Die engele staar. Marie Reyneke
blykbaar ’n miniatuurwaterval wanneer die krane oopgedraai word. Die wasbak en toilet is versteek in rowwe houtstompe. Dis beslis vindingryk vir ’n Afrika-atmosfeer sonder die gebruiklike afgesaagde bedrukte stowwe. Definitief ’n blyplek met karakter vir enige toeris wat die gevoel van Afrika wil kry.
’n Dreuning lok haar haastig na buite. Sy is net betyds om te sien hoe Amos haastig draf om die gasbottel wat Gunther besig is om uit die voertuig te laai by hom te neem. Sy sorg dat sy vinnig in die kantoor kom.
Hy kom kort na haar binne. “O, jy’s al hier.”
Wat is sy veronderstel om te antwoord? Ja, ek’s hier, soos jy kan sien?
Maar sy sê niks. Gaan sit net ongenooid op een van die groot rietstoele wat in ’n gesellige hoek skuins voor die lessenaar gerangskik is.
Hy gaan sit by die lessenaar, leun met albei elmboë op die blad voor hom en druk sy vingerpunte teen mekaar. “Wat het jou laat besluit om Zambië toe te kom?” wil hy uit die bloute weet.
Amper vang hy haar onkant. Hy kan tog nie iets vermoed nie? Maar jare se ondervinding om vinnig te dink en nie haar emosies te wys nie sorg vir ’n oortuigende antwoord.
“’n Vakansieoord in Bloemfontein is nie juis die opwindendste plek as werksbevrediging vir ’n mens belangrik is nie.”
“En jy dink dit sal hier opwindend wees?”
“Nee, nie opwindend nie. Hopelik interessant en bevredigend.”
“Hang seker af wat jy bevredigend en interessant noem?”
Sy voel meteens heeltemal in beheer van die situasie. “Meneer Becker, bevredigend sal vir my wees om my werk doeltreffend te doen, en die omgewing sal darem seker interessant wees. En ja, ’n gemaklike werksverhouding sal ’n bonus wees.”
“O! Dan verstaan ons mekaar.” Sy vingerpunte vorm steeds ’n piramide tussen hulle.
“As ek kan weet presies wat van my verwag word, ja.”
Daar is skielik ’n trek van iets wat ’n glimlag kan wees agter sy baard, maar sy oë bly uitdrukkingloos.
“Ek dink ek het dit in die e-pos duidelik gemaak. By Nyati is almal verantwoordelik vir alles. Die kroegman behartig ontvangs, die kelners speel ook portier, en as die kamerbediendes agter raak, spring jy in en trek beddens oor. Ek het al self in die kombuis uitgehelp.”
Sy reageer doelbewus nie, en verplig hom só om voort te gaan.
“Behalwe vir die kantoorwerk, verwag ek dat jy in beheer sal wees van die restourant, wat werkroosters, voorrade en spyskaarte insluit.”
Hy breek die piramide van sy vingers, neem ’n pen van die lessenaar af en speel met ’n irriterende in en uit geklik daarmee. “Toesig oor die chalets en die skoonmakers is ook jou verantwoordelikheid. En wanneer ek nie hier is nie, sal jy besprekings doen en ook die gaste ontvang.”
Sy knik. “Dit behoort in orde te wees. Ek het netnou by een van die chalets ingeloer. Dis werklik pragtig.”
So byna sê sy iets oor Amos se netjiese kombuis, maar sy byt haar woorde terug. Nou is miskien nie die regte tyd om hom aan die kok te herinner nie.
“Net nog iets,” gaan hy voort asof haar pluimpie oor die chalets hom nie raak nie. “Soms sal jy bereid moet wees om gaste by die Vic Falls-lughawe te ontmoet of af te sien.”
“Klink lekker,” flikker haar ou spontaneïteit op. “As ek dit nie mis het nie, ry jy oor die brug by die valle en –”
“En gaan jy heen en terug vier keer deur ’n grenspos. Nogal ietwat van ’n schlep.”
“As ek dan moet kies tussen schlep sonder natuurskoon of schlep met natuurskoon, kies ek laasgenoemde.”
Hierdie keer wil-wil ’n beduidenis van genaakbaarheid sy oë bereik.
“Hang af of jy natuurskoon sal bly raaksien agter ’n vuil grenspos met lastige bobbejane wat die moontlikheid benut om in elke onbewaakte voertuig in te glip op soek na kos. Jy’s ’n idealis, soos almal wat Midde-Afrika toe kom.”
“Nee, jy’s verkeerd! Ek’s ’n realis. Daarom is ek hier.”
Sy liggaam buig terug. Hy los die pen, stut sy elmboë weer op die lessenaar en vou sy vingerpunte inmekaar onder sy ken. “Hoekom hét jy na Midde-Afrika gekom?”
Waarom hou die man aan daarmee? Goed dan, oor ten minste een aspek kan sy ten volle eerlik wees.
“My verloofde het my gelos vir ’n ander vrou. Ek wou kom heel word.”
Haar openhartigheid vang hom blykbaar onkant. Sy vingerpunte gly uitmekaar en hy soek-soek na die pen op die lessenaar. Eers toe hy dit raak vat, kyk hy haar weer in die oë.
“En as hy oor ’n maand of minder besef hy het ’n fout gemaak en jou agternasit, besluit jy jy kan nie sonder hom lewe nie en drop jy my net so!”
“Meneer Becker!” Sy gee nie eens om dat hy die irritasie in haar stem hoor nie. “Ten eerste was dit nie ’n impulsiewe besluit om die werk te aanvaar nie. Ten tweede weet hy nie waar ek is nie, en ten derde kan u met my ’n kontrak opstel wat my vir ’n sekere periode bind – as dit u sal gerusstel.”
Sy weet nie of sy haar verbeel dat die geamuseerde laggie weer agter die blonde baard wegkruip nie.
“Goed dan,” gee hy toe. “Ek som mense gewoonlik gou op. Ons kan mekaar vir ’n maand deurkyk en daarna ’n kontrak vir ’n jaar opstel. Tevrede?”
Sy knik. “Heeltemal redelik, dink ek.”
As haar taak afgehandel is, sal ’n kontrak tog nie meer van belang wees nie.
Gunther kom regop uit sy stoel. “Kom ek gaan wys jou die geboue en stel jou aan die personeel voor.”
Hy staan opsy sodat sy voor hom by die deur kan uitstap.
“Jy praat foutloos Afrikaans?” merk sy oor haar skouer na hom op terwyl hulle aanstap. “Jy’s tog van Duitse afkoms, nie waar nie?” Philip het haar oor en oor daaraan herinner om voor te gee dat sy verbaas is oor sy Afrikaans.
“My ouers was Duits. Ek het jare in Namibië gebly,” antwoord hy kortaf.
Die oomblik toe hulle die hoofgebou binnegaan, laat gly die een man wat Nina netnou by die kroeg sien sit het sy rietskraal figuur van sy stoel af. Hy kom met ’n uitgestrekte hand op hulle afgestap.
“Stel jy ’n man dan nie ook voor aan dié skoonheid nie, ou Gunther? Of wil jy haar heeltemal vir jouself hou?”
Met sy amper seunsagtige stem, veelkleurige oorhanghemp en lang vaal hare wat in ’n poniestert agter sy rug hang, sou mens hom byna vir ’n vrou kon aansien, dink Nina. Maar dan sien sy sy kaal voete. Niks vrouliks daaraan nie – nie met albei die tweede tone wat heeltemal bo-op die middeltoon klim nie.
“Vir Jack Miller moet jy maar ligloop,” glimlag die ander man vriendelik. Hy kom ook nader en steek sy hand uit. “Kan nie ’n rok weerstaan nie. Ontmoet liewers vir my: Douw Jonck.”
Sy glimlag is wyd en vrolik. En hy het die interessantste oë wat Nina nog ooit gesien het: mahoniebruin, met goudgeel spikkels deurspek.
Gunther gee ’n geforseerde laggie. “Dis juffrou Joubert. Sy kom werk by Nyati. Die res van die werkie het Livingstone se jack-of-all-trades reeds namens my gedoen.”
“Livingstone se jack-of-all-trades?” wil Nina laggend weet. Verbeel sy haar of was daar ’n sweempie sarkasme in Gunther se stem?
“Ereveldwagter, toeristegids, karweier, privaat speurder – enigiets wat jy nodig het,” spot Douw gemaklik met homself.
Privaat speurder en wildbewaarder? dink Nina verras. Dit kan die moeite werd wees om dié man beter te leer ken.
Net toe lui die telefoon. Terwyl Gunther dit by die ontvangstoonbank antwoord, is Nina genoodsaak om vir hom te wag. Douw