Die engele staar. Marie Reyneke
Die engele staar
Marie Reyneke
Nina Joubert verloor haar pos as speurder in die Suid-Afrikaanse polisiediens nadat ’n operasie skeefgeloop het. Boonop sit sy met die nadraai van ’n mislukte verhouding wat sy moet verwerk. Toe ’n oudkollega haar nader om as polisie-informant in Zambië te gaan werk, huiwer sy nie ’n oomblik om die opdrag te aanvaar nie. By Nyati Lodge word daar klaarblyklik gesmokkel met die swartwangparkiet, ’n uiters bedreigde voëlspesie wat slegs in die omgewing van die Victoria-waterval voorkom.
Gunther Becker, die eienaar van Nyati, is die vernaamste verdagte. Die enigste probleem is dat Nina van die man hóú – en baie ook. Hoe meer sy probeer uitvind wat aangaan, hoe meer protesteer haar hart dat hy nie die skuldige kan wees nie.
Scenes so lovely must have been gazed upon by angels in their flight.
David Livingstone
Victoria-waterval, 16 November 1855
1
Die blou-en-wit Boeing van Air Zambia land stamperig op die aanloopbaan. Stowwerige, yl boompies skuif na agter verby.
Dan is dit nou dit, dink Nina Joubert. Sy is hier. Geen omdraaikans meer nie. Haar dubbele lewe het begin.
Sy trek haar skouers agteroor – die ingeprente gewoonte sedert haar paradedae – en stap uit die vliegtuig. Saam met die ander passasiers loop sy oor ’n teerstrook na die aankomssaal. Die lughawegebou is netjies en lyk nuut opgeknap, met baldadige rooi bougainvilleas en rose by die ingang.
Die bougainvilleas by Ron se huis blom nog nie… Die winter in die Vrystaat is te koud.
Ron! Sy het haarself belowe sy sal hom totaal uit haar gedagtes ban as sy eers hier is. En sy is nog skaars op vaste grond en iets laat haar aan hom dink.
Sy gooi haar kop agteroor en kam met haar vingers deur haar hare. Goed dan! Miskien beteken weggaan nie eensklaps vergeet nie.
Maar hier in ’n vreemde omgewing, met ’n nog vreemder opdrag, sal daar nie tyd wees vir tob nie. Hier móét sy eenvoudig vergeet van alles wat agter lê. Waarom anders het sy haar in so ’n vergesogte operasie soos Die Plan laat inpraat?
Sy het tog deeglik geweet waarvoor sy haar inlaat. En sy is nie ’n mens wat terugkyk as sy ’n besluit geneem het nie.
Tog, toe sy in die aankomssaal die nodige dokumente invul, voel sy die sweterigheid van haar hande. Sy hou haar rug regop. Sy was in haar loopbaan al in baie vreemder situasies as hierdie.
Maar toe sy in die ry staan en wag om deur doeane te gaan, kan sy haar gedagtes nie keer nie. Al wat sy eintlik van die plek weet, is wat kaptein Philip Harmse haar daardie aand in die rokerige eetplekkie vertel het. Dit was toe hy Die Plan aan haar voorgelê het.
Aanvanklik het sy natuurlik gedink hy is laf. Sý van alle mense op ’n missie in ’n land waarvan sy tot dusver nog net gelees het! En dit ná haar rekord in die Suid-Afrikaanse polisiediens!
“Juis, Nina,” het Philip haar op sy rustige manier verseker. “Niemand gaan enigiets meer in jou sien as ’n meisietjie wat avontuur in ’n vreemde land soek nie. En noudat dinge tussen jou en Ron… hmm… ook nie uitgewerk het nie…”
“Moenie jy dit ook nog invryf nie.”
“Jy weet ek sê dit nie om jou seer te maak nie. Dis omdat ek wil hê jy moet jou selfbeeld herstel. Besef jy wat dit vir jou sal beteken as jy inligting kan inwin wat hierdie sindikaat kan oopvlek?”
Sy het ’n vreugdelose snorklaggie gegee. “Jy het nog altyd geweet watter aas om te gebruik, kaptein Philip Harmse. Jy weet baie goed niks sal my meer plesier verskaf as om ’n paar grootkoppe by die SAPD op hulle neuse te laat kyk nie. Gee my ’n paar dae tyd. Ek sal dit oorweeg.”
Reeds die volgende dag het sy hom laat weet. Dit was nie moeilik om te besluit nadat sy vir Ron en sy nuwe blondekopmeisie saam in sy rooi sportmodel gesien het nie. Die Vrystaat is nie groot genoeg vir almal van hulle nie.
Op ’n manier sien sy nogal daarna uit om Die Plan aan te pak. Sy voel weer die bekende tinteling in haar wese – die eens bekende opwinding van wanneer hulle voor ’n uitdagende ondersoek gestaan het. Dis net: nou is sy alleen. En sy het nie veel inligting nie.
Al wat sy weet, is dat Gunther Becker, die eienaar van Nyati Lodge, ’n verdagte is in smokkelhandel met bedreigde spesies. En dat hy eenvoudig te glibberig is om vasgetrek te word. Toe kry kaptein Philip Harmse ná ’n oproep van die Zambiese polisie die idee dat sy die ideale persoon is om as informant na Nyati Lodge te stuur.
Sy glimlag wrang. Hy was die enigste persoon in die SAPD wat in haar onskuld bly glo het. En sy gaan hom nie teleurstel nie.
Toe sy deurstap by doeane, begin soek haar oë na ’n lang, blonde man met ’n baard. Gunther Becker het gesê sy sal hom maklik herken, maar daar is niemand wat aan sy beskrywing voldoen nie.
Sy trek haar bagasietrollie uit die pad uit. Waar kan die man wees? Sy e-pos was tog duidelik.
Sy kyk na die kennisgewingbord. Die volgende vlug is van Lusaka af, en dis eers oor drie ure.
Asof van nêrens staan ’n lang swart man skielik voor haar. “Kan ek miskien vir u ’n taxi kry?” vra hy vriendelik op foutlose Engels.
“Nee, nee, dankie!” keer sy vinnig. “Iemand sal my kom haal. Of miskien… as ek net kan bel.”
Dalk was dit nie so ’n goeie idee om selfs haar selfoon agter te laat nie. Maar sy wou seker maak dat niemand haar kan opspoor nie.
“Seker. Het u die nommer? En drieduisend kwacha?” Hy glimlag verskonend. “Dis die koste vir ’n plaaslike oproep.”
“Nee, los maar. Ek het nog nie geld omgeruil nie. Ek sal nog wag. Hulle weet ek kom.”
’n Kwartier later sit sy steeds op die bankie. Waar die duiwel bly die man? As dít is hoe hulle besoekers verwelkom, kan sy verstaan dat hulle kleitrap by die lodge. Daar is mos darem prioriteite!
Sy wik en weeg. Miskien moet sy maar ’n taxi neem. As die vervlakste man nie die ordentlikheid het om haar betyds te kom afhaal nie, kan Nyati daarvoor betaal!
Minder as tien minute later sit sy in ’n stokou, gehawende Toyota Corolla en ys vir elke slaggat wat die bestuurder behendig omseil. Sy het lekker gelag vir Philip se grappie dat as jy in Zambië dink jy sien ’n haas in die pad, moet jy liewer uitswaai, want eintlik is dit ’n donkie se ore wat by ’n slaggat uitsteek. Nou verstaan sy waar die grappie vandaan kom.
Nina roer haar skouers. Probeer daarmee die herinneringe aan die gebeure van die afgelope tyd afskud. Maar die aaklige onsekerheid wat op verwerping volg, begin weer aan haar vreet. Het sy haar nie oorhaastig in hierdie ding begewe nie? Maar watter ander opsies het sy gehad?
Sy is so te sê uitgeskop uit die polisiediens. Haar enigste vooruitsig was ’n saai werk by ’n toeristeoord in Bloemfontein om aan die lewe te bly. En haar en Ron se verhouding het al meer begin lostorring ná die hofsaak.
Om eerlik te wees het sy nie gedink dit sal so maklik wees om die werk by Nyati Lodge te kry nie. Toe sy haar CV na die internetadres gestuur het wat Philip vir haar gegee het, het sy nog gedink sy kry dalk nie die pos nie.
Sy glimlag skeef. Ten minste kon sy “toerismebedryf” in haar e-posaansoek skryf; “gewese speurder” sou nie deug nie. Nie dat dit gelyk het of die Duitse eienaar veel erg aan kwalifikasies of ondervinding het nie. Al wat Gunther Becker wou weet, is hoe gou sy by Nyati Lodge kan begin.
Op die oomblik is sy egter besig om haar behoorlik op te werk oor haar sogenaamde werkgewer wat vergeet het om haar by die lughawe te kom haal. En dit nadat sy haar aankomstyd selfs weer ’n keer per e-pos bevestig het!
Die omgewing van die straat waarmee hulle Livingstone binnery, vertoon beter as wat die dorpie uit die lug gelyk het. Die meeste huise is merkbaar opgeknap, met hoë heinings rondom. Van tuine is daar nie veel sprake nie, maar die rooi grond rondom die huise lyk skoon genoeg, asof dit elke dag gevee word. Net hier en daar skreeu verwaarloosde