Dokter Dierbaar. Anita du Preez
glimlag. “Nou ja,” sê hy terwyl hy sy lang lyf uit die bank lig. “U is duidelik ’n dametjie met vele talente. Nie een werklik geskik vir wat ek kan aanbied nie, maar my aanbod staan. Ek verwag nie dat u op hierdie oomblik besluit nie. Dink daaroor en laat weet my voor Maandag, asseblief. Ons sal tot dan regkom.”
“Máándag?” vra sy.
“Soos ek gesê het, juffrou Serfontein, ek doen dinge vinnig en anders. So besluit en laat my weet.”
Hy groet haar met ’n handskud, asof die saak daarmee uitgemaak is. “Hier is my kaartjie. Ek moet gaan.”
Sy neem dit sonder om verder te stry. Bly ’n ruk lank staan toe hy weg is, voor sy versigtig op die bank gaan sit.
Toe sy nadenkend oor haar mond vryf, ruik haar regterhand na hom. Dieselfde vreemd-aangename prikkelsensasie wat sy gister oorkant sy lessenaar ervaar het, ruk weer deur haar lyf.
Haar landlyn wat skielik hard lui, laat haar regop skrik.
“Hallo, my kinta,” klink haar pa se stem oor die krakerige lyn.
Haar gemoed skiet sommer vol. Hy is nie juis lief vir ’n foon nie, maar dis bekommernis oor haar wat hom daartoe dwing. Sy sien hom in die wye, skemerige gang van hul ou huis op Robertson gebukkend staan met die gehoorstuk toegevou in sy groot hand. Sy breë voorkop op ’n besorgde plooi getrek.
“Hoe’s dinge daar in die Kaap?” vra hy.
“Nee, heel oukei, Pa. En met julle?”
“Oustryk, my kind, oustryk. Niks om oor te kla nie,” verseker hy haar. “Net dat Ma nog maar so verlang.”
“Hmmm…” sê sy en lees tussen die reëls, “ek mis Pa ook baie.”
Sy wens sy was daar. Sodat sy haar kop ’n slag teen sy verslete ou koordferweelwerksbaadjie se skouer kon laat rus en weet die wêreld is nog reg.
“Al werk gekry?” vra hy kamtig ligweg, maar sy hoor die kommer deurslaan in sy stem.
“Pa vra net op die regte tyd!” sê sy, wat pas besluit het om die dokter se aanbod te aanvaar.
“Hoe so?”
“Nee, ek het nou net gehoor ek het ’n pos as ontvangsdame by ’n dokter se spreekkamer gekry,” lieg sy plesierig.
“Omtrent tyd,” sê hy. “Met al jou kwalifikasies wat ’n plaas se geld gekos het.”
Hy maak keel skool. “Watse dokter?” vra hy agterdogtig.
“ ’n Bekende plastiese chirurg, Pa.”
“Ag nee, my kind! Een van daai wat ou vrouens se gesigte ophys en vals goeters vir hulle inbou?” brom hy onbeïndruk. “Maar is dit wat jy wil doen? Jy glo dan juis nie in dié soort ding nie?”
“Tydelik, Pa, net tydelik,” paai sy.
Sy is skielik innig bly dat hy haar daaraan herinner dat sy as tiener taamlik obsessief te velde getrek het teen die oppervlakkige najaag van uiterlike skoonheid. Al haar opstelle en toesprake by redenaarskompetisies het by onderwerpe soos kosmetiese ingrype, anoreksie, bulimie of die effek van die media op vroue gaan draai. Dit tref haar met ’n slag hoe amper sy aan haar neus laat sny het en sy glimlag dankbaar dat haar plat-op-die-aarde-pa haar opnuut laat besef het dat sý van alle mense van sulke operasies moet wegbly.
“Sy’t werk gekry by ’n dokter, Anna,” hoor sy hom ongeduldig vir haar ma sê waar sy sweerlik styf langs hom staan.
“Jou ma wil weet wat sy van is,” sê hy kamtig vies.
Sy sê die naam en hoor hoe hy dit herhaal. Skielik raas die foon harder en haar ma se stem vra: “Wat is die naam?”
“Venter, Ma,” sê Vicky.
“Wie Venter?” vra haar ma pynlik geduldig. Name is vir haar van kardinale belang.
“Paul Venter, Ma.”
“Hmmm… klink bekend. Wat is Armaans Venter se seun wat vir dokter gaan leer het se naam nou weer? Ou blink Armaans van Bettie-hulle, man. Onthou jy dan nie?”
“Ma?” sê Vicky, wat nie die vaagste benul het wie Armaans is nie.
“Ek praat met jou pa, Victoria,” sê haar ma. “Ek sweer ek het al daai naam iewers raakgelees… dalk in laas week se Huisgenoot. Daar was ’n artikel oor sulke operasies, as ek reg onthou.”
Vicky hoor haar ma maak snuifgeluide. Sou sy aangedaan wees?
“Roer bietjie, Petrus, dit brand aan!” skree sy. “Op die stoof, my man, waar anders?”
Sy sug effens. “Ons maak amandelfudge vir die basaar. Waar was ek?”
“Die dokter,” sê Vicky.
“O ja. Ek wonder… Ek sal kyk waar daai Huisgenoot is. Maar as jou pa dit eers in die hande gehad het… Ek sal jou sê as ons weer bel, hoor. Maar voorspoed dan ook, Victoria. Hier’s jou pa weer. My fudge…”
Haar pa neem die foon oor.
“Nou maar dan’s ek seker maar bly vir jou, my kind. Pas net op en hou jou oë mooi oop, hoor! Jy teken niks wat jy nie behoorlik gelees het nie, nè? Jy weet hoe is daardie mense,” sê hy.
“Dis als reg so, Pa,” antwoord sy, al het sy nie die vaagste benul by watter soort mense sy gaan werk nie.
Hulle groet en lui af.
Wat de joos het ek nou weer gedoen? My netjies in ’n vervlakste hoek ingeverf, dis wat, besluit sy benoud. Voortvarend en sommerso halsoorkop in ’n ding ingeduiwel.
Nou het sy g’n keuse nie, kasty sy haarself verder. By die dokter sal sy gaan werk, of sy wil of nie. Sy kan tog nie nou vir haar pa-hulle sê: “Oeps, dit was ’n klein misverstandjie,” nie.
Ag nou ja, dis nie asof sy veel alternatiewe het nie, besef sy gelate en kyk om haar rond. Wat sy sien, lyk nie goed nie. Sy besluit terstond om iets aan die saak te doen. Sy moet besig bly en die dinge verander waaraan sy iets kán doen, en hopelik sal die res volg.
Soos wat sy altyd maak as haar senuwees haar erg opkeil, begin sy regpak en werskaf. Vir die volgende paar uur skrop en skuur en orden sy haar blyplek.
Toe Doll oudergewoonte ’n draai maak ná haar skof agter die kasregister by die supermark, staan sy vir ’n paar oomblikke die woonstelletjie sprakeloos en gadeslaan.
“Ta-raaa…” sê Vicky met ’n dramatiese armgebaar wat die hele plek insluit.
Die houtvloer blink. Die ou blou bank is heelwat skoner en swierig met ’n bont sjaal met fraiings behang. Die outydse spieël met die dik raam wat in die badkamer was, is bokant die bank opgehang. ’n Houtkis wat al vandat sy ingetrek het buite by die vullisdromme lê, is afgewas en met ’n geweefde lap oor pronk dit as koffietafel. Die hangkas is verskuif en die kaggel wat daar agter was, is silwerskoon geskuur, sodat ’n mens selfs die mooi patroontjies op die Art Deco-teëltjies kan uitmaak.
Op die kaggelrak pryk ’n potjie oranje en geel gesteelde kappertjies ewe baldadig. Die bed in die hoek is netjies toegedek met ’n growwe blou-en-wit gestreepte deken wat Vicky by haar ma gekry het. Twee kussings, toegeknoop in bont Indiese lappe waarmee sy rompe wou maak, pryk op die bed.
In die middel van die vertrek is die deurleefde mat met die Persiese motief wat opgerol in ’n stowwerige hoek gelê het, mooi uitgeskud en oopgesprei. Teen die oorkantste muur is al haar boeke netjies gepak op ’n boekrak, gebou uit drie planke ondersteun deur bakstene.
“Good heavens!” sê Doll. “Ek dog ek is by die verkeerde adres. Het jy die jackpot gewen, my liewe mens, of wat?”
“Nee, net so ’n slaggie weer my kop gebruik,” antwoord Vicky laggend.
“Dis amazing,” sê Doll en kyk met eerbied na Vicky. “Maar kyk hoe lyk jy!” voeg sy by en vis ’n stofbol uit Vicky se hare.
“This