Ena Murray Omnibus 23. Ena Murray
Die ouer vrou glimlag net. Maar jy is die stukrag agter alles, sê sy aan haarself.
“Ek wil egter haar moeder ook komplimenteer. As ek persoonlik mag wees … U is besonder knap met naaldwerk en wat my veral boei, is u ontwerptalent.” Hy glimlag vriendelik. “Amanda het my vertel wie die skepper is van die meeste van haar klere.”
“Ag, ek geniet dit om vir haar klere te maak.”
“Dis nie net bloot klere maak nie, mevrou. Besef u dat u ’n besonderse talent het?”
Sy kyk hom stil aan en haar gedagtes gaan terug na toe sy nog jonger as Amanda was. Toe is daar ook vir haar vertel dat sy ’n besonderse talent ontvang het, dat sy dit moet ontwikkel, dat sy dit ver gaan bring. En sy het haar drome gedroom, groot drome. Maar toe …
“Het u enige opleiding ontvang?”
“Nie juis nie. Daar was ’n onderwyseres … Ag, nee wat, ek doen dit maar sommer, eintlik net vir Amanda.” Sy glimlag weer teenoor haar dogter. “Sy inspireer ’n mens om vir haar mooi klere te wil maak, dis al.”
Maar Raul Günther se gesig bly ernstig. “Dis nie al nie, mevrou. U dogter is ’n gebore mannekyn en u is ’n gebore ontwerper.”
Sy lag en skud haar kop. “Ag nee, nou oordryf u darem.”
Amanda se oë blink dankbaar in haar moeder s’n. Die ontmoeting verloop wonderlik! “Raul, Mams is maar net beskeie. Jy moet sien wat sy uit ’n stuk goedkoop materiaal kan tower. Sy vermors haar talent op mense wat geen begrip het van haar waarde nie. Ek word soms so kwaad …”
“Dan maak u klere vir ander mense ook?”
Daar is ’n oomblik stilte. Die moeder sien die effense skrik in haar dogter se oë en sy begryp, knik skaars merkbaar asof sy haar dogter die versekering wil gee dat sy nie hoef bang te wees nie. “Ja, meneer. Sommer vir die … buurvrouens.”
“Gelukkige dames,” is sy kommentaar. “Is dit hoe u uself besig hou ná u man se dood?”
“My man …?” Die gesig verstil, die oë versluier. “Ek doen dit al van skooldae af. Maar ek het eers daarmee begin nadat … nadat ek en my kinders alleen agtergebly het.” Sy aarsel, erken dan sag: “Ek moes.”
Die blou oë rus skerp op haar. Dan knik hy. “Ek sal graag weer met u wil gesels oor hierdie talent van u. As u nie omgee nie?” Sy knik net, aanvaar die modebaas is maar net beleefd. Sy weet maar te goed hoe gebrekkig dit is wat sy doen.
“Ons het vandag ontmoet om oor Amanda te praat. Ek verwag baie van haar, maar ek wou nie dat sy voortgaan voordat ek nie eers met u gepraat het nie. U is haar moeder en sy is nog baie jonk.”
“Ja, meneer Günther. Amanda is nog baie jonk – eintlik nog ’n kind.”
“O, Mams, julle maak asof ek nog ’n baba is,” sê Amanda vies.
“Jy ís jonk, Amanda,” val hy haar beslis in die rede. “Dis nie ’n feit wat verdoesel of weggepraat kan word nie. Ek begryp hoe jou ma voel.” Sy oë is ernstig. “Ek begryp hoe u voel, mevrou. Ek wil u belowe dat u niks te vrese het nie. Ek respekteer haar en u en ek sal altyd my bes doen om Amanda te beskerm en die regte leiding te gee. Ek is bewus van die slaggate wat op haar wag, maar ons mag haar nie daarom van ’n wonderlike toekoms beroof nie. So sal niemand ooit êrens kom nie, of hoe? Ek wil u vra om my te vertrou, asseblief.”
Sy kyk stil terug. Wat kan sy sê? Hy het dit so goed gestel. Sy woorde is so fyn gekies dat sy nie anders kan as om saam te stem nie. Maar die vrees in haar is nie deur hierdie paar goedgestelde sinne besweer nie. Inteendeel.
Sy druk haar handpalms styf op haar skoot inmekaar. “Solank u net altyd sal onthou dat sy my enigste dogter is en …”
“Ja, mevrou?”
“En dat sy vir my baie kosbaar is, meneer Günther.”
“Ek begryp, mevrou. Sy is ook kosbaar vir my.”
Langs hom roer Amanda met jeugdige ongeduld. “Regtig, Mams, ’n mens sou sê ek is ’n suikerklontjie. Op ’n dag moet ek tog die lewe ingaan en my eie pad oopveg. Ek kan nie vir altyd aan Mams se roksbande vasklou nie!”
“Ek begryp heeltemal wat jou ma bedoel, Amanda,” sê Raul Günther, sy oë op die vrou voor hom. “En sy is reg. Volkome reg. Sy sou nie die ma gewees het wat sy is as sy nie bekommerd oor jou was nie. Ek is óók bekommerd oor jou.”
“Raul! Hoe kan jy so iets voor my ma sê?”
Hy glimlag gerusstellend teenoor die ontstoke gesiggie. “Toe maar, kleintjie. Ek en jou ma verstaan mekaar, dink ek.” Hy glimlag oor die tafel. “Ons twee verstaan mekaar.” Hy blik na sy polshorlosie, en sy stem klink werklik spytig. “Ek sal moet gaan. Ek het ’n afspraak. Ek wens ons kon nog langer gesels, maar u sal my moet verskoon, asseblief.”
“Sekerlik, meneer Günther.”
Hy staan op, hou sy hand uit en sy lê hare daarin en voel hoe dit warm en styf toegevat word. Sy vind dit skielik moeilik om in die begrypende oë op te kyk.
“Tot siens, mevrou. Nogmaals dankie vir die tyd wat u aan my afgestaan het. Dit was ’n voorreg om u te ontmoet. Ons sal weer later gesels.”
“Tot siens, meneer Günther. Dankie vir die ete.”
Sy sien hoe haar dogter hom met haar oë volg terwyl hy uitstap en haar hart krimp weer saam. As sy net nie so onervare was nie! Maar sy is verlore teen ’n man soos Raul Günther. Heeltemal verlore. Hy kan met haar maak wat hy wil. Hy kan haar maak of breek. Hy kan haar gebruik soos hy wil en weggooi wanneer hy wil. Amanda is absoluut en totaal versonke in hierdie man.
Sy kyk af op die kunstige rangskikking in die middel van die tafel. Haar kind is net so broos en kwesbaar soos hierdie blomkelkies voor haar. En so kosbaar. Sy probeer haarself troos. Raul Günther het tog openlik erken dat hy haar net so kosbaar vind. Sal ’n man dít wat vir hom kosbaar is, skend of selfs vernietig?
Met die wysheid van jare weet sy dat die antwoord daarop ja kan wees. Dikwels skend en vernietig die mens juis dít wat vir hom die kosbaarste is. So dikwels trap ’n mens op dit wat eintlik jou kosbaarste besitting is. So dikwels hanteer jy die broosste en mooiste in jou lewe met harde hande, breek dit selfs met ongeërgde vingers. Sy weet. O ja, sy weet …
“Wat dink Mams van hom? Hy is fantasties, nè?”
Sy kyk op, haar gesig stil, weemoed diep agter in die bruin kykers. “Ja, my kind, hy is … indrukwekkend.”
“Indrukwekkend!” Haar dogter lag haar uit. “O, Mams, jy kan ’n ding soms so snaaks sê! O, wel, dis verby en dit het nogal besonder goed afgeloop, nè?”
Wena glimlag weer, knik net. “Ja, my kind.” Maar was dit werklik so suksesvol? Wat is eintlik gesê? Hoe goed hét sy en hierdie vername man mekaar werklik begryp? ’n Paar woorde is gewissel, ’n belofte is afgelê – maar hoeveel is dit werd? Ook dít ken sy, die beloftes wat so maklik gemaak word. En so maklik vergeet word. In die erns van die oomblik word dit miskien opreg bedoel. Maar later … Sy ken dit. Daar was ook al baie beloftes aan haar gedoen. Sy onthou …
“Amanda, hoekom het jy vir meneer Günther vertel dat jou pa dood is?”
Haar dogter bly eers skuldig stil. Dan kyk sy uitdagend op. “Hoe kon ek hom die waarheid vertel? Verwag Ma werklik …”
“Nee, my kind. Maar doelbewus ’n leuen daaroor vertel? Mandatjie, sulke dinge kom uit.”
“Dan kan dit later uitkom, as dit moet. Nie nou al nie.” Sy kyk pleitend op. “Asseblief, Mams, dis nie nodig dat hy moet weet nie. Dit het tog niks met hom te doen nie. Wat maak dit saak?”
Wat maak dit saak … terwyl jou lewe reeds om hierdie man draai, vra sy haar in haar hart af, maar sug net saggies. Sy verstaan. Amanda se stem ruk haar gedagtes weg van die brandpyn in haar.
“Hier kom Raul weer. Hallo.