Dokter Dierbaar. Anita du Preez
heks wees nie! Ek wou Sneeuwitjie gewees het!” sê sy.
Die woorde glip onverwags uit haar keel. Oombliklik wens sy dat sy hulle kon terugsluk. Waar op aarde het dít vandaan gekom? Sy deel nooit dié ongelukkige brokkie persoonlike geskiedenis met ander nie.
Nee, o heng, hier moet sy wegkom. Hierdie man se oë mis niks. Sy maak haar mond oop om haar flater toe te smeer met ’n kwinkslag oor tydelike waansin of so iets, maar toe sy na hom opkyk, is sy skielik sommer net woedend. Om sy mondhoeke sweef die oorblyfsels van ’n glimlag en in sy oë is daar sweerlik ’n fyn geamuseerde vonkeling.
Skielik is Vicky die ene Victoria. En Victoria Serfontein is niemand se grap nie. Sy staan so waardig op as wat haar een-punt-sewe lyf dit toelaat. Nou het sy mos genoeg gehad, besluit sy vies. Sy moes na Doll geluister het.
“Jy gaan ’n yslike krater van jouself maak, hoor wat ek vandag vir jou sê,” was Doll se woorde laat gisteraand.
Sy steur haar gewoonlik nie aan Doll se knaend vrypostige en uitgesproke opinies nie, maar Doll was hierdie keer reg, erken sy knorrig. Waarvoor wil die vervlakste vent weet hoekom? Dis tog háár saak as sy hom wil betaal om aan haar neus te werk, dan nie? Daar is niks fout met haar psige nie, net met haar neus.
Sy trek haar oë dreigend nouer en roep die koudste stem in haar repertoire op. “Totsiens, dokter Venter. Dankie vir jou tyd, maar nee dankie. Ek sal tog nie van jou dienste gebruik maak nie. Miskien was my motiewe tog twyfelagtig. Dit het so pas vir my duidelik geword presies hóé oppervlakkig die idee van kosmetiese chirurgie eintlik is. Ek kan skaars glo ek het dit oorweeg. My fout. Jammer.”
Toe stap sy so fier as wat haar ma se geliefkoosde koningin haar nie sou kon nadoen nie, uit sy spreekkamer. Haar laaste indruk van dokter Venter is sy verbaasde wenkbroue wat skielik soos twee donker vraagtekens hoog teen sy voorkop sit.
Wie de joos dink jy is jy, jou verwaande, arrogante buffel? stoom sy in haar gedagtes terwyl sy die trappe aftrippel na haar motor in die ondergrondse parkeerruimte. En om te dink sy het daar gesit en swymel oor die vent!
Sy klim in haar verbleikte rooi Mazdatjie. Sy ruk die hefboom woes in trurat en gee vet terwyl sy boosaardig in haar truspieël ’n syaansig probeer kry van die deel van haar anatomie wat verantwoordelik is vir hierdie hele petalje. Sy swaai die stuurwiel net ’n aks te gou en word luid begroet deur die sieklike, knersende klank van staal op staal.
Victoria vries en die Mazda sterf rukkend.
Sy kyk skigtig om haar om vas te stel wie het dit gesien. Uit die hoek van haar oog vang sy ’n stomp mannetjie wat met flappende geel plastiekvoorskoot-affêre en swaaiende arms aangehobbel kom. Die veiligheidswag. Haar moed sak in haar nuwe stiletto’s wat sy verniet aangetrek het om die dokter darem ’n bietjie te wys sy weet van.
Die mannetjie loer by haar ruit in. Die twee voortande wat in ’n grynslag ontbloot is in sy molgesiggie, vertel haar hy is paraat en beslis nie van plan om hierdie bietjie sensasie in sy saai daaglikse ondergrondse bestaan by hom te laat verbygaan nie.
“Kên aai jêlp ju, laidie?” sê hy.
“Het jy pen en papier?” vra sy moedeloos.
Hy pluk ’n voosgevatte ou skoolnotaboekie met lyntjies uit, skeur ’n blaaitjie af en bied dit triomfantelik vir haar aan saam met ’n geel potloodstompie. Victoria skryf haar naam en adres daarop en gee dit vir hom.
“Ek sal sorg dat die eienaar van die Lamborghini dit kry,” sê die belangrike mol.
Asof daar ooit enige twyfel daaromtrent was, dink sy wrang. Toe tref dit haar. Lamborghini?
Sy kyk vir die eerste maal na die motor langs haar. Daar staan die plat, spierwit kunswerk van ’n vuurwa. Iets so na aan perfek dat selfs haar Renier tevrede sou wees. Afgesien van die drie lang skaafplekke, diep genoeg dat die silwer onder begin deurslaan, wat soos wonde mooi netjies al teen die sykant af lê.
Net daar besef Vicky dat die ou polissie wat haar pa vir haar uitgeneem het toe sy omtrent net gebore is, nie meer gaan betaal vir haar nuwe neus nie.
Vicky is byna verbaas dat haar beknopte woonstelletjie nog presies dieselfde lyk as toe sy vanoggend hier uit is. Die bed in die een hoek lê nog net so onopgemaak vir haar en kyk. Die rekenaar in die oorkantste hoek knor nog net daar op die wankelrige tafeltjie en het skynbaar nie ’n saak met die trauma wat sy so pas deurgemaak het nie. Die verslete ou tweedehandse blou rusbank staan nog onverstoord waar hy altyd staan voor die venster met die halfmasgordyne. Al die uitrustings wat sy aangepas het, lê steeds oral rondgedrapeer en het nog nie vanself in haar lendelam hangkas teruggespring nie. By die opwasbakkie in die hoek, wat as die kitchenette bestempel is in die koerantadvertensie wat haar genooi het om die plekkie te huur, wag gisteraand se skottelgoed rustig net so vuil vir haar.
Elke keer as Vicky van iewers af terugkom, tref die onreg hiervan haar opnuut.
“Jy doen die kinders nie ’n guns om so agter hulle op te tel en skoon te maak nie, my vrou,” was haar pa se wyse voorspelling. “Die dag as hulle vir hulleself moet sorg, gat hulle aftjop, sê ek jou nou.”
Aftjop is omtrent wat sy en Heinrich doen.
“Veral Boeta, daar ver in Ingeland,” het haar pa lekkergekry. “Ek wil nog sien hoe hy gaan regkom met ’n kokery met daai twee stomp handjies van hom. Om van Miss Victoria en haar plannetjies om Kaap toe te gaan nie eens te praat nie.”
Hy het ’n punt beetgehad, dink Vicky terwyl sy met ’n sug verklee en toe begin opruim. Hoe de joos ’n mens ’n werk moet vol staan én jou blyplek perfek hou, is ’n geheimenis wat nog vir haar onopgeklaar bly. Om van werk krý sodat jy kan oorleef nie eens te praat nie. Op hierdie stadium sal sy enige werk vat. Die regte werk in die joernalistiek waarvoor sy opgelei is, sal kom, dit weet sy, maar intussen klop sy oral aan. Ontvangsdame, kelnerin,vryskutmodelwerk – sy sien kans. Solank dit tydelik is en solank dit goed betaal.
Hoewel sy duidelik kan sien die liggie flits nie, druk sy hoopvol in die verbystap die knoppie op haar duur antwoordmasjien. Sy moes dit noodgedwonge aanskaf ingeval Fresh Faces ’n boodskap wou los ná haar laaste oudisie.
Nou ja, suster, sê sy vir haarself, jy het geweet dit gaan nie oornag gebeur nie. Topposte vir joernaliste is geplant en nie gesaai nie. Wees liewer net tevrede dat jy nog hier en daar werk kry.
Sy is nog besig om haar klere op te hang en haar swart uitrustinkie vir die aand se geluk van ’n joppie by ’n klub in Langstraat reg te sit, toe haar deurklok lui. Vicky sien sommer deur die dik melkerige riffelglaspaneel in haar voordeur dis Doll.
“Ja, jong,” groet sy haar buurvrou.
“Ag, en joune ok,” sê Doll en skuur met haar formidabele buuste by Vicky verby.
Sy sien hoe Doll se helderblou ogies die toestand van haar woonstel opsom voor sy deurstryk wasbak toe.
“Not good, hû?” sê Doll met haar hande in die seperige water.
“Ek is mos besig om skoon te maak,” sê Vicky verdedigend.
“Praat van jou afspraak by die plastic surgeon, bobbejaan,” sê Doll en vee ’n stuk van haar styfgepermde bottelblonde hare met ’n nat hand uit haar oog. “Jou hele body language skree vir my dit was nie exactly ’n suksesvolle trippie nie.”
“As dit maar al was,” knor Vicky, min lus vir die bedienery wat nog vanaand voorlê.
Al is The Club hoe duur en baie eksklusief, dis steeds nag vir ’n girl se voete. Vir jou mond ook eintlik. Die permanente glimlag tot voordag toe is moordend, om die minste te sê. Veral as jy voor jou siel weet die leeueaandeel van jou fooitjies sal seker nou in die sak van ’n peperduur paneelklopper beland.
Doll bekyk haar onder yl wimpertjies deur en skakel die ketel aan.
“Dè,” sê sy en stop ’n beker sterk tee in Vicky se hand.
Sy plak haar aartappel-op-twee-stokkies-lyfie met ’n sug op die rusbank neer, skop haar rubbersloffies uit en tik met ’n pofferhandjie op die pap kussing langs haar.