Ena Murray Omnibus 23. Ena Murray
ek …”
“Asseblief! Ek smeek jou. Gaan eers, asseblief.”
Hy kyk strak in haar oë af, dan na die dogter. Met ’n kragwoord tel hy die sketse van die bank af op en stap uit.
Dis doodstil in die vertrek nadat sy motor se dreuning vervaag het.
Wena probeer haar dogter moedig in die oë kyk. “Mandatjie, luister …”
“O nee, nie weer nie. Mandatjie laat haar nie weer aan die neus rondlei nie. Dit het lank genoeg gebeur.”
Wena verbleek. “Glo jy dit werklik van my, my kind? Ken jy my as ’n goedkoop vrou, Amanda?”
Daar is ’n effense weifeling in die blou oë, maar haar stem is kil. “Nee, maar … ek kon my nog al die jare met Ma misgis het.”
“Twintig jaar? As ek ’n gemene, agterbakse, slegte vrou was, sou jy dit eers vandag ontdek het?”
Amanda kyk weg, en haar stem verraai dat die trane naby is. “Maar wat ek vandag gesien het, is iets … is iets wat ek nie gedroom het ek ooit sou sien nie.” Sy sien haar ma se oë voor hare weifel en weer stu die woede en vernedering in haar op, slaan sy genadeloos toe. “Raul het die afgelope tyd baie verander. Nou weet ek dis sedert Ma op die toneel verskyn het. Maar wat hy in Ma sien … ’n vrou met grys hare … O, ek sal julle nooit vergewe nie. Geen ma kan gemener en laer optree nie. Skynheilig! Dis wat Ma is!”
“My kind, asseblief, gee my net ’n kans om te verduidelik …”
“Wat te verduidelik? Hoe julle al die tyd besig was om my in die rug te steek en agteraf vir my te lag? Maar ek sal nie so seker van myself wees as ek Ma is nie. Dink Ma werklik hy stel belang? In ’n vrou soos Ma? Oud en grys al, haar beste jare verby, met allerhande geraamtes in haar verlede en boonop vasgeval in hierdie armsalige deel van die stad?” Sy lag skel. “Arme Ma! Ek behoort jou jammer te kry. Jy is ’n sot soos ek een is! Ons albei word net gebruik vir wat hy uit ons kan kry …”
“Hoekom sê jy so?”
“Vir my kan hy gebruik as mannekyn. Ek is ’n bate vir sy besigheid. En Ma … Wel, ek dink hy vind dit seker aardig dat ’n vrou van veertig soos ’n bakvissie verspot raak oor hom. Hy het seker verveeld begin raak met al die jong meisies wat so om hom draai. Dis ’n groter oorwinning om ’n vrou van Ma se jare verlief te maak.”
“Amanda, my kind, dit is nie soos jy dink nie. Daar is niks aan die gang tussen my en Raul Günther nie. Soos jy self gesê het, is dit verspot om net daaraan te dink. Waarom sal ’n man soos hy in ’n vrou soos ek belang stel? Ek is nie so dwaas om vir een oomblik te dink dat hy ooit in my sal belang stel nie.” Die bruin oë is stil, baie stil op haar dogter gerig. “Wat meer sê, my kind. Ek en jy weet mos albei dat daar nooit iets van kan kom tussen my en enige man nie. Dink jy ek sal met oop oë vir my ’n hel skep?”
Daar is nou openlike onsekerheid en twyfel in Amanda se blik. Dan verander haar houding. “Maar hoe is dit dan dat ek vir Raul hier by ma betrap het terwyl hy Ma soen? Wat ís dan aan die gang?”
“Ek sal jou vertel. ’n Rukkie gelede het hy my gevra om vir hom ’n paar ontwerpe te doen. Bloot eksperimenteel. Kan hy dit gebruik, goed. Kan hy nie, dan is dit ook tot daarnatoe. Ek het toe ingestem en vandag het hy die sketse kom haal en …”
Haar dogter se oë is groot en rond. “Ma het my niks hiervan vertel nie.”
“Nee, ek het nie. Ek wou dit as ’n verrassing vir julle hou, dis te sê as hy dit goed sou vind. As die teenoorgestelde sou gebeur, sou ek julle nooit daarvan vertel het nie. Dit sou nie saak gemaak het nie.”
“Raul sal Ma net vra as hy weet dat daar iets in steek.” Sy lag half verdwaas. “Dis ’n groot eer om vir Günther te ontwerp.”
“Ja, ek besef dit, my kind. Daarom dat ek maar eers stilgebly het. Ek wou nie dinge opjaag voordat dit nie werklikheid is nie. En vandag het hy toe daarna gekyk en hy was ingenome, sommer baie ingenome daarmee. Só ingenome dat hy my net daar gelukgewens het met ’n soen. En toe het jy verskyn.” Weer kyk die stil-bruin oë baie vas in die bloues. “Dis hoe dit gebeur het en dit was al, my kind. Werklik al.”
Amanda swaai haar hande in ’n magtelose halfsirkel. “Dan … dan is ek jammer, Mams. Ek het natuurlik nie kon droom dat dit bloot besigheid is nie. Ek … het seker te gou tot gevolgtrekkings gekom. In my agterkop het ek besef dat daar êrens darem seker ’n verklaring moet wees. Ek bedoel maar … Ma en Raul … Dit is belaglik.”
Die moeder knik, glimlag, maar steeds is die oë baie stil. “Ja, my kind. Dis regtig belaglik.”
Amanda draai om. “Nou ja, ek moet waai. Ek het my handboek hier vergeet, en ek móét dit hê vir ’n lesing vanmiddag. Sien Mams weer later.”
Sy wuif by die deur en verdwyn dan, en Wena bly alleen agter. Sy staan nog lank baie stil nadat die voorhekkie se bekende kraakgeluidjies reeds weggesterf het.
Daar is geen teken van woede of selfversekerdheid in Amanda toe sy later die dag die grootbaas van Günther se kantoor binnestap nie. Sy lyk, om die waarheid te sê, soos ’n bang kind toe sy voor die lessenaar gaan staan en in sy koel, streng gesig afkyk.
“Raul, ek het net kom sê ek is … jammer oor … vanoggend.” Sy byt hard op haar onderlip toe daar geen teken van versagting by hom kom nie. “Ek … was te haastig … Ek is regtig jammer.”
“Jy hoef nie vir my om verskoning te vra nie. Jy is dit aan jou ma verskuldig, nie aan my nie.” Die oë is kil en krities. “Die dinge wat jy aan haar gesê het, is onvergeeflik. Ek het nie afgeluister nie. Jy het so geskreeu dat ek jou tot by die motor kon hoor.”
Die blonde koppie sak vooroor. “Ek is jammer. Ek het haar dit ook gesê. Ek weet ek het lelike, onware goed vir haar en van haar gesê. Ek weet nou wat het aanleiding gegee tot … wat ek gesien het. Mams het my vertel.”
“Wat het sy jou vertel?”
“Dat sy vir jou ’n paar ontwerpe gedoen het en dat jy dit baie goed gevind het en haar toe maar net met ’n soen gelukgewens het. Ek … het nie daarvan geweet nie. Sy het my niks vertel nie, en … O, Raul, moenie so hard wees nie. Jy is haatlik deesdae!”
“Is ek? Miskien is dit maar net dat ons mekaar nou eers werklik leer ken, Amanda. Ek vind jou weer deesdae onuitstaanbaar selfsugtig, onbeheers en kinderagtig.” Sy stem en sy oë is op hierdie oomblik net so genadeloos soos hare vanoggend was. “En daardie drie dinge gaan jou hele toekoms verwoes as jy nie nou begin grootword nie. Begin gerus tuis daarmee, by jou ma. Sy het ’n buitengewone talent vir ontwerp, en sy kan baie goed doen daarmee as sy wil – en as haar dogter haar die sukses gun. Ek het haar reeds ’n vaste betrekking by Günther aangebied en ek hoop van harte sy sal dit aanvaar. Maar ek is bevrees …”
“Wat bedoel jy? Natuurlik sal Mams gryp daarna.”
“Ja, maar sal haar dogter toelaat dat die son ook nou ’n slag op haar ma begin skyn?”
“Raul!”
“Jy is selfsugtig, Amanda. Jy wil alles net vir jouself hê. Jou ma was nog nooit ’n mens in jou oë nie. Sy is net daar om die lewe vir jou gemaklik te maak. En vir jou mooi klere te maak. Sy is net vir jou ’n noodsaaklikheid, nie ’n vrou wat dieselfde dinge van die lewe mag verwag as wat jy verwag nie. Maar jou ma is ’n mens soos jy. Sy het ook verlangens en begeertes, nes jy. Sy is ’n vrou en sy lewe, nes jy. Maar in jou oë was sy tot dusver net ’n ding wat geen reg het op ’n plekkie in die son nie …”
“Dis nie waar nie!” fluister die jong meisie geskok, maar dis ’n ander Raul Günther wat sy vandag leer ken, ’n man wat skielik sonder enige sagtheid of genade kan wees.
“Dit is waar, en jy weet dit. Wel, van nou af gaan jou ma ook haar regmatige stukkie sonskyn in die lewe kry. Die talent wat sy ontvang het en wat sy nog al die jare net op jou uitgestort het, gaan nou ontwikkel en bloei. Jou ma gaan ’n mens uit eie reg word, los van haar kinders. Ek gaan toesien dat dit gebeur … en as jy enigiets