Dokter Dierbaar. Anita du Preez
speel saam.
Vicky het nog nooit juis omgegee nie. Sy hou gewoonlik van die geraas, want dit laat haar weet sy is nie regtig alleen op die aardbodem nie. Dit laat haar beter voel om te weet duisende ander rondom haar in die stad is ook maar daar onder iewers aan’t woelt om verandering, soos tante Nonnie graag die ou gesang aangehaal het.
Vandag is sy egter nie so seker of sy nie dalk al meer as haar daaglikse porsie verandering in die gesig gestaar het nie. Die vorige dag se spul gebeure staan tou by die poorte van haar bewussyn om eerste in te kom, terwyl haar liggaam sukkel om by te hou. Sy slof badkamer toe en skakel die ketel in die verbygaan aan.
Gisteraand se tweehonderd-en-dertig rand aan fooitjies gaan nie juis ’n gat maak in die regmaakkoste van ’n Lamborghini nie, is die gedagte wat die botoon voer terwyl sy haar eerste sluk koffie vat. Die gedagte dat sy haar enigste neseiertjie daarvoor sal moet gaan trek, maak haar sommer naar op die maag. Sy sleep ’n kombers nader en krul mistroostig en besluiteloos daarmee op die blou bank op.
Die nare wanklank van haar verroeste deurklok ruk haar wakker. Sy sukkel traag deur toe, kombers en al. Toe sy oopmaak en sien wie daar staan, moet sy hard veg teen die impuls om die ding eenvoudig oor haar kop te trek en haar te verbeel sy is nie daar nie.
“Juffrou Serfontein?” vra Paul Venter. Hy is duidelik onseker of dit sy is wat onder die wollerige pienk kombers skuil.
“Dis ek, ja,” antwoord sy moeg.
“Mag ek ’n oomblik inkom?” verneem hy tot haar groeiende ontsteltenis.
Sy staan woordeloos opsy. Hy tree huiwerig na binne. Toe sy beweeg, voel sy die kombers vee soos ’n bruidsluier agter haar aan en sy laat val vervaard haar snoesige skans.
Skielik besef sy dat sy nou kaalvoet in haar slaaphempie voor die man staan. Dis duidelik dat hy dit ook besef, sien sy, want hy kyk met iets soos geamuseerde deernis na haar. Sy mondhoeke plooi al weer asof hy vir haar wil lag. Sy slaan haar arms beskermend om haar lyf.
“Kan ek help, dokter Venter?” vra sy so waardig as wat sy kan.
Hy trek sy gesig met moeite op ’n formele plooi. “Eintlik is ek hier om te hoor of ek vir u hulp kan aanbied, juffrou Serfontein.”
Sy trek haar asem in, maar hy spring haar voor.
“Dis tog duidelik dat u die een is wat hulp nodig het in hierdie situasie en nie ek nie?” sê hy. Sy vervlakste meerderwaardige twee wenkbroue beklemtoon sy woorde.
“Nie noodwendig nie,” antwoord sy met stywe lippe.
Sy kry skielik koud op die kaal plankvloer, maar in haar kop is ’n hele swerm bye besig om vuur te stook.
“Sit, asseblief,” sê sy en wys met wat sy hoop koninklike grasie is na die flenterbank. “Verskoon my ’n oomblik,” voeg sy by.
Toe hy vieserig gaan sit, gaan haal sy haar ou lang rooi kamerjas agter die haak in die badkamer. Sy gord dit stewig om haar middel. Priesterlik getooi gaan staan sy voor hom en trek haar wenkbroue net so hovaardig soos syne op.
“As ek hierdie ontydige besoek te danke het aan u besorgdheid oor u motor, wil ek u dadelik gerusstel dat ek dit ruimskoots kan bekostig om daarvoor te vergoed,” sê sy en kyk hom uit die hoogte aan.
“Hmmm…” antwoord hy en kyk met oordrewe ongeloof om hom rond.
“Moenie dat my omstandighede u op ’n dwaalspoor bring nie, dokter. Ek verseker u dis bloot tydelik,” sê sy met nadruk. “Ek sal elke sent wat dit kos om u motor te herstel maklik kan betaal.”
“Dis dus bloot vir die pret dat u gisteraand deurmeisie by die klub was, neem ek aan?” gaan hy onverstoord voort, maar die wenkbroue praat anders.
“Navorsing,” sê sy nadruklik, sonder dat sy weet waar dié idee vandaan kom.
“Inderdaad?” smaal hy. Die wenkbroue verdwyn amper heeltemal onder sy donker kuif. “Waaroor, as ek mag vra?”
“U mag nie,” antwoord sy moedswillig en pers haar lippe opmekaar. “Kan ons dalk nou by die punt van u besoek kom, asseblief?” voeg sy hom snedig toe. “Ek is jammer, maar ek het ander afsprake.”
“Nou goed, juffrou Serfontein,” sê hy formeel. “Ek wil vir u werk aanbied.”
“Werk?” gaap sy en gaan sit op die bank se punt. Sy ruk haar reg en doen haar bes om soos een te lyk wat vreeslik baie werk het.
“Watse werk nogal?” vra sy asof die idee haar eintlik effens verveel.
“As junior ontvangsdame by my praktyk,” sê hy en sit sy arms agtertoe op die bank se rugleuning.
Vicky maan haarself om nie na sy hande te kyk nie. Sy moet kophou.
“Ontvángsdame?” vra sy asof hy haar darem nou regtig in die gesig vat.
Sy vou haar arms en gluur hom agterdogtig aan. Gedagtes oor vet salaristjeks, wit slawerny en goedkoop arbeid kook almal gelyk deur haar are. Maar junior ontvangsdame? Dis darem te erg. Sy is glad nie daarvoor opgelei nie.
Dit klink ook so… permanent, en sy soek iets wat meer om die lyf het. Sy het op slot van sake ’n graad. Die los werkies wat sy nou doen, is net om solank kos in die huis te voorsien, totdat sy die pos kry wat sy werklik wil hê.
“Daar is tog seker ’n klomp ander hoopvolles in hierdie stad?” vra sy. “Waarom adverteer u nie net eenvoudig die pos nie? Hoekom mý kom vra?”
“Ek is self nie heeltemal seker nie, juffrou Serfontein,” antwoord hy nadenkend. “Maar laat ek verduidelik.”
“Ek luister,” sê sy om tyd te wen.
“U sien, juffrou,” sê hy, “my metodes, eintlik my totale lewensuitkyk, was nog altyd… hoe sal ek dit stel?… ietwat onkonvensioneel.”
“En?” vra sy, “wat het dit met my te doen?”
“Wel, dis moeilik om te verduidelik.”
“Ek is nogal vinnig van begrip, dokter Venter,” sê sy met ’n ongeduldige handgebaar.
“Juis,” sê hy. “Dis moontlik waarom die idee vanoggend skielik by my opgekom het dat u uiters geskik sal wees vir die pos.”
Sy maak haar mond oop om iets snedigs te sê, maar ydelheid, dreigende hongersnood en nuuskierigheid keer haar.
“Gaan voort,” sê sy.
“Ek glo daaraan dat niks of niemand toevallig oor jou pad kom nie. Die feit dat ek dringend nog ’n ontvangsdame nodig het. Die feit dat u skielik by my spreekkamer opgedaag het, my kar gestamp het en boonop nog gisteraand bewys het dat u beslis meer as in staat is om die rol van ontvangsdame te vervul. Wel, dis genoeg om my te oortuig dat dit kan werk.”
“Toevallig.” Sy trek haar mondjie suurlemoensoet.
“Nee. Soos ek sê, ek glo nie in toeval nie,” antwoord hy met skielike erns in sy pers oë.
“Ek is nie opgelei daarvoor nie,” sê sy.
“Waarvoor ís u opgelei?”
“Ek het menslike bewegingskunde gestudeer en –”
Hy val haar in die rede. “Maar waarom werk –”
Sy gaan haar nie laat doodpraat nie. Laat sy tog nou maar die gewone ou vraag beantwoord.
“Ek het net voor my eksamen in my tweede jaar ’n kniebesering opgedoen. Dit was die einde daarvan.”
“Dis jammer,” sê hy.
“Ek het van kursus verander.”
“Watter rigting?”
“Joernalistiek.”
“U kan tog seker in daardie rigting voortgaan?”
“Ek het. By die plaaslike koerant op my tuisdorp. Ek het egter moeg geword vir plattelandse funksietjies