Ena Murray Omnibus 23. Ena Murray
Toe hy praat, klink sy stem hees, half onbekend. “Dis die ware Wena Conradie hierdie.”
Sy skud haar kop, terwyl haar oë effens versomber. “Nie eintlik nie. Binne is ek nog dieselfde.”
“Is jy seker?”
Sy kyk onseker op, laat dan haar oë sak. Hy is weer reg. Sy is binne ook nie meer dieselfde nie. Selfs dáár het ’n verandering ingetree. Maar sy wil nie nou daaraan dink of daaroor praat nie.
Sy trek hom aan die hand na die sitkamer. “Kom kyk my sketse.”
Hy laat toe dat sy hom tot in die middel van die vertrek trek, maar weier om haar hand te laat gaan en skud weer sy kop.
“Nie nou nie. Later. Ek wil nog eers na jou kyk.”
Sy kyk hom betigtigend aan. “Jy laat my nou selfbewus voel.”
“Jy sal daaraan gewoond moet raak. Ek gaan nog baie kyk. En nie net ek nie. Het jou kinders jou al gesien?”
Sy lag en trek haar hand beslis uit syne, wink na ’n stoel. “Ja. Hulle was ’n bietjie … oorbluf!”
“Dit sal ek glo. Maar tog waarderend, hoop ek?”
“O ja!” Sy neem ook plaas, kyk hom dan vas aan. “Dankie, Raul.”
“Dankie?”
“Ja. Dis jý wat my oë oopgemaak het, my as ’t ware wakker geskud het. Kinders moet trots wees op hul ma se voorkoms. Jy weet, ek het deur die jare net altyd gedink aan kos en klere en die nodige vir my kinders. Ek het ook hard probeer om hulle die regte opvoeding te gee, die regte waardes te leer. Christelik en kerngesond groot te maak. En in dié proses het ek myself verloor.
“Ek het myself wysgemaak daar is nie tyd nie en dat my eie persoon glad nie van belang is nie. En dit was verkeerd. Ek besef vandag eers dat my kinders hulle seker dikwels in die verlede vir my geskaam het, skaam was vir hul verwaarloosde ma wanneer hulle met maats hier aangekom het.” Sy gee ’n klein glimlaggie wat aan die man wat stil sit en luister se hart pluk. “Ek verstaan nou hoekom Amanda ons vir jou wou wegsteek. Dit was nie sodanig die buurt of die huisie waarin ons woon wat haar bang gemaak het nie. Sy was ook skaam vir my – en sy het alle rede gehad.”
Hy skud sy kop en weer is daar daardie vreemde lig in sy oë wat haar so kan roer. “Jy is altyd te hard met jouself.”
“Maar dis die waarheid. Ek sien dit nou in. ’n Ma moet haar mooi hou vir haar kinders, al is sy al veertig en al dink sy die lewe hou geen belofte meer in nie. ’n Kind moet altyd trots wees op sy ma. Ek het myne in hierdie opsig gefaal. O, Raul, ek wens jy kon hul gesigte sien vanoggend! Dit het my soveel vreugde verskaf – maar my ook só skuldig laat voel. En dit het maar die minimum tyd én koste geverg om ’n verwaarloosde ma in ’n goed versorgde een te verander.”
Sy lag, en weer besef die modebaas dat hy nog nooit so ’n mooi glimlag gesien het as Wena Conradie s’n nie. En vandag is dit ekstra mooi, maak dit haar onweerstaanbaar pragtig.
“Soos jou kennersoog wel sou gesien het, meneer die modebaas, is die materiaal spotgoedkoop. Die skoene,” en sy skop laggend haar voete vorentoe vir sy inspeksie, “is skoene wat my dogter nie meer wil dra nie.” Die bruin oë skitter. “En die lipstiffie, die naellak en die bietjie oogskadu is ook oorskiet wat my dogter nie meer gebruik nie. Net my hare het ek professioneel laat sny, maar nie laat kleur nie. Ek was nie seker …”
“Ek is bly jy het dit nie laat kleur nie. Ek hou van die silwer in jou hare. Dit gee jou ’n soort statigheid en … dit pas by myne.” Hy lag. “Anders is jý ook netnou te jonk vir my.”
“O, Raul! Jy spot nou met ou mense!”
“Ou mense? Voel jy oud op hierdie oomblik, Wena? Eerlik?”
Sy erken glimlaggend. “Nee. Ek voel vir die eerste keer in jare jonk en …”
“Mooi. Dis wat jy is. Jonk en mooi. Jonk en mooi vir nog dertig jaar. Dertig jaar is lank, Wena. Wat gaan jy met die volgende dertig jaar doen?”
Sy versober, skud dan haar kop. “O, ek weet nie. Ek … het nog glad nie daaraan gedink nie, maar die verbleikte rokkies en skewe skoentjies is beslis vir goed weggepak.”
“In daardie geval, mevrou Conradie, het ek ’n formele aanbod om jou te doen vir die volgende dertig jaar.”
“Ja?”
Hy kyk haar lank aan, sê dan stil: “Daar is eintlik twee aanbiedinge, maar ons sal eers net oor die een gesels. Ek wil jou by Günther hê. Voltyds.”
“Maar Raul! Jy het nog nie eens my sketse gesien nie!” protesteer sy, maar met ’n opgewonde blos op haar wange.
“Nou maar wys my dan jou sketse.”
Sy gaan haal dit in haar kamer en sê toe sy weer binnestap: “Ek steek dit nog altyd in my laaie tussen my klere weg. Niemand weet nog nie. Ek wou niemand daarvan vertel voordat ek nie seker is daar steek iets in nie.” Toe hy dit by haar wil neem, hou sy dit terug, haar oë ernstig. “Hoe gaan dit op kantoor met Amanda?”
“Heeltemal goed sover ek weet. Hoekom?”
“Ek bedoel …” Haar stem klink skuldig. “Ek het nie eintlik hierdie week aan haar aandag gegee nie. Ek was so besig met my eie dinge.”
“Vergeet ’n rukkie van Amanda, asseblief, Wena. Ek het haar om verskoning gevra en sy het dit wonderbaarlik kalm hanteer; voorgegee dis nie so erg nie. Verder is sy nie oorvriendelik nie. Miskien begin dinge al reeds uitbalanseer. Gee nou daardie sketse. Ek brand.”
Dis lank stil terwyl hy op sy tyd, byna tergend langsaam, die een ná die ander ontwerp met ’n arendsblik ondersoek. Sy waag dit nie om ’n woord te sê nie. Sy haal skaars asem. Eindelik kyk hy op, sit die sketse langs hom neer en die blik in sy oë laat haar haar asem stadig uitstoot.
“Hoekom het ek jou nie jare gelede al ontdek nie?” Sy antwoord nie, kyk hom net aan en hy staan stadig op. “Wena, jou talent is onmiskenbaar. Ons kan jou sketse later in meer besonderhede bespreek, maar … nou wil ek eers geluk sê. Nou sal ek glad nie rus voordat jy my nie belowe het dat ek en jy in die toekoms gaan saamwerk nie. Jy móét voltyds by Günther aansluit.”
Sy laat toe dat hy haar uit haar stoel optrek en die bruin oë kyk hom vol ongelowige vreugde aan. “Is my sketse werklik goed, Raul? Jy sê nie maar sommer …”
“Nee. Ek sê nie maar sommer nie. Hulle is goed. Báie goed. Mag ek jou gelukwens?”
Voordat sy heeltemal snap wat hy bedoel, het hy haar nader getrek, en vir die eerste keer in jare voel Wena Conradie ’n man se lippe hare aanraak. Hy soen haar baie sag, baie teer. Maar dan trek hy haar styf teen hom aan, en sy lippe dwing hare om hul passiwiteit te verloor. Vir die eerste keer in byna vyftien jaar ontvang – en gee – sy ’n minnaarskus.
Hoe lank hierdie soen sou aangehou het, weet nie een van die twee nie. Maar dit word skerp onderbreek deur ’n uitroep agter hulle. Wena staan versteen terwyl Raul vinnig omswaai.
Daar is verstarring in die oë van die jong meisie in die deur. “Dan is dít wat al die tyd aan die gang is!” Sy stap nader, en met elke tree wat sy gee, word haar houding vyandiger, die blou oë soos twee sweisvlamme in haar wit gesig. “Preek vir my, nè, my liewe Mams! Vertel my ’n vrou maak haar nie goedkoop nie. En al die tyd ontvang jy my vriend agter my rug in jou huis!”
“Amanda!”
Sy swaai soos ’n katwyfie om na hom. “En jy, meneer die groot modebaas en Don Juan, wat tog so begaan was as ek net iets teen my ma sê. Natuurlik! Alles is nou baie duidelik. En sy …” Daar is haat en veragting in die blik wat na haar ma keer, en Wena krimp weg voor haar dogter se vernietigende beskuldiging. “Skielik nuwe rokkies en lipstiffie en oogskadu en … En jy preek vir mý? En al die tyd is jy besig om jou eie dogter in die rug te steek, doelbewus haar kêrel af te vry. Wat ’n ma! Wat ’n ma om te hê!”
“Amanda, ek sal nie