deur oopmaak en terugkeer na haar werk, is Wena besig om met verdeelde aandag die huis aan die kant te maak.
’n Honderd keer tel sy ’n ding van ’n stoel of die vloer af op, staan dan daarmee in haar hande asof sy hoegenaamd nie weet wat om daarmee te maak nie.
Wat moet sy doen? vra sy haarself vir die hoeveelste keer af. Haar gesonde verstand vertel haar dat sy Raul liewer moet laat weet dat sy nie aan sy versoek kan voldoen nie. Dis beter so, redeneer sy met haarself. As sy ontwerpe vir hom gaan voorlê, is dit nóg ’n band wat haar en haar huis aan hierdie man gaan bind. En dit sal veel verstandiger wees om liewer die bande wat daar reeds is, te ontbind as om nuwes te smee.
Haar dogter is reeds vas, só vas dat Wena twyfel of sy ooit weer sal loskom sonder om haar eie toekoms te vernietig. Maar sy durf nie toelaat dat sy ook aan hierdie man verknog raak nie, nie eens op ’n formele sakevlak nie. Die vrou hier diep in haar waarsku haar: Bly liewer weg!
Maar sy is ten slotte ook mens. Sy wil só graag die ontwerpe doen. Nie omdat dit Raul Günther is wat dit wil hê nie, maar om haarself. Om die vergete droom wat skielik weer so helder na vore getree het, te voed. Dit is ’n wonderlike uitdaging en sy kan nie onthou of sy al ooit só graag iets wou deurvoer as juis om aan hierdie versoek te voldoen nie. Dit sal ’n bewys wees, ’n bewys aan haarself, dat sy, indien die lewenswiel anders vir haar gedraai het, tog