Ena Murray Omnibus 23. Ena Murray
jy nie? Jy gaan beslis in die toekoms rede hê om jaloers op haar te wees as jy nie van jou selfsug ontslae raak nie. Ek het alles in jou ma gevind wat jy tot dusver nog nie het nie, Amanda. Sy is die onselfsugtigste mens wat ek nog leer ken het. Sy is die mees beheerste en mees volwasse vrou wat ek in ’n lang tyd die eer gehad het om te ontmoet. Dis dinge wat jy gerus by haar kan gaan leer. Daar wag vir jou ’n groot toekoms as mannekyn, maar tot dusver hang daar nog ’n groot vraagteken daaroor. Oor jou ma se toekoms hang daar vir my geen vraagteken nie.”
Amanda is doodstil. Sy staar hom net aan, en hy vervolg kalm en saaklik: “Jy gaan van môreoggend af oor na die onderbestuurder se kantoor. Een van sy dames het bedank en ek skuif jou oor na hom toe.”
“Jy … jy vat my weg uit jou kantoor?”
“Ja.”
“Raul, nee!”
Hy staan op, sy stem waarskuwend. “Amanda, ék is die baas hier. As jy jou nie by my besluite gaan neerlê nie, moet jy vir jou ’n baas gaan soek wat jy kan rondbeveel. Hier gee ék die bevele. Jy begin môreoggend in meneer Duvenhage se kantoor. Dis afgehandel. Jy kan maar gaan.”
Wena voel onmiddellik die spanning in haar opstu toe haar dogter laat die middag tuiskom. Amanda se breë glimlag bluf haar glad nie. Maar sy probeer nie delf nie. Sy weet intuïtief daar het iets op kantoor gebeur en hoewel sy nuuskierig en bekommerd is, keer iets haar om uit te vra.
“Ek wil Mams gelukwens met Mams se wonderlike prestasie.” Sy gee haar ’n soen. “Raul lyk baie in sy noppies. Ek brand van nuuskierigheid om die sketse te sien.”
“Ag, dis regtig nie so vreeslik wonderlik nie, my kind.”
“Raul sal nie voorgee nie, Mams. Hy is baie reguit.” ’n Skaduwee gly oor haar gesig, maar dan helder dit weer op. “Hy het my vertel dat Mams nou permanent vir Günther gaan werk. Dis fantasties!”
Wena se blik huiwer. “Ek … het nog nie finaal besluit nie.”
Haar dogter kyk haar ongelowig aan. “Mams dink tog nie daaraan om dit van die hand te wys nie!”
“Ek weet nie, my kind. Ons sal maar nog sien.”
Amanda aarsel, kyk dan ernstig op. “Mams, ek hoop nie dis omdat ek vanoggend … O, asseblief, Mams, vergewe my vir vanoggend. Ook vir die baie ander kere wat ek lelik met jou was. Ek is jammer ek is so onbeheers en … kinderagtig. Maar ek is nie regtig selfsugtig nie. Ek gun Mams alles, alles moontlik. Ek is só trots op Mams. Asseblief, neem Raul se aanbod aan.”
Wena aarsel. “Mandatjie, ek wil nie sommer in ’n ding instap wat ek miskien nie suksesvol sal kan deurvoer nie. Ek moet eers daaroor dink.”
“Maar Mams wíl tog graag ontwerp, nie waar nie? En die geleentheid om dit vir Günther te doen … Dis ’n unieke kans!”
“Ja, ek weet, my kind, maar …” Sy swyg. Hoe kan sy aan haar kind vertel dat haar hart brand om hierdie aanbod te aanvaar, maar dat haar verstand haar waarsku dat sy dit liewer moet laat verbygaan? “Ons praat maar weer later daaroor. Laat jou Raul maar eers my sketse goed bestudeer en besluit of daar werklik iets in steek.”
Amanda se gesiggie val. “Hy is nie meer mý Raul nie, Mams.”
Wena sien die blou oë met trane vul en haar hart wil breek. “Hy … hy het my vandag verskuif na die onderbestuurder se kantoor.” Sy sluk swaar. “Hy het vreeslik met my baklei, vreeslike goed vir my gesê. Miskien is hy reg, Mams. Ek … weet ek het geen selfbeheersing as ek kwaad word nie, en ek weet ek is seker soms selfsugtig, maar … ek is nie so sleg soos wat hy gesê het nie. Ek ís lief vir Mamma en ek ís vreeslik bly oor hierdie nuwe ding en ek wil hê die son moet op Mamma skyn … Glo Mamma my?”
Wena trek haar dogter hartseer teen haar vas. As Amanda haar Mamma begin noem, weet sy dat dit diep seer is, dat haar dogter baie stukkend van binne is. “My skat, natuurlik weet ek al hierdie dinge, en natuurlik is jy nie sleg nie. Waar kom Günther daaraan?”
“Hy was vreeslik kwaad. Ek het hom nog nie so gesien nie. Hy was heeltemal anders. Asseblief … Mamma moet hierdie aanbod aanvaar, anders sal hy weer dink dis ék wat iets daarmee te doen het.”
Sy streel die blonde hare en sê: “Moenie jou verder bekommer nie, my skat. Ek en hy sal mekaar wel goed verstaan, of ek die aanbod aanvaar of nie. Dis ék wat moet besluit. Net ek. Raul Günther sal nie vir my besluit nie.”
8
Haar bruin oë het weer daardie stil uitdrukking toe Raul Günther die volgende dag binnestap. Hy sien dit onmiddellik raak, ook dat daar vandag geen spontane vreugde en verwelkoming is nie, en iets verstil ook in hom.
“Goeiemiddag. Sit gerus.”
Daar is ’n merkbare verstrakking in hom by die aanhoor van haar formele stemtoon en hy neem vinnig plaas.
“Ek veronderstel jy het kom hoor of ek jou aanbod aanvaar.”
“Nee, glad nie. Dit is net logies en vanselfsprekend dat jy dit sal aanvaar. Daar is nie ’n kans dat jy daarteen kan besluit nie.”
’n Oomblik is sy stil. “Ek is bevrees dat jy die bal misslaan. Dankie vir die aanbod – maar ek neem dit nie aan nie.”
“Wena!” Hy spring op, kyk haar verbysterd aan, draai half weg. “Magtig!” Hy draai terug, en vir die eerste keer sien sy Raul Günther se oë blits. “Ek sal nie toelaat dat jy jouself langer opoffer …”
“Dis nie vir jou om dinge in my lewe toe te laat of nie toe te laat nie, meneer Günther. Ek besluit self daaroor.”
Hy is totaal onkant betrap. “Jy is vyandig. Jy is waaragtig vyandig teenoor mý!” Sy stem is skor. “As ek jou nie beter geken het nie, sou ek amper nou kon dink jy is kleinlik en kinderagtig.” Haar kop ruk omhoog, maar sy antwoord nie en hy gee ’n tree nader, ’n wit kring om sy mond. “Jy is al weer besig om agter jou dogter te skuil.”
“Amanda het niks met my besluite te doen nie. Sy wil baie graag hê dat ek jou aanbod moet aanvaar, maar ék wil nie.”
“O, jy wil nie. Gee my een enkel rede hoekom nie?”
“Ek het nie nodig om redes te verskaf nie. Dit staan my vry om ja of nee te sê. En ek sê nee.”
Sy oë vernou. “Jy, Wena Conradie, is ’n lieflike vrou met lieflike karaktertrekke wat jou uiters beminlik maak. Maar een ding het jy nie. Jy het nie moed nie. Jy, dierbare engel van ’n mens, is te lafhartig om die waarheid in die oë te kyk. Jy dink jy hardloop van my af weg, maar dis van jouself wat jy probeer weghardloop. Maar met jou ervaring van die lewe behoort jy so goed soos ek te weet dat jy net so min van jouself kan weghardloop as wat jy van jou eie skaduwee af kan wegkom.”
“Jy … Ek weet nie waarvan jy praat nie. Feit is …”
“Jy weet presies waarvan ek praat en wat meer is, jy weet ek praat die waarheid. Nee, moenie wegdraai nie.” Hy gryp haar skouers vas en draai haar terug, sy oë uitdagend: “Kyk in my oë en sê weer jy weet nie waarvan ek praat nie.”
Daar is ’n diep onrus in haar bruin oë, maar uiterlik vertoon sy kalm en waardig, hoewel sy oorbewus is van die bewing in sy vingerpunte op haar skouers.
“Ek is nie bereid om die saak verder te bespreek nie, meneer Günther. My antwoord op jou aanbod om vir Günther te ontwerp, is nee. Daar is niks verder wat ek vir jou te sê het nie, net …”
“Ja, mevrou Conradie?”
“Ek sal dit waardeer as jy nie weer hierheen sal kom nie.”
Sy asem ruk hoorbaar en ’n oomblik maak sy vingers haar seer. Dan trek hy sy hande vinnig terug, prop hulle in sy broeksakke en ook sý oë verloor alle uitdrukking.
“Soos jy verkies, mevrou. Sê my net … Ek vra dit bloot uit nuuskierigheid. Gaan die verbleikte rokkies en skewe skoentjies nou weer terugkom?”
Sy